Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Entrepreneur: Soete sukses met roomys
13 November 2019


Wanneer jy hoor van gourmet roomys wat in die hartjie van die Kaapse Vlakte vervaardig en verkoop word, dink jy amper dat jy die (ice cream-) pot mis sit. Maar dit is wanneer jy die man agter die roomys ontmoet en ’n skeppie van die liplekker roomys proe, dat jy besef jy het nie die kat aan die stert beet nie.

Iehshaan Small (33) van Rocklands in Mitchells Plain het net drie maande gelede sy eerste batch ice cream aan die publiek beskikbaar gestel. Hy het egter nie gedink sy passie en liefde vir kook sou lei tot sy eie roomys wat dalk eersdaags in al wat ’n winkel is se yskaste gaan pronk nie!

Met Kuier se besoek aan Iehshaan word ons hartlik verwelkom deur hom en sy twee werkers. In die hoek van die sitkamer staan ’n yskas propvol houertjies roomys vanwaar hy sy verkope sommer doen. Dit kos R15 vir ’n 250 ml tub en Iehshaan verkoop gemiddeld 200 tubs per week en verkope groei by die dag.

Dié trotse entrepreneur se opgewondenheid is aansteeklik en jy kan nie anders as om te wonder hoe hy met Ice Cream Vannie Plain vorendag gekom het nie.

Daar is tans agt variante van die roomys beskikbaar en elke geur is vernoem na ’n gebied in Mitchells Plain: Tafelsig (aarbei); Lentegeur (vanilla); Eastridge (Oreo); Portlands (blueberry); Beacon Valley (perske); Woodlands (choc chip); Westridge (caramel) en Rocklands (koffie). Kuier het van elke geur geproe en elke skeppie was ’n ontploffing van geure. Die romerige tekstuur van die roomys en smaakvolle flavours kan met die beste op die mark meeding.

Harde werk

Dit is duidelik dat Iehshaan self nog nie tot verhaal gekom het oor hoe vinnig sy besigheid in net drie maande gegroei het nie. En al is daar nou groot belangstelling in sy produk, was die pad tot hier glad nie maklik nie.

Volgens Iehshaan is dit juis om dié rede dat die victory so soet is, want die pad tot hier was bitter. Iehshaan vertel hy het in Mitchells Plain grootgeword en bly steeds daar. “Ek is ’n trotse man van die Plain. Wanneer mense hoor ’n mens is van die Plain judge hulle jou sommer onmiddellik al ken hulle jou nie eens nie. Mense moet weet uit die Plain kan ook goeie dinge kom en dat nie net gangsterism en dwelms hier heers nie.”

Hy vryf ’n paar keer oor sy baard voor hy vertel dat sy kinderdae maar eenvoudig was. “My ma en my pa het geskei toe ek net agt jaar oud was en daarna was dinge maar bietjie rof. Daar was tye wat ons swaargekry het, maar dit is mos maar hoe dit gaan.” Dié ywerige besigheidsman vertel sy skooljare was ook nie van die maklikste nie.

“Ek het in ’n ander gedeelte van die Plain skoolgegaan as waar ek gebly het. Die groep gangsters by die skool het geglo ek is ’n spy vir die bendes waar ek gebly het. Dit was vir jou ’n storie. Hoe meer ek hulle probeer convince het dat ek nie in hul bedrywighede belangstel nie, hoe meer het hulle begin glo dat dit wel die geval was.” Die bendes het hom eendag met die dood gedreig en hy het nie weer terug skool toe gegaan nie. Hy was toe in graad 9.

“My ma wou niks weet van my wat nie skool toe wou gaan nie en ek wou haar nie die eintlike rede vertel oor hoekom ek nie skool toe wou gaan nie. Ek kon nie nóg goed op haar bord pak nie. Ons het klaar swaargekry. Ek moes my sakkies pak en trek en dit is toe ek by my pa gaan bly het.” Dinge het ook net vir ’n ruk goed gegaan by sy pa en toe moes hy daar ook uit.

“Ek het maar geswerf en by mense geboard. En tot op vandag bly ek steeds by mense. As ek moet dink aan hoeveel geld ek uitgee op boardgeld kon ek al my eie huis se bond afbetaal het!” Tussendeur al die rondtrekkery het Iehshaan sy kind se ma ontmoet. Hulle was tien jaar in ’n verhouding voor hulle getrou het. Ná drie jaar van getroude lewe het hulle egter geskei.

“Ons het net nie meer mekaar verstaan nie en ná die egskeiding het ek in ’n diep put van depressie verval. Vir vier jaar het ek my afgesny van die wêreld.” Ná vier jaar van innerlike wroeging het hy begin kook vir funksies en het hy die kombuis gebruik om hom van die wêreld af te sluit. Hy het ook kookkursusse begin doen. “Ek was altyd lief vir kosmaak en dit was iets wat natuurlik gekom het.”

Iehshaan Small van Mitchells Plain maak sy eie ice cream.

Sy roomysreis

Maar hoe het hy begin roomys maak? Hy lag lekker voor hy vertel ook hy het nooit gedink dat hy eendag ice cream sou maak nie. Iehshaan is tans in sy eerste jaar van sy sjefstudies by College of Cape Town. “Ek het eendag op die internet gelees van ’n man wat stinkryk geword het van sy eie ice cream maak en verkoop en toe dink ek, ‘maar hoekom kan dit dan nie ék wees nie?’ Daarna het ek skouer aan die wiel gesit om te kyk of ek ook kan succeed in dié besigheid.”

Volgens Iehshaan het hy toe begin eksperimenteer. “Dit was heeltyd ’n proses van trial en error. Maar om op te gee was nooit ’n opsie nie, ek het elke keer weer probeer tot ek die art perfect het. En toe ek die geure regkry, moes ek begin om die tekstuur perfek te kry – lekker smooth. Nou sit ek met ’n ice cream wat nie eens ek wil ophou eet nie.” Die eerste keer toe hy die ice cream aan die publiek bekendgestel het, was in Augustus toe daar ’n markdag by die kollege was. “My ice cream het onmiddellik uitverkoop en ek het R960 uit die verkope gemaak.”

Sy dosent het die geld vir die roomys se bestanddele en houers geskenk. “En van daai R960 het ek begin bou tot waar ek nou meer as 1 000 tubs ice cream verkoop het. Amazing, nè?” vra Iehshaan in verwondering. Die mense van die Plain is ook in vervoering met sy smaaklike skeppings.

“Ek het eendag see toe gegaan met unlabelled houertjies. In die een houer was my ice cream en in die ander ’n bekende ice cream. Mense moes toe die twee ice creams proe en dan sê watter een dink hulle is die beste. Myne het loshande gewen. Toe weet ek, ek het ’n wenner beet.

“Daar is tans net agt flavors beskikbaar, maar hoe meer die besigheid groei, hoe meer flavours gaan ons beskikbaar stel. Ek wil ook die houertjies op só ’n manier begin customize dat elke houer feite oor die Plain kan bevat. Terwyl jy jou ice cream eet, kan jy jouself dan sommer educate oor my plek van geboorte.”

En al was die pad tot hier nie maklik nie, veral waar dit beleggers betref, blyk dit daar is uiteindelik ’n lig aan die einde van die tonnel. “Ons ontmoet eersdaags met twee groot kettingwinkels en daar is ook moontlike beleggers. Die Grillfather gaan ook in al sy winkels my roomys begin verkoop. My raad is altyd: hou dik, man. Iemand gaan jou help. Moenie opgee nie, beter moet kom.”

Dié man met die plan se besigheid gaan van krag tot krag en ons kan nie wag om te sien wat alles in stoor is vir Iehshaan en Ice Cream Vannie Plain nie. Local is immers lekker!

Meer oor:  Kuier  |  Roomys  |  Entrepreneur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.