Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Die seer & seëninge
4 September 2019
vania cloete-collison

Sy was deel van die Kuier-span toe daar nog nie eens ’n kantoor vir die nuwe tydskrif was nie, maar vir die ses jaar wat sy deel was van die span, was dit vir Vania Cloete-Collison ’n voorreg om bruin vroue mooier te laat voel sodat hulle hul waarde kan besef.

En enigeen wat Vania (39) ken of selfs net ’n kort tyd in haar teenwoordigheid was, weet dié mooi vrou het ’n borrelende persoonlikheid; ’n aansteeklike energie en soos die Engelse sê, a zest for life. En dis met dieselfde energie dat Vania vir jare Kuier se mode- en skoonheidsblaaie aangepak het. Sy het celebrities vir Kuier-voorblaaie stileer, maar sy het ook gewone vroue wat nooit gedink het hulle kan mooi lyk of eendag in ’n tydskrif verskyn nie, gewys enigiets is moontlik as jy ’n bietjie moeite doen.

Vania, wat al vir jare ’n nuusleser is vir die Wes-Kaapse radiostasie Good Hope FM, het voor haar tyd by Kuier en ander Media24-tydskrifte eers as ’n gemeenskapjoernalis vir die destydse MetroBurger en TygerBurger gewerk. Hier het sy meestal misdaadstories gedek en dit was vir haar verskriklik. Daarom toe sy die geleentheid kry om tydskrifwerk – eers vir Move!, tvplus en daarna Kuier – te doen, was dit ’n welkome ontvlugting.

“As ’n rookie (beginner-joernalis) is jou beat altyd crime en in ons gemeenskappe gebeur die ergste goed, moord, verkragtings, en ek het altyd geweet ek is nie uitgeknip vir daardie tipe joernalistiek nie. Daarom het ek lipstick bo geweld gekies,” begin Vania gesels.

Sy beskou haarself as ’n gemeenskapmens en sê al het sy gekies om oor lipstiffie te skryf, het dit by Kuier vir haar oor meer as dit gegaan – dit het daaroor gegaan “om ons mense te help”.

“Ek is 100% bly dat ek deel was van ’n span wat die narrative van ons mense wou verander. Ek het myself nog altyd by die stiefpublikasie of -radiostasie bevind, waar jy moes bewys dat jy (die handelsmerk) goed genoeg is. Kuier het soos Move! regtig uit die as uit opgestaan en ons het gewys wat ons kan doen,” vertel sy. 

Pynlike tyd

Vania, haar man, Brandon, en hul kinders, Brody en Ariah.

Ons doen die onderhoud in ’n restaurant langs die SABC-gebou in Seepunt, net voor Vania se volgende skof op Good Hope FM se middagprogram, The Great Drive, van 15:00 – 18:00 begin. Vania kon nog nooit net een ding doen nie en vir so lank as wat sy kan onthou, het sy altyd minstens twee werke gehad.

Maar om so besig te wees, kom nie sonder sy eise en uitdagings nie en dit was juis in haar tyd by Kuier toe sy besig was om ander vroue mooi te maak en steeds nie die bal laat val het by haar radiowerk nie, dat sy haar eie ware lewensdrama beleef het.

By Kuier hoor ons gereeld noodkrete van vroue wat so graag babas wil hê, maar vir wie dit net nie wil gebeur nie. En Vania was een van dié vroue...

Sy en haar man, Brandon, wat in Junie vanjaar ook hul 10de huweliksherdenking gevier het, het gesmag na ’n gesin, maar dit wou net nie vir hulle gebeur nie. Hulle het dubbel die trauma, hartseer en teleurstelling beleef toe hulle vier jaar getroud was.

Vania was uiteindelik swanger met ’n seuntjie, wat sy en Brandon Ross gedoop het. Hulle het só na sy koms uitgesien. Die swangerskap het goed gevorder, maar toe verloor sy vir Ross op 9 Maart 2013 toe sy ses maande swanger was. Die Kuier-span was by Ross se begrafnis en om die vrolike Vania so gebroke te sien, het daardie dag almal se harte aan flarde gehad.

Hulle het daarna weer probeer en Vania het vir die tweede keer swanger geword, maar ook dié swangerskap was van korte duur, want Vania het op agt weke ’n miskraam gehad.

Dit was ’n verskriklike tyd vir Vania en Brandon, maar hulle het op mekaar, hul ondersteuningsnetwerk en geloof gesteun om deur dié moeilike tyd te kom.

“Ons kon met Ross se geval die dokters gedagvaar het (want daar was mediese nalatigheid), maar ons het besef ons sou nie kon aanbeweeg nie. Ons het besluit wat gebeur het, was die Here se besluit. Ons kon nie toe teruggaan en steeds dagvaar nie,” maak Vania haar hart oor dié pynlike tyd oop.

Maar die lewe staan nie stil net omdat jy ’n krisis beleef nie en Vania moes ook ’n manier vind om deur die hartseer aan te gaan. Haar werk het haar baie gehelp en sy is ook nie iemand wat vasklou aan die seer nie, sê Vania.

“Ek tob nie oor dinge nie. Ek beweeg aan. As ek nie ’n goeie geloofstelsel gehad het nie, weet ek nie of ek dit sou oorleef het nie. Ek en Brandon was ook mekaar se saviours. Ek wou nie daai persoon wees wat in ’n groef verval nie. Ek het my krag in Hom gesit en doen dit tot vandag toe nog,” voeg Vania by.

Dié vrou straal ’n sterkte uit wat diegene wat met haar gesels, hoop gee dat ook hulle, nes sy, enigiets kan oorwin.

Maar iets moes verander in haar lewe omdat sy en Brandon steeds nie opgegee het op die droom om hul eie gesin te hê nie.

Brandon het haar aangemoedig om dinge loopbaangewys rustiger te vat, daarom haar besluit om in 2015 haar werk as mode- en skoonheidsredakteur by Kuier te los. Sy en Brandon het ook ’n bietjie gaan reis om nie nét op babas te konsentreer nie, maar om ook weer die lewe en mekaar op ander maniere te herontdek.

vania cloete-collison
Vania agter die skerms op een van Kuier se shoots

Haar stresvlakke het verminder en toe gebeur dit – sy word weer swanger en dié keer was sy die trauma van nóg ’n kind verloor, gespaar.

In April 2016 is hul babadogter, Ariah (nou 3), gebore. Ariah was ook net drie maande oud toe Vania met haar seuntjie, Brody (nou 2), swanger word. En dié was geen “ongelukkie” nie, sê Vania laggend. Dit was absoluut beplan. Vania het in ’n stadium twee kinders onder twee gehad, maar anders sou sy dit nie wou hê nie. “Ariah en Brody is sommer ’n ‘gemaakte’ tweeling!”

Die blydskap in haar oë wyk vir ’n wyle, want sy vertel toe sy hoogswanger was met Ariah, was haar pa, Henry John Cloete (61), ’n suikerlyer, sterwend. Vir so lank as wat hy kon, het hy probeer uithou omdat hy weet hoe belangrik dit vir Vania was dat hy haar kind ontmoet.

Maar in Januarie 2016, enkele maande voor Ariah se geboorte, het hy afgesterf. Sy organe het ingegee.

Haar kinders was absoluut hul hele familie se redding, sê Vania sag.

“My ma, Eveleen, het vroeg afgetree om na my pa te kyk, maar toe sterf hy ses maande later. En toe kom Ariah en Brody en vul weer ons lewens. Ek kon nie onder ’n bed gaan lê nie, ek moes ma wees,” sê Vania.

Maar al is haar pa nie meer hier om haar kinders te sien grootword nie, weet Vania hy is altyd om haar kinders.

“Ons hoef nie my pa se herinneringe lewendig te hou nie, want toe Ariah begin praat, het sy altyd gesê sy praat met Pa John terwyl Brody weer net sulke maniertjies soos my pa het!”

Die glimlag is terug. Ja, haar lewe is woes nou, want sy balanseer weer ’n klomp goed. Ma-wees, vrou-wees, haar loopbaan en die klein kosspysenieringbesigheid, Making a Pot with Vania, wat sy begin het. Vania doen kleinskaalse spyseniering van gesonde kosse. Sy beoog ook om in September haar eie YouTube-kanaal getiteld TheMilleniMoms, te begin waar sy oor alles ma-wees en vrou-wees gaan gesels.

As daar een ding is wat ons kan wegvat uit Vania se storie, is dat jy moet glo in God se plan vir jou lewe en dat alles sal uitwerk soos dit moet...
Meer oor:  Kuier  |  Kuier10
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.