Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kelly Pearce : Dapperheid haar kroon
4 September 2019
kelly pearce,alopecia


Dis so maklik om oor jou hare te kla en dan doen ons dit nog baie ook – die draad, die kleur... En ’n bad hair day is genoeg om enige vrou van stryk af te bring. Maar wat sal jy doen as jou hare op ’n dag net besluit om uit te val en nooit weer teruggroei nie?

“My hare was my kroon,” vertel Kelly Pearce (32), ’n media-persoonlikheid en vervaardiger by Heart FM in Kaapstad. Dis moeilik om te glo dié sexy vrou met ’n helder lag en skitter in haar oë het onlangs in ’n diep put van depressie verval. “My hele lewe lank was ek mal oor my hare. Dit was baie lank, dik en pikswart. Dit was my ‘ding’. Tot op ’n dag vier jaar gelede wat ek ’n kaal kol so groot soos ’n muntstuk bo-op my kop raakgesien en begin besef het my hare val in klosse uit, veral in die stort.”

Van daar af het dinge vererger totdat Kelly kaal kolle regoor haar kop gehad het. “Ek het nie besef wat my hare vir my beteken en hoe verweef dit met my identiteit was totdat ek handevol begin verloor het nie,” verduidelik sy ernstig. Sy erken sy het gedink haar hare sal weer teruggroei, maar binne maande was die verlies buite beheer. “Ek sou soggens wakker word met ’n kussing vol hare. Dit het so vinnig versprei. As vroue dra ons ons hare met trots en om dit op só ’n manier te verloor, het ’n enorme impak gehad op my geestestoestand. My hart was amper gebreek.”

Verward en bekommerd het Kelly die ergste verwag. “Ek het gedog ek is vreeslik siek. Ek het begin besef my hare gaan dalk nooit teruggroei nie en het gedink ek sal nooit weer mooi en sexy voel nie. Ek het gevrees dat mense my sal aanstaar en oordeel.”

Kelly is gediagnoseer met Alopecia areata – ’n algemene tipe haarverlies waar die pasiënt gewoonlik ronde kaal kolle kry, meestal op die kopvel. Dis ’n outo-immuunsiekte wat veroorsaak dat jou liggaam se immuunstelsel jou haarfollikels aanval. Party mense verloor net op een deel van hul liggaam hare, terwyl ander al hul liggaamshare verloor. Dit kan deur ’n wye verskeidenheid faktore veroorsaak word soos dieet, leefstyl, tekort aan oefening en spanning. Dis ’n onvoorspelbare toestand. ’n Mens weet nooit of jou hare gaan teruggroei of weer begin uitval nie. Hoewel Alopecia miljoene mense wêreldwyd affekteer, is dit nie juis iets waaroor baie mense openlik gesels nie.

Dokters het vir Kelly haar opsies verduidelik, insluitend kortisoonroom, homeopatiese medikasie en pynlike kortisooninspuitings (waar hulle 20 naalde in haar kopvel steek om haar follikels te stimuleer), waarvoor sy glad nie lus was nie. “Ek het besluit om meer navorsing te doen en my daaglikse roetine het bestaan uit doktersbesoeke, room en salf op elke kolletjie smeer en gedurig my kopvel nagaan vir nuwe kaalkolle en seker te maak my hare is altyd in plek sodat niemand kan sien wat eintlik aangaan nie.”

Kelly het akupunktuur, verskillende olies, kruie en aanvullings probeer.

Gebroke

kelly pearce,alopecia
Toe haar hare begin uitval.
Kuier Verskaf

“Ek was bang vir die wind en het eerder aan my hare vasgeklou as om te keer dat my rok opwaai, my kussing soggens was ’n nagmerrie, om op afsprake te gaan en my hare te was, het erge spanning veroorsaak. Ek het begin jaloers raak op my vriende wat nie hiermee hoef te deal nie, wat hulle hare kon vas- en losmaak sonder om te bekommer. ‘Hoekom ek?’, het ek gevra.

“My selfbeeld het in duie gestort en ek het ’n bietjie met depressie geworstel. Ek het baie gereeld net in trane uitgebars. Om in hierdie wêreld rond te loop sonder hare . . . Jy voel afskuwelik! Jy voel nie mooi en waardig nie. Oral rondom jou is pragtige vroue. Dit knak jou selfvertroue,” erken sy. Kelly het alles probeer om te red wat te redde is, om die kaal kolle weg te steek, maar tevergeefs.

Dís toe sy besluit het om al haar hare af te skeer. “Die spanning het amper onmiddellik verdamp. Ek het uiteindelik gevoel ek hoef nie meer weg te kruip nie.”

Kelly het uiteindelik aanvaarding ervaar. “Ek het nie geweet soveel mense wêreldwyd sukkel met hierdie haarverliessiekte nie. So vreemd soos dit klink, dit voel asof ek amper ’n hele nuwe familie bygekry het.” Dis juis hierom dat sy deesdae probeer om na ander mense wat in stilte ly, uit te reik, aan te moedig om daaroor te praat en die hulp te kry wat hulle nodig het.

“Ek voel asof ek herhaaldelik vir myself sê wie ek is, waarin ek glo en die storie wat ek vertel, is dat daar mag is in gebrokenheid, krag in kwesbaarheid en ’n skoonheid in dit wat ek ervaar het.”

Mense van heinde en verre stuur daagliks vir haar boodskappe om te sê hoe dapper en sterk sy is. “Die waarheid is dat ek soms steeds vreesbevange voel. Daar was ’n stadium toe ek gevoel het ek is ’n slagoffer, ek is van myself beroof. Ek het nie geweet wie ek is nie.”

Positiewe uitkyk

Kelly met 'n pruik

Kelly laat nie meer toe dat haar hare haar lewe versuur nie. Sy is ’n sexy vrou of sy nou kaalkop rondloop of ’n pruik dra. “Ek is mal oor opdress! Ek het nie geweet hoe gemaklik pruike sou wees, hoe natuurlik die hare sou voel nie. Dis soveel pret om te kies en keur tussen verskillende haarstyle en kleure!”

Deesdae, nadat sy vrede gemaak het met haar toestand, is Kelly se selfbeeld weer op dreef en sy het ’n baie positiewe lewensuitkyk. “As ek terugkyk, is ek amper bly ek het my hare verloor, want ek het soveel meer bygekry. Ek het nie net ’n nuwe selfvertroue nie, maar ek het geleer om werklik lief te wees vir myself, vir wie ek is en nie vir hoe ek lyk nie. En ek hoef gelukkig ook nie meer ure voor die spieël te staan en met my hare te sukkel nie,” skerts sy.

Sy fokus op haar grimering, eksperimenteer met nuwe style en maak seker haar wenkbroue is gedoen en dat sy wimpers aanhet. “As dit nie teruggroei nie of as dit erger raak, is dit oukei,” meen sy.

Die beste deel van haar reis is dat sy nou ander mense kan help en inspireer en sy is dankbaar dat God juis vir haar gekies het vir dié belangrike taak. Sy het besef sy is baie meer as net haar hare. Kelly versorg haarself, is lief vir haarself, maak seker haar lewe is so stresvry moontlik en kies elke dag om gelukkig te wees. 

Meer oor:  Inspirasie  |  Kuier  |  Alopecia  |  Kuier10
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.