Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Dit gaan goed met Zozi Tunzi in New York!
5 Februarie 2020
Zozibini is op 9 Desember 2019 gekroon as Mej. Heelal.

Heel ander soort mooi. Een wat skrik vir niks en vroue aanmoedig om hul man te staan en hul plek in die samelewing op te eis. ’n Soort mooi wat nie in ’n boksie geplaas kan word nie, een wat jou laat regop sit en luister en leer om jouself onvoorwaardelik te aanvaar ten spyte van die wêreld se persepsie van wat “mooi” nou eintlik is. Ons praat natuurlik hier van niemand anders as ons eie Mej. Heelal Zozibini Tunzi (26) nie.

Landwyd kan baie meisies nou vir hulself in die spieël kyk en dink hulle is mooi, al het hulle vir lank afgeskeep gevoel omdat mense en die media hulle laat voel het daai woord kan nie gebruik word om hulle te beskryf nie.

Zozi het nie net stereotipes afgebreek nie, maar ook die denkwyse van miljoene verander. Sedert sy op 9 Desember 2019 as Mej. Heelal

Zozibini is op 9 Desember 2019 gekroon as Mej. Heelal.
In haar eg Suid-Afrikaanse outfit.

aangewys is, is haar dagboek propvol, maar sy het tyd gemaak vir ’n onderhoud met Kuier uit New York waar sy nou bly.

Ons het Zozi gevra om vir ’n oomblik haar oë toe te maak en ons te vertel van haar komvandaanplek, Sidwadweni in die Oos-Kaap. Die beeldskone Zozi begin onmiddellik lag voor sy opgewonde vertel: “Die lewe as kind was net plein lekker. Niks tierlantyntjies nie, net lekkerte en kindwees. Daar was altyd die gevoel van samehorigheid. ’n Community of togetherness. Niemand was ooit te besig om ander te help nie.”

Sy vertel dat die slagspreuk “It takes a village to raise a child” letterlik en figuurlik toegepas is. “As jy iets verkeerd gedoen het, het jy geweet jy is nie net in die moeilikheid by die antie wat jou gesien het nie, maar ook by die huis. So jy het altyd gesorg dat jy in jou spore trap.”

Die lewe in New York

En wat mis sy die meeste van Suid-Afrika? “Sjoe! Weet jy hulle verkoop glad nie samp in New York nie? As ek moet uitvind dis êrens hier te vinde, dan is ek onmiddellik daar!”

Sy lag voor sy sê dat sy ’n foodie is, maar dat niks samp en afval beat nie. “Dit is heel waarskynlik die eerste ding wat ek gaan eet sodra ek weer by die huis is. My mond water sommer nou!”

Volgens Zozi is New York presies die teenoorgestelde van waar sy vandaan kom. “In my gemeenskap kan ’n mens na die bure hardloop en ’n bietjie suiker, koffie of ’n ui gaan vra, maar ek twyfel of dinge hier só werk.” Zozi skater van die lag voor sy sê dit het haar ook ’n rukkie gevat om te besef dat New Yorkers ook nie almal groet by wie hulle verbyloop nie. “In Suid-Afrika is dit ’n ding wanneer jy verby iemand loop en in die gesig kyk dat jy moet groet, maar dit is definitief nie só hier nie!”

Al staan New York in skrille kontras met haar komvandaanplek moet dié skoonheid bieg dat sy haar gate uit geniet oor die waters. “Die lewe hier is anders, exciting en besig. Dit is amper soos Johannesburg, maar net op ’n baie groter skaal! Ek is mal daaroor om by die venster van my woonstel uit te kyk en te sien hoe die mense hier elke dag die lewe aanpak. Jy kan letterlik sien hoe hulle besig is om hul drome na te jaag en dit is ongelooflik om te sien.” Zozibini sien ook baie uit na haar besoek aan Suid-Afrika in Februarie.

“Sjoe! Ek was nog nie weer tuis ná my kroning nie en ek kan nie wag om in Suid-Afrikaners se midde te wees nie. Die titel is nie net myne nie, dit is Suid-Afrika s’n ook.” Sy sê hoewel sy nog self nie baie tyd gehad het om New York te verken nie, het sy darem al die bekende New York hotdog gehad. Zozi het ook haar eerste sneeuval beleef.

“Dit is net so ongelooflik koud en vir die eerste paar weke kon ek glad nie my tone voel nie! Dit was vir my aanvanklik baie vreemd, omdat dit dié tyd van die jaar die warmste is in Suid-Afrika.” Zozi lag voor sy sê dat dit een van die mees exciting goed is wat sy al beleef het. “Ek sal die ervaring vir niks verruil nie.”

Staan sterk vir vroue

Die lewe hier is anders, exciting en besig. Ek is mal daaroor om by die venster van my woonstel uit te kyk en te sien hoe die mense hier elke dag die lewe aanpak.

Op die vraag oor hoe sy haar voete so plat op die aarde hou ná haar kroning, antwoord die vriendelike Zozibini eerlik. “Ek staan elke oggend op met die gedagte dat ek true aan myself moet bly. Dit is vir my ’n absolute eer om ’n inspirasie te wees vir jonger meisies, maar ek wil hulle tog herinner dat ek nie die prototipe is waarna hulle moet streef nie. Hulle moet beter wees. Hulle moet hulself wees en hul menswees embrace met alles wat hulle binne in hulle het.” Oor haar kroning is dié Mej. Heelal steeds nostalgies.

“Toe ons daar op die verhoog staan, het my hart baie vinnig geklop en ’n mens berei jou voor op die oomblik wanneer hulle jou naam gaan noem, maar niks kan jou regtig daarop voorberei nie. Dit is asof jy van buite af na jouself kyk en sodra jy jou naam hoor, vlieg alle voorbereiding by die venster uit.” Sy raak vir ’n rukkie stil en dit is asof sy terugdink aan daardie lewensveranderende oomblik.

“Net ’n paar maande gelede het ek gewerk as ’n public relations intern in Kaapstad en nou is ek in New York City. Dit het my ’n rukkie gevat om tot verhaal te kom en te besef wat regtig aan die gebeur is. En toe ek uiteindelik die dag stilsit en besin daaroor, het trane van blydskap begin vloei, trane van dankbaarheid en ongeloof.”

Dit is ook gedurende die Mej. Heelal-kompetisie wat Zozi kragtige uitlatings gemaak het oor hoe sy voel oor vroue en hul rol in die samelewing.

Volgens Zozi was dit vir so lank die norm dat vroue onderdanig moet wees in die patriarchial samelewing waarin ons leef. “Dit is hoekom dit vir my belangrik is dat meisiekinders van kleins af leierseienskappe aangeleer moet word. Die narrative moet verander word. Vroue kan lei en moet die geleentheid gebied word om hul potensiaal ten volle te kan uitleef. Ons het die mag. Ons kan en dit is hoekom ons moet wegbreek van enige iets wat ons in ’n boks wil plaas en ons wil beperk. Ons tyd is nou.”

Zozibini kuier by Trevor Noah op sy program The Daily Show.

Passievol

Met dié sterk woorde erken Zozi met ’n swaar sug dat die geslagsgeweld in ons land een van die dinge is wat haar die diepste tref. “Ons vroue word doodgemaak en dit is ’n realiteit waarvandaan ’n mens nie kan wegskram nie.

Vroue moet behandel word op die manier wat hulle verdien en niks minder nie. Dit is nie ’n probleem wat deur vroue opgelos kan word nie, nee, dit is ’n probleem vir die oortreders. Dis vir hulle om te besluit dat genoeg, genoeg is.” Sy sê vasbeslote geslagsgeweld is iets waaroor sy nie sal ophou praat nie. “Dit is iets wat my baie na aan die hart lê en tot daar nie ’n verandering kom nie, sal ek my aanhou daarteen uitspreek.” Nog iets waaroor Zozibini graag gesels, is haar natuurlike hare.

Dit was net so besonders om met iemand te praat wat presies verstaan waarvan ek praat. Dit het gevoel asof dit ’n opvang met ’n ou vriend is.

“Ek het drie jaar gelede die ‘big chop’ gedoen en om eerlik te wees, is ek nie vir een oomblik spyt daaroor nie. Vir jare en jare het ek braids en pruike gedra en ek het genoeg gehad daarvan. Ek wou myself wees. Dit is ook hoekom ek besluit het om verlede jaar vir Mej. Suid-Afrika in te skryf met my natuurlike hare.

Zozibini is vasbeslote om haar wêreldwye platform te gebruik om kwessies na aan haar hart aan te spreek.

Baie mense het my besluit bevraagteken en my antwoord is altyd, ‘Hoekom moes ek ’n pruik dra om vir die kompetisie in te skryf? As ek dan myself as beeldskoon sien met my natuurlike hare, hoekom moet ek dit verander? Nee dit is wie ek is en dit is waarvoor ek staan.’ ” Zozibini het ook gedurende haar mediatoer vir Mej. Heelal die geleentheid gehad om met haar mede-Suid-Afrikaner Trevor Noah op sy The Daily Show te kuier. Zozi vertel opgewonde oor hoeveel pret sy gehad het gedurende die onderhoud.

“Dit was vir my verskriklik lekker om net met Trevor te sit en gesels. Ek het hom nog nooit voorheen ontmoet nie, maar sien jy daai gevoel van iemand vir die eerste keer ontmoet en dan voel dit asof julle mekaar al lank ken? Nou dit is presies hoe dit was!” Sy lag voor sy sê sy dink hul ’n konneksie is geskep deur hul gedeelde plek van herkoms.

“Ons albei weet waarvandaan ons kom, die skoonheid van Suid-Afrika en ook die euwels wat daarmee gepaardgaan.” Zozi sê dié onderhoud was ’n amazing einde aan haar mediaweek in New York. “Dit was net so besonders om met iemand te praat wat presies verstaan waarvan ek praat, iemand wat weet waarvandaan ek kom. Iemand wat weet met watter issues ons sukkel en wat weet hoe belangrik diversiteit en rainbow status in ons land is. Dit was regtig net vet pret en dit het gevoel asof dit ’n opvang met ’n ou vriend is.”

Op ’n ernstiger noot vertel sy dis belangrik vir haar om die alle platforms te gebruik wat tot haar beskikking gestel is. “Die Mej. Heelal-titel gee my tans die geleentheid om ’n verskil te maak, om uit te praat oor dinge wat fout is in ons samelewing en iets konstruktief daaromtrent te doen.”

Sy moedig jong mense en veral jong meisies aan om elke geleentheid wat na hul kant toe kom met albei hande te gryp. “Onthou, drome gaan net drome bly as jy nie die nodige werk insit om dit te laat realiseer nie. Glo in die krag van jou drome, maar jy moet realisties wees en hard werk om dit te bereik. Laat niemand jou beperk nie, moet laat niemand jou in ’n boks sit nie. Jy is in beheer van jou eie destiny!”

Sy is duidelik ’n vrou wat weet hoe om haar drome te bewaarheid en daarom kan ons nie wag om te sien wat Zozibini Tunzi gedurende haar jaar as Mej. Heelal gaan vermag nie!

* Foto’s: Gallo Images/Getty Images, Miss Universe en Verskaf

Meer oor:  Inspirasie  |  Kuier  |  Zozi Tunzi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.