Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Emojis: Wat beteken dit vir ontwikkeling van taal?
4 Maart 2020
Sê jou sê met emoji's


Die meeste van ons gebruik dees- dae emojis in elektroniese teks-boodskappe, maar dis ’n fout om te dink die woord “emoji” is van die Engelse emotions afgelei of dat die term na emosies verwys. Die woord “emoji” het sy oorsprong in Japannees en is ’n samevoeging van “e” wat prent of foto beteken en “moji” wat karakter beteken.

Deesdae kan jy jou eie emoji maak. Só lyk die skry
Deesdae kan jy jou eie emoji maak. Só lyk die skrywer Tarren-Lee s'n.

Alles het eintlik met “emoticons” begin. Dit is ’n visuele verteenwoordiging van ’n gesigsuitdrukkings met sleutelbordkarakters, gewoonlik leestekens om iemand se gevoelens of bui te weerspieël byvoorbeeld :-) of :-( om te wys jy is gelukkig of ongelukkig.

Emojis in hul huidige vorm het die eerste keer in 1997 hul verskyning op Japannese selfone gemaak en het sedertdien wêreldwyd so gewild geraak dat miljoene mense dit deesdae elke dag in hul kommunikasie gebruik. Volgens emojistats.org, wat elke sekonde tel hoeveel emojis wêreldwyd gestuur word, word daar daagliks meer as 3 biljoen emojis op boodskapdienste en sosiale media gedeel.

Dis so gewild dat Oxford Dictionaries in 2015 die emoji wat “trane van blydskap” of “huil van die lag” verteenwoordig as hul Woord van die Jaar aangewys het. Maar ’n emoji het nie noodwendig dieselfde betekenis in alle lande nie. Só is die Amerikaners meer geneig om die emoji van ’n perske of eiervrug met geslagsdele te assosieer, terwyl dit in ander dele van die wêreld bloot as ’n vrug of groente aangesien word.

Terwyl die Amerikaners die eiervrug en perske vir geslagsdele aansien, is dit bloot groente of vrugte elders.

Invloed op taal

Emojis het nie net ons boodskappe ’n bietjie meer pret en kleurvol gemaak nie, dit het ook die manier waarop ons kommunikeer verander. In 2020 kan mense byvoorbeeld al volle gesprekke uitvoer sonder om een woord te gebruik. Die emoji-beweging het ook al sy vlerke veel verder as teksboodskappe gesprei, want deesdae word daar flieks gemaak oor emojis en daar is ook ’n hele dag waarop jy jou gunsteling-emoji kan vier.

World Emoji Day word jaarliks op 17 Julie gevier en dit is ook gewoonlik die dag waarop nuwe emojis bekendgestel word. Volgens Australiese navorsing was daar oor die afgelope dekade ’n toenemende gebruik van emojis en die feit dat hulle saamgespan kan word om ’n volledige sin met ’n regte en volledige betekenis te skep, laat navorsers wonder of emojis besig is om ’n nuwe taal onder die tegnologieliefhebbende jeug te skep, veral omdat die bestaande taalgebruik glo al hoe swakker word.

Volgens Cleo-Ann Josephs, ’n Kaapse laerskoolonderwyser, hoef jy net te kyk na jong mense se daaglikse interaksie en kommunikasie met hul vriende om te weet dat dinge besig is om te verander. “Kinders is nie meer so kreatief soos ek was toe ek op skool was nie. Ek gee taalonderrig en ek kan beslis in hul skryfstukke sien dat kinders al hoe minder woorde gebruik.

Hulle gebruik dieselfde woorde aanhoudend. Hulle lees nie meer so baie nie, want alles is prentjies of foto’s waarna hulle kyk en hulle het klaarblyklik ook nie die lus of geduld om lang stukke te skryf nie,” sê sy. Volgens haar wil kinders deesdae so min moontlik, so vinnig moontlik skryf.

“Dit is hartseer, want ek onthou hoe lekker dit was om lang opstelle te doen en jou verbeelding te kan gebruik. Dit is ’n ander era waarin ons lewe en met tegnologie wat aanhoudend verander, sal ons ook moet verander om by die nuwe generasie by te hou.”

Stel almal voor

Cleo-Ann voel die tradisionele gebruik van taal en skryf sal nooit heeltemal verdwyn nie, maar die manier hoe ons dit gebruik, gaan beslis verander. Só het die taalnavorser Hamza Alshenqeeti in ’n verslag wat in 2016 deur die Universiteit van Taibah in Saoedi-Arabië gepubliseer is, bevind daar is meriete aan die idee dat emojis op hul eie as taal gebruik word.

Volgens hom wys navorsing daarop dat taal, met die gebruik van emojis eintlik terugkeer na ’n vroeëre stadium van menslike kommunikasie. “Parallelle kan tussen emojis, hiërogliewe en spykerskrif gesien word, wat die universaliteit van visuele kommunikasie uitbeeld, vergeleke met geskrewe alfabetiese taal wat taalgrense het,” sê hy.

Sy navorsing het ook daarop gedui dat emojis kultureel of geslagspesifiek kan wees en dit wil ook voorkom asof vroue meer gereeld emojis gebruik om hul gevoelens uit te druk.

Ouderdom is ook nie noodwendig ’n bepalende faktor wanneer dit by die gebruik van emojis kom nie. Tegnologiese bewustheid en vermoë speel ’n groter rol in hoe gereeld mense emojis gebruik. In 2018 het Apple die liggaam wat emojis goedkeur, versoek om emojis ’n bietjie meer inklusief te maak, veral ten opsigte van ras, kultuur, seksuele oriëntasie en gestremdes.

Onlangs is 170 nuwe emoji-ontwerpe bekendgestel om dit meer verteenwoordigend te maak. Die nuwe emojis het mense in rolstoele en gestremdes met kunsmatige ledemate.Daar is ook emojis om elke soort verhouding en elke velkleur te verteenwoordig. Emojis het beslis ’n hele nuwe dimensie aan ons kommunikasie gebring en elke kultuur en land het hul eie emojis. Maar maak nie saak waar in die wêreld jy jouself bevind nie, emoji is ’n taal wat ons almal kan verstaan!

Gewildste emojis wêreldwyd

Só lyk die emojis wat wêreldwyd daagliks die meeste gedeel word met die gemiddelde aantal kere onderaan wat dit gebruik word.

Die Huil van die Lag-emoji
HUIL VAN DIE LAG: 208 000
Die hartjie-emoji
LIEFDE: 108 000
Die Soentjie emoji
SOENTJIE: 76 000
Die Kan dit nie glo nie-emoji
KAN DIT NIE GLO NIE!: 14 000
Die Gebed-emoji
GEBED: 11 000
Die Huil Snot en Trane-emoji
HUIL SNOT EN TRANE: 23 000

Lande se emoji

Die omstandighede en gebeure in ’n betrokke land, veral die politiek, het ’n groot invloed op die gewildheid van sekere emojis. Die illustrasie onder wys watter emojis in die meeste in watter land gebruik is. Dis gebaseer op datanavorsing wat Twitter in 2016 gedoen het.

Meer oor:  Emojis  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.