Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Dok op vir mediese foute
16 Mei 2018


Oral hoor ’n mens allerhande skokkende stories van dinge wat in die hospitaal of ’n dokter se spreekkamer verkeerd gaan. ’n Dokter amputeer die verkeerde been, ’n skêr is in iemand ná ’n operasie gevind, ’n baba val op haar kop in die hospitaal, vals kankerdiagnose . . .

Die realiteit van die saak is daar is amper geen ruimte vir menslike foute wanneer dit kom by die mediese professie nie. Iemand het eenkeer gesê: “Ons almal maak foute, maar dokters neem hul foute graf toe.”

Foute is menslik, maar sommige mediese foute kan dodelik wees of lewensveranderende gevolge hê. Dís hoekom eise as gevolg van mediese nalatigheid die hoogte ingeskiet het. Net in Gauteng alleen moes die gesondheidsdepartement tussen Januarie 2017 en Maart 2018 meer as R1 biljoen uitbetaal aan mediese nalatigheidseise, het die LUR vir gesondheid in Gauteng, Gwen Ramokgopa, onthul.

Dit was vir 185 eise, terwyl daar nog 1 597 op die boeke is met eise vir meer as R22 biljoen. Dít is amper die helfte van die Gautengse gesondheidsdepartement se R46,4 biljoen begroting. Dit beteken mediese poste moet gevries word, hospitaaltoestande gaan moontlik nog meer agteruit en dit alles kan lei tot nog meer nalatigheid.

Nalatigheid

Paul du Plessis, ’n prokureur van Pretoria, verduidelik wat bedoel word met mediese nalatigheid: “Nalatigheid word oor die algemeen in die reg omskryf as gedrag wat nie opmeet teen dié van die redelike persoon nie.”

In die mediese veld is die vraag of die nalatigheid of die sorg wat ontvang is, opmeet teen dié van ’n redelike dokter of spesialis onder dieselfde omstandighede. Nalatigheid kan die oorsaak wees van ’n persoon se optrede of ’n instansie soos ’n hospitaal, of beide. Gewoonlik word mediese sorg in ’n span gedoen, so as jy jou saak suksesvol wil bewys, is dit belangrik om te bepaal wie se skuld dit eintlik was.

Die meeste mediese prosedures het baie risiko’s en selfs al doen die persoon alles reg, kan daar slegte gevolge wees. Dokters is verplig om die moontlike risko’s en komplikasies aan jou te verduidelik en jy moet ingeligte toestemming gee om voort te gaan.

Mediese personeel kan nie verantwoordelik gehou word vir onvoorsiene komplikasies nie. Dit is ook nie die dokter se skuld nie as hulle die behandeling tot die beste van hul vermoë toegedien het en omstandighede buite hul beheer komplikasies veroorsaak nie. Oor die algemeen kan ’n mens net ’n saak maak as die beweerde nalatigheid minder as drie jaar gelede plaasgevind het. Indien die pasiënt ’n kind was tydens die insident en hul ouers nie vergoeding gesoek het nie, het die kind tot ’n jaar ná hul 18de verjaarsdag om ’n saak te maak. Daar is ook ’n paar ander uitsonderings.

Hoewel dit die skokkende sake is wat die meeste aandag trek, is geboortebeserings die algemeenste tipe mediese nalatigheidseis. Gary Austin, ’n prokureur van Benoni in Gauteng, spesialiseer in geboortebeseringsake. Hy kry baie te doen met babas wat permanente breinskade opgedoen het tydens die geboorteproses as gevolg van hospitale, dokters of verpleegsters se nalatigheid.

Een van die eise wat hy hanteer het, is dié van Martha Booyens* (39) van Dennilton in Limpopo. Haar hart breek elke dag wanneer sy na haar negejarige seun, Denzil*, kyk. Hy is haar laatlam, maar haar geskenk van Bo is vir ewig in ’n rolstoel en sal nooit vir haar kan sê dat hy lief is vir haar nie, alles as gevolg van mediese nalatigheid. Die howe het ook so beslis.

In haar laaste trimester het sy onbewustelik gesukkel met pre-eklampsie en gewag vir natuurlike geboorte tot op 42 weke in 2009. (Pre-eklampsie is as gevolg van hoë bloeddruk en tekens van skade aan ’n ander orgaansisteem soos die lewer of niere. Dit begin gewoonlik ná 20 weke van swangerskap. As dit nie behandel word nie, kan dit lei tot ernstige komplikasies, selfs die dood vir jou en jou baba. Die enigste genesing daarvoor is vir jou baba om gebore te word).

Onder normale omstandighede sou ’n induksie (om kraam aan te help) al lankal gedoen word. Nadat sy in die hospitaal opgeneem is, het sy vir amper 24 uur glad nie ’n dokter gesien nie. Die hospitaal se notas wys dat die personeel glad nie probeer het om die dokter vroeër te kontak nie. Martha was in pyn en gespanne, maar het aanvaar die verpleegsters weet wat hulle doen.

Uiteindelik is Denzil gebore, maar vandag is hy so gestrem dat hy nooit iets vir homself sal kan doen nie. Iets wat vermy kon word deur die regte mediese sorg. Martha moes haar werk en haar hele lewe opgee om na haar seun om te sien. Die howe het nagenoeg R13 miljoen aan Martha toegestaan.

“Die geld help, maar sal niks ooit my hartseer kan beter maak of vir Denzil die lewe gee wat hy verdien nie,” sê sy. Martha se hele lewe draai net om hom. “Ek voel so skuldig dat ek my ouer dogter, Lara*, so afskeep, maar arme Dennie het my nodig,” erken sy.

Gary sê die meeste van hul sake word buite die hof geskik. Die uitbetaling word gewoonlik in ’n lompsom na ’n trust oorgeplaas. Die beskuldigde moet onmiddellik betaal, maar wanneer dit die staat betrek, is dit gewoonlik ’n lang proses om die geld te kry. Wanneer dit uiteindelik betaal word, word dit gewoonlik in ’n trust geplaas. ’n Sekere bedrag word dan maandeliks aan die begunstigde uitbetaal.

Só word eise bepaal

Die skadevergoedingsbedrag waarvoor geëis word, word nie uit iemand se duim gesuig nie.

Die volgende faktore word oorweeg:

  • Vorige mediese uitgawes wat aangegaan is as gevolg van die insident.
  • Toekomstige mediese uitgawes wat moontlik vir die res van die pasiënt se lewe sal wees.
  • Lewensverwagting op grond van statistiek en skade.
  • Toekomstige verlies aan inkomste – die persoon is dalk so gestremd dat hy nooit weer sal kan werk nie.
  • Algemene skadevergoeding vir pyn en lyding.
  • Koste van die administrasie van die geld in die trust. (Die hof vereis gewoonlik dat die geld in ’n trust geplaas word en deur trustees namens die familie bestuur word.)

Hoe maak jy ’n saak?

Baie mense weet nie hulle het die reg om geregtigheid te soek wanneer iemand op die mediese span nalatig was en hulle skade gely het as gevolg daarvan nie. Sandra Meintjies* (34) van Bloemfontein, wie se baba sewe jaar gelede doodgebore is as gevolg van beweerde mediese nalatigheid, het dit ook nie geweet nie.

“Dit was my eerste swangerskap en alles was normaal,” vertel sy met trane van herinnering in haar oë. Haar water het vroegoggend gebreek en teen die tyd wat sy by die hospitaal aangekom het, was sy reeds nege sentimeter ver ontsluit.

Na bewering het die hospitaal haar egter vir amper drie ure nie gemonitor nie. Sandra beweer toe hulle uiteindelik aan haar aandag gegee het, was dit te laat en haar eerste baba, Johannes*, is doodgebore. Sy het jare later eers uitgevind sy kon regstappe neem, maar dit was te laat vir haar en Johannes.

“Ek mis hom nog elke dag,” prewel sy, ”geld sal hom nie terugbring nie, maar iemand moet betaal vir my hart se stukke.” Die tissue in haar hand is aan flarde terwyl sy vashou aan ’n blou teddiebeer – al wat sy oorhet van haar babaseuntjie wat nooit die lewe gesien het nie. Adele van der Walt, ’n prokureur van Pretoria wat spesialiseer in mediese regsake, sê die heel eerste ding wat jy moet doen as jy voel jy was die slagoffer van mediese nalatigheid, is om ’n regsadviseur te kontak.

Maak seker jy kry iemand met ’n goeie reputasie wat spesialiseer in hierdie tipe sake en nie ’n assessor wat net geld najaag nie. Hulle sal jou kan help bepaal of jy ’n sterk saak het met die nodige bewyse. Die eerste stap wat jou regspan sal neem, is om al jou mediese rekords aan te vra, die bewyse na te gaan en deskundige advies op meriete te bekom, waarna ’n dagvaarding uitgereik word, indien daar meriete is. As jou klag suksesvol is, kan die regter vir jou geldelike vergoeding toestaan.

Dit kan jou regskostes, verlies aan inkomste en enige ander kostes wat as gevolg van die mediese nalatigheid ontstaan het, insluit. Adele sê dit is belangrik om te onthou ’n regsgeveg kan baie duur en spanningsvol wees en jy gaan nie noodwendig die saak wen nie. Jy sal moet bewys die persoon het nalatig opgetree tydens jou behandeling en dat dié nalatigheid jou geld gekos het.

Mediese nalatigheid is ’n toenemende verskynsel in Suid-Afrika en nie elke eiser wat dagvaar, sal suksesvol wees nie. Dit beteken omdat die aantal eise, veral sonder meriete of die nodige bewyse, vinnig aan die toeneem is, is die impak op die gesondheidsektor enorm, wat net die probleem vererger. Hoe meer geld die staat aan mediese nalatigheid moet uitbetaal, hoe minder is daar om werksomstandighede vir mediese personeel te verbeter, hoe groter is die kans vir nalatigheid as gevolg van ’n tekort aan toerusting en ander faktore. Dit het ook ’n groot impak op privaat dokters, hul versekeringskostes en dan beteken dit prysverhogings vir pasiënte. Adele sê dit beteken nie jy moet ’n eis uitstel nie, maar dat jy moet seker maak dit is werklik regverdig en vir die regte redes.

Kan nie bybly nie

Gesondheidsminister dr. Aaron Motsoaledi het onlangs gewaarsku dat die “ontploffing” van mediese nalatigheidslitigasie dreig om deernis van dokters te vervang met verdedigende wantroue.

Provinsiale gesondheidsdepartemente sukkel om by te bly met gesondheidsdienste omdat hulle biljoene in eise teen hulle moet uitbetaal. In die privaatsektor moet dokters buitensporige versekeringspremies betaal – tot R1 miljoen per jaar! Dit lei alles daartoe dat gesondheidsorg al hoe duurder en in sommige gevalle, al hoe swakker word.

Dan is daar weer die kwessie van goeie dokters wat alles in hul vermoë doen om pasiënte te help, maar wat gedagvaar word wanneer die noodlot intree. Een geval spook vandag nog, ná vier jaar, by dr. Frances Blackwell* (35) van Kaapstad. Dit was ’n doodgewone dag in ongevalle. Kevin* (6) het ingekom hospitaal toe nadat hy sy kop gestamp het. Frances was die dokter aan diens en het hom ondersoek.

“Ek het dit op daardie stadium gediagnoseer as ’n baie ligte kopbesering omdat hy geen gevaartekens getoon het nie. Hy was nie bewusteloos nie, daar was geen bloed nie, hy het nie opgegooi nie en sy pupille was normaal,” onthou sy. Frances het Kevin huis toe gestuur met ’n waarskuwing aan sy ouers dat hulle hom moet terugbring hospitaal toe indien sy toestand enigsins verander. Vieruur die volgende oggend, 10 ure nadat hulle daar weg is, het Kevin se ouers weer by ongevalle ingestorm. Kevin het tuis aanvalle (seizures) begin kry en hulle kon hom nie wakker kry nie.

“Toe ek hom sien, was dit vir my duidelik dat hy ’n baie groot bloeding op sy brein het. Op daardie stadium het hy nie asemgehaal nie en ek kon ander tekens sien van ’n ernstige breinbesering,” vertel Frances. Noodprosedures is dadelik uitgevoer, ’n CT scan is gedoen en hy is teater toe gehaas sodat die neurochirurg die bloeding op sy brein kon stop. Ongelukkig was dit te laat en Kevin het ernstige breinskade opgedoen. Frances is huis toe en ’n kollega het haar later vertel Kevin is oorlede.

Ná meer as drie jaar ná die voorval het Frances eendag ’n oproep van die hospitaal se hoofkantoor af gekry. Hulle het haar laat weet Kevin se ouers is besig om die staat te dagvaar vir nalatigheid en omdat sy sy dokter was, moet sy in die hof getuig. “Ek het baie groot geskrik en dit het al die herinneringe van daardie aand – die angs, twyfel en selfverwyt – teruggebring,” sê sy sag. “Dis moeilik. Selfs al was dit nie my skuld nie, dra mens maar ’n mate van skuldgevoel saam omdat hierdie ding gebeur het terwyl jy aan diens was.”

Die hofsaak was uitmergelend en baie gespanne. Kevin se ouers se advokaat het haar nimmereindigend bevraagteken, oor die kole gehaal en dit was ’n baie pynlike proses, vertel Frances. “Nie net is die advokaat op die oorlogspad nie, maar hy vra jou uit oor dinge wat jare gelede gebeur het, party waarvan jy nie alles kan onthou nie.

Vrae word só gestel om jou in ’n baie slegte lig te stel. Jou professionele vaardigheid en integriteit word aanhoudend bevraagteken en aangeval. Dis bitter vernederend as hulle probeer bewys enige ander dokter sou anders en beter opgetree het en jy probeer maar jouself verdedig so goed jy kan. Jy besef die advokate is net besig om hul werk te doen, dat hulle nie werklik ’n persoonlike vendetta teen jou het nie, maar dit maak nie die ervaring makliker nie,” verduidelik Frances.

Die geld help, maar sal niks ooit my hartseer kan beter maak of vir Denzil die lewe gee wat hy verdien nie.

Verskriklik baie eise

Die moontlikheid van regsaksie hang daagliks soos ’n swaard oor Frances en ander dokters en verpleegpersoneel se koppe. In Suid-Afrika is dit dramaties aan die toeneem, namate pasiënte meer bewus word van die moontlikheid van regsmediese aksie, raak hulle al hoe meer geneig om daardie roete te volg.

45%

Dís die gemiddelde koers waarmee uitbetalings vir mediese nalatigheidseise toegeneem het sedert 2012/13.

“So wanneer jy met ’n pasiënt werk, is dié gedagte heeltyd in jou agterkop,” erken Frances. Sy verstaan dit in ’n mate. “As iets tragies gebeur, is die ouers natuurlik kwaad en wil iemand blameer. Baie pa-siënte is ook baie arm en sien regsaksie as ’n golden goose om hul lewens te verander, of dit nou regverdig is of nie.”

Dit is eintlik die sogenaamde “ambu- lance chaser” prokureurs wat mense aanmoedig om regsaksie te neem, vir wie sy geen respek het nie, voeg sy by. “Daar moet ’n balans wees en daar moet regsverteenwoordiging wees vir mense wat dit nie kan bekostig nie, maar in my ervaring buit dié prokureurs die pasiënte se pyn en lyding uit vir hul eie gewin.”

Maar hulle besef nie dat hul geldgierigheid die hele land negatief beïnvloed nie veral wanneer hulle die staat dagvaar, sê Frances. “Een uitbetaling en die koste van een hofsaak kan ’n groot klomp mense se lewens verander as daardie geld eerder gebruik word om meer personeel by hospitale aan te stel, fasiliteite te verbeter en toegang tot goeie basiese mediese dienste te verhoog. Maar die staat word tans ontredder deur al die dagvaardigings.

Ek weet uit ervaring as jy al 36 uur aaneen werk, gee jy eintlik nie meer om nie. Veral as die hospitaal nie goed gestock is nie en jy moet heeltyd sukkel, soek of smeek vir goed.

In die Noord-Kaap, byvoorbeeld, is daar ongeveer R500 miljoen se hofsake tans teen die staat. Dit is omtrent hul hele gesondheidsbegroting!” Mediese personeel se werksomstandighede kan dus nie verbeter nie en daar kan nie meer personeel aangestel word nie. Die pasiënt-personeelratio – hoeveel pasiënte elke dokter en verpleegster moet behandel – is hoog in vergelyking met internasionale standaarde. Dokters en verpleegsters is oorwerk en oormoeg.

“Ek weet uit ervaring as jy al 36 uur aaneen werk, gee jy eintlik nie meer om nie. Veral as die hospitaal nie goed gestock is nie en jy moet heeltyd sukkel, soek of smeek vir goed. Jy bereik ’n punt waar jy geen meer empatie of simpatie kan wys nie. Dit beïnvloed definitief jou vermoë om goeie en redelike besluite te neem,” erken sy.

In baie staatshospitale is werksbevrediging en motivering baie laag wat beteken niemand streef daarna om uitmuntend te wees nie. Dít dra alles by tot foute en nalatigheid. Kuier het die nasionale gesondheidsdepartement genader vir kommentaar oor die storie, maar teen druktyd het hulle nog nie gereageer nie.

*Skuilnaam


Dié artikel verskyn in die 16 Mei 2017-uitgawe van Kuier-tydskrif.


Meer oor:  Mediese Fondse  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.