Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Carmen Maarman maak naam
7 Augustus 2019
carmen maarman


Vir twee jaar lank het Carmen Maarman (40) elke aand mense in die teater verwelkom, hul kaartjies gecheck en hulle na hul sitplekke gewys. En vir die res van die aand het sy in die teater gebly sonder om met iemand te ruil of ’n breek te vat net sodat sy die produksies kon kyk.

Dit het drome binne Carmen van Belhar op die Kaapse Vlakte wakker gemaak dat sy ook eendag op daardie einste verhoog sal wees. Want elke aand wanneer die ligte in die teater afgesit is en die gordyne opgegaan het vir die produksie om te begin, was dit asof ’n droomwêreld voor haar oë ontvou het.

Die musiek, die kostuums, die grimering en die karakters het haar betower. Sy kon nie genoeg daarvan kry nie en het soveel moontlik met haar oë gesteel, maar tog gewonder of sy ooit daar sal uitkom. Of sy ooit ’n geleentheid sal kry om een van die betowerende karakters op die verhoog sal wees.

Sit alles in

Soms het sy gedink dit is net ’n droom wat nooit vir haar realiteit sal word nie, maar vandag is Carmen een van die gereelde gesigte op die Baxter-teater se verhoog in die Kaap en het sy al in produksies soos David Kramer en Taliep Petersen se District Six – The Musical, Satin to Sequins en Marc Lottering se gewilde teaterproduksie Aunty Merle –  The Musical verskyn.

Sy vertolk tans die karakter van Maggie in kykNET se nuwe Maandagaand-komedie, Lui maar op, Belinda. Sy is ook die stemkunstenaar agter die karakter, Gülseren (een van die hoofkarakters), in die Turkse telenovela met die oorspronklike titel van Paramparça. Dit word sedert Oktober verlede jaar as die oorgeklankte Afrikaanse reeks, Gebroke Harte, op e.tv uitgesaai.

“Om te kan doen waarvoor ek lief is, is iets wat ek nie ligtelik opneem nie. Drama is iets wat ek al op skool wou doen. Al was ek nie die slimste kind op skool nie, dink ek hulle het my laat slaag net sodat ek klaar kan maak,” sê sy laggend.

“In matriek wou ek meer oefeninge en repetisies bywoon vir konserte as wat ek wou studeer. Dit het die onderwysers mal gemaak, maar ek het toe al geweet wat ek wou doen. Ek was nie seker hoe ek dit sou kon bekostig nie en of dit iets is wat moontlik is nie, maar ek het geweet ek wou probeer. Ek het in niks anders belanggestel nie.”

Terwyl sy gesels kan jy die opgewondenheid in haar stem hoor – sy praat met passie oor haar lewe en werk. Carmen is gemaklik en lewenslustig, maar sy verduidelik vinnig dat sy nie altyd só was nie. As kind was sy baie skaam en dis juis hoekom sy aanvanklik aangemoedig is om drama te neem.

Haar ouers het gedink dit kan haar dalk help om uit haar dop uit te kruip en om selfvertroue te bou. Dit het gewerk, maar hulle het nooit besef hoeveel sy daarvan gaan hou en dat die toneelspelsaadjie sou plant wat later in haar loopbaan sou verander nie.

“Ons het nie met baie geld grootgeword nie. My ma, Harriet, was al die jare ’n huisvrou en my pa, Karl, was ’n pipefitter. Hulle kon nie vir ons alles gee wat ons wou hê nie, maar ons het altyd skoon klere en ’n bord kos gehad,” vertel Carmen. 

“Maar tog wil jou ouers altyd vir jou ’n beter lewe gee as wat hulle gehad het en toe my ouers hoor ek wil ’n akteur word, het daardie gesprek nie maklik gegaan nie. My pa wou niks weet nie en het gesê ’n beroep as akteur sal nie kos op die tafel sit en rekeninge betaal nie. Daar was toe nie baie geleenthede vir mense van kleur nie, maar my ma het my van die begin af ondersteun. Sy het geglo ek kan, en ek het.”

Carmen met Marc Lottering in Aunty Merle - The Musical

Jy kan die ongeloof in Carmen se stem hoor wanneer sy verduidelik dat sy nie seker was hoe sy sou dit gaan bekostig om te gaan swot nie, maar dat sy by elke maatskappy en plek aansoek gedoen het vir ’n beurs en studielening tot sy een gekry het. Sy het ook deeltyds by teaters gewerk en bietjies geld bymekaargeskraap om vir haar studies, vervoer en ander uitgawes te betaal. Carmen sê dit was nie maklik nie, veral wanneer jy klaar studeer het en dan steeds moet sukkel om werk te kry.

Sy het ná haar studies by die Baxter-teater gewerk as een van die ushers, terwyl sy hier en daar ook ander casual werkies gedoen het.

“Daar was tye toe ek ophou glo het en dan moet jy nog ander ook oortuig dat jou tyd en beurt sal kom. Ek wou veral my pa trots maak en aan hom bewys dat ek die regte besluit gemaak het.”

Carmen het vyf jaar gelede haar pa verloor, maar sê elke keer as sy ’n nuwe loopbaangeleentheid kry, wens sy haar pa was daar. Sy weet egter hy sou baie trots gewees het, want toe hy haar tydens haar eerste groot produksie in 2003 op die verhoog sien, het hy in trane uitgebars.

As Galiema in die verhoogstuk Distict Six – The Musical, het haar pa haar in al haar glorie gesien en in daardie oomblik besef dit is wat sy moet doen. Dit is die talent waarmee sy gebore is en wat vir haar ambisie, geluk en hoop bring.

Haar leerskool

Sy beskryf dit as ’n ongelooflike eer om karakters te speel wat mense hoop gee, laat dink en laat wonder oor die verlede, die toekoms en die hede. Sy vertel wanneer sy met ’n nuwe projek begin, voel dit ná 16 jaar in die bedryf steeds soos haar eerste keer op die verhoog – soos haar eerste werkgeleentheid en ’n splinternuwe leerskool.

Carmen sê sy is dankbaar vir mentors soos Marc Lottering, Taliep Petersen en David Kramer wat haar oor die jare geïnspireer het deur hul liefde vir mense, vir stories vertel en mense te laat voel deur musiek en woorde.

“Dit is ’n gift wat hulle het en ek is dankbaar dat hulle dit met my gedeel het, maar ook dat hulle my geleer het hoe om my talente met mense te kan deel. Selfs nou met my werk op televisie is daar so baie kunstenaars en akteurs by wie ek iets leer. Jy kan nooit genoeg kennis het nie. Televisie is heeltemal iets nuuts vir my, maar ek is opgewonde oor die uitdaging en om met kameras te werk,” sê sy.

“Teater sal altyd my eerste liefde wees omdat jy saam met jou gehoor kan connect. Ek wou ook altyd in televisie werk, die geleenthede was net nie daar nie, maar deesdae verander die bedryf en word daar baie meer rolle vir bruin vroue geskryf. Dit is tyd daarvoor en ek is opgewonde daaroor.”

Wanneer dit kom by voorbereiding, sê Carmen, weet sy nooit vooraf hoe ’n karakter gaan uitdraai nie. Daar is nie spesifieke mense wat sy in gedagte het wanneer sy ’n rol moet vertolk nie; sy begin die karakter voel wanneer sy die klere aantrek en dan word dit vir haar waar.

Al is dinge uiteindelik besig om vir haar te gebeur, sal sy graag eendag op Broadway wil wees. Sy werk tans ook aan ander teaterproduksies wat in 2020 op die planke sal verskyn.

Vir nou geniet sy dit om op die televisie te wees en hoop sy dat ander kinders in hul drome sal glo, want geen droom is ooit te groot of onbereikbaar nie. Kyk dan net na haar…

Meer oor:  Kuier  |  Carmen Maarman  |  Aunty Merle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.