Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Dr. Genine gee raad: Help met vitiligo
16 Mei 2018


Vraag: Help met vitiligo

Dokter, help my asseblief met raad vir vitiligo. Is daar iets wat kan help om dit weg te vat of iets wat aangewend of aangespuit kan word sodat die nie so sleg lyk nie?

- Moedeloos

Antwoord

Vitiligo is ’n outo-immuuntoestand waar die liggaam se eie selletjies (melanosietes) die selle aanval wat die velpigment (melanien) vervaardig. Dit veroorsaak dat die liggaam op sekere dele sonder pigment is en dit lyk dan asof daar “wit kolle” op die vel is. Dis ’n lewenslange toestand en kan mense op enige ouderdom en mense van enige velkleur affekteer.

Dit is nie oorerflik of aansteeklik nie en is ook nie medies gevaarlik nie. Dit is wel kosmeties ’n probleem vir baie mense. Daar is nie ’n behandeling wat die kolle permanent wegneem nie. Kry asseblief advies by ’n velspesialis en kosmetiese konsultant. Behandeling met sekere vitamiene, minerale, sonskerm en ultravioletligterapie word gebruik om die vel te voed en te beskerm.

Kosmetiese produkte soos Covermark Topical en Dermablend Topical kan aangewend word om die kolle te verbloem. Natuurlike produkte soos Vitiligo Organics – wat die vel stimuleer om weer pigment te vervaardig – word ook aanbeveel. Vitilox het ook produkte wat kan help. Ek sal jou sterk aanbeveel om gereeld na nuwe produkte op die internet te soek en self ’n besluit te maak. Sluit aan by ’n ondersteuningsgroep waar jy idees kan uitruil oor hoe om jou vel te versorg. Dit is ook ’n goeie manier om ondersteuning en motivering by mense te kry wat weet waardeur jy gaan.

Vraag: Swanger ná keisersnee

Ek is al drie keer met my kinders gesny. My kinders se pa is nou al drie jaar dood. Sê nou ek kry iemand anders en wil kinders hê, sal ek kan swanger word?

- Nuuskierig

Antwoord

Jy sê nou nie of jy gesteriliseer is ná die laaste keisersnee nie. In Suid-Afrika word dit baie sterk aanbeveel dat jy ná drie keisersneë gesteriliseer word. Dié klein prosedure word gewoonlik onmiddellik ná of saam met die derde keisersnit gedoen. Die toestemming vir die sterilisasie word gewoonlik voor die derde keisersnit gegee.

Indien jy gesteriliseer was, is dit baie duur (duisende rande) om die operasie te reverse (sodat jy weer kan swanger word). Dié tipe operasie beteken ook nie dat jy verseker weer sal kan swanger word nie. Indien jy nie sterilisasie ondergaan het nie, kan jy natuurlik weer swanger word, maar die gesondheidsrisiko’s vermeerder met elke keisersnit.

Die risiko’s sluit in blaas- en dermbeserings as gevolg van die aangroeisels wat ná elke buikoperasie (soos ’n keisersnit) vermeerder. Die baarmoeder word met elke keisersnit gesny en wanneer die wond genees, vorm ’n litteken in die wand van die baarmoeder. Hierdie litteken verdun die wand van die baarmoeder en met ’n volgende swangerskap (wanneer die baarmoeder moet rek en vergroot), is daar ’n risiko dat die baarmoeder by die vorige snymerk kan skeur.

Dit is ’n mediese noodgeval en kan die dood van die ongebore baba of selfs die ma veroorsaak as mediese hulp nie betyds toegepas word nie. Die posisie van die nageboorte kan ook abnormaal wees ná baie keisersneë. Onophoudelike of hewige bloeding ná ’n keisersnit kan veroorsaak dat ’n histerektomie (verwydering van die hele baarmoeder) gedoen moet word. Soos jy kan aflei, is dit nie ’n maklike besluit nie. Jy sal definitief ’n konsultasie met ’n ginekoloog moet reël, want hierdie prosedure kan net deur ’n spesialis gedoen word.


Dié artikel verskyn in die 16 Mei 2017-uitgawe van Kuier-tydskrif.


Meer oor:  Vitiligo  |  Kuier  |  Dr. Genine. Doktersraad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.