Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Entrepreneur: Sy is dié Funky Ouma!
16 Mei 2018


Op die ouderdom wat mense gewoonlik aftree en rustig agteroorsit, het dié ouma besluit om te doen waarvoor baie jonger mense nie eens kan sien nie.

Ses jaar gelede, op 68 jaar oud, het Anneke van Rooyen haar eie besigheid begin. Selfs toe sy twee jaar gelede met kanker gediagnoseer is, het sy nie toegelaat dat dít haar agterhou of haar lewe tot stilstand bring nie.

Anneke (nou 74) het haar waardering vir gesonde kos in ’n suksesvolle besigheid omskep en dit blyk daar is niks wat haar lewenslus kan demp nie. Dis daarom geen verrassing dat sy onder vriende en familie as die Funky Ouma, die naam van haar besigheid, bekend is nie.

Funky Ouma vervaardig sout en speserye wat net van natuurlike bestanddele gemaak word. Dit bevat geen MSG (mononatriumglutamaat, ’n smaakmiddel vir kos) of preserveermiddels nie. Wanneer jy by hul winkel op Wellington buite Kaapstad instap, kry jy onmiddellik die reuk van kruie en speserye – dis asof iemand besig is om kos te maak.

Ons groei saam en gaan slaap nie kwaad nie. As ons ’n issue het, sorteer ons dit uit. Ons het ’n oop verhouding.

Besigheid begin

Anneke bestuur die besigheid met haar jongste dogter, Johannita Eksteen (36). Dié ma van vier en ouma van 10 sê dit het alles 23 jaar gelede begin toe haar man, Johan (54), met maagkanker gediagnoseer is.

Anneke en haar dogter Johannita wat saam die besigheid bestuur.

Die kanker was so aggressief dat dokters sy hele maag moes verwyder. Anneke moes hom help eet en het toe al hoe meer bewus geword van die ekstra dinge wat in ons kos bygevoeg word. “Ek het besluit ek gaan nie meer my gesin hieraan blootstel nie,” vertel sy.

Wat toe direk aanleiding tot die besigheid gegee het, was toe sy sewe jaar gelede begin “speel” met Himalayan sout, kruie en suurlemoen. “Daar was toe meer bewusmaking van MSG en preserveermiddels in boeke en in die media, maar niemand het iets hieraan gedoen nie.” Sy het aanvanklik net die sout aan familielede en vriende gegee, maar het soos talle ander pensioenarisse, ’n ekstra inkomste nodig gehad. Johannita, wat bemarking vir ’n maatskappy gedoen het, het toe met die idee vorendag gekom om labels op die sout te sit en dit by markte te verkoop.

’n Werker meng speserye en sout.

Die naam Funky Ouma was aanvanklik ’n grap, vertel Johannita met haar arm om haar ma se skouer. “Ek het gesê, ‘Ma is ’n ouma. Sy’s funky, sy’t Facebook, sy’t ’n smartphone, sy speel met die kinders, sy spring op ’n trampoline en sy’s cool.’ ”

Anneke sê die naam vertel jou ’n ouma se waardes, visie en kennis het in die produk gegaan. Die sout het soos soetkoek by die markte verkoop en die behoefte vir die produk het gegroei.

Dit was altyd Johannita se plan om haar eie besigheid te stig en toe span ma en dogter kragte saam om dit te doen. Sy het toe haar werk gelos om op die besigheid te fokus. Sy kon die kennis en vaardighede wat sy oor die jare geleer het in die bestuur van die besigheid toepas.

“Funky Ouma was van die begin af ’n vennootskap. Dit het vir my baie beteken dat sy (Johannita) aanboord gekom het. Ek het nie daardie flambojante energie wat die jong mense het nie,” sê Anneke.

Een van Funky Ouma se produkte.

Vandag het dié ma en dogter, wat baie na aan mekaar is, die besigheid ’n sukses gemaak. Hul produkte was aanvanklik net onder meer by markte, padstalletjies en slaghuise beskikbaar, maar is nou so gewild dat dit vanaf onlangs landwyd by Montagu Droëvrugte en Neute te koop is. Hulle kweek die bestanddele self op ’n plaas naby Wellington en alles word met die hand verwerk, verpak en gemerk. “Ons wil mense verryk. Almal wat by ons begin werk het, is nog steeds hier. Ons glo in lojaliteit,” vertel Johannita.

Op die mure van die produksie-area agter die winkel is die visie en waardes van die besigheid wat deur die personeel opgestel is. Johannita en Anneke beskou dit as ’n familiebesigheid, nie net omdat hulle saamwerk nie, maar omdat hulle die personeel as familie beskou. “Ons groei saam en gaan slaap nie kwaad nie. As ons ’n issue het, sorteer ons dit uit. Ons het ’n oop verhouding.”

Deur diep waters

Anneke se rol in die besigheid is om produkte te ontwikkel en die verwerking van die rou bestanddele op die plaas te bestuur, terwyl Johannita die produksie by die winkel bestuur. ’n Mens kan sien dié ma en dogter hou daarvan om saam te werk en het ’n baie goeie verhouding. Die twee vertel hulle is al deur diep waters saam.

Ná haar pa se afsterwe, drie jaar ná sy diagnose, sê Johannita hulle het finansieel baie swaargekry. “Dit het baie karakter en deursettingsvermoë gebou. Dit het ons krag gegee om nie ons omstandighede te aanvaar nie, maar om harde werk in te sit.” Sy vertel ook hoe dit hul geloof in die Here sterker gemaak het.

“Daar is geen tye soos moeilike tye wat jou nader aan Hom bring nie. Saam swaarkry het ons baie versterk. Ons kan saam klippe kou. Ons het beste vriende en vennote geword.”

Kanker keer haar nie

Nes hulle destyds nie hul omstandighede bloot net ervaar het nie, het Anneke ook nie opgegee toe dokters twee jaar gelede gesê het sy het minder as twee maande om te lewe nie. Sy is met stadium 4-bors- en eierstokkanker gediagnoseer. “Wanneer so iets gebeur, besluit ons self daaroor. Dis ’n wilsbesluit. Moenie opgee as jy daai diagnose gekry het nie. Daar is so baie hulp daarbuite wat ons kan gebruik om aan te sterk.”

Die diagnose op 72 jaar oud het haar ook nie gekeer om aan te hou werk nie. Sy het selfs verlede jaar ’n kookboek met wenke vir gesonde kos en resepte bekendgestel. Teen druktyd sou Anneke al haar derde sessie chemo-behandeling ondergaan het nadat sy vir die tweede keer in remissie was. Sy handhaaf egter ’n positiewe houding en ingesteldheid en op die oog af lyk dit nie asof sy kanker het nie.

Dis duidelik dat sy baie mooi na haarself kyk. “Die son skyn, dis amazing daarbuite. Jy wil mooi lyk. Daar is sekere goed wat vir jou keuses gee. Om vir ’n derde keer te hoor die kankerselle is weer aktief, is nie ’n grap nie, maar ek is so opgewonde oor die goed waarby ek steeds betrokke is.” Anneke glo alles wat tot die besigheid aanleiding gegee het, was God se plan.

“Dit wat die Here hier gedoen het, is van A tot Z. Ons het nie daai tyd geweet Johan se siekte sal tot hulpmiddels lei wat duisende mense gebruik om hul kos met natuurlike produkte te geur nie. Hy was nie die rede vir Funky Ouma nie, maar omstandighede was. Die feit dat sy (Johannita) bemarking geswot het, was nie met die oog op Funky Ouma nie. Toe dit gebeur het, was al daai amazing dinge in plek,” sê Anneke.

“Dit wat gebeur het wat dalk nie in Sy wil was nie, het hy steeds ten goede laat uitdraai,” voeg Johannita by. Anneke is die perfekte voorbeeld dat jy nooit te oud is om suksesvol te wees nie en veral nie te oud om passievol te wees oor dit wat jy doen nie.

Sy raai ander pensioenarisse aan om ook hul talente te ontwikkel. Wanneer jy Anneke ontmoet, is haar lewenslus iets wat jy wens jy op 74 gaan het. Sy kies om positief deur die moeilikste omstandighede te wees en bly ’n Funky Ouma.


Dié artikel verskyn in die 16 Mei 2017-uitgawe van Kuier-tydskrif.


Meer oor:  Funky Ouma  |  Sout  |  Kuier  |  Entrepreneur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.