Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Christo & Cindy steeds dolverlief ná 16 jaar
06 Februarie 2019
Christo Davids


Hierdie tyd van die jaar is die winkels rooi en wit geverf, vol wollerige teddiebeertjies en koppies met liefdesboodskappies op, want dis Februarie, die maand van liefde. Ons weet hierdie is meestal kommersiële foefies om jou geld te laat spandeer, maar selfs al val jy nie hiervoor nie, sal jy ’n ander (liefdes-)deuntjie sing wanneer jy in die teenwoordigheid is van akteur en regisseur Christo Davids en sy vrou, Cindy.

Die millennials sal sê, “Christo en Cin­dy is #relationshipgoals” terwyl die ouer garde dalk eenvoudiger sal opmerk, “dís nou ware liefde!”, want ná 16 jaar saam, is hul liefde nog lank nie aan die koud raak nie. Inteendeel, hulle is só verlief dit lyk asof hulle nog in die wittebroodfase is!

Maar vir Christo (35) en Cindy (33), wat al ses jaar getroud is en in Johannesburg woon, bly hul liefdesvuur nie vanself aan die brand nie. Elkeen doen hul deel om hul verhouding op alle vlakke gesond en opwindend te hou en om nooit die ander een te laat vergeet hoe spesiaal hulle is nie. Hulle is ook nie bang om dit vir mekaar te wys of vir mekaar te sê nie.

Cindy en Christo deel mekaar se waardes en vul mekaar goed aan.

UITHAAL EN WYS

En met 14 Februarie om die draai, weet Christo hy sal moet voortbou op ’n “tradisie” wat hy begin het sedert hulle in 2003 ’n paartjie geraak het. En dis om 14 Februarie ekstra spesiaal te maak vir Cindy, want dit is ook haar verjaardag.

’n Glimlag verhelder Cindy se gesig wanneer sy liefdevol vertel Christo gaan al al die jare uit sy pad om hierdie dag vir haar spesiaal te maak. En ja, sy kry twee geskenke, een vir Valentynsdag en een vir haar verjaardag.

Kuier- en TV-liefhebbers het Christo oor die jare in verskeie rolle gesien – van klein Dialtjie in Onder Engele tot Errol in 7de Laan en Abie in die verhoogproduksie Ellen Pakkies. Christo, soos Kuier-land weet, is nie meer in 7de Laan te sien nie; hy werk deesdae agter die Laan se skerms as regisseur. Hy hanteer tussendeur ook die regie vir talle verhoogproduksies, waarvan een ’n onlangse produksie Van Wyk: Storyteller of Riverlea, ’n eenmanstuk met Zane Meas in die hoofrol is.

Maar om te sien hoe hy die rol van Cindy se man en klein Elijah (2) se pa volstaan, is iets besonders. Hierdie is rolle wat hy met oorgawe vertolk, en Cindy kon nie trotser op hom wees nie.

Cindy verkies om in die agtergrond te wees wanneer dit kom by media omdat sy voel dis Christo se wêreld.

Sy deel in sy sukses, maar vir haar is wat hy doen en dat hy landwyd ’n TV-liefling is, ’n bysaak. Sedert hul troue ses jaar gelede in Huisgenoot gefeature is en behalwe ’n foto saam met Christo en Elijah vir Kuier se Vadersdaguitgawe van 2016, het Cindy nog nie ’n voorbladshoot of onderhoud toegestaan nie.

“So julle is lucky dat sy ingestem het,” voeg Christo by. “Cindy is van nature mooi. Sy het als gehad wat ek in ’n vrou gesoek het. Sy is clean cut – what you see is what you get. Sy het nie omgegee oor wat ek vir ’n lewe doen nie. Sy neem ook nie deel aan hierdie ‘sport’ van my nie. By die huis praat ons nie oor werk nie, want dit was nog nooit belangrik vir ons nie. Wat belangriker is, is dat ons present en daar is vir mekaar.”

AAN DIE BEGIN

Wanneer ons Cindy vra om ons terug te vat na daardie oomblik toe Christo haar geboul het, kyk sy eers vir hom, gooi haar kop agteroor en gee ’n geheimsinnige en aansteeklike laggie. Christo skuif instinktief nader aan sy vrou en gee haar ’n soentjie op die skouer.

Hul families ken mekaar al baie lank en hulle het mekaar oor die jare net een keer per jaar oor die Desember-vakansie op Stilbaai in die Wes-Kaap gesien. Hulle was nooit meer as kennisse nie – tot Nuwejaarsdag 2003 op Stilbaai toe Christo met nuwe oë na Cindy begin kyk het.

Hulle was daardie dag by ’n braai wat een van hul gemeenskaplike kennisse gehou het.

Toe die aand tot ’n einde kom, het Christo vir Cindy gevra of hy saam met haar kan stap. Hulle het net gesels, maar toe Cindy die aand die Nuwejaarsdiens bywoon, “het ek seker gemaak ek wish haar eerste”, voeg Christo ingenome by oor sy “boul-vernuf”.

Ná Elijah het dit gevoel of ons meer moet insit (in die huwelik) omdat 'n kind omtrent alles van jou in beslag neem - jou aandag; jou tyd.
Cindy Davids

Christo het hierna nie gras onder sy voete laat groei nie en Cindy baie gebel op haar ouers se huisfoon. Hy begin ook sommer die telefoonnommer opsê.

“Ons het nie selfone gehad daai tyd nie en hy het my altyd van ’n telefoonhokkie af gebel. Ek het dan so saggies oor die huisfoon in my ma-hulle se kamer gepraat,” vertel Cindy laggend.

Anders as wat die geval dalk vir ’n ander meisie sou wees, was dit nie Christo se celebrity-status wat haar beïndruk het nie.

“Ek is baie oor iemand met breins; dinge moet nie oppervlakkig wees nie. Ek hou van iemand wat weet waarheen hy op pad is. Christo het altyd die regte ding op die regte tyd gesê. Hy is ook confident. I had to give it to him – hy het nogal guts gehad,” sê Cindy, nog duidelik ingenome met haar man ná al die jare.

ALBEI GROEI

Maar dit was nie altyd net een lang sprokiesverhaal vir Christo en Cindy nie. Hulle was van 2008 tot 2011 opgebreek en in hierdie tyd, sê Christo, het hy Cindy vier keer gevra om op te maak, maar sy het nie gebyt tot die vierde keer nie.

“Dit maak nie saak wie ek gedate het daardie tyd nie, dit het net nie daardie void gevul nie,” bieg hy.

Maar hoe baie hy haar ook gemis het, weet hulle albei nou daardie breuk weg van mekaar was nodig. As individue moes hulle groei en grootword en uit­figure presies wat dit is wat hulle eintlik uit die lewe wil hê.

“Ek dink ons het daai spasie nodig gehad. Ek het myself weer leer ken. Ek het daardie tyd uit die Kaap Johannesburg toe getrek; ek was weg uit my ma-hulle se huis en het meer freedom gehad. Maar ek móés daardie freedom explore. Ons het ook altwee ouer geword in daardie tyd,” voeg Cindy by.

Christo lag wanneer hy vertel selfs sy oorle’ oupa Goliath Davids het Cindy gesmeek om hom terug te vat. Sy familie in Heidelberg in die Wes-Kaap vanwaar Christo is, het ook seker gemaak in daai tyd wat hy en Cindy nie meer saam was nie, dat ’n ander meisie weet wie hulle eintlik aan Christo se sy wou hê.

“Ek het een keer ’n meisie huis toe gebring, toe sit my familie graduation-foto’s van Cindy oral op in die huis. My oupa het Cindy twee keer in daai drie jaar gevra om my terug te vat, maar sy wou nie. Maar ek dink toe ek haar die vierde keer vra om my terug te vat, het sy moeg geraak en uiteindelik ‘ja’ gesê,” vertel Christo.

TROUKLOKKE

Christo vervul sy rol as pa vir sy seun, Elijah, en man vir Cindy met oorgawe.

Christo was nie van plan om Cindy weer te verloor nie en het haar teen die einde van 2011 gevra om te trou. En al was trou en kinders nie vir hom of Cindy toe al deel van die plan nie, het sy tog ja gesê op die groot vraag.

“Ek voel altyd God lei die pad en dat als op die regte tyd sal gebeur. So ook gaan die tweede kind gebeur wanneer dit gebeur. Ek dink alles is in God se plan,” sê Cindy.

Die gepraat oor hul liefdespaadjie laat Cindy begin lag toe sy onthou hoe senuweeagtig Christo was toe hy haar gevra het om te trou.

“Ek het Christo nog net drie keer nervous gesien – die dag toe hy my gevra het om te trou; die dag van ons troue; en met Elijah se geboorte. Op ons troudag het hy só gebewe dat ek vir hom moes sê om te kalmeer,” vertel Cindy.

Hul troudag was spesiaal en die begin van ’n nuwe hoofstuk in hul lewe. Hul tyd as ’n getroude paartjie het hulle ook al ’n paar lesse geleer.

Maar een van die grootste aanpassings wat hulle moes maak, was om mekaar ná Elijah se geboorte steeds te prioritiseer.

“Ná Elijah het dit gevoel of ons meer moet insit (in die huwelik) omdat ’n kind omtrent alles van jou in beslag neem – jou aandag; jou tyd. Maar ek het besef ons móét tyd maak vir mekaar,” sê Cindy.

Nóg waardevolle dinge wat hulle doen om hul huwelik sterk te hou, is om saam te bid en te erken as jy verkeerd is. Dit is ook belangrik om daarop te let hoe jy met jou wederhelfte praat, voeg Christo by.

“In ons huis skreeu niemand nie; ons praat ’n ding uit. En as ek verkeerd is, sal ek sê, ‘ja, ek het nou strooi aangejaag’. Een van die sterkste eienskappe van ons verhouding, is dat dit oop en eerlik is; ons steek niks weg nie. Geloof leer jou dit. Jy moet geloof in die ander persoon hê; in jouself en in jul huwelik,” sê Christo terwyl Cindy haar kop instemmend knik.

Christo en Cindy mag dalk nog net in hul dertigs is en net ses jaar getroud, maar hulle is toegewyd om as individue te groei en ook om saam as ’n paartjie te groei. Maar maak nie saak hoe oud hulle word nie, hulle sal sorg dat die liefde altyd seëvier . . .

Meer oor:  Christo Davids  |  Cindy Davids  |  Huwelik  |  Trou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.