Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Dik van deurmekaar derms
16 Mei 2018


Een oggend word jy wakker en voel asof jy drie maande swanger is, maar jy is nie. Jy is net bloated en voel jy wil ontplof. Jy laat winde soos ’n ou man – hard en aanhoudend!

Wanneer jy voel asof jou hele lewe beheer word deur jou ingewande, kan dit jou sommer baie in die verleentheid stel en die meeste mense is te skaam om openlik daaroor te praat.

Maar prikkelbare derms (irritable bowel syndrome of IBS) raak baie meer mense as wat jy sou dink. IBS is nie ’n siekte nie, maar ’n sindroom wat die kolon aantas, verduidelik dr. Monique Marais, gastroënteroloog van Goodwood in die Kaap. (Die kolon se hooffunksie is om water en nutriënte te absorbeer uit gedeeltelik-verteerde kos. Enigiets wat nie geabsorbeer word nie, beweeg stadig deur die kolon na die rektum en kom uit as stoelgang.)

IBS is twee keer meer algemeen by vroue as by mans en hoewel daar nie opgedateerde statistieke vir Suid-Afrika beskikbaar is nie, sê sy ongeveer 15% van die wêreld se bevolking sukkel daarmee. By party is dit kronies en hulle sukkel daagliks daarmee, vir ander gebeur dit elke nou en dan.

“Ek het grootgeword met ’n moeilike maag,” vertel Brendine Daniels (32) van Firgrove buite die Kaap. Sy was gedurig opgeblaas en het geleef in rekbroeke om plek te maak vir haar maag se wispelturige buie. “Ek het oorleef op ’n kombinasie van goedbeplande maaltye en loopmaag-medisyne,” onthou sy.

“In my vroeë twintigs, toe ek die stresvolle wêreld van volwassenes en werk betree, het my simptome stelselmatig erger geword. Party dae was ek bang ek maak ’n ongeluk in my pantie, ander kere het ek gewens ek kon, ek was so hardlywig. Ek kon later nie meer anders nie en het myself en my maag dokter toe gesleep,” lag sy.

Ná ’n hele reeks toetse het die dokter haar gediagnoseer met IBS. Brendine en die dokter het besluit om eers haar eet- en leefstylgewoontes te verander voordat hulle medikasie oorweeg. “Ek eet g’n niks meer junk food nie en probeer om suiker uit te sny. Verder eet ek by uitsondering spicy kos en drink baie water,” vertel sy.

Deesdae probeer sy ook om haar stresvlakke te bestuur. “Ek het ’n dankbaarheidsjoernaal begin en probeer om elke dag oefening te kry – al is dit net om om die blok te stap. Maar daar is nie ’n quick fix nie en ek moet elke dag daarmee saamleef,” sê sy. Volgens Monique is niemand regtig 100% seker wat IBS veroorsaak nie.

“Dit is ’n gekompliseerde sindroom met baie verskillende snellers,” meen sy. Daar word vermoed dit kan wees as gevolg ’n klomp moontlike veranderings aan die dermkanaal beweegbaarheid en hipersensitiwiteit tot sekere kossoorte.

Het jy dit ook?

Monique sê tipiese simptome is krampe, winderigheid, langdurige maagpyn, ongemaklikheid wanneer jy toilet toe gaan en verandering in jou stoelgang (hard, sag, loperig, stekelrig).

Party mense sukkel met diarree, ander is weer baie hardlywig en sommige ongelukkige mense sukkel met beide – ’n onvoorspelbare ervaring om die minste te sê. Die pyn en opgeblaasde gevoel kan maak dat jy siekverlof vat en ander belangrike geleenthede misloop. Die meeste mense is nie eens lus vir seks nie.

Pasiënte weet meesal nie wat om te eet nie en begin baie kossoorte vermy. Hulle voel hulle kan nie meer ’n lekker maaltyd saam met vriende of familie geniet nie. Diegene met diarree vrees hulle maak ’n “ongelukkie” en vermy dit sommer maklik om uit te gaan of lank te reis. Dit kan ontsettende spanning veroorsaak.

Baie mense bekommer hulle oor die toestand, veral oor die oorsake en die risiko’s daarvan. Monique meen hoewel hierdie sindroom ongemaklik en pynlik kan wees, is dit nie gevaarlik nie. “Dit word nie geassosieer met ’n hoër risiko vir kolonkanker nie en is eintlik ’n doodon-skuldige toestand.” Sy sê jy hoef nie te bekommerd te wees oor die langtermyngevolge van IBS nie.

Nie alle mense hoef mediese behandeling te ontvang vir IBS nie – dit hang alles af van jou simptome. “Daar is ongelukkig nie ’n geneesmiddel nie, ons probeer net die simptome behandel,” verduidelik sy. Om gereeld te oefen, te ontspan, die bystand van jou dokter en om jou dieet te verander, kan alles baie help om verligting te bring. Haar raad is om enige geprosesseerde en vetterige kosse, groot maaltye en kos wat baie suiker bevat, te vermy. Jy moet ook gewone suiker eerder as artificial sweeteners gebruik. Moet nooit ontbyt misloop nie en probeer baie vrugte in jou dieet in te werk. As jy agterkom daar is spesifieke kossoorte wat jou simptome vererger, moet dit nie eet nie.

“Moet egter nie in die lokval trap van alle graan (gluten) vermy nie. Dit is nie nodig om jou geld te mors op fancy ‘gluten-free’ produkte nie,” waarsku Monique. Volgens Monique is dit moeilik om te bepaal of daar iets is wat jy kan doen om dit heeltemal te genees. Jy kan egter jou leefstyl so aanpas dat dit bestuurbaar is en die invloed op jou daaglikse lewe nie so groot is nie. Stres kan ’n groot rol speel in jou IBS-simptome. “Moenie die rol wat emosionele spanning en angs op jou dermkanaal kan hê, onderskat nie,” sê sy.

Stres minder

“Partykeer besef ons nie eens ons ervaar stres nie, maar ons derms weet. Dit is daarom belangrik om hieraan aandag te gee. Oefening en ontspanning kan help met die stres. Maak ook seker jou dieet is vars en ‘skoon’. Moenie gemorskos eet nie,” raai Monique aan.

Daar is ook ander maniere om dit te beheer. Probeer om stimulante soos kafeïen en tabak te vermy. Moenie te veel suiwel- of spicy kos eet nie en hou jou porsies klein. Probeer om nie maaltye oor te slaan nie en vermy laatnag-happies. Drink baie vloeistof, soos water, suikervrye koeldrank en kruietee.

Vermy eerder gaskoeldrank en alkohol.

En moenie elke stoelgang analiseer of te veel aandag gee aan jou simptome nie. Ander alternatiewe behandelinge sluit in hipnose, sielkundige behandeling vir spanning, akupunktuur en joga. Jy kan ’n kosdagboek hou om te probeer uitvind watter kosse jou toestand vererger.

Probiotikum, borrie, kaneel en pepermentolie kan ook verligting bring. Hou maar ’n noodgevalsakkie byderhand met skoon klere en medisyne vir wanneer jy dalk onverhoeds met ’n aanval betrap word. As jy enigsins bekommerd is, besoek liewer jou dokter. Jou stres gaan in elk geval net jou derm nóg meer prikkel. As jou simptome vir langer as vier tot ses weke op ’n keer aanhou of stelselmatig erger word, maak ook eerder ’n afspraak

Waarskuwing
As jy oor 50 is, IBS-simptome ervaar, maar ook skielik onverklaarbaar gewig verloor, bloed in jou stoelgang het en koorsagtige pyn jou snags wakker hou, besoek jou dokter.


Dié artikel verskyn in die 16 Mei 2017-uitgawe van Kuier-tydskrif.


Meer oor:  Prikkelbare Dermsindroom  |  Kuier  |  Raad  |  Ibs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.