Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Duister dampe
vaping

Jy sien hulle in karre en buite geboue, omring deur bondels rook so groot dat jy nie kan help om te wonder of daar ’n brand woed nie. Elke Jan Rap en sy maat vape deesdae. Mense glo vas dis gesonder as sigarette, so dis sosiaal meer aanvaarbaar – soveel so dat selfs winkelsentrums deesdae “vaping stations” het vir wanneer die lus jou pak.

Volgens Public Health England, ’n agentskap van die Britse departement van gesondheid, is e-sigarette 95% minder skadelik vir jou gesondheid as normale sigarette. Maar wat is dit nou eintlik? Hoekom doen so baie mense dit en is dit regtig soveel beter vir jou?

“Ek het vir ’n hele tydjie ge-vape toe dit net begin het,” vertel Koen Rademan (39) van Pretoria. “Dit het so kwaai gelyk en gevoel met daai masjientjie en die rook wat so uitborrel. En al die geure om van te kies en te keur. Maar ná ’n rukkie het dit te veel moeite geraak om die liquid in die hande te kry en ek is nou maar weer terug op sigarette.” Koen dink nie e-sigarette sal enige strawwe roker help om op te hou rook nie. Inteendeel, hy het meer gerook, want met e-sigarette kon hy op sekere plekke rook waar sigarette verbied is.

Ima Peter, woordvoerder van die Vapour Products Association of South Africa (VPA), verduidelik vaping is die in- en uitaseming van verhitte vloeistof in ’n aërosol spuitkannetjie, wat dan verwys word na as “vapour” of dampe. ’n Mens noem dit só omdat tabakrook nie gemaak word nie, maar eerder dampe. Jy kry dit met behulp van ’n e-sigaret of soortgelyke toestel.  Dit werk deur ’n vloeistof te verhit wat ’n damp veroorsaak wat die roker dan in-asem. Volgens Ima het die Suid-Afrikaanse vape-marksegment elke jaar die afgelope dekade met 10% gegroei. Dit is effens stadiger as in die res van die wêreld, moontlik as gevolg van die hoë koste daaraan verbonde, asook onwettige sigarethandel.

beter as sigarette?

Jaarliks kos vaping 7% minder as sigarette, maar elke transaksie kos vier keer meer, so dit voel of vaping duurder is, al is dit nie. Die gemiddelde Suid-Afrikaanse roker spandeer na beraming R9 724 op sigarette per jaar, terwyl vapers R8 307 opdok. Ima verduidelik verder dat hoewel e-sigarette ’n klein hoeveelheid nie-rokers aan nikotien bekendgestel het, net 0,1% van mense wat nie voorheen gerook het nie, nou op ’n gereelde basis vape. Volgens haar het die vapingbedryf meer as 4 300 werkgeleenthede geskep en voorspel dié syfer sal tot 14 690 styg teen 2027 as dit nie deur regulering belemmer word nie.

Verder meen Ima e-sigarette kan rokers help om op te hou rook – dit is amper twee keer meer suksesvol as ander produkte soos plakkers en kougom. Verder is dit ook blykbaar baie minder nadelig vir jou gesondheid omdat dit nie tabak bevat nie.

Dr. Richard van Zyl-Smit, ’n pulmonoloog en hoof van die Long Kliniese Navorsingseenheid by die Universiteit van Kaapstad se Longinstituut, sê die sogenaamde bewyse dat e-sigarette ’n mens kan help om heeltemal op te hou rook, is ’n omstrede issue en daar is baie beter maniere om finaal jou stompie dood te druk. “As jy vaping sien as die einddoel, eerder as om niks meer skadelik in te asem nie, dan is daar goeie bewyse dat mense kan oorskakel.”

Daar is egter by Van Zyl-Smit geen twyfel dat die bemarking van e-sigarette nie-rokers en veral tieners aanmoedig om die gewoonte aan te leer nie. As gevolg van advertensies word vaping nie gesien as gevaarlik nie. “Wanneer jy dit vergelyk met tabak, is dit moontlik so, maar beslis nie as jy dit vergelyk met vars lug nie!”

In vergelyking met tabak behoort e-sigarette baie veiliger te wees as jy kyk na die chemiese bestanddele. Hoeveel veiliger, is egter debatteerbaar. “Dis beslis nie veilig nie, maar vergeleke met die 50% kans op sterfte wanneer jy sigarette rook, is omtrent enigiets ‘veiliger’.?”  Vir nie-rokers wat dit oorweeg om te vape, is daar beslis risiko’s geassosieer met nikotien, maar ook met die ander chemika-lieë wat nie veilig is nie. “Dit beteken die risiko vir infeksie en kardiovaskulêre siektes is daar. Die kanker-risiko blyk baie minder te wees, maar ons sal op die langtermyn sien of dit waar is.”

Volgens die Suid-Afrikaanse Demografiese en Gesondheidsopname (SADHS) van 2016 gebruik 2% van vroue en 3% van mans in Suid-Afrika e-sigarette. Volgens Lorraine Govender, nasionale koördineerder van die Kankervereniging van Suid Afrika (Kansa), is dit deesdae tien teen een al baie meer. “Dis kommerwekkend om die toename van e-sigarette onder die jeug te sien,” meen sy.

Lorraine sê verder die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) glo, soos Van Zyl-Smit, die bewyse dat e-sigarette mense help om tabakrook stop te sit, is maar baie beperk.

Verder het die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte-reguleringsowerheid (SAHPRA) onlangs e-sigarette as ’n skedule 3 middel geklassifiseer, wat beteken dit kan slegs in apteke verkoop word per voorskrif. Ten spyte hiervan is dit egter steeds wyd be-skikbaar in winkelsentrums en kiosks regoor die land.

onveilig

Lorraine benadruk dat tabak- en nikotien-gebruik, maak nie saak in watter vorm nie, nie veilig is nie. Veral nie vir kinders en jong volwassenes nie. Daar is baie verskillende e-sigarette en dit is maklik bekombaar. Maar die probleem is, dis nie bekend hoeveel gevaarlike gifstowwe daarin is nie. “Daar is genoeg bewyse van die potensiële gevare van e-sigarette. ’n Studie deur die Food and Drug Administration in Amerika het spore van kanker-veroorsakende chemikalieë in twee gewilde e-sigarette gevind. Wat my betref moet sulke produkte geëvalueer word vir veiligheid deur ’n wetenskaplike liggaam om die vlakke van nikotien en ander chemikalieë te bepaal.” Tans word dit nie gedoen nie. Daar is dus geen wetgewing wat die bestanddele van e-sigarette reguleer nie.

Mense weet hoe gevaarlik sigarette is. Die probleem is, dis duidelik dat e-sigarette skadelik is, niemand weet net nog hóé skadelik nie. 

Meer oor:  Gesondheid  |  Kuier  |  Vaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.