Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Ekstra inkomste: Maak só nog geld
22 Januarie 2020



Die ekonomie is op sy knieë en kenners is dit eens dat daar ten minste nog vyf maer jare voorlê. Maar terwyl al hoe meer moedelose maatskappye nou mense laat gaan, is daar ook baie Suid-Afrikaners wat met ’n tweede inkomste oorleef.

Scelo Makhathini, stigter van die werwingsagentskap LinkdPro, sê al hoe meer mense het nou ’n “side hustle” – ’n slim manier om deur hul vaardighede hul bestaande inkomste aan te vul. Sommige maak maklik ’n paar duisend rand ekstra per maand deur ’n tweede inkomste, wat as “die werkplek van die toekoms” beskryf word.

Die realiteit is dat baie mense eenvoudig nie meer met hul bestaande salarisse of lone kan uitkom nie. Nes die geld jou bankrekening tref, kom al die bank-SMS’e deur soos die debietorders een vir een afgaan. Trouens, van die 25 miljoen mense met krediettoegang is meer as 10 miljoen volgens die Nasionale Kredietreguleerder agterstallig met hul paaiemente.

Groot druk op jou

“My salaris is nie meer goed genoeg nie,” erken die 38-jarige Audrey Pierce van Bellville-Suid, wat ’n spanleier by ’n bekende winkelgroep is. “Daar was ná al die debietorders net nie meer genoeg geld oor om nog gemaklik te kon lewe nie. Soos baie van my vriendinne was ek eintlik maar ’n slaaf van al die klererekeninge en selfoonkontrakte. En ook ’n slaaf vir die kredietkaart wat ek gebruik het om my kinders se skoolgeld te betaal . . . Toe begin ek maar saans koeke bak om ekstra geld te maak.” Haar eerste bestelling was ’n verjaardagkoek vir ’n vriendin se babaseun.

“Ek sal nooit vergeet nie. Almal het ’n vreeslike bohaai oor my koek gemaak en dit is hoe die bestellings begin inrol het. Dié een het vir daai een vertel en vandag is dit ’n besigheid in die kleine. Maar ek hou nog vas aan my permanente werk, want dit betaal ons mediese fonds, pensioen en die dak en ligte. Daai soort ding. Maar ons lewe met die geld wat ek saans ná negeuur maak wanneer Emile (17) en Joni (11), ons kinders, in die bed klim.”

Econometrix se hoofekonoom, dr. Azar Jammine, sê elke liewe Suid-Afrikaner kan doen met ’n tweede inkomste. Ons is kniediep in die skuld, en uiteindelik word net die ekonomie benadeel wat in elk geval reeds wankelrig is.

Jammine sê: “Kredietverskaffers probeer die heeltyd mense lok om dinge te koop wat hulle nie kan bekostig nie. In Suid-Afrika is daar allerhande advertensies om duur goedere en elektronika te koop waarsonder ons eintlik kan klaarkom. ’n Groot deel van ons salarisse word ook spandeer aan selfone en datakoste, wat voorheen nie eens uitgawes in mense se lewens was nie. Dit word egter nou op die een of ander manier as ’n prioriteit in mense se lewens beskou, hoewel hulle besef dat hulle dit nie kan bekostig nie.”

Die trae ekonomie dra ook by tot die verbruiker se aptyt vir skuld, sê Jammine. “Die grootste probleem is dat die ekonomie nie vinnig groei nie. Mense raak werkloos en is onder baie druk, maar tog probeer hulle ’n sekere lewenstandaard handhaaf, en hulle moet geld leen om dít te kan doen.”

Om dinge te vererger, moet al hoe meer maatskappye mense aflê omdat hulle self in die knyp is. Afleggings is gewoonlik die heel laaste uitweg, maar in 2019 alleen is meer as 20 000 mense retrench – en alles dui daarop dat nog duisende vanjaar hul werk sal verloor. Dit is die laaste ding wat Suid-Afrika kan bekostig, want die werkloosheidsyfer het reeds tot 29% gestyg – by verre die hoogste in die afgelope dekade.

Die kommerwekkende toestand van die ekonomie eis sy tol op baie groot maatskappye, wat verlede jaar noodgedwonge mense moes laat gaan. Dit sluit volgens Business Insider grotes in soos Standard Bank, wat in 2019 altesaam 1 200 mense afgelê het en Tongaat Hulett wat 5 000 mense laat gaan het. Só beroerd gaan dit daarbuite dat kenners nou mense aanraai om baie mooi te dink voor hulle uit hul werk bedank, en verkieslik eerder planne vir ’n tweede inkomste in plek te sit. Maar selfs hiervoor gaan jy moet slim dink, want net ware entrepreneurs oorleef in tawwe ekonomiese tye.

Anja van Beek, ’n talent-strateeg en leierskapafrigter, het aan die radiostasie 702 gesê daar is baie druk op mense in die werkomgewing. “Dit is normaal dat mense bevraagteken of daar iets beter daarbuite is, maar dis baie belangrik om na te dink oor die rede waarom jy wil ophou werk. Diegene wat uit hul werk wil bedank, moet weet dit gaan rof daarbuite. Oorweeg eerder ’n tweede inkomste.”

Sogenaamde side hustling het ’n integrale deel van ons ekonomie geword met die regering, finansiële instellings en ander sleutelspelers wat entrepreneurskap en kleinbesighede prioritiseer, wys ’n studie van Henley Business School of Africa. Jon Foster-Pedley, ’n direkteur, sê die navorsing wys duidelik dat al hoe meer Suid-Afrikaners meer as een werk het. Uit die 1 158 respondente het 27% gesê hulle verdien ook ’n inkomste uit ’n tweede werk. Hoewel daar verskillende motiverings hiervoor is, soos om ’n spesifieke sake-idee na te streef, was die meeste desperaat om ’n ekstra inkomste te verdien om die pot aan die kook te help hou.

Volgens Nicole Crampton van die tyd- skrif Entrepreneur is daar verskillende soorte eg Suid-Afrikaanse idees vir tweede inkomstes wat jy maklik kan begin. Sy het ’n lys saamgestel wat relatief lae belegging en min infrastruktuur benodig. Dit sluit in: begin jou eie food truck oor naweke, bied Engelse klasse oor die internet aan, maak jou eie craft bier, gee avontuurtoerisme ’n kans, maak en verkoop handwerk of klere, word ’n sportafrigter vir mense in jou gemeenskap, verhuur ’n spaarkamer of selfs ’n spaarbed, en kweek inheemse plante.

Dit is al hoe ’n mens kan oorleef. Die tradisionele Maandag tot Vrydag, nege-tot-vyf-storie, is eenvoudig nie meer genoeg nie.

Kry só jou eie

John Steenkamp, ’n Kuier-leser van Worcester en ook ’n kleinsakementor, sê hy is deur soveel van sy eie vriende geïnspireer wat nou ’n side hustle begin het. “Dit is al hoe ’n mens kan oorleef. Die tradisionele Maandag tot Vrydag, nege-tot-vyf-storie, is eenvoudig nie meer genoeg nie. Hierdie nuwe bedryfsparadigma bemagtig individue om hul eie toekoms beter te bestuur en hul bestaande bates tot hul voordeel te benut,” sê John.

John beveel altyd First for Women se wenke aan vir mense wat ’n tweede inkomste wil vind:

• Stap 1 

Dink die saak versigtig deur: Jou eerste en miskien selfs die uitdagendste stap is om uit te werk of jy ’n produk of diens verkoop sal kan kry en wat dit sal wees. Produkte kan byvoorbeeld insluit die verkoop van handgemaakte klere of kunsvlyt (arts and crafts) op ’n plaaslike mark as jy goed is met jou hande.

Dink ook aan praktiese goed soos om mense se huise op te pas, studente te begelei, met ander mense se honde te gaan stap, deeltyds boeke te doen of by konserte op te tree. Dink aan jou talente en waaraan jy goed is en hoe jy jou vaardighede in kontant kan omskakel.

• Stap 2 

Wees realisities: Dit neem ’n lang tyd om die mark te bestudeer. Onthou daar moet ’n aansienlike vraag na jou produk of diens wees. Wie is jou kliënte en waar is hulle? Wat het hulle nodig en hoe kan jy hulle help? Jy moet ook jou mededingers ondersoek. Wie is hulle en watter produkte of dienste bied hulle aan? Hoe kan jy hulle in die mark klop?

• Stap 3

Spring weg: Sodra jy weet aan wie jy jou produk of diens gaan verkoop en wie jou mededingers is, moet jy sorg dat jy mededingend is. As jy byvoorbeeld grondstowwe vir jou produk benodig, moet jy navorsing doen oor waar jy dit teen die beste prys kan aankoop. Jy moet ook ’n duidelike strategie saamstel om jouself te bemark.

Benodig jy byvoorbeeld ’n webwerf of strooibiljette wat by robotte uitgedeel kan word? Om jou eie onderneming te begin as deel van ’n tweede inkomste is nie maklik nie. Maar wanneer dit werk, kan dit jou lewe verander. Moet egter nie bang wees om die heeltyd nuwe idees te probeer om jou bestaande inkomste aan te vul nie.

* Foto: Gallo Images/Getty Images

Meer oor:  Werk  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.