Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Dapper: Meisie byt vas ná kanker haar sig steel
11 Desember 2019


Dié tiener het kleintyd al daarvan gedroom om ’n dokter te word en mense te help soos sy op TV gesien het en sommer haar poppe begin “regdokter” vir oefening. Min het Andrea Padayachee (14) van Durban toe geweet sy gaan in ’n paar jaar wel baie tyd in die hospitaal deurbring, maar nie as ’n dokter nie.

Vir die eerste nege jaar van haar lewe het Andrea nooit die binnekant van ’n hospitaal gesien nie. Dit was tot ’n aanhoudende neusbloei haar lewe verander het. Sy is uiteindelik met rhabdomyosarcoma, ’n baie aggressiewe en kwaadaardige vorm van kanker, gediagnoseer. Binne ’n maand was sy blind.

Toe haar sig verdwyn, het die lewenslustige Andrea gedink haar drome gaan ook saam met haar wêreld donker word. Haar hele toekoms het vir die (toe) negejarige Andrea donker gelyk, want sy het nie geweet hoe sy as blinde haar drome sal kan uitleef nie.

Stryd sonder sig

Sy pas goed aan by haar spesiale skool.

Maar vandag, vyf jaar later, kyk dié tiener die toekoms vierkantig in die oë. Saam met die aanvaarding van haar gebrek het die besef ook gekom dat wanneer iets van jou af weggeneem word, maak dit plek vir ander seëninge.

Maar dit was ’n lang reis tot hier en Andrea herroep die onmiddellike gevoel van vrees en onsekerheid wat sy ervaar het toe sy een oggend in September 2014 wakker word en nie meer kon sien nie. Toe sy opstaan, was haar oë dof en het sy dit ’n paar keer gevryf en probeer uitvee om seker te maak daar is niks in haar oë nie.

Sy het haar hand voor haar uitgehou en kon net ’n dowwe vorm sien. As Andrea nie geweet het dis haar hand nie, kon die vorm enigiets gewees het. Dit was asof iemand die ligte afgesit het en sy net nie die switch kon kry nie. “Ek was so kwaad vir God en sommer ook kwaad vir almal. Ek wou weet hoekom Hy dit aan my doen. Dit het gevoel asof ek beroof is.

Asof iemand uit die bloute my sig kom steel het en weg is daarmee,” vertel Andrea. Sy was te bang om uit die bed op te staan uit vrees dat sy haarself sou stamp of val. Sy was ook baie bang sy gaan nooit weer haar gunstelingpop, vriende of familie se gesigte sien nie. Sy het toe maar gebly waar sy is en haar ma geroep. Take wat sy gewoonlik maklik self kon doen, het nou struikelblokke geword. Sy het skielik nie geweet hoe om haar skoolklere te kry of hoe om skoene te kies nie.

Andrea moes chemo ondergaan nadat sy met kanker gediagnoseer

Volgens Andrea het sy eers gedink sy sou die verskil tussen die verskillende voorwerpe kon voel, maar dit was nie die geval nie. Aanvanklik het elke skoen en tandeborsel vir haar dieselfde gevoel. Volgens haar word jy ook heeltemal verward in jou omgewing en dit voel asof iemand jou in die rondte gedraai en skielik alles geskuif het.

Op haar beurt vertel Andrea se ma, Geraldine, watter aanpassing dit ook vir die res van die gesin was. Skielik was hul onafhanklike dogter weer afhanklik van hulle. Sy kon nie meer op haar eie haar tande borsel, haarself aantrek of haar huiswerk doen nie. Sy kon nie eens meer met haar speelgoed speel sonder dat iemand dit vir haar bring nie. Dit het hulle ook senuweeagtig gemaak om die huis te verlaat. Andrea moes ook ’n spesiale skool begin bywoon en braille (blindeskrif) leer. “Geen ouer wil ooit die woorde hoor dat jou kind kanker het nie. Op enige ouderdom is dit ’n skok, maar wanneer dit ’n kind met hul hele toekoms voor hulle is, is dit nog erger,” sê Geraldine.

Andrea se siekte het die familie onverwags geruk. Voordat sy in Julie 2014 vir griepsimptome behandel is, was sy nooit vantevore in die hospitaal of ernstig siek nie. In Augustus 2014 het haar neus egter verskriklik by die skool begin bloei. Geraldine het Andrea na ’n spesialis geneem, wat haar toe vir ’n MRI gestuur het. Ná ’n week is sy met rhabdomyosarcoma gediagnoseer. Dié kanker word as ’n kindersiekte beskou omdat die meeste gevalle by mense jonger as 18 voorkom. Die kanker vorm in die skeletspierselle en begin in die kop, gesig of nek. Dit gaan gewoonlik gepaard met erge hoofpyn, sinusitis en pyn in die gesig. Geraldine sê die diagnose was verwoestend vir die familie.

Ek was so kwaad vir God en sommer ook kwaad vir almal. Ek wou weet hoekom Hy dit aan my doen. Dit het gevoel asof ek beroof is.

“As jy nie iemand na aan jou ken wat blind is nie, besef jy nie sommer dat dit nie ’n doodsvonnis is nie en mense elke dag heeltemal fine sonder hulle sig regkom. “Die aand voor sy haar sig verloor het, was sy besig om die video van haar skoolkonsert te kyk. Halfpad deur het haar oë begin pyn. Ek het haar kamer toe gestuur en gesê sy moet gaan rus, sy kan dit die volgende dag klaar kyk,” vertel Geraldine. “Die volgende oggend was haar sig weg en sy het toe nooit haar vriende in die konsert gesien nie. Dit was vir my hartseer en een van die goed wat my laat besef het hoe ons elke oomblik moet waardeer, want niks word aan ons belowe nie. Ons doen nou baie meer dinge saam as familie en spandeer gehaltetyd met mekaar. Ons kyk minder TV en luister regtig na mekaar.”

Beweeg aan

Andrea en haar ouers.

Ná die aanvanklike skok was Geraldine egter vasbeslote om seker te maak dat haar dogter steeds die beste van haar lewe maak en groot droom. Nadat Andrea gediagnoseer is, het Geraldine besef hul reaksie gaan die toon stel vir hoe Andrea daarop gaan reageer en hoe sy haar nuwe realiteit gaan hanteer. As die familie gaan wys hulle is bang en onseker, sou dit dinge vir Andrea vererger veral omdat hul stemtone al hoe belangriker vir haar as blinde geword het.

“Toe haar sig verdwyn, het haar gehoor amper dubbel verbeter. So ons stemtoon was baie belangrik, want sy kon in ons stemme optel hoe ons gevoel het. Dit was vir haar baie moeilik. Sy het elke dag gebid en gehuil vir haar sig om terug te kom. As ma het dit my gebreek, want wat sê jy vir jou kind. Hoe bring jy dit terug?” vertel Geraldine.

Andrea het chemo- en ander kankerbehandelings gekry in die hoop dat haar sig sou terugkeer. Hoewel sy in remissie is, bly sy blind. Geraldine sê sy sou enige behandeling probeer het, maar uiteindelik het aanvaarding van die stand van sake vir hulle vrede en genesing gebring. Vandag is Andrea een van die topstudente in haar klas en sy bespeel die klavier, blokfluit en kitaar, wat sy baie geniet. Sy het ook meer gehaltetyd saam met haar familie en dit is vir haar spesiaal. Haar sig is weg, maar die Here het haar geseën met meer tyd, gesprekke en spesiale oomblikke met haar geliefdes. Andrea raai mense wat hul sig verloor aan om dit so gou moontlik te probeer aanvaar. “Jy is nie die eerste en enigste persoon nie. Jy hoef nie kwaad te wees nie en onthou, jy is nie alleen nie.”

Meer oor:  Kinderkanker  |  Kuier  |  Ware Lewensdrama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.