Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Entrepreneur: Egpaar maak kos vir diere
2 Oktober 2019


Hul besigheid het by hul eie honde begin en nou is hulle een van die grootste verskaffers van rou dierekos in die land! 

Wat gebore is uit ’n egpaar se liefde vir diere en ’n sideline joppie, het vinnig gegroei tot een van Suid-Afrika se grootste verskaffers van rou dierekos. En vandag sit Abdul (46) en Zakira Palekar (45) skouer aan die wiel om seker te maak hul besigheid bly floreer.

Dié egpaar van Lansdowne in die Kaap is die trotse eienaars van Doggobone, ’n dierekosvervaardigingsmaatskappy. Doggobone produseer rou kos vir honde en katte vanaf hul fasiliteit op ’n plaas in Philipi, Kaapstad. Abdul se liefde vir die mens se viervoetige metgeselle het gelei tot die stigting van dié winsgewende besigheid. Doggobone het ongeveer 50 produkte met bestanddele soos wildsvleis, volstruis, skaap en eend. Abdul was ’n slagter, maar is deesdae ’n gekwalifiseerde en gesertifiseerde troeteldierkosspesialis.

Hy het aanvanklik die besigheid in 2005 begin, want hy het gevoel honde verdien ’n beter dieet. “Ek het geëksperimenteer en die eerste diere wat die kos geëet het, was my eie en dié van twee van my vriende. Toe ons sien hoe goed die dieet vir hulle werk, het ek dit ook aan familielede voorgestel.” En soos die spreekwoordelike frase lui, is die res geskiedenis.

“Die aanvraag vir die dieet het al hoe meer geword en dit is hoe die besigheid begin groei het.” Doggobone is in 2010 amptelik as ’n besigheid geregistreer. Hoewel die Palekars se dierekosbesigheid stelselmatig gegroei het, het Abdul steeds voltyds in die slagterybedryf gewerk en deeltyds aan die nuwe maat-skappy. Totdat Zakira betrokke geraak het.

Gesin bly betrokke

Zakira, wat tot in Mei 2013 ’n huisvrou was, vertel toe haar kinders, Goolam (23), Sidrah (22), Maroof (18) en Zareef (13), almal groot is, het sy besluit om by haar man en die besigheid aan te sluit. “Ek het hom gevra of ek aan boord kan kom, maar ek wou nie ’n sekretaris of enigiets anders wees nie. Ek wou aan boord kom as ’n vennoot.”

Toe sy aan Doggobone begin werk, wou sy hê haar man moes sy ander butcheries toemaak en voltyds op Doggobone fokus, vertel sy. “Hy was skepties oor die slaghuise omdat dit ons vaste inkomste was en die besigheid was net iets wat hy as ’n sideline begin het. Maar ek het ’n geleentheid gesien in die mark en hom oortuig om hom ook voltyds aan Doggobone te wy.”

Wees net unapologetically jy, want aan die einde van die dag is dit al wat saak maak. ’n Vrou se plek is nie net in die kombuis nie!

Die paartjie lag toe hulle vertel dat Goolam op 10-jarige ouderdom met die naam Doggobone vorendag gekom het. “Ek en Abdul het een aand gesit en rondspeel met name en uit die bloute met kinderlike onskuld, het hy geskree ‘Doggobone!’ en gelag. Maar dit was asof daar vir ons al twee ’n liggie aangegaan het en ons het besluit op dié naam,” vertel Zakira.

Zakira is in beheer van die finansiële kant van die besigheid en sy is ook die een wat nuwe kliënte werf, terwyl Abdul in beheer is van formulasie en produksie. Die paartjie se oudste twee kinders, Goolam en Sidrah, is sedert kindsbeen by die maatskappy betrokke. “Hulle het vakansietye hier kom werk en ons het hulle daarvoor betaal.

Toe dit dus tyd is vir hulle om universiteit toe te gaan, wou hulle iets studeer wat kon bydra tot die maatskappy. Hulle kom werk steeds hier en ons vergoed hulle daarvoor. Sidrah studeer mikrobiologie en Goolam regte. Sodra hul studies voltooi is, kan hulle voltyds hier aansluit as hulle wil.”

Zakira en werkers in die fabriek.
Abdul en werkers verpak rou hondekos.

Doggobone het 25 permanente en twee tydelike werkers. Met Kuier se besoek aan Doggobone is ons begroet deur ’n groot hond op die werf en die eerste ding wat jy oplet, is sy pragtige pels. Volgens die Palekars was dié hond egter nie altyd so mooi nie. Abdul sê dié hond is een van sy grootste “kliënte” en bewys dat sy produk werk sedert die ontstaan van Doggobone.

“Toe ons op die perseel intrek, toe hardloop hy hier rond. Sy vel was lelik en hy was verskriklik maer. Ek het toe besluit om hom sommer op ’n raw diet (met rou kosse) te sit. En soos die tyd verloop het, het hy so mooi geword. Hy kom steeds hier aangehardloop vir sy maaltye.”

Abdul lag voor hy sê honde en katte moenie net as troeteldiere gesien word nie. “Elke dier se dieet verskil en vir my is die mense wat die produkte koop, nie my kliënte nie, nee, dis die honde en katte wat die produkte gebruik. Dis hulle na wie die produkte moet omsien. Die mense wat dit koop, is net die verskaffer van die produk aan die dier.”

En al deel Zakira nou Abdul se liefde vir diere, was dit nie altyd die geval nie. Inteendeel sy het ’n groot vrees vir honde gehad. “Ek was nooit lief vir honde nie. Ek kon nooit in ’n vertrek wees met honde nie omdat ek so bang was. Ek weet nie waarvandaan die vrees gekom het nie, maar dit was altyd daar sover as wat ek kan onthou.” Die vrees is egter iets van die verlede. “Ek kan nie glo dat ek nie lank terug al vir my ’n hond gekry het nie. My man was altyd lief vir diere en ek kon dit nooit regtig verstaan nie. Nou kan ek nie my lewe indink sonder ons furry familielede nie.” Die egpaar het vyf honde, een papegaai en 19 hoenders.

Zakira wys van hul produkte.

Maak ’n verskil

Dis nie net haar liefde vir diere wat gegroei het nie, maar ook haar liefde vir die gemeenskap. Zakira se stem raak sag voor sy vertel haar kinderdae was nie van die maklikste nie. “Ek is deur ’n enkelma grootgemaak en weet wat dit is om nie te het nie. Dit was altyd deel van die plan om terug te gee aan die gemeenskap en nou het ek die geleentheid om dit te doen.”

Zakira doen skenkings aan kinderhuise, skole en help graag enkelma’s in omliggende gemeenskappe. “Toe ek in matriek was, was ek by ’n universiteit aanvaar om verder te gaan studeer, maar daar was eenvoudig nie geld nie. Ek het geweet my ma sou dit nooit op haar eie kon bekostig nie en toe lieg ek vir haar en sê ek is nie aanvaar nie.

Direk ná skool het ek maar begin werk net om ook iets op die tafel te kan sit. Dit is ook die realiteit van soveel ander kinders.” Dié vriendelike vrou se stem raak ernstig wanneer sy praat oor die uitdagings wat sy as ’n vrou in die bedryf moet trotseer. “Ek het eendag in ’n vergadering gestap en die twee corporate ouens het geweier om selfs my hand te skud. Wat nog te sê van om te luister na wat ek te sê het. En hoekom? Omdat ek ’n vrou is? Ek kan net so baie doen as ’n man en selfs meer.”

Zakira het die plaaslike toekenning vir sakevrou van die jaar 2018 gewen en gaan volgende jaar haar besigheidstudies aan die Universiteit van Kaapstad voortsit. Sy sê dis juis dié tipe uitdagings wat haar dryf om beter te wees as wat sy gister was. “Dit is nooit te laat om te begin nie. Solank jy glo in wat jy doen en die nodige tyd en harde werk daarin ploeg, kan niemand en niks in jou pad staan nie. Wees net unapologetically jy, want aan die einde van die dag is dit al wat saak maak. ’n Vrou se plek is nie net in die kombuis nie!”

Meer oor:  Kuier  |  Entrepreneur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.