Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Die donker put van depressie
28 Junie 2019

Almal beleef soms “af” tye en voel hartseer, hopeloos en dat niks die moeite werd is nie. Menswees maak soms seer. Maar kan jy jou-self indink om elke dag van jou lewe so wanhopig en verlore te voel? Want dis wat depressie doen en dis ’n donkerte waaroor niemand eintlik wil praat nie. Die statistieke beklemtoon hoe erg die probleem is. Omtrent 460 mense probeer daagliks selfmoord pleeg en 23 is elke dag suksesvol.

Dit beteken 8 000 Suid-Afrikaners neem elke jaar hul eie lewe. Volgens Shouqat Mugjenker, bestuurder van die geestesgesondheidportefeulje by Pharma Dynamics, sal een uit elke drie Suid-Afrikaners op een of ander stadium in hul leeftyd ’n geestesversteuring ontwikkel. Shouqat meen selfmoord is aan die toeneem, nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd. Veral onder jong- en oumense.

Mans is omtrent vyf keer meer geneig tot selfmoord as vroue. Dis ook kommerwekkend dat tienerselfmoord drasties aan die toeneem is. Omtrent 9% van alle tienersterftes is as gevolg van selfmoord. In die 15 – 24 ouderdomsgroep is dit die tweede grootste oorsaak van dood en kinders so jonk as sewe jaar oud probeer nou al selfmoord pleeg. Wanneer jy aan depressie ly, beheer jy nie jou gedagtes nie. Jou gedagtes beheer jou.

Dit voel asof jy iets verloor het – en dan besef jy dis jouself. Negatiewe gedagtes maal konstant in jou kop rond en breek stukkies van jou hart af. Jy herken nie meer jouself nie. Jy sien ’n vreemdeling in die spieël. Al wat jy wil doen, is slaap om hierdie verskriklike donker gat net vir ’n rukkie te ontsnap. Of net nie meer wees nie. Jou lippe sê jy is fine, maar jou oë vertel ’n ander storie – een van jou siel se trane. Die enigste ding wat meer uitputtend is as depressie, is om voor te moet gee jy is oukei. Iemand met depressie kan nie net daaruit “snap” nie.

Daar is ook nie altyd eers ’n rede hoekom hulle só voel nie. Dis ’n siekte, nie ’n gevoel of ’n besluit nie. ’n Mens kan amper enigiets oorleef as jy die lig aan die einde van die tonnel kan sien. Maar as jy depressief is, sien jy net ’n donker, hopelose mistigheid. Kan ons dan werklik iemand wat die hele tyd voel asof daar nooit weer ’n lekker dag gaan wees nie, blameer as hulle dit begin oorweeg om hul eie lewe te neem?

Beplan sy sterfte

Vir Daryl Brown (31), ’n bemarkingsbestuurder van Melkbosstrand in die Kaap, het ’n mislukte selfmoordpoging en die verlies van sy bene hom uiteindelik laat besluit hy wíl leef. Hy vertel hy sukkel al van die ouderdom van twaalf met depressie. “Vir amper my hele lewe het ek so ongelooflik geïsoleerd gevoel, leeg, asof ek net wou gaan slaap en nooit weer wakker word nie,” sê hy.

Daryl was ook oorweldig deur skuldgevoelens omdat almal rondom hom kon cope met die issues in hul lewe, terwyl hy besig was om te verdrink. “Ek het heeltyd gewonder wat is fout met my. Ek kon nie slaap nie al was ek heeltyd moeg. Ek kon nie konsentreer nie. Ek het dit nie meer geniet om flieks te kyk, boeke te lees of musiek te luister nie – die goed wat my altyd kon opbeur. Ek kon nie ’n gesprek voer nie. Dit was asof my kop vol mis was en ek kon nie my pad daardeur vind nie.” Hy erken hy het nooit probeer hulp soek nie omdat hy nie sy familie en vriende wou pla met sy probleme nie.

Daryl wou ook nie professionele hulp kry nie, want hy het nie gedink dit sal help nie, en in sy hart het hy gevoel hý is die probleem. “Ek het aanhou dink dinge sal verander as ek net eers klaar is met skool, met universiteit, ’n nuwe werk kry . . . Ek het aangehou om myself te probeer fix deur meer betrokke te raak by die kerk of met nuwe stokperdjies. Maar niks het enige verskil gemaak aan hoe ek aan die binnekant gevoel het nie,” sug hy.

In 2013 het Daryl die geleentheid gekry om in Londen te gaan studeer. Aanvanklik was hy baie opgewonde, maar dinge het vinnig skeefgeloop. Hy het gesukkel om ’n werkvisum te kry, sy studies het nie so goed verloop nie en sy eerste ernstige verhouding het op die rotse beland. “Ek was so platgeslaan en vernederd en het nie kans gesien om met my stert tussen my bene as ’n mislukking terug te kruip Suid-Afrika toe nie. Ek was so moeg om te wag vir die dag dat alles oukei gaan wees. Dit het gevoel of dit nooit gaan kom nie.”

Vir twee maande het Daryl sy selfmoord beplan. “Dit het gevoel asof ek alles probeer het om myself te fix, maar niks het gewerk nie.” Hy het vir al sy vriende in Londen gesê hy gaan terugtrek Suid-Afrika toe en kennis gegee by sy woonstel. Op die Sondag wat hy moes trek, het hy vir sy ma ’n totsiens-e-pos na haar werkadres gestuur, sy sak gepak en na die naaste treinstasie gegaan, waar hy gewag het tot die platform leeg is. “En toe spring ek voor ’n trein in,” erken Daryl.

Sy eerste gedagte toe hy in die hospitaal wakker word, was, “Are you f*** kidding me? Kan ek nie eens dít regkry nie!” Sy selfmoordpoging het nie sy lewe geëis nie, maar wel albei sy bene. Maar daardie dag het waarskynlik ook sy lewe gered . . . Daryl vertel hy was ontsettend kwaad, gefrustreerd en nog meer depressief. Sy ma het onmiddellik Londen toe gevlieg en vir ’n maand elke dag langs sy bed gesit. Hy het al sy woede en frustrasie op haar uitgehaal, maar sy het nie een keer vir hom kwaad geword nie.

Dís hoe Daryl gelyk het voor sy selfmoordpoging.
Daryl help nou ander wat ook aan depressie ly.

Berading

Daryl erken dit was amper makliker om hierdie verlies te oorkom as sy depressie. Hy moes vir tien weke in die hospitaal aansterk en hier is hy vir die eerste keer met depressie gediagnoseer en ’n span psigiaters het vir hom antidepressante voorgeskryf.

“Die eerste terapiesessie met my sielkundige was ’n draaipunt in my lewe. Sy het onmiddellik deur my ‘ek is fine’-masker gesien en vir die eerste keer in my lewe het ek besef daar is iemand wat werklik verstaan hoe ek voel en opgelei is om my daardeur te help. Ek was nie mal nie! Ek was nie die enigste mens wat nog ooit so gevoel het nie. Ek was nie alleen nie!”

Vir die eerste keer ooit het daar hoop in Daryl geflikker dat hy tog eendag gelukkig sou kon wees. In die eerste twee weke nadat hy voor die trein ingespring het, het vyf van sy vriende hom gekontak en erken hulle is al vir jare in terapie vir depressie. “Van hierdie mense was my beste vriende en tog het ons nooit hierdie deel van ons lewens met mekaar gedeel nie. Ons moet ophou om depressie ’n taboe-onderwerp te maak, iets om oor skaam te wees. Dis ’n siekte, nie ’n identiteit nie. Dit is iets wat jy hét, nie wie jy is nie.” Vir die meeste mense sou die verlies van albei bene die laaste spyker in die kis gewees het, maar Daryl sien dit eintlik as die begin van sy lewe.

Nadat hy ontslaan is, het Daryl teruggetrek Suid-Afrika toe en weer begin werk. Hy het ook sielkunde begin studeer omdat hy ander wil help wat deur dieselfde struggle gaan. Deesdae werk hy saam met die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (SADAG) om bewustheid van depressie te kweek.

“Ek is veral passievol oor tieners, want ek dink as ek op skool al meer van die siekte verstaan het, dinge dalk anders kon uitdraai,” verduidelik hy. Volgens hom is dit belangrik dat mense van ’n jong ouderdom af al moet weet hoe om na hul geestesgesondheid te kyk, en dat dit oukei is om vir hulp te vra. “Moenie skaam wees oor jou gevoelens of dat jy struggle om te cope nie. Jy is nie alleen nie en daar is hulp beskikbaar. Praat met iemand wat jy vertrou en soek professionele hulp. Jy kan die vriend, partner en ouer wees wat jy wil wees!”

Daryl se lewe het nie oornag maanskyn en rose geword nie. “Ek het steeds af dae. Ek neem steeds antidepressante en ek sien steeds ’n terapeut. Ek sal dit dalk vir die res van my lewe moet doen. Maar ek hét ’n lewe. Die medikasie en terapie help my om goeie verhoudings te hê, om produktief en kreatief te wees, te studeer en weer my stokperdjies te geniet. Ek voel uiteindelik in beheer.”

Vir die eerste keer in sy lewe voel hy goed oor homself, gemaklik met wie en wat hy is. Volgens hom is depressie ’n siekte en net soos byvoorbeeld diabetes, moet dit reg bestuur word met ’n gesonde dieet, genoeg slaap en gereelde oefening. Daryl het dalk sy bene verloor, maar volgens hom het hy in die proses sy lewe teruggewen. “Dit is moontlik om gelukkig te wees as jy jou depressie reg bestuur. Partykeer is die grootste courage wat ’n man kan wys, om te erken hy het hulp nodig.”

Mites en tekens

Depressie is ook vir Martina Jacobs (38) van Jeffreysbaai in die Oos-Kaap ’n daaglikse stryd. “Dit voel asof jy verdrink, behalwe almal om jou haal asem. Jy voel so absoluut alleen, ’n gevangene in jou eie binneste. Totaal en al hulpeloos, soos lood, gevoelloos en koud. En almal om jou is gelukkig, tevrede. Dis amper ’n straf om saam met gewone mense te moet lewe. Dit maak my soms woedend dat hulle nie weet hoe ek eintlik voel nie, my nie verstaan nie,” verduidelik sy.

“Depressie kom in golwe van pyn wat in jou brein rondspoel terwyl jou liggaam afgetrek word in die dieptes van die donker see, reg om jou te versmoor. En die vraag wat jy jouself heeltyd vra, is ‘sink of swem?’ – die heeltyd.”

Sy erken as dit nie vir haar kinders was nie, sou sy dalk ’n manier gesoek het om alles te beëindig. Soos dit is, fantaseer sy die meeste dae net daaroor. Volgens Shouqat dui navorsing aan dat mense al hoe meer geïsoleerd voel, dat die swak ekonomie hulle onderkry en tegnologiese vordering veroorsaak dat mense al hoe minder face-to-face ontmoet. Verder is boelies en seksuele geweld ook moontlike triggers.

Maar, waarsku Shouqat, moet ’n mens nie veralgemeen wanneer dit by redes vir selfmoord kom nie, omdat elke mens uniek is en hul eie redes het. Volgens Cassey Chambers, bedryfsbestuurder by SADAG, is daar ’n hele paar mites aangaande depressie en selfmoord. Die eerste een is dat mense wat oor self- moord praat of dreig om dit deur te voer, dit nie regtig bedoel nie.

“Mense wat hieroor praat, reik dalk uit vir hulp of ondersteuning. Baie van hulle ervaar intense angs en voel daar is geen ander opsie nie. Dis belangrik dat jy elke selfmoorddreigement of praatjie ernstig opneem.” Verder dink baie mense selfmoordgevalle gebeur sonder waarskuwing. Dit is egter nie waar nie. “Altesaam 75% van mense wat selfmoord gepleeg het, het eers vir iemand vertel. Verder is daar meestal waarskuwingstekens. Dit is belangrik om uit te kyk hiervoor en daarop te reageer.”

Siekte diskrimineer nie

Laastens diskrimineer depressie nie. Dit het geen kulturele, rasse, etniese of sosio-ekonomiese grense nie. Shouqat sê tekens van depressie verskil van mens tot mens, maar algemene simptome sluit in om aanhoudend hartseer, leeg, angstig, hulpeloos, waardeloos en skuldig te voel. Die meeste mense verloor ook belangstelling in aktiwiteite wat eens vreugde verskaf het, het ’n tekort aan energie en sukkel om te konsentreer.

Hulle eet en slaap ook soms meer of minder as gewoonlik en sal kla van onverklaarbare pyne en skete. As jy ’n geliefde het wat met depressie worstel, stel Shouqat voor dat jy soveel moontlik probeer leer oor die toestand – die simptome en behandelingsopsies.

Bied jou ondersteuning aan en maak seker dat hul basiese behoeftes (soos kos en slaap) vervul word. Help waar jy kan, soos om hul troeteldiere vir ’n rukkie te versorg of die huis skoon te maak – eenvoudige take kan oorweldigend word. Moedig hulle ook aan om ’n terapeut te sien en wees onvoorwaardelik lief vir hulle.

Die belangrikste is om seker te maak hulle kry die hulp wat nodig is. Maar dit maak partykeer nie saak wat jy doen of hoe lief en ondersteunend jy is nie – soms kan mense net nie voortgaan met die lewe nie en pleeg selfmoord.

Volgens Cassey is daar geen woorde om die gevoelens te beskryf wat jy ervaar wanneer iemand na aan jou selfmoord pleeg nie. Die eerste reaksie is gewoonlik skok, ongeloof en dan afgryse.

Dan kom die fase waar jy al die herinneringe oor en oor in jou kop afspeel in ’n poging om sin te probeer maak van die verlies. Maar meestal vind jy geen verduideliking of afsluiting van die oorweldigende verdriet en smart wat jy ervaar nie.

Baie geliefdes verval self in depressie ná ’n selfmoord, gevolg deur ’n geweldige gevoel van woede – óf dit nou vir die persoon is, iemand anders, ’n terapeut óf vir jouself. Sommige mense voel verlig, veral ná ’n lang periode van selfvernietigende gedrag en lyding. Die meeste mense ervaar ’n mate van skuldgevoelens en omtrent almal sukkel lank en hard met die vraag “hoekom?”.

Cassey beklemtoon dat dit baie belangrik is vir die geliefdes van iemand wat selfmoord gepleeg het om terapie te kry en te leer hoe om te cope sodat hulle kan begin genees. Verder is daar ’n paar goed wat ’n mens kan doen om jouself te help. Behou kontak met ander mense, veral in die spanningsvolle maande ná die selfmoord. Vriende en familie sal dalk ongemaklik voel en nie weet hoe om te help nie. Neem die inisiatief om openlik te praat en te vra vir hulp. Dit sal hulle ook help.

Wanneer jy gereed is, deel met ander jou gevoelens van verlies en pyn. Verstaan dat elke mens op sy eie manier rou. Wees bewus daarvan dat belangrike dae soos herdenkings, verjaardae en vakansiedae moeilik kan wees en beplan daarvoor.

“Jy sal dalk vir ’n rukkie skuldig voel, maar dit is belangrik dat jy besef dit is nie jou skuld nie en jy is ook net ’n mens. Dis oukei om jou lewe ’n bietjie on hold te sit, maar uiteindelik moet jy weer die lewe kan begin geniet sonder om skuldig te voel,” meen sy. Moenie jouself afsonder nie. Dit is belangrik vir jou siel om jou konneksie met die res van die wêreld te behou, veral in tye van verlies.

Altesaam 75% van mense wat selfmoord gepleeg het, het eers vir iemand vertel. Verder is daar meestal waarskuwingstekens.

WAARSKUWINGSTEKENS

KRY HULP AS JOU GELIEFDE

• Geselsies of grappies oor selfmoord maak.

• Voorberei vir hul dood.

• Té krities op hulself is.

• Veranderings in hul persoonlikheid het.

• Belangstelling in hul voorkoms en higiëne verloor.

• Riskante gedrag vertoon.

• Oormatige gevoelens van skuld, selfblaam of mislukking het.

• Gedigte, boodskappe, opstelle en posts op sosiale media skryf.

Foto’s: Theodore Jeptha/Son

Illustrasie: Ryan Carolisen;

Bronne: https://www.medicalnewstoday.com/articles/320306.php; https://en.wikipedia.org/wiki/Treacher_Collins_syndrome

Meer oor:  Gesondheid  |  Depressie  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.