Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Ellen Pakkies-fliek:'Dis die rol van my lewe'
22 Augustus 2018
Dit is ’n droom wat vir Jill waar geword het toe sy die geleentheid kry om Ellen in die fliek te speel.

Toe die bom in 2007 bars – dat ’n desperate ma van Lavender Hill op die Kaapse Vlakte haar tikverslaafde seun met haar eie hande verwurg het – het die aktrise Jill Levenberg die hartseer verhaal nes vele ander Suid-Afrikaners met aandag gevolg.

Sy onthou dat sy onmiddellik met Ellen Pakkies gesimpatiseer het. “Ek het by haar aanklank gevind, want tikverslaafdes, die hele tikstorie, is nie vreemd as jy in die Kaap bly soos ek nie. Tik was nog altyd na aan my.”

Dat sy elf jaar later die rol van Ellen Pakkies in ’n fliek oor hierdie tragiese gebeure sou speel, kon Jill egter nie in haar wildste drome voorsien nie. Uiteindelik was daar egter soveel ooreenkomste dat Ellen begin glo het dat Jill vir hierdie rol gebore is. En vir Ellen was dit van kardinale belang dat die storie reg vertel word.

“Die storie is belangrik om te vertel omdat ander mense deur dieselfde dinge gaan. Mense sien jou, maar hulle weet nie regtig wie jy is nie. Dis belangrik dat die fliek mense hoop gee, want so baie sit nog in pyn waaroor hulle nie kan praat nie,” het die ‘regte’ Ellen Pakkies oor die fliek gesê. Op haar beurt wou Jill altyd Ellen speel. Sy het reeds ’n paar jaar gelede, toe daar die eerste keer sprake was van ’n fliek vir ’n oudisie gegaan. Groot was haar teleurstelling toe sy nie ’n rol kry nie, maar uiteindelik het daardie fliek nooit gerealiseer nie.

Hoofrol hare

Toe Jill dus twee jaar gelede hoor daar is weer ’n kans dat Ellen se storie tog verfilm gaan word, het sy besluit om weer ’n kans te waag. Hierdie keer was die regisseur Daryne Joshua, in wie se debuutfilm, Noem My Skollie, sy ’n rol vertolk het.

In ’n e-pos aan Daryne het Jill verduidelik dat die storie haar baie na aan die hart lê. Veral in terme van wat mense op die Kaapse Vlakte deurmaak en sy sou graag deel wou wees van die vertelling daarvan, selfs al is dit net in ’n klein rolletjie.

Toe sy weke later hoor dat sy die rol van Ellen gaan vertolk, het sy huilend op haar knieë dankie gesê. “Ek het nooit gedink dat ek die lead sou speel nie,” sê sy steeds verwonderd hieroor.

Eers later het dit tot haar deurgedring dat dit deel van ’n groter plan en geen toeval was nie. “Ek weet dit klink esoteries en hippie-agtig,” sê Jill met haar hande wat op kenmerkende wyse saampraat, “maar nadat ek oor die skok gekom en begin navorsing doen het oor Ellen, was ek totaal verbaas oor wat ek uitgevind het.”

Eerstens: Ellen is op 6 Desember gebore, op dieselfde dag as Jill se ouma aan moederskant. Tweedens: Abie, haar vermoorde seun, is op 27 Augustus gebore. Dis op dieselfde dag as Jill se ma. “Ek het hoendervleis gekry,” sê Jill sag.

Jill het daarna probeer om vir Ellen in die hande te kry, want sy kon nie uitvind waar Ellen die eerste jare van haar lewe deurgebring het nie. Sy het ’n paar keer gebel, maar daar was geen antwoord nie.

Nadat sy ’n voice note gestuur het, het hulle kontak gemaak en uit die staanspoor ’n hond uit ’n bos gesels. Jill het Ellen vertel van die ooreenkomste met die geboortedatums. “Dit is God,” was Ellen se reaksie hierop. Toe Jill daarna hoor dat Ellen haar formative years – nes sy – in Kensington deurgebring het, het sy amper omgeval van skok. “Ek het net gesê: ’nee, antie Ellen, nee!’” Boonop het hulle albei in 12de straat gewoon.

Soos susters

Ellen Pakkies en Jill Levenberg in Lavender Hill waar Ellen bly en haar tikverslaafde seun doodgewurg het.

“Dit was asof ons susters was,” sê Jill. “Alles het net in plek geval.” En nie net lyk hulle na mekaar nie, hulle kon ook oor soveel dinge praat. “Ek kry al weer hoendervleis,” sê Jill en slaan haar arms om haar lyf. “Ons verskil, maar ons het ook soveel gemeen, soos dat ons albei as kinders gemolesteer is.”

Ellen se kinderdae kom in die fliek uit, maar dis nou die eerste keer wat Jill in ’n onderhoud daaroor praat. “In die gees van Vrouemaand en van Ellen Pakkies wil ek almal wat gemolesteer is en nog nooit daaroor gepraat het nie, aanmoedig om dit asseblief tog te doen, maak nie saak hoe oud hulle is nie,” smeek sy amper.

“Dis nie jou skuld nie. Jy kán bo dit uitstyg,” benadruk sy. “Jy is nié wat met jou gebeur het nie. Jy is nié jou storie nie. Jy is nié vuil of ’n stukkende mens nie. Jy is heel soos jy is. Dis genesend om daaroor te praat. Ek wil jou bemoedig om genesing te ervaar deur oop te maak.” Terug na die fliek. Hoe was dit om Ellen te speel? “Nerve-wracking. Exciting. Sad. Beautiful,” spel dié gesoute aktrise dit woord vir woord uit.

“Daar was só baie emosies.” Hierdie was haar eerste hoofrol. “Dit was die exciting en beautiful deel. Dit was ook challenging, want ek speel ’n ouer vrou en iemand wat nog lewe.” Het die feit dat sy self nie getroud is nie en nie kinders het nie, sake bemoeilik? “Nee, wat, ek het al so baie die rol van ’n ma gespeel.

In Suidooster speel ek elke dag Mymoena Samsodien, wat drie kinders het. En almal ken my as ’n nurturing person. Mense sê altyd ek sal ’n goeie ma uitmaak.”

Jill se vrees dat sy nie aan Ellen justice sou doen nie, het Ellen besweer met: “Jy moenie bang wees nie. Jy kan duidelik sien God is besig hierso. Jy is gebore vir die rol.” Instinktief het Jill geweet dat sy vir Die Ellen Pakkies Storie nodig het om afstand te kry om haar op die rol voor te berei.

“Die rol het daardie respek verdien. Ek het daai stilte nodig gehad en moes van alle distractions wegkom.” ’n Maand voordat hulle begin 2017 die fliek begin skiet het, het sy Kensington verlaat en in ’n gehuurde tuinwoonstel in Bloubergstrand ingetrek.

“Ek moes myself leegmaak van myself sodat ek na Ellen kon begin luister en haar kon begin voel.” Die meeste mense na aan haar het verstaan. Daar wás diegene wat gedink het sy oordryf, dat sy miskien selfs te dramaties is, vertel Jill. Maar sy het geweet dat hierdie ikoniese storielyn iets groots was wat besig was om met haar te gebeur.

Dwelms is oral erg, maar die Kaapse Vlakte is ’n oorlogsone wat dringend aandag nodig het. Tog is dit asof dit ’n vergete plek op die kaart is.

Gee haarself oor

“Dit was amper asof ek myself in daardie tyd oorgegee het aan die see en die lug,” sê die 40-jarige wat haar hele lewe lank nog op water en die natuur versot is. Elke dag het sy op die strand gaan hardloop, iets wat sy van kleins af saam met pa Joshua – ’n bricklayer – gedoen het.

“Hy het vir my uithouvermoë geleer deur my baie oggende halfvyf wakker te maak om saam met hom te gaan draf.” Ma Carol het haar weer geleer van menswees en om groot te droom. Die verfilming het in Ellen se werklike huis in Lavender Hill plaasgevind.

En vir Jill het dit gevoel of die gees van haar seun, Abie, heeltyd teenwoordig was. Sy onthou onverklaarbare gebeure. Een Sondag het sy en Jarrid Geduld, wat Abie speel, by Ellen se huis aangegaan. Sy en Jarrid het eers ’n diens bygewoon in die kerk in Lavender Hill waaruit Abie begrawe is voordat voordat hulle saam met Ellen en haar familie geëet het.

Jill onthou hoe sy sambal ingedra het in ’n Tupperware-bak wat deesdae amper onverkrygbaar is. “Dit was deel van ’n stel wat ’n vriendin vir my gegee het.” Ellen het dood in haar spore gestop en gesê sy het net so ’n stel gehad. En dit was presies daai selfde bak wat Abie destyds van haar gesteel het.

Jill is uiteindelik daar uit sonder daardie bak. Abie het dit nou teruggestuur na jou toe, het sy aan Ellen verduidelik hoekom sy dit moes hou. Daar was ook die strandtoneel-poster wat hul kunsmense teen Abie se kamermuur opgesit het terwyl hulle besig was om die huis vir die verfilming reg te maak.

“Antie Ellen het net stil geraak toe sy daar inkom en dit sien.” Dit blyk toe Abie het amper dieselfde prent teen die muur gehad toe hy nog gelewe het. En tog het niemand dit geweet toe daardie poster by ’n tweedehandse winkel gekoop is nie. Die verfilming het net vyf weke geduur, soos dit maar met Suid-Afrikaanse movies en klein budgets gaan.

Tog, sê Jill, was sy bevoorreg om met akteurs te kon speel wat sy bewonder en saam met wie sy magic kon maak. “Ons was in ’n ander wêreld toe ons die prent geskiet het. Die mense in Lavender Hill het ons ondersteun en aangejuig, maar daar was ook die gees van die crew en die cast. Ek dink ons het almal besef dat ons met iets ongelooflik groot besig is.”

Tydens die Kuier-onderhoud in ’n Kaapse restaurant loer ’n jong seun telkens om die hoek. Eindelik skraap hy die moed bymekaar om nader te stap en te vra: “Is antie nie antie Mymoena in Suidooster nie?”

Sy glimlag kan beswaarlik groter wees wanneer Jill instemmend antwoord en boonop vir foto’s saam met hom en sy ma poseer. Volksbesit, kan mens nie help om te dink nie. Die Ellen Pakkies-fliek het reeds opslae gemaak by die internasionale rolprentfeeste in Rotterdam in Nederland en Seattle in Amerika waar dit vertoon is. Dit word op 7 September in Suid-Afrikaanse teaters uitgereik.

Ondersteun stories

“My wens is dat mense Suid-Afrikaanse flieks sal ondersteun deur kaartjies by cinemas te gaan koop sodat die volgende storie vertel kan word,” sê Jill. “Want, contrary to popular believe, maak dit nie die akteurs of die producers ryk nie. Die industrie in Suid-Afrika groei nog. As jy ’n pirate copy kry, affekteer dit nie net die akteur nie, maar almal wat op die stel sou werk, selfs die parking guard. Wees daarom ’n positiewe deel van ons land se ekonomiese groei.”

Het sy enige lesse uit die Ellen Pakkies-rol geleer? “Dwelms is oral erg, maar die Kaapse Vlakte is ’n oorlogsone wat dringend aandag nodig het. Tog is dit asof dit ’n vergete plek op die kaart is,” sug Jill.

ill as Ellen in die fliek. Saam met haar is Elton Landrew wat die rol van Ellen se man, Odneal, vertolk.

As sy een vraag kon vra, sou sy dit aan die regering rig, naamlik: “Hoe is dit moontlik dat dinge ná Abie se dood nie verbeter het nie?” Was Abie se dood dan vergeefs? – wil sy weet, en verwys na ’n pa van Mitchells Plain wat ook nou op moord teregstaan nadat sy tikverslaafde seun begin vanjaar doodgesteek is.

“Hoeveel meer mense moet hul kinders om die lewe bring? Hoeveel meer misdaad moet daar as gevolg van tik wees voordat die regering na ons mense begin luister en aan die Kaapse Vlakte aandag gee? Ek wonder wat sal gebeur as dit dieselfde aandag kry as die wetgewing oor rook in openbare plekke wat so streng toegepas word.”

Jill wou nog altyd ’n verskil gemaak het. “En die vehicle wat God aan my gegee het, is acting,” sê sy. “Ek het my battles gehad met God, maar Hy het aan my gewys dat Hy getrou is aan sy Woord. Ek het al in baie donker paaie afgegaan, maar as dit nie vir God was nie, sou ek nou verlore gewees het.” Jill self tree gereeld as motiveringspreker op.

En sy glo nog altyd wat jy oor jou lewe spreek, word waar. Ook dat die manier waarop jy oor jouself en jou geliefdes praat, ’n verskil aan jou huis en omgewing maak. “Ek praat gereeld in motiveringspraatjies oor die mag van die tong. Ek glo baie sterk in die mag van die tong, en dat mens dit moet gebruik om mekaar op te bou en nie af te breek nie.”

Wou sy ooit kinders van haar eie gehad het? “Op ’n stadium, ja. Maar dis nie noodwendig nou meer vir my so belangrik nie. Ek het vrede gemaak dat ek baie kinders mentor, dat dít my bydrae is. Ek weet ek is ’n mothering figure vir baie mense.” Op 40 voel Jill of sy op ’n goeie plek in haar lewe is.

“Ek sien met opgewondenheid uit na die toekoms en is bevoorreg om jong mense te kan inspireer. Dit maak nie saak waar jy vandaan kom of wat jou omstandighede is nie. Jy kan nog droom en bereik wat jy wil,” bemoedig sy vir oulaas.

Foto’s: Jacques Stander en Verskaf

Hare, grimering en stilering: Kyra Loubser

Klere, skoene en bykomstighede: Miladys, Maya Maya Cothing, Jakes Clothing, Carol Zee Designs en EarthNique Beads

Meer oor:  Fliek  |  Ellen Pakkies  |  Kuier  |  Jill Levenberg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.