Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Emo Adams: Drie duidelike dekades
27 Junie 2018


Akteur, sanger, regisseur, besigheidsman, grapjas en pa – dis dúídelik daar is niks wat Emo Adams nie kan doen nie en hy wen steeds harte en fans regoor die wêreld!

Loukmaan, Alistair Izobell, Ramaine Barreiro en Emo se groep, Nu Fancy.

Vanjaar het hy nie net in April sy 40ste verjaardag gevier nie, maar ook 10 jaar as die aanbieder van kykNet se Jou Show en 30 jaar in die vermaakbedryf.

Emraan Adams, gebore in 1978 in Mitchells Plain, se grootwordjare was verweef met die kunste. Musiek was soveel deel van sy lewe as skool en eet. “Ek dink nie dié bedryf is iets wat ek self gekies het nie, dit was amper onvermydelik,” lag Emo.

Sy pa was sy hele lewe lank in Maleier-kore en is as Kaapse Klopse opgelei. Emo het van kleins af deelgeneem aan sy pa se gemeenskapsteaterprojek Kinders Vannie Ses, wat landwyd getoer en sosiale kwessies op ’n komieklike wyse aangespreek het.

Op nege het Taliep Petersen, ’n familievriend, vir sy pa gevra of Emo in sy produksie District 6: The Musical kan speel, nadat sy ouer broer, Loukmaan, die rol ontgroei het.

Taliep het ’n tipe vaderfiguur vir Emo geword. “By hom het ek geleer jy moet trots wees op jou kultuur. Hy het die Klopse-klank die wêreld ingevat en niemand kon met hom kompeteer met Ghoema-musiek nie. Dis dope!” lag hy.

Hy sal ook nooit vergeet toe hy die eerste keer vir David Kramer ontmoet het nie. “Televisie is mos ’n make-believe-wêreld. Ek kon nie glo ek sien die ou wat agter die Volksie-bus gery het met sy bicycle in lewende lywe nie!” lag hy.

Ná sy eerste rol in District 6, was hy egter weer ’n gewone seun wat moes skool toe gaan en hard werk. Hy vertel hy het op daardie stadium nog nie belanggestel in die teater as ’n loopbaan nie. Inteendeel! Hy wou graag ’n sielkundige word. “Dis iets waaroor ek nog altyd passievol was – om kinders te help,” verduidelik Emo. “Die ouer generasie se mindset is moeilik om te verander, maar ek het gedink as jy kinders kan help, kan jy ’n hele generasie verander.”

Een van sy lewensmotto’s is: “Opportunity comes your way up to a certain point, dan moet jý dit verder vat.”
Emo Adams

Kyk anders na lewe

Hy voel die feit dat hy grootgeword het in armoede, het hom gehelp om anders na die lewe te kyk as ander mense. Hy het nie ’n “volledige childhood” gehad nie omdat beide sy ouers so hard moes werk en daar nooit regtig tyd was vir kwaliteit-tyd met sy familie nie.

Emo, Loukmaan en David Kramer op die stel van Jou show met Emo.

In Emo se tweede jaar op universiteit het die Adams-familie egter finansieel swaar getrek en sy ouers het hom aangemoedig om sy studies vir eers opsy te skuif en ’n werk te kry. Dis tóé dat hy ’n assistent-verhoogbestuurder by die Baxter-teater geword het, min wetend dat dit sy hele lewe sou verander. Eendag was David Kramer-hulle besig om te rehearse vir Kat & the Kings.

“’n Ou het nie opgedaag vir die rehearsals nie en David het my gevra om solank in te staan. Van toe af was ek nog altyd op die verhoog,” vertel Emo.

Tot vandag is Emo nog die enigste mens wat elke karakter in dié baanbreker musiekblyspel vertolk het.

Een van sy lewensmotto’s is: “Opportunity comes your way up to a certain point, dan moet jý dit verder vat.” As ’n mens dit nie besef nie, sal jy net heeltyd wag vir geleenthede om te kom. Dis in hierdie tyd wat David vir hom gesê het die verhoog is sy roeping en hy het die geleentheid aangegryp. David was deur sy lewe ’n mentor vir Emo.

“Hy het my geleer hoe om stories te vertel, daarom kan ek vandag musicals skryf, direct en produce. David het die tyd gevat om my te leer hoe en hoekom.”

Ook hul verhouding, voel Emo, het ’n voltooide sirkel geword toe David hom drie jaar gelede uitgenooi het om saam met hom Suid-Afrika in New York se Carnegie Hall te verteenwoordig, tydens die 20 jaar-demokrasie-vieringe. “Ek het begin as sy student en daardie aand langs hom gestaan as sy gelyke.”

Om David se teatergroep te verlaat, was een van die grootste waagstukke van sy loopbaan. “Elke loopbaanbesluit is maar ’n dobbelspel, want jy weet nie of dit gaan werk of nie,” erken hy.

Maar in daardie tyd was hy verseker van ’n werk, ’n suksesvolle teaterloopbaan. Tog het hy dit agtergelaat en kop eerste in die onbekende waters van plesiervaart-bote ingeduik. Hier het hy homself opgewerk van ’n lounge singer na ’n kabaretster en toe cruise director. Kort hierna het hy weer saam met David gaan werk – hierdie keer as danskaptein en hoofrol. “Maar die heel grootste kans wat ek gevat het, was op Jou show met Emo,” verklap hy.

Toe hy die idee aan hulle voorgelê het, het kykNet nie daarin belanggestel nie. Hy het toe geld geleen om ’n toetsprogram te skiet en dit vir hulle gewys. Die res is geskiedenis. Emo het onlangs besluit hierdie seisoen sal sy laaste wees, want hy wil nie stagneer nie.

Emo en Juanita du Plessis

Emo het vroeër vanjaar sy 30 jaar in die bedryf gevier met sy #EMO30yrsinmusic-vertoning by die GrandWest Grand Arena in Kaapstad en dit was amper die eerste keer dat hy besef het hy “het dit gemaak” in die bedryf. “In die middel van die show was ek op die verhoog saam met my boy band JAG, toe ek besef daar is 5 500 mense wat almal gekom het om vir my te sien. Ek het uitgebars van die huil, want die oomblik was so groot. Êrens in my lewe het ek iets reg gedoen vir mense om my steeds te ondersteun,” vertel hy nostalgies.

Emo, sy broer, Loukmaan, en Zayn Adam

Onvergeetlik

Deesdae is dit nie meer so maklik om ’n groot gehoor te trek nie, omdat die meeste mense finansieel swaarkry en moet kies tussen dit wat nodig is en luukshede. “Die feit dat hulle jou steeds sien as ’n necessity in hul lewe, eerder as ’n luxury, is ’n baie groot kompliment,” sê hy sag.

Dit is ook tydens hierdie show dat Emo vir die eerste keer in sy 40 jaar saam met sy pa op die verhoog verskyn het – ’n spesiale oomblik wat hulle nie sommer sal vergeet nie. Nog ’n onvergeetlike ervaring was die eerste keer toe hy vir Nelson Mandela moes sing. Hy was maar graad 8 en sy skool, Spine Road High, wat baie aktief was in die struggle, was die eerste skool wat Madiba besoek het nadat hy vrygelaat is.

Op daardie stadium was Nkosi Sikelel’ iAfrika die “nie-amptelike volkslied” en Emo het nie die woorde geken nie. “My prinsipaal het die woorde voor my neergesit en gesê ‘jy wil mos sing, nou síng!’ ”

Emo se voete bly plat op die aarde al bereik hy ook wat.

Emo het sy bes probeer om die lied te memoriseer, maar tevergeefs. “Toe ek hom in die gang sien afstap, was die oomblik te groot. Ek het net begin huil en kon nie ’n woorde uitkry nie,” onthou hy.

Madiba het langs hom kom staan, sy hand op sy skouer gesit en saggies gesê “toemaar, ek sal saam met jou sing” en hy het. Sukses het egter nie net in Emo se skoot geval nie. Hy was van kleins af ’n harde werker. Sy vrou, Michelle, beskryf hom as gemotiveerd, objektief, laid back en hardwerkend!

“My ouers was baie streng en my pa het geglo jy moet vakansie-werke hê. Ek het groente en vrugte verkoop op Mitchells Plain-stasie toe ek so 13 was, koeldranke afgelewer en aartappels geskil in ’n snoek-en-tjipswinkel,” vertel Emo. Ironies genoeg was hy regtig ’n koerantverkoper terwyl hy op tien die rol van een in District 6 vertolk het. Werketiek was nog nooit iets wat kortgekom het by Emo nie.

Van kleins af was hy bereid om vyfuur soggens op te staan, heeldag vrugte te verkoop en sy pay pakkie net so vir sy mammie te gee. “Ek het lankal geleer van harde werk, dat jy nie corners cut nie, jy steek nie mense in die rug nie, jy loop nie oor mense nie. Daar is ’n proses om dinge te doen en as jy dit volg, verdien jy jou sukses,” verduidelik hy.

Emo werk so hard omdat hy vir mense wil wys hy maak nie verskonings vir waarvandaan hy kom nie en as hý sukses kan behaal, kan enigiemand. “Ek worry nie wat jy doen nie, wees net die beste daarin,” herhaal hy sy pa se woorde. Emo se pa was altyd baie erg oor kultuur. “Ek het dit nie toe verstaan nie, maar ek verstaan nou.

In jou grootwordjare is kultuur ’n groot deel van wie jy is en dit is hoe tradisies oorgedra word,” meen hy. Van Emo se beste herinnerings is hoe hy altyd op sy pa se skoot gesit het as hulle shows gekyk het omdat hy so klein was.

Só het hy grootgeword in die Three Arts Theatre in Plumstead en die Luxurama in Wynberg waar hy een van Taliep se heel eerste vertonings gesien het. “Die mooi ding is, ek het saam met Taliep opgetree die dag voordat hy oorlede is – sy laaste show – in die Luxurama-teater, waar ek hom die heel eerste keer gesien het. Vir my was dit ’n full circle,” sê hy met ’n glimlag.

Foute definieer ons. Jy leer daaruit. Jy moet crap kry om kwaai te kan kry. Al my regrets is deel van wie ek is.
Emo Adams

Lewenslesse

Emo het ’n ver pad gekom en een van sy lewenslesse is dat hy nooit die struikelblokke en terugslae in sy lewe as foute gesien het nie. “Foute definieer ons. Jy leer daaruit. Jy moet crap kry om kwaai te kan kry,” lag hy.

“Al my regrets is deel van wie ek is. Die enigste ding is dat ek vroeër moes leer om my gut te vertrou,” sê hy eerlik. Dis vir Emo baie belangrik dat mense moet besef hy is nie perfek nie en hy het nie ’n idilliese lewe nie. “Ek het nie ’n beter lewe as jy nie, ek bestuur myself net beter,” meen hy.

Tog aanvaar hy niks as vanselfsprekend nie en hou altyd sy voete stewig op die grond. “Jy word raakgesien as jy jou eie waarheid praat en niemand kan jou daarvoor oordeel nie,” sê hy beslis.

Maar mense se opinie van hom maak nie vir hom saak nie. “Jou opinie of ek famous is of nie, is irrelevant. Dit beïnvloed nie my loopbaan nie. Ek gaan nog altyd hard werk.

En dít is wat my gebring het waar ek is. Ek gee nie om wat ander van my dink of wat om my gebeur nie, ek glo in myself.” Net so, verklap hy, was sy laagste tye wanneer hy nie genoeg in homself geglo het, om te glo hy is genoeg nie. Sy beste besluit, vertel hy, was toe hy op 14 vir sy pa gesê het hy wil nie meer deel van sy dramagroep wees nie.

“Ek wou kyk of ek meer kon doen,” sê hy. Emo se pa, wat altyd baie streng was, het vir hom gesê dis nie ’n goeie idee nie, dat hy dit nie gaan maak ‘daar buite’ nie. “Jare later het ek besef dit was sy manier om my te motiveer om alles te doen om hom verkeerd te bewys.”

En hy hét. Deur sy loopbaan was alles ook darem nie altyd net ernstig nie. Die vreemdste ding wat ooit met hom gebeur het, was toe ’n aanhanger vir hom gevra het om haar agterstewe te teken.

“Ek het gedink sy maak ’n grap, maar toe gee sy vir my ’n koukie, lig haar rompie op en wys vir my haar boud. Ek onthou sy het so ’n klein g-stringetjie aangehad!” lag Emo. Hy sê omdat hy nie kleur raaksien nie (omdat hy nog nooit rassisme ervaar het nie), het hy fans van ses tot 106, enige geloof, ras, politieke oortuigings en geslag.

“My ouma het gewerk vir Miesies Page en as ek saam met haar gegaan het, het ek by dieselfde tafel as die wit kinders gesit. Op nege het ek beste vriende David en Taliep ontmoet. Deesdae kyk ek na Breyton Paulse en Toks van der Linde – dieselfde ding. Ek het na ’n coloured hoërskool toe gegaan, waar ek presies dieselfde behandel is as by die ‘wit’ universiteit waar ek studeer het.” Vir hom is dit hartseer dat mense steeds vasklou aan hierdie onsigbare mure wat maak dat hulle ’n groot deel van die lewe mis.

“Vir lank was ek kwaad vir my ouers omdat hulle my nooit blootgestel het aan hul politieke opinies nie. Onlangs het my pa vir my verduidelik hy was eintlik al die jare baie aktief in politiek, hy wou net nie sy menings op my afdwing nie, want hy wou my die kans gee om die wêreld te sien soos ék dit sien.” Die beste advies wat hy al ooit gekry het, was onlangs van sy vriend André Calitz, eienaar van Blixem Productions. “Hy het gesê ‘wanneer jy werk, doen dit met passie, maar moenie jou besluite baseer op emosie nie.’ Ek is baie passievol oor al die take wat ek aanvat en partykeer raak ek emosioneel te vasgevang, omdat ek altyd net die beste resultate wil hê vir die produk.”

‘Nee’ is belangrik

Hy sal ook nooit David Kramer se wyse woorde vergeet nie: “Jy moet weet wanneer om ‘nee’ te sê.” Die waarde van dié woorde, het hy egter eers later in sy lewe besef toe hy ’n familie van sy eie gekry het.

“Partykeer wil almal iets van jou hê. Jy móét leer om nee te sê. Dis veral wanneer ek en my gesin inkopies gaan doen en fans heeltyd wil foto’s neem. Ek moet nee sê, want as ek saam met my familie is, is ek net ’n pa,” verduidelik Emo. Jy sit honderd persent in wanneer jy werk, so jy moet honderd persent insit by jou gesin.

“Watter boodskap stuur ek vir my kinders as ek hulle heeltyd tweede plaas?” vra hy. As iemand betaal om na sy show te gaan kyk, verdien jy sy aandag en sal hy sy beste gee. Netso is familie-tyd vir familie. “My vrou en my kinders is die hoogtepunte van my lewe,” sê hy ernstig.

Daarom wil hy ’n teenwoordige pa wees en dring daarop aan om, maak nie saak waar hy in die wêreld is nie, altyd Sondag terug by die huis te wees. Emo en Michelle het drie seuns, James, Kadar en Ziah. Emo sê hy weet nie wat vir hom voorlê vir die volgende 30 jaar nie, maar hy dink nie hy sal vir altyd in die vermaakbedryf bly nie en as hy dit wel doen, sal dit wees vir sy passie daarvoor, eerder as vir sy bankrekening. Hy hoop om ander mense te inspireer om hul drome na te streef en nie toe te laat dat enigiets hulle terughou nie.

“Natuurlik help geld, maar toe ek begin het, het ek alles gekry wat ek wou gehad het, al het ek niks geld gehad nie,” lag hy. En tot vandag toe nog is sy lewensmotto: “Jy het net een kans, gryp dit aan, werk jou gat af en jy sál daar kom!”

Foto’s: Nelis Engelbrecht VAN Light Lounge studios en verskaf

Hare en grimering: Styled Faces, Sheree-Lee

Klere: Michelle Gildenhuys Adams


Die artikel verskyn in die 27 Junie-uitgawe van Kuier-tydskrif.


Meer oor:  Kuier  |  Vermaak  |  David Kramer  |  Emo Adams
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.