Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Jou kind: Selfontdekking is normaal
24 Julie 2019
kind

Ons lewe in ’n tyd waar kinder­molestering en -verkragting aan die orde van die dag is. Daarom is dit juis vir ouers belangrik om te verstaan wat “normale” seksuele ontwikkeling en gedrag in jong kinders is en watter gedrag die gevaarligte moet laat flikker.

Hoe moet jy as ouer dan met jonger kinders, spesifiek dié tussen die ouderdom van twee en ses jaar, oor hul seksuele ontwikkeling praat?

Kenners is dit eens: Kinders is nuuskierige en seksuele wesens; daarom sal hulle hul liggaam verken deur daaraan te raak, te trek en te vryf. Dis egter die ouers se verantwoordelikheid om die nodige leiding en opvoeding te verskaf. Daarom is dit so belangrik is om die gesprek met jou kinders oop en eerlik aan te pak.

Joan van Niekerk, ’n kinderregte-en-beskermingskonsultant van Kaapstad, sê met kinders in dié ouderdomsgroep is dit belangrik dat ouers verstaan dat dit normaal is wanneer kinders aan hulself vat. Masturbasie laat hulle goed en minder angstig voel.

“Seksuele ontwikkeling en gedrag is normaal. Dis vir kinders vertroostend. Kinders is nie net nuuskierig oor hul eie liggaam nie, hulle wonder ook oor dié van ander. Dis hoekom hulle altyd vrae oor hul geslagsele sal hê en daaraan wil vat. Op dié manier leer die kind. Dit is dus nie ongewoon dat kinders aan hul geslagsdele trek, voel of krap nie. Hulle moet toegelaat word om hul liggaam te verken.”

Volgens Joan is dit die ouer se verant-woordelikheid om die kind te help ver-staan dat sekere gedrag onaanvaarbaar is en dat hulle nie moet toelaat dat ander mense aan hul liggaam vat nie.

“As ’n kind seksuele beskrywings kan gee, moet dit beslis die gevaarligte laat flikker. Dit is baie ongewoon dat kinders ’n gedetailleerde beskrywing kan gee van iets wat met hulle gebeur het.

“Een so ’n voorbeeld is ’n meisiekind wat ons gehelp het. Sy is vier. Sy is ontvoer en seksueel misbruik. Die kind het verduidelik die oom het haar op sy skoot getel en op en af beweeg. Sy het ook melding gemaak van hoe seer dit was en dat daar iets uit sy piepie gekom het. Dit was ’n baie beskrywende verduideliking van wat gebeur het. Ouers moet aandag gee wanneer hul kinders sulke ‘bekentenisse’ maak.”

Leer saam

Joan maan ouers moet versigtig wees hoe hulle reageer wanneer hulle sien kinders vat aan hul of ander se geslagsdele.

“Moenie vir die kind sê dit is ‘bad touching’ nie. Verduidelik liewer dat ’n mens se geslagsdele privaat is. Dis nie daar dat ander daaraan kan vat nie. Vat die kind na die plaaslike biblioteek en vra boeke oor seksuele ontwikkeling wat ouderdomsgepas is. Só spandeer jy gehaltetyd saam met die kind én voed hom/haar op. Ouers moet onthou om nie met paniek te reageer nie, want dan gaan die kind hom onttrek,” verduidelik sy.

Justine Kloppers (40) van Athlone in die Kaap sê sy het die skok van haar lewe gekry toe sy eendag in haar kinders (vier en vyf jaar oud) se kamer instap en sien hulle vat aan mekaar.

“Ek sit die twee saam in die bad. Ek het nooit regtig iets daarvan gedink nie. Die betrokke aand het ek hulle albei klaar gewas, uit die bad gehaal, in hul handdoeke toegedraai, na hul kamer geneem en elkeen op hul kooi neergesit. Ek moes kombuis toe gaan omdat my pot op die stoof droog was.”

Toe Justine vyf minute later terugkeer, het sy op ’n onthutsende toneel afgekom. Haar dogtertjie was besig om aan haar boetie se penis te vat.

“Ek het amper ’n oorval gekry. Die twee het net so groot geskrik, want hul ogies was pieringgroot toe hulle my reaksie sien. Ek het hulle ’n goeie pak slae gegee.

“Maar toe ek agterna met hulle daaroor praat, het ek baie skuldig gevoel, want sy het gesê sy wou net weet wat dit was en voel hoe dit voel,” vertel Justine.

“Dit was vir my sowel as vir hulle ’n groot les. As ons die kinders leer oor privaat dele en wat die verskil tussen ’n seuntjie en dogtertjie is, kan ons sulke voorvalle maklik vermy. Kinders is nuuskierig en hulle sal altyd eksperimenteer. Dis my verantwoordelikheid om seker te maak ek voed hulle op met die nodige inligting sodat hulle nie dit skelm hoef te doen nie.”

Anel Annadale, ’n opvoedkundige sielkundige van Kaapstad, sê baie mense voel voorskoolse kinders is te jonk om seksonderrig te ontvang. Sy beklemtoon dis baie belangrik.

“Dit gee hulle nie net die nodige inligting om hulself teen seksuele misbruik te beskerm nie, dit leer hulle ook seks is ’n menslike behoefte. Jy maak ’n fout as jy aanneem kinders is nie seksuele wesens nie. ’n Jong kind se nuuskierigheid oor sy eie liggaam, geslags­dele en seksuele gedrag is natuurlik en onskuldig. As jy dit ignoreer of dit ‘sleg’ of ‘vuil’ noem, kan later in die kind se lewe tot seksuele probleme lei.”

Kinders is nie net oor hul eie liggaam nuuskierig nie, hulle wonder ook oor dié van ander. Dis hoekom hulle altyd vrae sal hê en daaraan wil vat.
Joan van Niekerk

Vroeg vrot?

Volgens Anel is ouers dikwels bekommerd dat dit tot vroeë eksperimentele gedrag kan lei as hulle jong kinders inligting gee oor seks. Volgens haar het dit eintlik die teenoorgestelde uitwerking. “Korrekte, ouderdomsgeskikte inligting oor seks voorkom dikwels eksperimentele gedrag. Kinders wat die verkeerde inligting ontvang (gewoonlik deur hul eweknieë of ouer vriende) en kinders wat nie seksuele onderrig ontvang nie, eksperimenteer dikwels met seksuele gedrag omdat hulle nuuskierig is, maar hulle is te bang om hul ouers oop en eerlike vrae oor seks te vra.”

Anel stel voor ouers leer hul kinders ’n mens verwys na jou geslagsdele as “privaat dele” omdat dit baie spesiaal en baie privaat is en net aan jou behoort. Verduidelik dat hierdie “privaat dele” alles insluit wat deur ’n swembroek bedek word en dat niemand anders as hulle toegelaat word om aan hierdie dele te raak nie.

Leer jou kinders om tydens badtyd hul eie privaat dele te was en herinner hulle daaraan dat hulle jou dadelik moet vertel as iemand anders aan hierdie liggaams­dele wil raak of selfs net met hulle daaroor wil praat, raai sy aan.

Christine Prins van Blackheath in Kaapstad se sesjarige kleuter het ook al haarself “ondersoek”. Sy sê haar eerste reaksie was om die kind na ’n dokter te neem omdat sy gedink het die kind word miskien elders seksueel misbruik.

“Sy het een oggend in haar vagina gekrap en gesê: ‘Mammie dis mos my koekie, nè?’ Ek was stomgeslaan, want wat weet die kind van in haar vagina krap?”

Volgens Christine was die kind se vagina die volgende dag rooi toe sy dit wou was. Dis toe dat sy onraad vermoed het.

“Ek het haar die volgende dag dokter toe geneem. Die dokter het haar ondersoek, maar bevind daar was nie penetrasie nie. Die dokter het toe vir my verduidelik dis normaal dat kinders hul liggaam verken. Dis hoe ek daarvan geleer het.”

Christine is van mening dat ouers nie net hul kinders oor die onderwerp moet opvoed nie, maar ook hulself. “Omdat ons in so ’n samelewing leef, dink ons altyd die ergste. Ons gee ons kinders nie eens kans om te verduidelik nie. Ons spring net op ’n perd en hol.”

Dis vertroostend om te weet daar is wel iets soos “normale” seksuele gedrag vir jong kinders. Maak net seker jou kind weet wanneer dinge buite perke is. 

Meer oor:  Kuier  |  Kinders  |  Selfontdekking  |  Ouerskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.