Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Ernie sprei haar vlerke
ernusta maralack

My drome het waar geword toe ek hoor die tydskrif Kuier kom, want ek het ’n joernalis geword om mý mense se stories te vertel.

Ek wou iets doen om bruin mense te help om trotser te wees op wie hulle is, op waar hulle vandaan kom en om nie minderwaardig of skaam oor hul lewensverhale te voel nie. Ek wou hê ons mense moet weet om uit armoede te kom, is nie ’n skande nie. Ek wou hê hulle moes weet omdat hulle dalk al in hul lewe ’n slagoffer was, beteken dit nie hulle moet vir die res van hul lewe een bly nie. Ek wou hê hulle moes besef hulle is genoeg en dat hulle nie nodig het om te verander om by ander se verwagtinge in te pas nie.

Ek wou hê veral die vroue moet trots wees op dit wat hulle met hul min vir hul kinders kon gee en dat hulle moet weet húlle is die rede hoekom hul kinders gekwalifiseerde prokureurs, dokters, professors, onderwysers, verpleegsters en joernaliste byvoorbeeld kon word.

Ek wou die stories van vroue soos my ma vertel. My ma is ’n merkwaardige vrou, maar net ek het dit geweet terwyl ek gewens het ek kon haar afshow aan die hele Suid-Afrika. En Kuier sou dit moontlik maak vir baie onerkende heldinne soos my ma om afgeshow te kon word.  

Met my ma se karige loon, het sy my op kollege onderhou. Ek het met beurslenings studeer en my ma kon net bekostig om vir my elke maand ’n R100 sakgeld te stuur.

Die mense op die dorp het my ma “Nellie van Voorsieners” of “Nellie van Ernst (my pa)” genoem. Dis hoe dit op klein plekkies gaan – omdat so baie mense dieselfde name het, kry jy ’n “lasnaam” by sodat mense weet van watter Nellie of watter Koos jy praat.

Maar vandag maak dit my so ontsettend hartseer dat sy in ’n era gebore is waar haar velkleur en geslag haar ’n tweedeklasburger gemaak het. En dat sy nooit die kans gehad het om haar volle potensiaal uit te leef nie, maar jy sal haar nooit hoor kla nie.

GEE TERUG

ernusta maralack
Ernusta op een van die stories

Ek het ook geweet ek sou nie by enige ander tydskrif daardie soort stories kon skryf nie. Daarom was ek diep jaloers omdat ek nie onmiddellik saam met Raylentia (met wie ek in daardie stadium by Die Burger se bedryfsredaksie gewerk het) Kuier toe kon gaan nie! So toe daar in 2011 ’n joernalispos by Kuier oopgaan, het ek dadelik aansoek gedoen. Ek het die kortlys gemaak en vir die onderhoud in ongemaklike hakskoene en ’n hemp wat ’n size te klein was, opgedaag.

Ek was so senuweeagtig, want ek het toe geen tydskrifervaring gehad nie. Maar ek het die werk by Kuier gekry en sedertdien skryf ek die stories waarvan ek altyd gedroom het. Kuier is my manier om my doel op aarde uit te leef en terug te gee aan bruin gemeenskappe van oraloor, want daar was stories in ons gemeenskappe wat vertel móés word.

Ek onthou my heel eerste groot storie by Kuier. Dit was ’n ware lewensdrama-artikel uit Malmesbury en het gehandel oor ’n paartjie, Joseph Damonse en Denielle Lategan, wat elkeen hul eie trauma beleef het. Joseph het sy eerste vrou in ’n motorongeluk verloor en was in die proses van sy onderlyf af verlam. Dokters het hom ook laat weet hy sou nooit weer kinders kan verwek nie.

Maar ten spyte daarvan het hy weer liefde gevind by Denielle. Denielle aan die anderkant was een oggend op pad werk toe toe rowers, wat ’n vulstasie beroof het, haar in die gesig geskiet het. Dokters het voorspel sy sou nooit weer kon praat of kinders kry nie weens kortisoon-behandeling wat sy ontvang het en ook omdat sy Polycystic Ovary Syndrome (PCOS) gehad het. Maar die Here het ’n wonderwerk kom doen toe Joseph weer begin loop het en toe Denielle weer begin praat het, maar die grootste wonderwerk was toe Denielle swanger word met haar en Joseph se eerste kind saam.

Dit was ’n ongelooflike storie en stories soos dié het simbolies van Kuier geword. Kuier vertel stories wat jou mond laat oophang, maar ook stories wat jou herinner aan die goedheid van die Almagtige God en die “gees” soos Kuier-redakteur, Kay Karriem, gereeld sê.

En as skrywer het ek my absoluut begin inleef in hierdie stories.

Vir ons wat by Kuier werk, is die ver-enigende faktor nie (net) dat ons deel vorm van ’n sekere demografiegroep nie, maar eerder dat ons onsself in mekaar se stories kan sien. Indien nie, is daar ten minste een mens wat jy ken wat ’n ervaring het waaroor ons al geskryf het.

As skrywer voel dit altyd vir my of die stories in my are klop en ek laat elke woord tel, want ek besef die grootheid van my verantwoordelikheid as storieverteller. Daarom probeer ek altyd om mense se stories met sensitiwiteit, deernis en respek te vertel.

Kuier maak nie net ’n verskil in ons lesers se lewens nie, maar vir diegene wat hier werk, bied dit ook die geleentheid om jou potensiaal uit te leef en uit jou gemaksone te kom. Ons is ’n baie klein span in vergelyking met ander tydskrifte, maar juis daarom kry jy die geleentheid om te groei in areas buite die normale funksies van jou posbeskrywing.

ernusta maralack
Ernie met Breyton Paulse

Ek is van nature baie skaam en aan my begindae by Kuier was ek skytbang om celebrities te interview, maar Kay het sommer vroeg al besluit ek moet voorblaaie doen. Ek is bly sy het dit gedoen, want toe ek baie van die celebrities leer ken, het ek besef hulle is eintlik net mens.

Ek het in my agt jaar by Kuier ontsettend baie gegroei – in my menswees en in my loopbaan. Party mense sal dalk sê om so lank by een plek te werk, beteken ek stagneer, maar dis hoekom ek elke jaar iets doen wat my uitdaag.

Van my groot loopbaanhoogtepunte by Kuier sluit in my bevordering tot hoofverslaggewer in 2013 en dat ek vanaf my eerste dag by Kuier die voorreg gehad het om die ongelooflikste stories te vertel. Dit was glad nie maklik nie, maar die Kuier-mense oor wie ek oor die jare al stories gedoen het, het my geïnspireer om aan te hou. In 2017 word ek toe weer bevorder tot artikelredakteur. En in dieselfde jaar wen ek my eerste groot toekenning by die Responsible Drinking Media Awards vir ’n storie oor ’n universiteitsdosent wat aan alkohol verslaaf was, maar wat ironies genoeg vir sy meestersgraad ’n tesis oor alkoholisme gedoen het.

In 2017 was ek ook projekleier van die eerste Kuier-winterskool. Dis my passieprojek waar Kuier behoeftige matrieks help voorberei vir hul eind-eksamen. Ons het begin met 60 matrieks in ons eerste jaar en vanjaar is dit vir 200 leerders aangebied.

Op seer se spoor

ernusta maralack,op seer se spoor
Ernusta bied die misdaadprogram Op Seer Se Spoor aan op kykNET & kie.

En vanjaar natuurlik het ek die geleentheid gekry om my eie misdaadreeks, Op Seer se Spoor, op nasionale TV te hê. Kuier was nog altyd goed in stories vertel, maar met Op Seer se Spoor kon ons nou kykers visueel deel maak van die hele proses. Dit was vir ons ook ’n manier om uit te brei na TV en dis ook bewys van hoe ver ons as ’n handelsmerk gekom het. Wie sou kon voorspel hierdie tydskriffie wat niemand gedink het gaan oorleef nie, gaan nou TV-programme ook maak? Ek weet dis maar nog net die begin van groter, nuwe dinge in Kuier se toekoms.

Op ’n persoonlike vlak het ek nooit daarvan gedroom om op TV te werk nie, daarvoor het ek heeltemal te min selfvertroue. Maar soos ek al in vorige onderhoude gesê het, Op Seer se Spoor het mý gekies. Ek het my nog altyd ingeleef in programme op die misdaadkanaal, maar nie gedink ek sou eendag my eie misdaadreeks het nie.

Ek wou altyd verstaan hoekom moordenaars doen wat hulle doen en het gewens slagoffers se families kry berusting.

En ook die antwoorde wat hulle so desperaat soek. En toe gebeur Op Seer se Spoor. Ek was meer as bereid om agter die skerms te werk, maar voor die skerms, absoluut nie. Kay en Bradley Joshua van Gambit Films, wat die program vervaardig, het egter aanhou karring totdat ek ingegee het. My enigste voorwaarde was dat hulle nie van my moet verwag om soos ’n TV-aanbieder te klink nie, want ek is nie een nie. Ek lyk ook nie soos een nie en kan nie woorde van ’n script afleer nie. Ek moet praat soos goed op my hart kom sit.

Maar toe is dit juis dít wat gewerk het. Nie net was kykers dankbaar omdat ons mense se stories vertel het wat nie altyd die koerantopskrifte gehaal het nie, maar hulle was bly dat iemand wat soos hulle lyk en klink die program aanbied. Een jong vrou het my ge-inbox op Facebook en bedank dat ek meisies soos sy hoop gee en inspireer dat sy enigiets kan bereik. Dit het my nogal geraak, want so baie jong mense daarbuite het net een mens nodig om vir hulle te wys daar is vir hulle ook ’n plekkie onder die son.

Ek het ook nog altyd insecurities oor my joernalistiek gehad, want ek het nie harde nuus gedek nie.

Ek het altyd gevoel ek is nie “?’n regte joernalis” nie omdat ek nie daagliks nuusstories skryf nie. Maar met Op Seer se Spoor het ek soveel boodskappe van bewondering en respek van my kollegas uit die media-wêreld gekry dat dit my vir ’n ses geslaan het. Ek het dit nie verwag nie en regdeur die reeks was ek bewus daarvan dat ek myself blootstel vir hierdie tipe kritiek, maar toe was dit die teenoorgestelde.

So Op Seer se Spoor het regtig my lewe verander, maar die grootste ding waaraan ek gewoond moet raak, is dat mense my oral herken en wil foto’s neem. Ek kry ook sommer drukkies uit die bloute uit. En o ja, hulle roep my “Op Seer se Spoor”, nie “Ernusta” nie. Ek gee nie om nie, want ek het die program se naam gegee en ek wou nog altyd hê die show moenie oor my gaan nie; dit gaan oor die mense.

Nie eens ek sou al hierdie goed kon voorspel nie, maar dit wys net wat alles moontlik is as jy die werk insit.

Kuier is baie meer as net ’n tydskrif. Dis ’n plek waar ons saamhuil en saamlag en dis die plek waar ons as ’n kollektief trots kan wees op ons wortels. En ek hoop ons sal dit vir die volgende honderd jaar steeds kan doen!
Meer oor:  Op Seer Se Spoor  |  Kuier  |  Ernusta Maralack  |  Kuier10
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.