Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Dapper ná 'date rape'
28 November 2018
Tershia Snyders

“Uit watter gebroke plekke moet hulle nie kom om iets só wreed en onmenslik aan ’n ander te doen nie. Mag God hul siele genadig wees.”

Dít is al wat Tershia Snyders (28) van Pelican Park in Kaapstad die mens of mense toewens wat haar na bewering laasmaand in ’n nagklub in die Moederstad met ’n date rape drug bedwelm, ontvoer en verkrag het.

Maar die ergste is dat die dwelm die grootste deel van haar geheue van die voorval uitgewis het. Wat presies met haar gebeur het nadat sy ’n drankie wat ’n kelner vir haar gebring het, gedrink het, is ’n absolute blank space. Dis amper soos ’n file wat van ’n memory stick delete is.

Herinneringe aan daardie aand, dié wat sy nog het, spoel weer soos ’n emmer yskoue water oor Tershia en sy gril effens aan die gedagte van die gruweldaad wat teenoor haar gepleeg is. “Ek sou nooit in my wildste drome kon dink dat ék, ’n sterk en verantwoordelike vrou, ’n slagoffer sou wees van ’n date rape-dwelm in ’n klub nie. Ek weet van en ken mense wat al deur dié dwelms geraak is en het gedink ek neem alle voorsorgmaatreëls. Die misdadigers is egter slimmer en slinkser, maar hoe dit ook al sy, niemand het die reg om iemand anders so ’n groot onreg aan te doen nie.”

KRAGTIG EN GEVAARLIK

Juis omdat haar pa ’n polisieman is en haar bedag gemaak het op die gevare vir vroue, was sy nog altyd versigtig. Maar toe word sy ’n slagoffer van date rape, waar die vermeende verkragter(s), dwelms gebruik om hul slagoffers te laat “uitpass” en dan hul vieslike daad te pleeg.

Volgens www.womenshealth.gov is date rape-dwelms glo kragtig en gevaarlik en kan dit in jou drankie geglip word wanneer jy nie kyk nie of toilet toe gaan. Dit het dikwels geen kleur, reuk of smaak nie, so jy weet nie wanneer of hoe jy bedwelm word nie. Die uitwerking van die dwelms kan jou swak, verward en selfs flou maak. As jy bedwelm word of is, sal jy waarskynlik nie kan onthou wat met jou gebeur het gedurende jou bedwelmde toestand nie. Die middels staan ook bekend as “klub drugs” omdat perpetrators geneig is om dit by dansklubs, konserte en feeste te gebruik. Die drie algemeenste date rape-dwelms is Rohypnol, GHB (wat kort is vir gamma hydroxybutyric) en ook Ketamine.

Kuier het statistieke oor date rape en hoe algemeen hierdie tipe verkragting is by die polisie probeer kry, maar hulle het teen druktyd nog nie op navrae gereageer nie.

Tershia weet nie presies waarmee sy bedwelm is nie, maar sy onthou wel toe sy bykom in ’n vriend se huis en nie kon onthou wat met haar gebeur het nadat sy ’n drankie in ’n Kaapse nagklub gedrink het nie, het sy “vuil” gevoel. Tershia, so getraumatiseerd soos sy was, het die saak by die polisie aangemeld en indringende toetse ondergaan, waarvan een ’n vaginale swab was. Tershia sê sy het daar die bevestiging gekry dat sy wel verkrag is en dwelms is ook in haar stelsel gevind.

Netso moedig soos wat sy daardie tyd was, is sy nou ook moedig deur haar storie vir Kuier te vertel, sonder om te versoek dat ons haar identiteit weerhou.

“Ek het besluit om die negatiewe ding te vat en dit op sy kop te draai. As ’n ma van twee meisiekinders wil ek nooit hê my kinders moet bedreig voel nie. Ek wil nooit hê hulle moet skaam kry oor die feit dat hul ma verkrag is nie. Nooit nie,” sê sy vurig. En gaan dan voort: “Dis nie iets wat ek onder die mat gaan vee nie. Geen vrou vra om verkrag te word nie. Dis ’n gru-misdaad wat al soveel lewens verwoes het. Ek gaan nie toelaat dat die wreedheid van ander my in vrees laat lewe nie. Ook hierdeur sal ek kom. Sterker as vantevore.”

En dis wanneer Tershia haar nagmerrie in die onderhoud begin herleef dat jy agterkom presies hoe sterk sy regtig is. Sy skram nie weg van enige ongemaklike detail en vir die grootste deel van die onderhoud is sy in beheer van haar emosies. Wanneer Tershia nou terugkyk op daardie spesifieke Saterdag, onthou sy vreemde dinge wat vroeër daardie dag gebeur het. Agterna het sy gewonder of alles wat daardie dag uit plek was, maar nie net ’n teken was dat iets gróót daardie aand sou skeefloop nie . . .

DIE BEGIN VAN ALLES

Tersia Snyders sê sy sou nooit kon dink dat sy so iets sal oorkom nie.

“Dit was een van my kollegas se 40ste verjaardag en ek het besluit om twee van my vriende, Bradley* en Nadine*, saam te neem. Terwyl ek op pad was om Nadine te gaan optel, het ek gaan staan sonder petrol. ’n Ander vriend het my kom help en ons is toe weer vort. Ons het verder gery en skielik het die bonnet van die voertuig oopgeskiet. Gewoonlik sou dié tipe ding my afsit, maar nie daai dag nie, nee.” Sy lag saggies en wrang. “As ek maar net toe geweet het wat ek nou weet . . .”

(Tershia se vriende se regte name word weerhou omdat hulle getuies is in haar saak.)

Toe Tershia by Nadine se huis aan-kom, was sy te bang om verder met haar kar te ry omdat dit reeds vroeër die aand probleme gegee het. Sy en Nadine het toe ’n taxi gevat na die kollega se verjaardagpartytjie, waar Bradley hulle ontmoet het. Dis hier waar sy ’n boodskap van een van haar oud skoolvriendinne, Candy*, gekry het.

“Sy was altyd een van daai meisies van wie almal gepraat het omdat sy in ’n stripklub werk, maar dis nie wie ek is nie. Ek sal nooit mense oordeel oor die tipe werk wat hulle doen nie.”

Die driestuks het toe van die verjaardagpartytjie af ’n taxi ontbied en het net voor middernag by die stripklub in die middestad aangekom. Tershia onthou die dele van daardie betrokke aand voor sy na bewering ’n date rape-dwelm ingegee is, asof dit gister gebeur het.

“My hare was in hierdie groot afro en ek onthou die bouncer het kommentaar gelewer daarop. Hy het gevra of dit my eie hare is en of hy dit kan voel. Ek het my nie veel daaraan gesteur nie en ons het by die klub ingegaan. Ek onthou nog toe ons by die tafel kom, het ek onmiddellik vir die kelner gesê om my vriendin Candy te roep wat daar werk en vir my vriende gesê om drankies te bestel wat in ’n bottel is sodat ons weet daar is nie mee gepeuter nie.”

AAND IS 'N WAAS

As polisieman het haar pa haar altyd gewaarsku oor die gevare wat in dié plekke skuil en daarom was sy met haar intrapslag op haar hoede. “Ek was nog nooit voorheen in so ’n plek nie en wou dit sien en ervaar. Ons het onsself gemaklik gemaak en Candy het kom groet en gevra wat ek gaan drink. Sy het gesê die kelner sal vir my ’n drankie bring op haar tab.” Volgens Tershia het Candy weer geloop omdat sy daai aand gewerk het.

Ná haar vlugtige besoek het Bradley toilet toe gegaan. “Hy het ’n rukkie gevat om terug te kom en ek onthou nog hoe Nadine ook toilet toe wou gaan,” voeg sy by.

Voor Nadine toilet toe gegaan het, het die kelner met die beloofde drankie by die tafel aangekom – dit was reeds oop en daar was ’n glas met ys by.

“Ek het nie veel daarvan gedink nie en het die drankie aanvaar omdat ek gedink het dis die drankie waarvan Candy gepraat het. Kort daarna is Nadine toilet toe en ek onthou hoe ek stadig aan die drankie begin teug het. Ek het ook heeltyd gewonder, ‘Hoekom is daar so baie ys in my glas?’ Dit was my laaste gedagte. Dis hoe ver ek onthou. Niks meer en niks minder nie.”

Kuier het uitgereik na Bradley en Nadine om húl weergawes te kry van wat daardie aand gebeur het nadat hulle teruggekom het van die toilet af en vir Tershia nêrens kon vind nie. Bradley wou van die begin af niks sê nie en het nie redes verskaf nie, terwyl Nadine gesê het sy sal liewer niks sê nie want “ek is ’n key witness; ek het gesigte gesien en ek is bang vir my veiligheid”.

Tershia het vir Kuier vertel, volgens wat Nadine ná die voorval vir haar vertel het, was sy vir minstens ’n uur en half vermis toe Nadine ’n bohaai begin opskop soos wat sy na Tershia gesoek het. Ook Bradley het glo rondgevra na haar. ’n Wit Honda met donker ruite het toe later na bewering met Tershia voor die klub gestop. Nadine het haar kêrel gebel om haar te kom help soek na Tershia. Nadine en haar kêrel het haar glo op die agtersitplek van die voertuig gekry.

Ek sou nooit in my wildste drome kon dink dat ék, 'n sterk en verantwoordelike vrou, 'n slagoffer sou wees van 'n date rape-dwelm in 'n klub nie.
Tershia Snyders

Sy was nie by haar bewussyn nie en haar vriende moes haar uit die Honda haal en na hul eie motor dra.

Tershia onthou absoluut niks van wat gebeur het nie. “Ek het die volgende oggend by my vriend se huis wakker geword. Ek het net heeltyd gewonder, ‘Waar het dinge verkeerd geloop? Wat het met my gebeur? Was ek verkrag? Hoe het ek hier gekom?’. Daar was egter geen antwoorde op my vrae nie en my vriende was netso verward soos ek. Almal het na my gekyk vir antwoorde, maar alles was net donker. Ek het net vuil gevoel. Geskend.”

Omdat sy geweet het sy mag nie was voor sy nie ’n dokter gesien het nie, het sy net haar gesig gewas en wou eers haar kind by dié se pa gaan haal. “Ek was ’n mess en toe hy my sien, wou hy dadelik weet wat gebeur het. Al kon ek nie veel sê oor wat presies gebeur het nie, het ek probeer. Hy het onmiddellik my pa gebel en my na die naaste polisiestasie geneem. Dit was 10:00 die Sondagoggend toe ons daar kom en ek moes ’n verklaring aflê. ’n Rape crisis forensics-beampte is ontbied. Ek was baie huiwerig om die verklaring af te lê omdat ek weet dat die polisie baie keer op misdadigers se pay-roll is.”

Sy onthou hoe moeg sy was, maar het met elke greintjie van haar menswees deurgedruk. Tershia moes verskeie toetse ondergaan insluitende ’n vaginale swab en ’n MIV-toets. “Hulle het al die toetse gedoen en ek onthou hoe indringend dit was. Die forensics-beampte het verduidelik dis moeilik om te bepaal of penetrasie gedwonge was wanneer ’n vrou wat reeds seksueel aktief is en veral nie by haar bewussyn was terwyl sy verkrag is nie. Volgens die beampte kan vaginale afskeiding egter daarop dui en op my onderklere sowel as binne my vagina was baie. Ek was beslis verkrag. Daar is ook dwelms in my stelsel gevind.”

GAAN AAN MET LEWE

Vir ’n oomblik is dié sterk vrou van stryk gebring. Sy haal diep asem voor sy voortgaan. “Ek het daar gesit en geluister, maar dis asof my brein dit nie wou registreer nie. Dit het gevoel asof ek buite my liggaam was. Asof ek vanuit ’n bird’s view na my lewe staar. Alles het onwerklik gevoel, maar ek moes dit aanvaar.”

Terwyl sy ’n kussing styf voor haar vasdruk, strengel sy haar vingers inmekaar en sê saggies: “Ek was dankbaar dat ek nie kan onthou nie. Dankbaar dat ek nog lewe en het by myself gedink, ‘Die liggaam is net vlees. Wat hulle daarmee gedoen het, sal nie my siel breek nie. Ek weier om ’n slagoffer te wees.’ Dis een ding om te hoor iemand na aan jou is bedwelm en verkrag, maar glo my as dit jy is, is dit ’n innerlike worsteling. Ek moes ook ARV’s begin neem. Die hele proses het ’n pynlike tien ure geduur en toe ek uiteindelik daar uitstap was dit reeds oor sewe die aand. Ek wens dit nie my grootste vyand toe nie.”

Sy het deur ’n warboel van emosies gegaan, vertel Tershia, en sy het al gevra, “why me?”.

“Ek het myself aanvanklik blameer, maar ek het besef dat ek geen aandeel daarin het nie. Ek is deur die polisie ingelig dat dit is hoe mensehandel plaasvind. As my vriendin nie daai aand saam met my was nie, weet ek nie waar ek nou myself sou bevind het nie. Hoeveel meisies het nie al dieselfde ding oorgekom nie? Hoeveel van hulle was gevind?”

Shiralee McDonalds, ’n beradingskoördineerder by Rape Crisis, sê slagoffers rapporteer dikwels nie date rapes nie omdat hulle nie kan onthou wat gebeur het nie, maar ook oor die stigma rondom verkragting. Die moontlikheid van viktimisering (slagoffer word dalk blameer omdat sy gedrink het) speel ook ’n rol. Dit beteken ook dat hulle nie noodwendig die nodige mediese behandeling kry wat ná verkragting nodig is nie, verduidelik Shiralee.

“Survivors kan ’n verskeidenheid emosies ervaar wat wissel van die fisieke, natuurlik, maar ook ’n verandering in gedrag en sielkundige simptome. Wanneer iemand nie noodwendig kan onthou wat gebeur het nie, beteken dit nie dat hulle nie erg geraak word daardeur nie. Inteendeel, dit is die stryd en die wens om dit te onthou, wat frustrerend en pynlik kan wees. Aan die ander kant, is deel van die natuurlike genesingsproses ook om die voorval agter jou te sit en vorentoe te kyk. Iets wat belangrik is oor verkragting is om uit te lig dat daar mediese gevolge is. Die moontlikheid dat die slagoffer kan swanger word, MIV of seksueel-oordraagbare infeksies opdoen, is belangrike aspekte wat aangespreek moet word so gou moontlik ná verkragting. Ongeag of iemand van dié voorval weet, is dit altyd ’n goeie idee om mediese hulp te kry,” voeg Shiralee by.

Daardie aand het letsels op Tershia gelaat, een daarvan is dat sy mense nou wantrou, maar sy het weer nuwe krag gekry toe sy ’n volunteer-program begin het waar sy kinderhuise besoek waar daar meisies is wat seksueel, emosioneel en fisiek mishandel was. Dit is vir haar terapeuties om met hulle te gesels.

Sal sy ooit weer ’n lewe kan lei sonder om konstant op die uitkyk wees vir ongure karakters met donker gedagtes?

Die lig van vroeër is weer in haar oë.

“Dis vir my swaar om te praat oor wat met my gebeur het, maar as ek dit nie gaan doen nie, gaan ek net soos die ander wees wat maak asof dit nooit gebeur het nie. Dis tyd dat ons mekaar moet begin ondersteun en uplift sonder veroordeling.”

*Skuilnaam

Meer oor:  Tershia Snyders  |  Pelican Park  |  Kaapstad  |  Verkrag  |  Ontvoer  |  Date Rape  |  Bedwelm
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.