Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Doodgeskiet: Drie jong seuns se dood ruk nasie
17 September 2020
Leo Williams
Leo Williams is in hul huis voor die TV doodgeskiet.
Clarence Solomons
Clarence Solomons

Doodgeskiet terwyl hulle salig onbewus was van die dreigende gevare wat rondom hulle skuil. Drie onskuldige seuns, drie verkillende gemeenskappe, dieselfde hartseer. Dié seuns was almal slagoffers van die omstandighede rondom hulle . . .

Die laaste paar maande was kinderveiligheid in Suid-Afrika opnuut weer bevraagteken toe drie minderjarige seuns enkele dae uitmekaar doodgeskiet is. Leo Williams (8) van St. Helenabaai in die Wes-Kaap het op Vrydag 21 Julie in hul huisie salig sit en televisie kyk toe ’n koeël hom in die kop getref het.

Lede van die polisie se eenheid vir openbare geweld het Leo na bewering in die kop gewond toe hulle gedurende ’n protesoptog op inwoners losgebrand het. Leo het vir twee weke verbete om sy lewe in die Rooi Kruis-kinderhospitaal geveg.

Sy stryd tevergeefs, want op 17 Augustus het hy gesterf. Clarence Solomons (8) van Elsiesrivier op die Kaapse Vlakte is op 26 Augustus noodlottig gewond nadat ontstoke inwoners met die polisie slaags geraak het. Dié seun is doodgeskiet en ’n 12-jarige meisie is gewond toe wetsbeamptes strukture regoor die Epping Forest-gebied afgebreek het. Hy het sit en speel toe ’n koeël hom in die bors getref het.

Clarence het op die toneel gesterf. ’n Twintigjarige man het homself aan die polisie oorhandig. Hy sal in die hof verskyn sodra hy formeel aangekla is. Die skietery en dood van die 16-jarige Nathaniël Julius van Eldoradopark in Johannesburg op 26 Augustus het ook oorsee aandag getrek. Die land was in rou gedompel nadat die omstandighede rondom dié seun se dood aan die lig gekom het.

Luidens berigte het Nathaniël agter ’n vragmotor geskuil om weg te kruip vir seuns wat sy koekies wou steel. Nathaniël het Down-sindroom gehad en toe ’n polisiebeampte hom nader, kon hy nie verduidelik hoekom en vir wie hy wegkruip nie. Volgens ooggetuies het die polisiebeampte toe uit sy voertuig geklim, na Nathaniël gestap en hom een keer in sy bors geskiet. Die seun is toe agter in die polisievan gelaai en na die naaste hospitaal geneem. Ook hy het gesterf.

Jonges ly in SA

Talle Suid-Afrikaners en plaaslike bekendes het ná sy dood die hashtag #JusticeforNathaniel op sosiale media gebruik om hulle uit te spreek oor die sinneloosheid van sy dood.

Die gemeenskap van Eldoradopark was ook só ontsteld dat dit polisieminister Bheki Cele genoodsaak het om hulle te kom toespreek. Maar dit blyk asof Suid-Afrikaanse kinders oor die algemeen baie kwesbaar is vir noodlottige beserings – nie net dié wat per ongeluk toegedien word nie, maar ook dié wat opsetlik toegedien word.

 Leo veg vir sy lewe in die hospitaal
Leo veg vir sy lewe in die hospitaal

Volgens die Child Gauge-verslag wat in 2019 gepubliseer is, is bevind die beserings strek van brandwonde, verdrinking, motorongelukke tot noodlottige kindermishandeling. Meer as 8 000 kinders sterf jaarliks as gevolg van beserings.

Ongeveer 5 000 hiervan is per ongeluk. Die hoofoorsake van sterftes van kinderbeserings in Suid-Afrika is padverkeersbeserings (36%), moord (28%), onbedoelde beserings soos brandwonde en verdrinking (27%) en selfmoord (8,5%), wat as opsetlik beskou word. Dit laat ’n mens met die tergende vrae:

Hoe veilig is ons kinders regtig? Hoekom neem die voorvalle jaarliks toe en hoeveel kinders gaan nog slagoffers wees van hul omstandighede? Die skietvoorval waarin Leo gewond is, het nie net die gemeenskappie van Laingville tot in sy fondamente geruk nie, maar vir Suid-Afrika in geheel. Dié kind het binne in hul huisie gesit en TV kyk toe hy in die kop getref is.

’n Mens sou dink dat ’n kind veilig en ongedeerd sou bly terwyl hy in die gemak van sy eie huis is, maar duidelik nie. Verskeie koeëls het die sinkhokkie deurboor en een daarvan het Leo in die kop getref. Thyrone Williams (41), ’n woordvoerder vir die familie en ’n gemeenskapsleier, sê die gemeenskap is in rou gedompel ná Leo se skielike en sinnelose dood. Hy herroep die gebeure van daardie noodlottige dag.

“Die gemeenskap het besluit genoeg is genoeg en het ’n vreedsame optog gelei oor die gebrek aan behuising en dienslewering in die gemeenskap.” Lede van die polisie se eenheid vir openbare orde (Pops) het die optog gemonitor. Dinge het handuit geruk en die polisie het op lede van die gemeenskap losgebrand.

Volgens lede van die gemeenskap het die polisie na bewering traangas sowel as lewendige ammunisie gebruik om die ontstoke betogers uitmekaar te jaag. Thyrone vertel dit was net voor sewe toe hy ’n oproep van Leo se pleegma, Cathy Thomas, ontvang het. “Sy was histeries en het gesê dat Leo geskiet is. Ek kon dit nie glo nie.”

Hy het hom na die hoofstraat, waar Leo saam met sy gesin gewoon het, gehaas. “Ek kon dit net nie verstaan nie. Daar was nie betogers in die straat nie en daar was geen bedreiging vir die polisie nie. Met my aankoms daar was die ambulans reeds op die toneel besig om Leo te behandel.” Die agtjarige kind is na die plaaslike hospitaal gehaas.

“Hulle kon hom nie by die hospitaal behandel nie en hy is na die Rooi Kruis-kinderhospitaal in Kaapstad oorgeplaas om spesialisbehandeling te ontvang.” Dis ’n hartseer Thyrone wat by die familie by die hospitaal aangesluit het. “Hy het daardie nag vir ’n noodoperasie teater toegegaan en ná vele ure het die dokters na ons gekom en gesê dat ons nie te veel hoop moet koester vir Leo se oorlewing nie.”

Sedert hy in die Rooi Kruis-hospitaal opgeneem is, het die dokters vir hom geveg, maar ná twee weke, op Maandag 17 Augustus, het die familie en die dokters besluit om die masjiene af te skakel. “Sy toestand het (by tye) verbeter en die hoop om sy oorlewing het opnuut weer opgevlam. So gou as wat daar ’n flikker van hoop opgevlam het, het Leo skielik weer agteruitgegaan. Sy brein het weer begin swel, hy het gewig verloor en sy magie was kliphard,” vertel Thyrone.

’n Nadoodse ondersoek het bevind dat skerppunt-ammunisie gebruik is. Dié skokkende inligting het enkele dae ná Leo se afsterwe aan die lig gekom. Lede van die forensiese eenheid wat die toneel ondersoek het ná die skietvoorval, het leë doppies gekry van ammunisie wat nié rubberkoeëls was nie.

Volgens Thyrone was die familie opnuut wéér gebroke en ontstoke ná dié skokkende inligting aan die lig gekom het. “Wat was die rede vir hul optrede?” wil ’n ontstelde Thyrone weet. Thyrone sê Leo se afsterwe het die gemeenskap verenig, maar dat dit ’n jammerte is dat Leo met sy lewe daarvoor moes boet.

“Daar is nou vasgestel dat die munisipaliteit wel vir die inwoners van Laingville grond gaan gee om huise op te bou. Hoekom kon ons nie die ooreenkoms vroeër aangegaan het nie? Hoekom moes ’n onskuldige kind met sy lewe daarvoor boet? Niks hiervan is regverdig nie en ons wil hê dat die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) daadwerklik moet intree om die skuldiges vas te trek.

Iemand moet man staan vir dié sinnelose daad.” Leo se pleegma, Cathy, asook sy biologiese ma, Lucille Williams, was ná sy begrafnis op 29 Augustus steeds te getraumatiseerd om met Kuier te gesels. Volgens Thyrone het die voorval van Nathaniël Julies die familie opnuut weer aan hul seer en verlies herinner.

“Die polisie het vinnig opgetree om die skuldiges in daardie voorval vas te trek en ons versoek dat hulle dieselfde doen in Leo se geval. Al wat die familie nou wil hê, is dat die skuldiges aan die pen moet ry. Dat iemand verantwoordelik gehou moet word. Die lang arm van die gereg moet nou sy gang gaan sodat ons vrede en berusting kan kry.”

Opod het ’n ondersoek van stapel gestuur ná die skietvoorval waarin Leo gewond is. Niemand is nog in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort. Kaptein Frederick van Wyk, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het op sy beurt bevestig dat klagte van poging tot moord en moord ondersoek word ná Clarence se skietdood. “Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.”

Leo se maats by sy begrafnis
Leo se maats by sy begrafnis

Skokkende syfers

Volgens ’n verslag op ChildSafe se webtuiste, die 2019 Childhood Injury Data Report, is beserings die hoofoorsaak van dood en gestremdheid onder kinders in Suid-Afrika.

Gedurende die studietydperk, is daar gemiddeld 18 kinders per dag by die Rooi Kruis-kinderhospitaal se traumaeenheid behandel. Altesaam 6 568 kinders is gedurende die tyd by die hospitaal behandel vir beserings, waarvan 1 873 opgeneem is en ses aan hul beserings beswyk het.

Dwayne Evans, ’n kommunikasiebeampte by die Rooi Kruis-kinderhospitaal, sê die hospitaal doen ’n beroep op almal om vroue en kinders te beskerm. “Moenie dat hulle slagoffers van geweld word nie. Ons kan bevestig dat daar sedert 2017 tot en met 21 Augustus 2020 altesaam 113 kinders by die hospitaal behandel is met skietwonde.

In 2017 was daar 26 gevalle, in 2018 was daar 33 gevalle, in 2019 was daar 42 en sover in 2020 was daar altesaam 22 gevalle.” In ’n land waar geweld teen vroue en kinders onaanvaarbare afmetings neem, is bogenoemde statistieke skokkend. Want dis 113 families wat gebroke gelaat is in net drie jaar, en dis net by die bekendste kinderhospitaal in die Wes-Kaap!

Nathaniël Julius
Nathaniël Julius

Die skietvoorval waarin die 16-jarige Nathaniël op 26 Augustus gesterf het, het die kwesbaarheid en gevaar waarin kinders verkeer soos ’n sweer laat oopbars. Veral omdat Leo en Clarence voor hom ook só gestrerf het. In ’n hartroerende onderhoud met SABC TV het ’n inwoner van Westbury in Eldoradopark gesê die regering gee nie om vir bruin mense nie.

Gedurende die onderhoud het die inwoner, wat nie sy naam bekendgemaak het nie, beweer die regering doen alles in hul mag om bruin mense te laat sterf. Nathaniël, wat na bewering deur die polisie geskiet en vermoor is, se dood het gelei tot onrus in die gebied waar gevegte tussen die polisie en inwoners uitgebreek het.

Die man in die video was deel van ’n magdom mense wat aangesluit het by ’n optog na die plaaslike polisiekantoor en na Nathaniël se ouerhuis. Daar het ’n solidariteitsoptog in Eersterus, Pretoria, plaasgevind in reaksie op die skietvoorval. Lede van die gemeenskap, insluitend kinders, het plakkate omhoog gehou waarvan sommige “f*ck the police” gelees het.

Drie polisiebeamptes van die Eldoradopark-polisiekantoor is in hegtenis geneem en aangekla vir die moord op Nathaniël. Hulle staan tereg op aanklagte van die besit van verbode ammunisie, moord en moontlike regsverydeling. Die polisie het aanvanklik beweer Nathaniël het in die spervuur beland toe gangsters en die polisie op mekaar geskiet het.

Luidens lede van die gemeenskap was dit egter glad nie die geval nie. Ndileka Cola, woordvoerder van Opod, het gesê die drie beamptes wat betrokke was by die voorval, sal aangekla word van moord, moontlike regsverydeling en die besit van verbode ammunisie. “Die drie lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens is verbonde aan die eenheid vir misdaadvoorkoming in Eldoradopark. Verdere besonderhede rakende die saak sal eers beskikbaar gestel word sodra die paar in die Protea-landdroshof verskyn het,” het Cola gesê.

In ’n brief wat deur die presidensie uitgereik is, het pres. Cyril Ramaphosa sy innige meegevoel met die familie van Nathaniël Julius en die breër gemeenskap van Eldoradopark betuig. Die president sê die gewelddadige dood van enige jong persoon is kommerwekkend. “My gedagtes en gebede is by die familie en bure van Nathaniël, wat as ’n 16-jarige van ’n toekoms ontneem is en wie se tragiese dood aanleiding gegee het tot woede en onrus in ’n gemeenskap wat beter verdien.”

Kinders is ons almal se verantwoordelikheid en tot almal nie gaan bydra om hul lewens of hul omstandighede te verbeter nie, gaan ons nog lank met die probleem van kinderveiligheid worstel.

Verbeter samelewing

Yolande Baker, direkteur van ChildSafe Suid-Afrika, het onlangs met Adèle Kirsten, direkteur van Gun Free South Africa, ’n organisasie wat hom toespits op die vermindering van wapengeweld in Suid-Afrika, saamgewerk aan ’n navorsingsprojek. Sy vertel hulle wou die impak van geweld op die ontwikkeling van kinders in Suid-Afrika ondersoek.

“Gedurende die loop van hierdie werk, is ek getref deur die verhale van twee kinders in Khayelitsha in die Wes-Kaap. Een kind het toegekyk hoe ’n man doodgekap word nadat hy ’n vrou geskiet het. ’n Ander kind het gesien hoe ’n man herhaaldelik in die maag geskiet word. Dié twee kinders het in daardie oomblikke hul onskuld verloor. Hulle het tonele gesien wat hulle lewenslank sal bybly.”

Volgens Yolande word daar elke dag in Suid-Afrika 23 mense doodgeskiet. “Tussen 2010 en 2016 is meer as 1 000 mense alleen in die Wes-Kaap geskiet; 261 van die slagoffers was kinders waarvan 89 doodgeskiet is. Sommige van hierdie slagoffers was net ’n jaar oud. In die Rooi Kruis-hospitaal in 2019 alleen is 42 kinders behandel. Al 42 was jonger as 12 jaar oud. As kinders ouer as 12 jaar is, word hulle na die Groote Schuur-hospitaal gestuur. Daar is die getalle selfs hoër.”

Yolande verduidelik voorts dat ’n hartverskeurende kringloop van geweld sielkundige en fisiese gevolge op die langtermyn inhou, nie net vir kinders nie, maar ook vir die gesinne en gemeenskappe waarin hulle woon. “As dinge nie verbeter word nie, sal die siklus die volgende generasie beïnvloed, en die volgende daarna. Die Verenigde Nasies het belangrike risikofaktore geïdentifiseer wat ’n invloed het op die veiligheid van kinders in die besonder, en gemeenskappe in die algemeen.”

Sy benadruk dat organisasies soos ChildSafe en Gun Free South Africa nie alleen teen die gruwel van gun violence teenoor kinders kan veg nie. “Ons doen ’n beroep op besluitnemers in die plaaslike, provinsiale en nasionale regering, sowel as die private sektor om die beskerming van kinders teen wapengeweld te prioritiseer en om dringend stappe te doen om die oorsake van wapengeweld in die eerste plek aan te spreek. Ons streef daarna om in ’n wêreld te leef waar kinders nooit weer getuies of slagoffers van skietvoorvalle moet wees nie. Ons streef na ’n wêreld wat die onskuld van kinders ten alle koste moet beskerm.”

Prof. Dap Louw, buitengewone professor en kliniese sielkundige by die Universiteit van die Vrystaat, sê almal moet saamwerk om kinderveiligheid te verbeter. “Ons pak dikwels probleme aan deur net die simptome daarvan te behandel en nie die wortel van ’n probleem nie. Om iets uit te roei, moet daar vasgestel word wat presies dit is wat die simptome veroorsaak. Dit is nie ’n probleem vir net sekere gedeeltes van die samelewing nie, maar iets waaraan almal toegewy moet wees.”

Hy sê die samelewing in geheel moet gunstiger omstandighede vir kinders skep. “My ondervinding is mense se onvermoë om hulself in die skoene van ander te plaas. Kinders is ons almal se verantwoordelikheid en tot almal nie gaan bydra om hul lewens of hul omstandighede te verbeter nie, gaan ons nog lank met die probleem van kinderveiligheid worstel en dít is kommerwekkend.”

* Foto’s: Gallo Images/Getty Images en Verskaf

* Bykomende bronne: bit.ly/31PU1oz, bit.ly/3lEu2Zb, bit.ly/32RpkyL

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.