Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Eerste vrou reg om Bokke te brei
28 Junie 2019

Die rugbylandskap in Suid-Afrika het vanjaar op Dinsdag 21 Mei verander met die aanstelling van Laurian Johannes (34) as afrigter van die nasionale o.20-vrouespan.

Wat die aanstelling so geskiedkundig maak, is die feit dat Laurian die eerste vrou is om die pos as hoofafrigter van ’n nasionale rugbyspan te beklee.

Laurian, ’n voormalige WP- en Springbok-vrouespeler, sal bygestaan word deur nóg ’n voormalige Springbok-vrouespeler, Natasha Hofmeester, wat die rol van spanbestuurder by die se o.20- vrouespan sal inneem. Laurian het in Athlone by haar ouma grootgeword en is tans ook ’n onderwyser by haar alma mater, Hoërskool Athlone, waar sy besigheidstudies en ekonomiese bestuurswetenskappe gee.

Hoewel sy haar ouers net naweke gesien het, is dit juis daar waar haar liefde vir sport en spesifiek rugby gekweek is. Op skool het sy ook in krieket, bofbal en atletiek uitgeblink. Maar waar het haar liefde vir rugby begin? “My liefde vir rugby het met die Rugbywêreldbeker in 1995 begin. Toe Francois Pienaar daai dag die Wêreldbeker lig, het ek onmiddellik geweet ek wil ook rugby speel.”

Maar sy moes ’n ruk wag voor sy die geleentheid sou kry. “UWK (die Universiteit van Wes-Kaapland) het in die vroeë 2000s ’n vrouespan begin en ek het aangesluit, maar my pa het nie geweet nie. Ek het nie eens toks gehad nie en het vir my pa gesê ’n vriend wat rugby speel, kan nie toks bekostig nie. Ek het hom gevra of hy dit sal koop, maar dit was eintlik vir my,” erken sy met ’n stout lag in haar stem. Laurian wat tans die lewe as onderwyser, rugbyafrigter en verloofde fyn moet balanseer, sê dit gaan alles oor tydsbestuur en beplanning. “Ek hou skool tot halfvier smiddags, dan het ek my eerste oefensessie met die WP-junior spanne en dan nog ’n oefensessie met die seniors later in die dag. Saans is dit tyd vir familie en vriende.”

Uitdagings

Laurian se eerste uitdaging as afrigter van die SA o.20-span gaan wees om die span voor te berei vir die internasionale seisoen wat laat in Junie met twee wedstryde teen Zimbabwe in Harare afskop. Dit sal ook die eerste keer in ses jaar wees dat die o.20-vrouespan in ’n internasionale wedstryd speel. Die laaste keer was by die 2013 Nasiesbeker in Londen waar hulle teen Engeland, die VSA en Kanada gespeel het.

Laurian is verheug oor haar aanstelling. “Dit is ’n fantastiese geleentheid om op hierdie vlak te kan afrig en dit is ’n absolute eer om die eerste vrou te wees om ’n senior afrigterspos in Suid-Afrikaanse rugby te beklee,” sê sy. “Dit is ’n groot uitdaging om met sulke jong spelers te werk. Baie van hulle is nog kinders, maar het baie potensiaal. Dis my rol as afrigter om daardie potensiaal te kweek en hulle reg te kry, nie net vir die vereistes van ons span nie, maar ook om hulle gereed te kry indien hulle vir die senior span opgeroep word.”

Werk hard

Laurian rig haar spelers af.

Sedert haar aanstelling het sy die geleentheid gehad om kortliks met die spelers te werk en sy besef die span het baie uitdagings, maar werk met ’n groter doel voor oë. Sy sien hierdie geleentheid om die spelers in die o.20-span voor te berei om eendag vir die Suid-Afrikaanse senior vrouespan te speel. Met die span se eerste oefenkamp in Mei het sy ’n groot groep baie entoesiastiese spelers gehad en moes dit tot 32 spelers sny vir die kamp in Pretoria. “Ons het hoofsaaklik gefokus op die basiese beginsels van rugby in ons eerste oefenkamp.

Die meisies is gretig om te wys wat hulle kan doen en daar is ook goeie kompetisie binne die groep,” voeg Laurian by. Sy het steeds drome om die senior vrouespan op internasionale vlak af te rig. “Toe ek as rugbyspeler afgetree het, was my doel juis om ’n afrigter te word, met die oog op om die Springbok-vrouespan se afrigter te word. Daarom is ek so opgewonde om hierdie geleentheid te kry. Dit is beslis ’n stap in die regte rigting.” Sy wil ook eendag ’n mansspan afrig.

“Die afrigterskwalifikasies is dieselfde vir mans en vroue so daar is geen rede hoekom ek nie my kennis en ervaring met mansspanne ook kan deel nie,” sê sy vol selfvertroue. Jurie Roux, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Rugby-unie, het Laurian met haar aanstelling geluk gewens. “Dit is ’n groot prestasie vir Laurian en vir Suid-Afrikaanse rugby, en ons wens haar voorspoed in hierdie belangrike rol,” sê Jurie. “Die feit dat Laurian vir die Springbok-vrouespan gespeel het en deelgeneem het aan die 2010 Wêreldbekertoernooi voordat sy ervaring as afrigter by die Westelike Provinsie opgedoen het, maak hierdie prestasie selfs meer betekenisvol. Sy het deur die geledere gekom en ek hoop dat sy ander vroulike spelers sal inspireer om afrigters te word en hul drome te volg.”

As speler het Laurian ook baie vermag. Sy is trots daarop dat sy meer as 50 wedstryde vir WP se senior span tussen 2004 en 2013 kon speel. “Nóg ’n hoogtepunt was in 2010 by die vrouewêreldbeker in Surrey, Engeland. Ons het teen die All Blacks-vrouespan te staan gekom en toe hulle die haka doen, het dit my laat besef, nie baie mense kry die kans om só iets te beleef nie. Beslis ’n loopbaanhoogtepunt.” Laurian het eers in 2015 by die Westelike Provinsie op junior vlak haar loopbaan as afrigter begin.

Laurian was ook ’n Springbok-speler.

Sedert 2017 was sy die afrigter van die o.18-WP-vrouespan. Die meeste van haar spelers werf sy by junior toernooie en jeug-oefenkampe. “Hierdie spelers sal oor die volgende paar jaar in die senior nasionale span wees, so dit is ’n kans om hul vaardighede te ontwikkel en die moontlikheid om teen internasionale opposisie te speel,” sê Laurian. Sy het die span se voorbereidings vir hul twee wedstryde teen Zimbabwe versterk deur ’n groep van 32 spelers na ’n oefenkamp in Pretoria uit te nooi. Die oefenkamp het van 9 tot 15 Junie by die Universiteit van Pretoria se Hoëprestasiesentrum plaasgevind.

Laurian sê die o.20-span se voorbereidings het korttermyn- en langtermynvoordele vir die spelers gehad: “Die spelers weet die eerste uitdaging is die wedstryde teen Zimbabwe, die wedstryde is ook ’n geleentheid om verder as spelers te ontwikkel.” Dit was juis hier waar Kuier met haar opgevang het en eerstehands gesien het hoe sy met passie haar droom uitleef. Die spelers het met groot belangstelling geluister en aan haar lippe hang toe sy advies gee en verduidelik wat sy van hulle verwag. Af van die veld het sy ook groot drome en doelwitte wat sy wil bereik.

“Ek het aansoek gedoen vir ’n departementshoofpos by die skool en ek kan nie wag om in September te trou nie.” Vir jonger vroue wil sy ook wys daar is geleenthede in ’n sport soos rugby wat voorheen as ’n mansport beskou was. “Ek wil net vir jonger meisies en vroue sê hulle moet nie dat hul omstandighede ’n stokkie voor hul drome steek nie. Daar is baie geleenthede en as hulle hard werk en gefokus bly, sal deure oopgaan.”

Foto’s: Pieter du Toit en Verskaf

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.