Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Élke sent werd?
09 Januarie 2019

Ons almal raap en skraap om deur te kom met ons pay-pakkies en dikwels is daar te veel maand aan die einde van ons sente. Maar afgesien van ’n bleek ekonomiese vooruitsig vir 2019, is daar steeds ouers wat nie net bereid is nie, maar die vermoë het om buitensporige bedrae te betaal om te verseker hul bloedjies kry die beste onderrig wat geld kan koop.

En dít kan ’n mens regtig verstaan, want die toestand van ons skole is iets wat enige ouer se nerves kan klaarmaak. In Suid-Afrika is omtrent ’n vyfde van ons skole in modderhutte en ’n skokkende nege skole in ons land het teen die einde van 2017 ’n 0% matriekslaagsyfer gehad. En dit is beter as in 2016, waar 18 skole heeltemal gedop het. News24 het vroeg in Januarie verlede jaar berig dat die Independent Examinations Board (IEB), ’n alternatiewe matriekeksamen wat die meeste privaatskole skryf, ’n slaagsyfer van 98,76% gehad het – 88,5% met universiteitsvrystelling. Dít teenoor die 75,1% van die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS), waarvan slegs 28,7% vrystelling gekry het. (Teen druktyd was die 2018-matriekuitslae nog nie bekend nie.)

Frans Jacobs (37) van die Paarl was eers in staatskole, maar het sy skoolloopbaan voltooi by ’n gesogte privaat skool. “ ’n Mens kan nie die twee vergelyk nie. Die standaarde en fasiliteite – dis soos om polony met steak te probeer vergelyk. Ja, albei werk, maar die verskil is baie duidelik. Net die naam van my skool het al baie deure oopgemaak.”

Hy weet ook as hy ooit iets nodig het, kan hy enigeen in die “old boy-netwerk” kontak en hy sal vinnig hulp kry. Tog, vertel hy, het die skool hom geleer om hard te werk vir dit wat hy wil hê en om nooit te gaan lê nie. Dit beteken nie dat daar nié goeie staatskole is nie. Daar is dalk net nie baie van hulle wat die hoogste gehalte onderwys bied nie.

Volgens ’n NSS-vorderingsverslag van 2017 deur die departement van basiese onderwys was daar 115 uitskieter-staat-skole wat die vorige vyf jaar al ’n 100% slaagsyfer het – en dit teen ’n fraksie van die koste van privaatskole.

Maar Suid-Afrika se elite privaatskole vra meer per kind per jaar as wat die meeste van ons verdien. Is dit die moeite werd? Behalwe die prestige, jare lange tradisies, fantastiese geriewe en pragtige gronde, sluit fooie vir privaatskole gewoonlik skoolgelde, koshuisverblyf, basiese vermaak en sport in.

die duurstes

Teen druktyd was nie al die duurste skole se fooie vir 2019 al bekendgemaak nie, so Kuier het die 2018 fooie vergelyk. (Omdat die twee duurste skole vereis dat leerders in ’n koshuis moet tuisgaan, sluit al die fooie losiesgelde in).

1. Hilton College, ’n seunskool buite Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal, is die duurste skool in Suid-Afrika teen ongeveer R276 560 per jaar. Die fooi dek skoolfooie, kos, losies, sport, basiese mediese sorg, die gebruik van die sanatorium (gesondheidsinrigting), biblioteek en waskamer. Die skool vra egter ’n fooi van R430 per termyn vir ekstras, soos byvoorbeeld droogskoonmaak, koerante, sonskerm, sekere skooltoneelstukke en sosiale aangeleenthede. Daar is ’n ekstra fooi betaalbaar vir seuns wat deelneem aan gholf, roei of kanovaart. Handboeke, skoolboeke, skryfbehoeftes, medisyne, doktersgeld en vermaak word nie by die skoolfooie ingesluit nie. As jou kind aanvaar word, moet jy ’n eenmalige bedrag van R69 125 betaal as toelatingsfooi wat bydra tot hul ontwikkelingsprogram.

Behalwe die gewone, bied Hilton ook vakke soos terapie, inligting en kommunikasie tegnologie, ontwerptegnologie, visuele kunste en musiek. Matrieks doen minstens sewe universiteitstoelatingvakke (in teenstelling met die gewone ses). Leerders het toegang tot hul eie tutors wat weekliks help met skoolwerk, ’n skoolterapeut, kapelaan (geestelike) en dokter. Die skool is geleë in ’n natuurreservaat met vier watervalle, kranse, toegang tot ’n rivier en talle staproetes waar jy arende, bokkies, sebras, kameelperde en ander diere kan sien. Die seuns leer hoe om in die bos te oorleef, spoor te sny, hoe om medisinale plante van gif­tiges te onderskei en leer oor diere.

2. Michaelhouse, ’n seunskool in die Midlands van KwaZulu-Natal vra ongeveer R265 680 met ’n eenmalige R33 210 toelatingsfooi. Dit sluit nie handboeke, skryfbehoeftes en uniform in nie. Die skool spog met ’n mediasentrum, musiek- en kunsskole, ’n recording studio en ’n teater. Hulle het ook ’n uitgebreide omgewingsprogram wat aansluit by hul natuurreservaat. Michaelhouse bied vakke aan soos ingenieurstekeninge en ontwerp, gevorderde wiskunde en inligtingstegnologie. Leerders moet sewe universiteitstoelatingvakke doen in matriek. Die skool bied 14 sportsoorte aan, insluitend waterpolo, gholf en basketbal.

Murray Witherspoon, bemarkingsbestuurder van Michaelhouse, verduidelik die skool is een van net ’n paar net-seuns, net-kosskool-instansies in die wêreld en bied ’n baie unieke onderrig-omgewing en ’n holistiese onderwysstelsel.

3. St Andrews College, ’n seunskool in Grahamstad (Makhanda) se kostes beloop R252 990 per jaar, asook ’n gemiddeld van R25 770 vir ekstras per jaar vir byvoorbeeld musieklesse, ekstra klasse, uitstappies, foto’s, vermaak, wasgoed en barbierdienste.

4. Roedean School in Johannesburg is die duurste meisieskool op die lys met ’n jaarlikse skoolfonds van R252 341. Behalwe dit moet leerders ook ’n gebou levy van R5 487 jaarliks betaal.

5. Kearsney College, ’n seunskool in KwaZulu-Natal se jaarlikse fooie beloop R242 220 plus ’n eenmalige R25 000 aanvaardingsfooi en ’n R6 100 IEB-eksamen-fooi vir matrieks.

staatskole

Privaatskole is ook nie die enigstes met hoë fooie nie. Daar is ’n hele paar staat-skole wat ook jou sak sal ruk. Parktown Boys’ High in Johannesburg sal jou sowat R114 400 kos vir skool- en koshuisfooie vir 2019, Rondebosch Boys’ High in die Kaap se fooie beloop R108 000 met Wynberg Boys’ High, ook in die Kaap, kort op hul hakke teen R107 000 per jaar om net ’n paar te noem. Maar daar is ook ander skole met baie laer fooie wat net so goed presteer, soos byvoorbeeld Hoërskool Bernadino Heights in Kraaifontein buite Kaapstad, teen R2 200 per jaar. In 2017 was hul matriekslaagsyfer 98,6%. Daar is ook Harold Cressy High School in Kaapstad, teen R5 600 per jaar met ’n 94% slaagsyfer einde 2017.

Prof. Michael le Cordeur, hoof van die departement kurrikulumstudie aan die fakulteit opvoedkunde van die Universiteit Stellenbosch, meen daar is geen voordele daaraan om na ’n privaatskool te gaan nie. “Geld en luuksheid bepaal nie kwaliteit nie. Daar is goeie privaatskole, maar daar is ook baie slegtes. In sekere skole leer hulle nog in die ou Engelse koloniale manier en hou nie tred met die transformasie en demokrasie in die nuwe Suid-Afrika nie,” verduidelik hy. Le Cordeur was self by ’n baie arm staatskool met min hulpbronne. Tog was die gehalte van die onderwysers uitstaande en het die skool oor die jare verskeie professors, dokters, burgemeesters, prinsipale en digters soos die bekende Patrick Petersen opgelewer. Hy is baie trots op sy ou skool, Hoërskool Bergrivier in Wellington en hulle is trots op hom – sy foto hang steeds in die skool se voorportaal! Daarom glo hy baie staat­skole is net so goed soos duur privaatskole. “Enige skool en die onderrig is so goed soos die onderwysers en die rol wat die ouers speel om die skool verantwoordelik te hou vir hul kinders se opvoeding. Ouers moenie net kritiseer nie, maar betrokke raak en die onderwysers ondersteun. Wees ’n betrokke ouer, help met sport en konserte.”

Prof. Ruksana Osman van die Universiteit van Witwatersrand se fakulteit vir geesteswetenskappe stem saam met hom. Hy sê die voordele verskil van skool tot skool, maar sluit onder meer kleiner klasse en meer buitemuurse aktiwiteite in. “Ek sien egter nie ’n direkte verband tussen uitsonderlike prestasie en privaatskole nie. Leerders in staatskole kan ook uitstekende resultate verwerf. Ek sien ook nie werklik ’n korrelasie tussen privaat skole en toekomstige geleenthede nie,” meen hy.

Sy voorstel is dat jy seker maak jou kind se skool het goeie leierskap, dat hulle goed gekwalifiseerd is en dat die skool ’n hardwerkende gees het. Daar moet ook goeie kommunikasie wees tussen die huis en skool.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.