Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Dwelmverslaafde nou 'n kampioen
2 Oktober 2019


Hy het vir jare in ’n waas van dwelms geleef, maar nou is hy ’n powerlifting-kampioen! 

Vir langer as tien jaar was hy ’n volslae verslaafde wat ’n jaar lank vir sy dwelmsondes in Pollsmoor moes gaan boet. Maar, die Wayne Olivier (35) wat hy vandag sien, is reeds ’n goeie paar jaar skoon. Hy lyk soos iets uit ’n fitness magazine en jy sien daai spiere onder sy top bult.

Vandag is dieselfde druggie van ouds ’n powerlifting-kampioen wat ons land in November in Lahti, Finland, gaan verteenwoordig in die WPC World Championships. Die geheue neuk maar, erken dié operasionele bestuurder en koördineerder terwyl hy aan sy koffie teug. “Daar is ’n klomp blanks. Onthou, ek het als gebruik.

Tik, acid, speed, coke tot heroïen – gerook en selfs ingespuit.” Hy kyk jou stip in die oë, praat reguit. “Dis hartseer dat my verlede soos ’n blur voel. Ek kan nie eens ’n jaar daarvan werklik aanmekaarsit nie.”

Dis sy skuld en syne alleen, voeg hy dadelik by. Want sy Godvresende grootmaakmense het hom gekoester. Hy is streng grootgemaak by sy ouma Mollie en oupa Sakkie Combrink op die Volkskerkgronde in Idasvallei, Stellenbosch, waar oom Sakkie ’n opsigter was. Voorbeeldig se baas. “Ek het in die kerkkoor gesing, was in die jeug, elke Sondag in die Sondagskool, gereeld Bybel gelees.”

Hoe het die wiele dan desjare afgedinges? Hy skud sy kop in ongeloof. “Ek weet nie, dalk wou ek losbreek. Dalk het ek te beskermend grootgeword. Maar dis nie hulle skuld nie. Dis alles net ek en my dom besluite.”

Van die pad af

Hy was maar sestien toe hy met dwelms begin eksperimenteer. Eers heel onskuldig, blote kattekwaad. “Toe begin ek saam met gangsters rondhang op die jaarts by shebeens. Dis ek wat my ordentlike pelle aan dwelms voorgestel het. Hulle wou weet hoe dit ’n mens laat voel.

Destyds was tik nog nuut. Toe dit begin skop, kon ons nie verstaan hoe mense daaraan verslaaf kan raak nie. Ons het vas geglo ons sou nooit verslaaf raak nie. Toe word dit elke naweek se ding.” Naweke was naderhand nie meer genoeg nie. “Ek het dit een maal in die week ook gebruik. My ordentlike pelle het begin wegskuif. Hulle het agtergekom dit word ’n probleem. Nie ek nie, ek was hardegat, in denial.”

Hoe meer jy baklei, hoe sterker word jy.

Wayne het toe sy kampie verskuif en teruggegaan na sy gangster-vriende. “En toe begin ek elke dag gebruik.” Vir sy ouers, wie se name hy uit respek nie gepubliseer wil hê nie, was sy dwelmpad ’n moeilike een. “My pa wou dit nie glo nie. Nie sý kind nie.” Tog het sy pa sy kind elke keer gaan soek as hy in ’n dwelmwaas koers ingeslaan het.

“Ek het vir hulle gejok, hulle gemanipuleer en baie seergemaak. En tog het hulle my elke keer vergewe. “Toe ek met dwelms smokkel, het ek belangrik gevoel onder die verkeerde crowd. Gangsters vir wie ek voorheen bang was, het nou voor my kom kniel vir ’n hit.”

Hy was toe reeds in sy twintigs en heeltemal verstrengel in sy dwelmhel. “Jy pass uit. ’n Mens kan nie daai slaap noem nie. Skielik skrik jy wakker en rook weer. Daar moes genoeg wees vir wanneer jy wakker skrik. Nie genoeg kos of water nie, maar genoeg dwelms. Die slegste dag vir my was as ek niks gehad het nie.” Hy onthou wel daardie klopjag by ’n huis in Kylemore waar hy en ’n paar ouens vasgetrek is.

“Ons was daar om dwelms af te swaai, soos ons dit noem. Hulle het op die huis afgestorm en ons betrap. Ek was ’n jaar lank in Pollsmoor,’’ sê hy. “Dit was rof. Alles wat jy hoor, doen dit nie justice nie, dis horrible. Was dit nie vir my konneksies buite nie, het ek dit nie gemaak nie.” In die tronk het sy dwelmgebruik nie opgehou nie.

“Daar is van alles, dis nie juis ’n rehab nie. Natuurlik leer jy daar ook nog meer verkeerde goed.” Hy het ook nie ’n reguit pad gestap toe hy ná ’n jaar daar uitstap nie. “Toe is ek éérs equipped, met nóg meer konneksies.” Intussen het hy die pa van ’n dogter uit ’n aan-en-af-verhouding geword. En dit het hom laat herbesin oor die lewe. “Glo my, ek het selfs in my dwelmwaas nooit opgehou bid dat die Here my moet beskerm nie. Ek het God belowe ek gaan nog regtig my lewe verander.”

Op daai stadium het hy in ’n wendyhuis agter op iemand se jaart gebly. Skaars ’n blok weg van sy ouerhuis. “Ek het een aand huis toe gegaan en vir my pa gesê ek wil rehab toe. Maar dit moet ver weg wees.” Só is hy na Healing Wings op ’n plaas in Mosambiek. “Dis net natuurskoon rondom jou en daar kan jy nie weghol nie, dit was in die middel van nêrens.” Die eerste twee dae het hy omgeslaap. “En dis so vreemd, dis asof ek die nare gevoel van onttrekking, wat ons cold turkey noem, gespaar is. Want toe ek daar opstaan, was my lus weg. Ek kan dit vandag nog nie verklaar nie. Dis eintlik waar ek ’n man geword het.”

Begin oor

Wayne sien uit daarna om SA in Finland te verteenwoordig.

Ná vier maande is hy terug huis toe. “Ek was bang, maar dit was wonderlik om weer behoorlik te kon slaap, proe, ruik. Ek het my kind gereeld gesien en myself onttrek van die meeste mense en meestal tuis in my ouerhuis gebly.” Hy het ’n goeie werk by ’n selfoonnetwerk gekry en ná sowat agt maande is hy na ’n bestuurspos bevorder.

“Dit was ’n goeie inkomste, ek het my eie plekkie in die Strand aangeskaf en selfs iemand spesiaals ontmoet.” Maar nie lank nie of die dwelmduiwel jaag hom toe weer. “Toe ek weer sien, het ek weer begin jok vir my mense, toe ek later retrench is, het ek weer begin smokkel. Dit was omtrent so 2009.” Die tweede keer was half erger, verduidelik hy.

“My lus was groter. Ek het nuwe pelle gehad, my blyplek verloor en gebly net waar ek ’n plekkie vir my kop kon kry.” Drie jaar het verbygevlieg en toe staan hy een oggend op, en besluit: Genoeg, Wayne, nou is dit genoeg. Hy wou nie weer na ’n rehab toe nie. “Ek moes myself regruk. Ek het weer gaan swot in 2012 en die beste in my kursus (IT en systems support) gevaar.’’

Intussen het hy in alle erns begin gym. Eers crossfit en toe sedert begin vanjaar het hy sy high intensity training gekombineer met kragoefeninge, oftewel powerlifting. Hy het ook daarin begin uitblink en vir die nationals gekwalifiseer by die World Powerlifting Congress SA (WPC SA).

“Van my pelle was verbaas dat ek, wat in die 75 kg-groep val, nogal sterk is. My gewone squat lift was eers 180 kg, benchlift 120 kg en ’n deadlift van 220 kg. By die nationals het ek 190 kg gesquat, bench was 125 kg en deadlift 235 kg. Ek het eerste plek behaal in die Men’s Open, ook in die Meestersklas en sewe nasionale rekords gebreek – vier in die Meestersklas en drie in die Men’s Open. My honger vir dwelms is vervang met ’n honger om in powerlifting uit te blink.’’

Toe kom die e-pos van WPC SA – Wayne kwalifiseer om in Finland te gaan kompeteer. “Ek was sprakeloos. Hier is ek, ’n ou druggie wat ’n vullisblik van my liggaam gemaak het en ék van alle mense slaan daai geluk. Dit was so ironies.” Maar daar is nog ’n paar uitdagings. Dis nie ’n sportsoort waar borge toustaan nie en Wayne moet nou self binne twee en ’n half maande R50 000 bymekaarskraap om sy droom te verwesenlik. “Dis mos nou nie asof ek kon beplan daarvoor nie. Dit het so skielik gebeur.”

Maar hy is ’n kanniedood en gaan dit sy beste gee. “As ’n verslaafde kan jy nooit ophou baklei nie – ek fight nog elke dag teen my demons. Hoe meer jy baklei, hoe sterker word jy. Ek het destyds ge-relapse, want ek het gedink ek hoef nie meer te baklei nie. Maar ek wil nooit weer na daai wêreld teruggaan nie en daarom sal ek nooit weer ophou baklei nie. Ek sien uiteindelik die toekoms wat ek voorheen net van kon droom. Ek weet ek is op pad vorentoe.” *Haidee Muller is ’n omroeper en regisseur by RSG.

Meer oor:  Inspirasie  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.