Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Vervolgverhaal Deel 1: Faith se geveg
7 Augustus 2019

Faith se voet glip perfek in die tweede paar skoene wat sy aanpas. ’n Nuwe paar skoene het haar nog altyd goed laat voel en sy het dit beslis nodig aangesien dinge woes gaan by die werk.

“Ek sal dit vat,” sê sy aan die winkelassistent terwyl sy die blou hakskoene terug in die boks sit om te gaan betaal.

“Faith? Faith Jacobs?”

Die opgewonde stem klink bekend en as Faith opkyk, herken sy haar hoërskoolvriendin. Dis Laverne.

“Laverne, waar val jy uit? Vir hoe lank is jy al hier?” Al wat sy nog kan onthou, is dat Laverne ná skool in die Kaap gaan werk het en nou en dan vir haar ma-hulle op hul dorpie, Sutherland, kom kuier.

“Twee weke, maar die koue hou my binne. Ek sien jy is getroud,” sê-vra Laverne in dieselfde asem.

“Al lankal, jy is agter. Ek en Lionel is al vir ses maande getroud.” Sy kan skaars die gelukkigheid uit haar stem hou.

“Lionel? Lionel van Lizette?”

“Die einste, maar hulle is mos al lankal geskei,” verduidelik sy versigtig. Sy weet nie waarheen Laverne nou mik nie.

“Jy ken vir Lionel, Laverne?” vra Faith nou nog meer versigtig.

“Wie ken hom nie?” lag Laverne. “Ek hoop hy het verander, want oe, vader...”

“Wat bedoel jy?” vra Faith verward.

“Uh, weet jy dan nie? Hy het mos so vir Lizette geslaan... Maar jy het dit nie by my gehoor nie. Ek wil nou nie uit my beurt praat nie, maar ek hoop nie hy slaan jou ook nie.”

“Lionel het nog nooit aan my geslaan nie! Dis die eerste keer wat ek hiervan hoor,” sê Faith met kommer in haar stem.

“Gelukkige jy. Lizette was nie so gelukkig nie,” vertel Laverne. Haar blik dwaal oor die naaste ry klere.

“Wel, hy soek seker al na my, ek moet gaan. Was goed om jou weer te sien,” lieg Faith, los die skoene en loop uit.

Sy kan eers weer asemhaal as die wind haar buite begroet. Lionel sal nooit ’n vrou slaan nie Z of sal hy? Haar gedagtes soek na tye waar hy dalk al vir haar gemik het of gelyk het of hy haar te lyf wil gaan. Niks. Het sy dit net uitblokkeer? Sy skrik toe haar foon lui. Dis Lionel. Hy vra dat sy knoffelbrood moet koop vir daardie aand se braai.

Die aand brand die braaivleisvure hoog toe sy en Lionel voor sy suster, Va-nessa, se huis stilhou.

DIe woorde, die gestry, merke in my gesig en op my bors en arms.

“Kry vir jou ’n drink in die yskas en kom sit hier by my,” nooi Vanessa haar. “Mammie sê sy kom volgende week by julle kuier,” gesels sy verder.

“Lionel het nog niks vir my genoem nie. Is jy seker? By the way, ek kry so die gevoel jou ma hou niks van my nie, dit bly net Lizette voor en agter,” waag sy dit om eerlik met Vanessa te wees.

“Mammie en Lizette was close. Ek het nooit verstaan hoekom nie.”

Faith sug, “Ja, wat.”

‘Het Lionel vir Lizette geslaan?’ vra sy in haar gedagtes vir Vanessa, maar kom nie so ver om die woorde te sê nie.

Op pad huis toe praat Lionel eerste: “Hoekom is jy so stil?”

“Net moeg. Die braai was lekker,” sê Faith en probeer die onderwerp verander. “Jy het nie vir my gesê jou ma kom by ons kuier nie, Lionel,” merk sy op en is dadelik spyt dat sy dit nou opbring.

“Het ek nie? Is jy seker?” wil hy weet.

Faith byt haar onderste lip.

“Is dit ’n probleem?” vra hy effe vererg.

“Nee, ek sal dit net waardeer as jy my inlig. Nou moet ek by ander mense hoor wat in my huis aangaan,” baklei sy skielik.

“Ek is jammer. Dis my fout. Tevrede? Wat pla jou nou nog?” wil hy skerp weet.

‘Het jy vir Lizette mishandel? Geskop, geklap en rondgestamp? Het jy haar name genoem soos slegte vrou, hoer, slet?’ worstel sy met haarself, maar nie een van die vrae kom uit nie. Te bang sy maak ’n gek van haarself as sy hom uitvra.

’n Week later kom ma Getrude by hulle aan. Lionel se ma is die wonderlikste mens solank hy in die omtes is. Dis sodra hulle twee alleen is, dat sy met haar streke begin. Sy vind fout met die kleinste onbenulligheid. “Gooi nog sout in die pot”, “die tee smaak soos skottelgoedwater”, “waar steek julle weer my warmwaterbottel weg?” Z só gaan die kritiek dag ná dag aan. Faith kan dit nog hanteer, maar dis wanneer sy vir Lizette begin besing dat sy die mure kan uitklim.

“Ma, ek voel so sleg dat ek nooit Lionel se pa kon leer ken nie. Watter tipe mens was hy?” vis sy eendag toe dit lyk haar skoonma is vir eers sonder kritiek. Haar skoonma begin haar oorle’ man prys asof hy die volmaakste man was wat al gelewe het. Maar dan is dit skielik stil. Faith is besig om aartappels te skil en toe sy opkyk, merk sy die trane oor haar skoonma se wange.

“Ma, wat is fout?”

“My Lionel, net die een keer wou hy sy hande vir sy pa lig. Die Here vergewe hom, maar hy kon dit nie meer vat nie,” vertel haar skoonma onverwags.

“Wat kon hy nie meer vat nie, Ma?”

“Die woorde, die gestry, merke in my gesig en op my bors en arms. Daardie dag toe staan hy bors aan bors met sy pa. Sy pa het hom uitgesit en hy het by my suster gaan slaap daardie aand. Die volgende dag is hy Kaap toe na sy oudste suster toe. Sy het nooit haar pa vergewe vir wat hy aan my gedoen het nie. My arme kinders. Vanessa was te klein om te besef wat aangaan,” sug sy swaar.

Dan gaan die deur oop en daar staan Lionel. Faith spring vinnig op en soen hom op die wang, bang hy kom agter die atmosfeer is loodswaar.

“Ma, waaroor skinder julle nou weer?” skerts hy as hy sy ma se voorkop soen, haar trane van ’n oomblik gelede begrawe agter ’n breë glimlag.

Later kan Faith nie slaap nie. “Hoekom rol jy so rond? Wat pla jou?” wil Lionel weet toe Faith van die een sy na die ander draai.

“Niks. Slaap. Jy werk môre,” sê sy. Lionel is ’n paramedikus en hy is mal oor sy werk, maar sy wonder waarom hy nie medies gaan swot het nie.

Hy rol om en sit skielik regop in die bed. “Ek kan aangestel word in ’n senior posisie met Hannes wat die einde van die maand aftree,” vertel hy opgewonde.

Sy glimlag net en sê hy verdien dit.

Nie lank nie en sy hoor sy sagte gesnork. Haar gedagtes gaan terug na haar gesprek met haar skoonma die middag. Beteken die feit dat Lionel se pa sy ma geslaan het, dat hy sal haar ook gaan by-kom? Wat as hulle die dag kinders het, gaan dit dan begin? Gaan die druk nie te veel raak as hy die nuwe pos kry en dit op haar uithaal nie?

Die volgende dag weet sy nie hoe en wanneer sy aan die slaap geraak het nie.

Ná teetyd by die werk, kry Faith ’n boodskap van Vanessa. Sy en haar suster het gepraat oor ’n partytjie vir haar ma se 75ste verjaardag. Sy wil weet of Faith sal help met die voorbereidings. Faith stem in.

Vir die volgende twee weke is hulle hard aan die beplan. Dís ook toe Faith uitvind dat Lionel se ma en Lizette so close was omdat Lizette se pa ook vir haar en haar ma mishandel het. Dis asof haar skoonma en Lizette se verhouding eers toe vir haar begin sin maak. Sy wou net vir Lizette beskerm en oplig.

Die dag van die partytjie is al Getrude se vriende daar. ’n Gelag klink op uit die gang en toe Faith gaan ondersoek instel, vind sy Lionel, Lizette en ’n ander paartjie in gesprek. Sy stap deur kombuis toe, weet nie wat om te maak van die cosiness van die groepie nie. Sy het nie geweet Vanessa het vir Lizette genooi nie. Terwyl sy die skoon teekoppies weer uitspoel, kom die nuwe predikant in. Hy soek ’n kurktrekker vir die wyn. Sy weet nie waar om een te kry nie en so begin hulle twee te soek.

“Ek is seker Jesus sou die kurkproppe in doppies verander het by die bruilof as dit so ’n gesoek sou afgee,” lag hy.

Faith lag en ontspan vir die eerste keer vandat sy by die partytjie aangekom het. Sy is verlig toe hulle een in ’n laai kry.

Lionel se bui is allesbehalwe aangenaam toe hulle later die Saterdagaand van die partytjie af ry. “Koffie?” probeer sy die atmosfeer verbeter by die huis, maar hy gluur haar net aan.

“Jy kon jouself seker nie verhelp om so aan die lippe van die predikant te hang nie?” bars hy skielik uit.

“Lionel?”

“Moenie vir my Lionel nie!”

“As jy nie heelaand saam met jou eksvrou gekuier het nie, sou dit nie gebeur het nie,” kap sy seergemaak terug.

“Ek het beter van jou verwag as om soos ’n flerrie tekere te gaan!” skree hy.

Haar hand skiet uit en sy probeer hom klap, maar hy gryp haar pols vas. Die laaste ding wat sy hoor is ’n boodskap wat na sy foon kom.

(Lees in die Kuier-uitgawe van 21 Augustus wat volgende gebeur.)

Meer oor:  Vervolgverhaal  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.