Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Engel-onnie: Juffrou help matrieks slaag
22 Januarie 2020


In ’n tyd waar dinge donker lyk vir die onderwys in Suid-Afrika, is daar tog stories wat jou laat besef daar is nog hoop vir ons land en sy onderwysstelsel. Dis mense soos Margaret Cloete (59), ’n onderwyser by Bergsig Senior Sekondêre Skool, ook bekend as SA van Wyk Hoërskool in die Noord-Kaap, wat wys jy kan met die nodige opoffering ’n verskil maak.

Mense soos sy laat ’n mens opnuut glo dat iets tog gedoen kan word om ons kinders se toekoms te verseker. Dié onbaatsugtige onnie het haar sedert Junie 2019 onvoorwaardelik toegewy aan die leerders van haar skool. Margaret het sedert Junie letterlik haar bed by die skool gemaak sodat sy hulp kon bied aan matrikulante wat gedurende eksamentye huisvesting gevind het by dié skool.

En wanneer jy met dié vrou van Namakwaland gesels, kan jy nie anders as om te glimlag nie, want met die intrapslag sê sy sommer eerlik: “Ek verstaan glad nie waaroor hierie bohaai gaan nie, hierie goeters doen ons elke liewe dag van onse lewens. Dit voel vir my skoon verkeerd om oor dit te praat, want ons is só geleer. Nama-kwalanners is mos hoeka hartsmense.”

Dié beskeie onderwyser was die week toe die matriekuitslae uitkom, wyd en syd op sosiale media geprys toe dit bekend word hoe sy die hele matriekeindeksamen by die skool geslaap het om na die leerders om te sien.

Haar matriekklas van 2019.

Hart van goud

Margaret, wat in Concordia, Namakwaland gebore is, sê dis juis die manier hoe sy grootgemaak is wat die fondasie gelê het vir die mens wie sy vandag is. “My ma het nooit gewerk nie en het gesorg dat die huis skoon is en ons gevoed is. Ons was agt tjenners (kinders), so dit kon nie ’n maklike taak gewees het nie. My pa was die broodwinner en dis ook hy wat ons sommer vroegdag geleer het dat jy nie in ’n man se oë moet kyk eendag nie. Nee, hy’t geglo dat sy meisietjenners hulself moet opvoed sodat ons op ons eie voete kon staan.”

Sy lag voor sy sê dat sy nooit eintlik regtig verstaan het wat haar liewe pa bedoel het nie. “Dit was vir my ’n verskriklike besigheid om te verstaan, maar soos die jare aangestap het, het dit al hoe meer duidelik geraak. Ek het besef dat ek iets agter my naam moet kry sodat ek my tjenners kan leer dat ook hulle nie in ’n man se oë moet kyk nie.”

Dié juffrou proes van die lag voor sy sê dat sy haar voete stukkend gestap het na en van skool tot binne in matriek. “Ons was maar arm mense en daar was nie geldjies vir skoene nie. En as jy jou toon teen ’n klip gestamp het skool toe, het jy nie eens geweet nie, jy sal eers begin voel as die son later uitkom.”

Sy vertel hul bederfie was altyd viskaiings (gebraaide visvet). “Jissie, ek het my lam geëet daaraan tot my hele gesig geblink het van die vet. En daarna het ek my olierige hande aan my hare gesmeer. Nou ek vertel sommer vir hulle dit is hoekom my hare so glad is!” Sy lag lekker vir haar eie grappie voor sy sê die kinders van vandag het dinge baie makliker, maar dat hulle nie altyd die nodige ondersteuning en hulp het om op die regte pad te bly nie.

“Aan die begin van elke nuwe jaar vertel ek hulle dat hulle nou voorregte het wat hul voorgeslagte nie gehad het nie en dat hulle gebruik moet maak daarvan.” En hoe het dié bewonderenswaardige inisiatief die lig gesien? “Nee meisietjent, daarvoor kan ek nie krediet vat nie. Die hoofdogter van 2019 het na my gekom en gevra, ‘Juffrou, hoekom slaap ons nie almal by die skool en kyk of dit nie die uitslae gaan verbeter nie?’ Ek het dadelik ingestem en na die hoof se kantoor pad gevat om dit met hom te bespreek.”

Dit was vir my lekker om vir hulle te kon kook en na hulle te kyk. En om net weer ’n bietjie liefde aan die tjenners te gee. Almal verdien omgee en liefde.

Toegewyd

Só het een van die klaskamers gelyk wat hulle in ’n koshuis omskep het.

Margaret, wat al die afgelope 32 jaar ’n onderwyser is by die skool en lewensoriëntering as ’n vak aanbied, het leë klaskamers by die skool in slaapkamers en ’n koshuis omskep. Vir die eerste week het sy uit haar eie sak kos aan dertig van die skool se matrikulante verskaf. Daarna het ’n winkelgroep ingespring en kos vir die skool geborg.

“My man is jare gelede dood en my tjenners is al uitgerys en groot, so dit was vir my nie ’n probleem om my by hulle (die leerders) aan te sluit nie. Dit was vir my lekker om vir hulle te kon kook en na hulle te kyk. En om net weer ’n bietjie liefde aan die tjenners te gee. Almal verdien omgee en liefde.” Dinge was aanvanklik nie maklik nie en Margaret het natuurlik teenkanting ontvang, maar daaraan het sy haar bitter min gesteur.

“Dit het vir my gegaan oor die tjenners, niemand en niks anders nie. Die tjenners by ons skool kom uit van die armste gedeeltes en ek is mos een wat loop en huisbesoek doen.”

Sy vertel met ’n swaar sug dat in baie van die kinders se huise nie eens lopende water of krag is nie. Nog minder is daar meubels. “Ek het eendag geloop en na een spesifieke tjent gesoek. Die ander het toe gewys waar sy bly. Toe ek daar instap, toe lê daar een matras in die hoek van die vertrek, daar was niks ander meubels nie. En binne die huis was soveel mense en toe verstaan ek hoekom die kinders ’n veilige, liefdevolle en heilsame hawe broodnodig hê. Dit (die inisiatief) sal elke jaar gebeur tot wanneer ek aftree. Sjoe, dis skokkend om te sien hoe onse mense lewe. Hoe ons tjenners moet lewe. Armoede is besig om onse tjenners en gemeenskappe te breek.”

En natuurlik kon dié juffrou nie agteroor sit en kyk hoe dit gebeur nie. “Vir die laaste paar jaar was ons skool in die rooi wat die matriekuitslae betref. Almal in die distrik was beter as ons. Toe die matrikulante van 2019 as graad agt leerders in 2015 by ons aansluit, kon jy sien die tjenners is ’n ander tipe groep. Hulle was vasbeslote en dit het weer nuwe lewe in die skool geblaas.” Met die eerste probeerslag in Junie 2019 het al die matrikulante by die skool geslaag. In September het Margaret nie by die skool geslaap nie en die slaagsyfer het gedaal.

“Toe besluit ek ah, nee ah dit sal nie só kan gaan nie en toe die eindeksamen aanbreek, toe is ek daar.” Die matrieks van 2019 het toe ’n 80%-slaagsyfer behaal – die hoogste in die distrik en die skool se hoogste in jare. “Almal wat by die skool geslaap het, het geslaag. Dit is net diegene wat nie by die skool geslaap en studeer het nie, wat dit nie gemaak het nie.”

Daar gaan minstens vyf van die leerders wat matriek geslaag het, universiteit toe. Margaret sê dit laat haar hart swel van trots en trane by die emmers loop wanneer sy sien hoe die kinders ontwikkel het in volwassenes. “Om te weet jy het ten minste ’n verskil gemaak in die tjenners se lewens, is die beste beloning nog. Die tjenners gaan nog hoogtes bereik en om net te weet ek het ’n deel gehad daarin, maak sommer die lewe die moeite werd! Ons skool kraai uiteindelik wéér koning!”

Meer oor:  Inspirasie  |  Onderwysers  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.