Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
EKSKLUSIEF: Akteur Danny Ross oor sy komplekse, mooi verhouding met sy pa
12 Junie 2019
Danny Ross

Dis die eerste keer dat die geliefde akteur Danny Ross sy hart in ’n onderhoud oopmaak oor die komplekse, dog mooi verhouding met sy biologiese pa. Sy pa wat tot en met sy dood verlede jaar op die strate van Worcester gebly het. Danny het al daaroor op Facebook gepost en mense wat hom ken, ken hierdie deel van sy storie, maar hy het nog nooit in die media daaroor gepraat nie. Hy het te veel seer saam met hom gedra en was nooit reg om daaroor te praat nie. Tot nou . . .

Dit is ’n mooi herfsdag in Kaapstad toe ons met Danny (32) gesels. Die oggend het dit lekker gereën in die Moederstad, so asof die natuur ook wou skoon was en gereed maak vir iets nuuts. Nes Danny nou sy hart gaan uitpraat oor wat was, maar nie meer is nie. Hy moet nou ook aanvaar dat hy nooit weer sy pa, Daniel Thomas Ross, kan gaan soek vir ’n geselsie daar in Worcester se strate nie.

Sy pa het ’n ruk voor sy dood op 4 Mei 2018 ’n beroerte gehad. Hy was daarna in ’n rolstoel en het uiteindelik op 55 gesterf, vermoedelik weens gesondheidsuitdagings wat hy van sy beroerte agtergehou het.

Danny moes sy hart sterk maak om die onderhoud te doen, want hierdie was nie ’n oudisie vir ’n rol nie. Dit was sý lewe, sý emosies en sý storie van ’n pa wat hy nooit in sy lewe gehad het nie, totdat hy self die besluit gemaak het om sy pa op 17 te gaan soek. Hy het hom vergewe en ’n band met hom gebou – selfs al was dit soveel jare later en was daar soveel vrae waarop hy nie antwoorde gehad het of ooit gekry het nie.

Maar Danny het besluit hy wil nie eendag met regrets en “what ifs” sit nie. Al was sy pa nie daar vir hóm toe hy grootgeword het nie, wou hý minstens probeer om hierdie man te leer ken en te leer verstaan. En al loop die meeste van ons verby straatmense en sien ons hulle nie altyd raak nie, was dit juis op straat waar Danny later in sy lewe kosbare ure saam met sy pa spandeer het en lewenslesse op die eenvoudigste maniere geleer het.

Dit was lekker om Danny weer te sien, twee jaar nadat ons sy gewilde karakter, Jerome, in die kykNET-sepie Suidooster gegroet het. Danny was ná sy tyd by Suidooster in die fliek Nommer 37 en hy het van Kaapstad Johannesburg toe getrek. Hy het ook sedertdien baie gereis. Hy was onder meer in Europa, Amerika en Mexiko en noem nou weer die Moederstad huis.

Pa laat 'n leemte

Danny en sy pa, Daniel, wat vir baie jare voor sy dood op straat gebly het.

Toe ek hom kry, het ek gesê, ‘hallo, Daddy. Ek wil met jou gesels.’ Hy het na my gekyk, geglimlag en my vasgehou. Ek onthou hoe hy vir my gesê het, ‘ek wag al só lank vir hierdie oomblik’.

Ons gaan hom ook binnekort in ’n paar plaaslike projekte sien, maar sy loopbaan is nie nou die fokus nie. Hierdie is die onthou van ’n man, mét foute, wat in hul kort tyd as pa en seun saam ’n groot impak op Danny gemaak het. So groot dat Danny met die onthou van sy daddy en hul oomblikke saam bewoë raak en ’n traan stort. “Hy het my Boeta genoem,” sê Danny sag.

Hy vertel as kind het hy en sy pa, ’n voormalige weermagman, nie regtig ’n verhouding gehad nie. Sy ouers is uitmekaar toe Danny net ’n paar maande oud was en hy het net sy ma se kant van die storie geken – dat sy sy pa moes verlaat omdat hy abusive was. Danny het ’n liewe vaderfiguur in sy stiefpa gevind toe sy ma weer trou, maar toe Danny in sy tienerjare deur ’n baie rebelse fase gaan, het hy nie besef sy biologiese pa se afwesigheid speel ’n groot rol daarin nie.

“My ma en stiefpa het vir my die beste gegee wat hulle kon en het als gedoen om dinge beter te maak vir my. Ek was by ’n model C-skool, maar was rebels. Ek het op skool baklei en was baie uit die klas gesit. Ek was baie kwaad en was baie na aan ’n bendelid word. “Maar ek het nie geweet ek mis my pa nie. Ek was ook kwaad vir hom omdat hy in die military was en abusive was teenoor my ma.”

Op straat

Danny het geweet sy pa bly op straat, maar was bang om met hom te praat, en ja, ook ’n bietjie embarrassed. Want wat sou sy skoolvriende sê? Totdat hy eendag net by ’n punt gekom het waar hy nie meer omgegee het wat enigeen sê of dink nie. “Ek het eendag na my pa gegaan op die straat en het drie vriende by my gehad. Hulle wou weet wie dit is en toe ek sê dis my pa, het hulle vir my gelag,” onthou Danny.

Dit het nogal seergemaak, maar hy het nie meer omgegee nie. Hy was nie skaam omdat sy pa op die strate gebly het nie; dit was die man wat hom lewe gegee het en hy wou hom leer ken. Danny het ook geweet sy akteursdrome gaan vereis dat hy Worcester moet verlaat en voor dan wou hy behoorlike gesprekke met sy pa hê en tyd saam met hom spandeer.

“Ek was in my matriekjaar toe ek hom gaan opsoek het naby die biblioteek in Worcester waar hy geslaap het. Toe ek hom kry, het ek gesê, ‘hallo, Daddy. Ek wil met jou gesels.’ Hy het na my gekyk, geglimlag en my vasgehou. Ek onthou hoe hy vir my gesê het, ‘ek wag al só lank vir hierdie oomblik’. En ons het begin ge- sels . . .”

Danny se stem breek en die trane loop met die herleef van hierdie oomblik. Toe sy emosies onder beheer is, gaan hy voort: “Ek het besef ek moet hom vergewe om aan te beweeg. Tot en met die dag van sy dood, het hy nooit oor sy lewe gepraat nie,” voeg hy by.

Maar Danny het nie omgegee nie; hy het hul oomblikke saam geniet en gekoester. Hy het toe sy akteursdroom in Johannesburg nagejaag. Hy was aan die begin van sy loopbaan toe hy ’n klein rolletjie in 7de Laan kry. Hy het maar drie verskynings in dié sepie gemaak toe die koerant Son hom eendag bel en uitvra oor sy pa.

“Ek wou nie daaroor praat nie, want ek was nie gereed nie. Toe bel my oom kort daarna en sê daar is ’n artikel oor my in die Son. Die headline was iets soos, ‘7de Laan-akteur neglect sy pa’. “Daar was dinge geskryf wat nie waar was nie. Maar ek was nie van plan om hulle aan te vat nie. Ek het my storie en my waarheid geken en die mense in Worcester het die waarheid geken. Plus ek was werkloos toe die storie uitkom, want die 7de Laan-tonele was toe al maande tevore geskiet,” vertel hy.

Danny het sy pa se keuse om die straat te bly gerespekteer en nie gekarring nie. Hy het self met die tyd heen geleer dat daar mense was wat sy pa wou help en hom wou inneem. Maar hy sou net een aand oorslaap en voor sonsopkoms het hy sy bed opgemaak en was weer strate toe. Danny het eerder soveel moontlik tyd met hom spandeer. “Ek het die beste gedoen wat ek kon.”

Leer lesse

Met ’n glimlag wat om sy mondhoeke speel, vertel Danny hoe sy pa altyd aan hom geslaan het. Hy kon nie verstaan hoekom nie, totdat hy eendag sy pa se hou geblok en hom teruggeslaan het. “Ek het dit nie bedoel nie, dit was ’n refleksbeweging. My pa het niks gesê nie, net sy kop geknik. Later het ek besef die les hierin was om altyd gereed te wees vir enigiets.

Verlede jaar toe hy in ’n rolstoel was, het hy altyd gesê, ‘moenie my jammer kry nie’. Dít weer het my geleer om verantwoordelikheid vir my situasie te vat. Sy lesse was eenvoudig; geen lang lectures nie.”

Danny gaan nooit weer sy pa se gesig op die strate van Worcester sien nie. Maar hy is bly hy het moeite gedoen om sy pa te leer ken, want vandag sit hy nie met enige regrets of what ifs nie. Hy het memories van ’n man wat sy foute gehad het, maar wat op sy manier tog ’n pa vir hom was, die verlore jare ten spyt . . .

Foto’s: Ryan Carolisen en Verskaf

Meer oor:  Danny Ross  |  Kuier  |  Suidooster
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.