Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Droogte: Baie dele van SA sukkel sonder water
13 November 2019

Kurkdroog. Dit is tans die toestand van die Ngweba-dam in Graaff-Reinet. ’n Waterkrisis het dié Oos-Kaapse dorpie getref en die knellende droogte het die provinsie tot op sy knieë gedwing met slegs boorgatwater wat tans die streek en sy mense dien.

Dis moeilik om te glo dat hierdie massiewe dam, wat eens op ’n tyd oorgeloop het van die water, nie eens meer ’n druppel drinkbare water bevat nie. Die dam is veronderstel om water aan 600 000 inwoners te verskaf, maar al wat van die dam oor was met Kuier se besoek, was ’n oorweldigende stank van dooie visse terwyl inwoners van dié dorp in vuisgevegte betrokke raak oor ’n bietjie water.

Verlede jaar was ook Kaapstad tot op sy knieë gedwing deur ’n dreigende droogte, maar net toe inwoners se gemoedere die laagste punt bereik, het die sluise van die hemel oopgegaan en Dag Zero in die Moederstad is vermy (vir nou). Ander dele van die land is egter nie so gelukkig nie en nou dreig Dag Zero vir hulle.

Dit is veral verskeie dorpe in die Oos-Kaap en Noord-Kaap, onder meer Graaff-Reinet en Kimberley, wat die ergste getref word deur die heersende droogte en glad nie meer water het nie. Boorgate en damme het opgedroog en al wat kom, is die langverwagte reën. Inwoners van dié dorpe is in sak en as, want nie net moet hulle nou verhoogde watertariewe betaal nie, maar baie van hulle het ook hul werke op die plase verloor.

In Februarie vanjaar het die Dr. Beyers Naude-munisipaliteit in Graaff-Reinet ’n kennisgewing uitgereik waarin alle inwoners in kennis gestel is van die lae watervlak van die Nqweba-dam en die gehalte van die water.

Luidens die kennisgewing is daar toe besluit om die watertoevoer vanaf die Nqweba-dam te staak. Die munisipaliteit het watertrokke beskikbaar gestel om water af te lewer.

Die visse in die dam het gevrek en uitgedroog. Inwoners het sedertdien die dam skoongemaak en meer as 36 000 dooie visse verwyder.

Ergste nóg

Wilca Smith, ’n woordvoerder vir die Dr. Beyers Naude-munisipaliteit, sê dié droogte is die ergste nog. “Die hele Oos-Kaap ly onder die droogte, terwyl die distrik Sarah Baartman tot ’n rampgebied verklaar is. Die dorp gebruik tans boorgatwater. Daar is agt operasionele boorgate, twee wat besig is om reggemaak te word en vier ekstra boorgate word geïmplementeer wat tans geboor word om te help met die toevoer en waterbeperkings.” Wilca benadruk ook dat die dam nie tans in ’n bruikbare toestand is nie.

Kuier het onlangs die Oos- en Noord-Kaap besoek en wanneer jy op die R62 op pad na Graaff-Reinet ry, is dit opvallend en kommerwekkend hoe droog dit werklik hier is. Al wat ’n plant is, het reeds gevrek. ’n Inwoner van Graaff-Reinet, Loy Bosch (52), sê die watersituasie op die dorp is erg – veral in die minderbevoorregte gebiede.

Dink jou net in hoe desperaat moes daai arme mense nie wees om te wil baklei oor ou vuil dreinwater nie.

“Daar was een week wat die water vir vier dae af was en dit was sonder waarskuwing. Weet jy hoe dit voel as jy die kraan oopdraai en daar kom niks water uit die kraan nie?” wou Loy ontsteld weet. Hy kon darem bekostig om water te gaan koop, maar daar was diegene wat nie kon nie, voeg hy by.

“Baie mense het ook as gevolg van die droogte hul werk op die plaas verloor, so daar is nie ekstra geld om koopwater te gebruik nie. Water is nou ’n luuksheid hier, want dit is kurkdroog.” Loy, ’n onderwyser by die plaaslike hoërskool, sê ’n paar weke gelede het wolke swaar oor hul dorp gehang en dit het gelyk asof hul gebede beantwoord sou word. “Dit was die matrikulante se laaste dag van skool en daar het reëndruppels begin val.

Die opgewondenheid en gelukkigheid was tasbaar en die kinders het begin jubel en juig.” Hul vreugde was egter van korte duur, want ná slegs ’n paar druppels reën het dit opgehou en dit het sedertdien nie weer gereën nie. Corene Conradie (29), stigter van die Graaff-Reinet Water Crisis, sê sy het in Februarie die organisasie begin nadat sy ’n ouer vrou op die sypaadjie aangetref het.

“Ek was op pad werk toe, toe ek haar op die sypaadjie sien lê. Sy was op pad dorp toe om water te kry omdat die kinders by die huis siek geraak het van die water wat hulle uit die kraan gedrink het.” Corene het net daar en dan besluit om iets te doen. “Ek het water begin insamel om vir die gesin te gee. En só het ons aan al hoe meer mense water begin skenk.”

Op een stadium was die behoefte aan water so erg dat mense by ’n drein met mekaar wou baklei oor water. In ’n video wat op die Graaff-Reinet Water Crisis se Facebook-blad gelaai is, kan ’n mens sien hoe kinders uit die pad gestamp word en ouer mense begin slaags raak met mekaar.

“Dink jou net in hoe desperaat moes daai arme mense nie wees om te wil baklei oor ou vuil dreinwater nie. Maar uit desperaatheid het hulle daai water vir huishoudelike gebruik ingespan,” sê Corene terwyl sy haar kop in wanhoop skud. Sy sê die belangrikste is om die dam reg te kry. Meer as 600 inwoners het hande gevat om die dam skoon te maak en ongeveer 36 000 dooie visse is verwyder.

Die Oos-Kaapse regering het die provinsie tot ’n droogte-rampgebied verklaar. Met die droogte in sy vyfde jaar, het die provinsie tot dusver net minder as R3 miljoen aan droogtehulpfondse bestee en in die komende middeltermynbegroting nog R3,2 miljoen daarvoor begroot.

Intussen het die humanitêre organisasie Gift of the Givers ingegryp en het op 1 Oktober vragmotors en tenkwaens met water, ’n boormasjien en ’n hidroloog, dr. Gideon Groenewald, na die Oos-Kaap gestuur. Volgens hulle lê die oplossing daarin om nuwe boorgate te ontwikkel en water te voorsien teen ’n snelheid wat die watergebruik in laagliggende gebiede oorskry. “Pompstelsels moet doeltreffend kan loop en hoogliggende reservoirs vul.”

Die Ngweba-dam in die Oos-Kaap is kurkdroog.

Kimberley ly ook

In Kimberley in die Noord-Kaap moet inwoners ook party dae sonder water aansukkel en plase loop deur onder die droogte. Tremaine Barnes (32) sê sy kan nie onthou wanneer laas dit in haar tuisdorp gereën het nie. “In Kimberley is dit meer ’n situasie van die watersisteme wat foutief is as droogte. Elke dan en wan is die krane droog en dan kom daar weer oor ’n dag of twee water. Dit is baie frustrerend.”

Volgens Tremaine drink die mense van Kimberley al vir ’n geruime tyd nie meer die water wat uit die kraan kom nie. “ Daar was al mense wie se mae nie lekker was nadat hulle die water gedrink het nie. Die tekort aan water maak regtig die lewe op meer as een manier moeilik.” Hoewel Kuier net die twee provinsies vir dié storie besoek het, is die droogte regoor Suid-Afrika ’n groot bron van kommer.

Lindiwe Sisulu, minister van water en sanitasie, het egter onlangs by ’n mediakonferensie gesê hoewel die watersituasie in die land baie ernstig is, is daar geen rede vir paniek nie. “Ons ervaar tans wat ’n mens ‘waterstres’ noem en ons ervaar nou die harde werklikheid daarvan. Ek wil dit egter beklemtoon dat daar in hierdie stadium geen rede tot paniek is nie, maar mense moet water spaarsamig gebruik.”

Die gemoedere van die mense met wie ons gesels het, is laag, maar hulle klou steeds vas aan die hoop dat dit hopelik binnekort gaan reën. Soos Corene van die Graaff-Reinet met ons besoek aan die dam bewoë opgemerk het: “Net die Here kan ons uit dié dorre situasie red . . .”

Meer oor:  Droogte  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.