Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Darling se dubbele drielinge!
5 September 2018
darling, drieling

Om ’n kleintjie in die huis te hê, is op ’n goeie dag, ’n handvol. Maar verbeel jou jy het drie eenjariges wat in jou huis rondkrioel! Dis nie sommer aldag dat ’n mens ’n drieling raakloop nie, maar in die strate van Darling in die Wes-Kaap, is daar twee stelle!

Met hul kinders se geboorte 30 jaar gelede, het Maria en David Hoop net een bondeltjie vreugde verwag, maar groot was hul verbasing toe die dokter nie net een keer nie, maar twee keer sê, “Lyk my hier kom nog een!”.

Maria (60) vertel sy was stomgeslaan en het nie geweet hoe sy dit gaan hanteer nie. Maar ’n mens het nie ’n keuse nie en moet dit aanvaar, sê sy. Gelukkig was David (60) van die begin af ’n staatmaker-pa en familie en vriende het ingespring en altyd gehelp waar en wanneer hulle kon. “David het bottels gemaak, winde uitgevryf en kiembies omgeruil. Partykeer het hy alles self gedoen sodat ek net ’n bietjie kon slaap,” onthou sy.

Maria se oudste dogter, ook Maria (40), het ook altyd reggestaan om hand by te sit. “Die Here het ons deurgedra,” meen Maria. Vandag is Dianne, Karen en Estorita hul trots, ’n trippel seëning van bo! “Die kinders het baie mooi maniere. Hulle het respek, werk hard en is altyd ordentlik en hulpvaardig. Ek en David is baie trots op wie hulle is,” glimlag Maria.

Iemand wat nou juis ’n moederskapreis deurmaak waarop Maria al 30 jaar is, is enkelma, Yonela Mlilo (25). Sy het gedink sy dra maar net ’n groot baba en het eers in die agtste maand van haar swangerskap uitgevind sy verwag ’n drieling – drie dae voor hul geboorte! “Ek het sommer in trane uitgebars – waar gaan ek klere kry vir drie? Ek kon dit eintlik nie glo nie,” vertel sy en lag lekker.

Maar ná hul geboorte, kon sy dit nie meer ontken nie en die skok en angs was oorweldigend. “Ek het vir ’n oomblik gewonder of ek hulle dalk net daar by die hospitaal kan los, of dalk vir een van die verpleegsters of ’n maatskaplike werker kan gee,” erken sy. Tog kan sy deesdae nie haar lewe indink sonder haar dogters, Alitha en Alide, en seun Akahluwa (1) nie.

Sy het ook ’n ouer seun, Julio (4). Hoewel dit soms maar broekskeur gaan, help haar ma, Nokwanele (42), om die kinders bedags te versorg sodat Yonela by ’n hoenderplaas in die area kan werk en saam staan dié twee bont om die drie besige peuters groot te kry. Yonela lag en sê sy hoop hulle gaan eendag ’n sukses maak van hul lewens, sodat hulle haar ’n bietjie in haar oudag kan bederf.

OORWELDIGEND

Maria onthou maar net te goed hoe oorweldigend dit kan wees om ’n drieling te probeer versorg en hoop vir Yonela se onthalwe dat sy darem ook mense het wat haar kan ondersteun. Maria self het nie gewerk nie en sy haal haar hoed af vir Yonela wat ná ’n lang dag op die plaas, huis toe kom en met haar kinders tyd deurbring en haar kinders so mooi grootmaak. “Oe, snags as een wakker geword het, dan word die ander twee ook wakker en het jy al ooit drie babas op een slag probeer troos?” vertel sy.

Maria het gou-gou agtergekom die beste manier is om die kleinste een op haar bors te hou, die middelste enetjie op haar bene en die oudste een in die wiegie sodat sy, met heen-en-weer-bewegings, al drie gelyk kan sus. Sy kon ook nie vir baie lank borsvoed nie, want die eerste twee het haar leeggedrink en dan was daar niks oor vir nommer drie nie. Maak nie saak hoeveel liters tee Maria gedrink het om haar melkproduksie te verbeter nie, sy kon net nie bybly met die drie honger magies nie.

Toe hulle begin kos eet, het Maria eers vir elkeen haar eie bakkie gemaak, maar sy het gou-gou besef dis net makliker om een bak kos te maak en happie-vir-happie haar drie dogters te voer, anders is daar altyd een wat skreeu van die honger. En om hulle uit te ken, was ’n storie.

“Soms het ek maar deurmekaar geraak, dan gee ek vir dieselfde een weer die bottel,” onthou sy. Uiteindelik het Maria begin om vir hulle verskillende borslappies aan te trek om dit vir haarself makliker te maak. Baie ander mense sukkel steeds om die drie uitmekaar te ken. “As kinders het mense baie keer verby ons geloop en dan teruggedraai en weer kom kyk,” lag Dianne. By ’n begrafnis het ’n antie een keer vir Essie gesê, “jong, dis dan nou al die derde keer wat jy kom groet het! Wat gaan aan?” Selfs die drieling se werkgewers raak nog deurmekaar met wie is wie.

DOEN ALLES SAAM

Die drie-span het saam allerhande kattekwaad aangevang en was van die begin af onafskeidbaar en beste maats. Hulle beskerm mekaar altyd.

“Daar was ’n keer wat ons stry gekry het en iemand wou my suster slaan. Toe sê ek ‘nee, jy slaan nie aan haar nie. Slaan eerder vir my,’” onthou Essie.

Só sal hulle altyd enigiets doen om daar te wees vir ’n suster. Sáám staan hulle sterk. Die drieling is hul ouers ewig dankbaar dat hulle alles in hul vermoë gedoen het om hulle met soveel liefde groot te maak.

“Ons doen alles saam. As ons nie bymekaar is nie, voel dit asof jou been of jou arm weg is,” verduidelik die oudste van die drie, Dianne.

Op laerskool was hulle een jaar nie in dieselfde klas nie. Dianne was so eensaam dat sy vir die skoolhoof gevra het om haar te skuif, omdat sy nie die jaar sal kan oorleef as sy nie by haar susters is nie. Deesdae werk hulle selfs saam as skoonmakers!

Hulle baklei ook amper nooit omdat hulle oor die meeste dinge dieselfde voel. Alle besluite word saam geneem en wanneer een ’n mooi kledingstuk in die winkel sien, koop sy drie daarvan, want wanneer hulle saam in die publiek is, trek hulle altyd dieselfde aan.

“Ons wil hê mense moet weet ons is die drieling van Darling!” vertel Essie.

Volgens dié drie kan hulle mekaar se gemoedstoestande aanvoel en beleef.

“Ekke weet as een van my susters seergekry het, siek of hartseer is. Dit is so ’n ongemaklikheid aan jou binnekant,” verduidelik Dianne. Hulle het ook hul eie, spesiale taal wat buitestanders nie sal verstaan nie.

Dit is waar dat ’n mens nie juis veel persoonlike ruimte het as een van drie nie, maar dit is al wat hulle ken en hulle geniet dit om te weet hulle hoef nooit alleen te wees nie. Eensaamheid is nie iets wat hulle ken nie, want daar is altyd iemand wat weet hoe jy voel en verstaan wat jy bedoel. Hulle kan nie ’n lewe sonder mekaar indink nie.

Dit is duidelik dat die band tussen die drie onbreekbaar is, dat hulle mekaar altyd en in alles sal ondersteun. Wanneer jy deel van ’n drieling is, is daar altyd iemand wat jou ten volle verstaan en vir jou lief is nes jy is. Jy is nooit alleen nie – iets waarna die Mlilo-kleinspan beslis kan uitsien!

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.