Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Familie rou oor tiener se wrede dood
30 Oktober 2019
Michaela se familie is in stukke ná haar sinnelose


Droë bloedspoor op die sy-paadjie van Dywillistraat in Asla Park, Mosselbaai, is die stille getuienis van die gewelddadige gebeure wat in die vroeë oggendure van 6 Oktober in dié straat afgespeel het.

Michaela Booysen, ’n plaaslike 17-jarige graad 8-leerder, is wreedaardig deur drie mans in dié straat aangeval. Een van hulle het haar met ’n piksteel agter haar kop gekap en vir dood agterlaat . . .

Terwyl sy hulpeloos in die straat gelê het, het haar aanvallers haar boonop deursoek vir besittings en haar beroof van haar tekkies. Hoewel Michaela nog ná haar kophou gelewe het, het sy uiteindelik haar laaste asem op daardie einste sypaadjie uitgeblaas . . . Dieselfde sypaadjie waar sy al soveel kere vantevore op geloop het.

Familie aangeval

Maria Booysen
Maria Booysen

Met Kuier se besoek aan die Booysen-familie in Uitbreiding 13, Mosselbaai, sit die son hoog en die voëltjies tjirp luidrugtig. Buite in die straat hardloop die kindertjies laggend rond. Dit staan in skrille kontras met die gemoed in die Booysens se woning. En wanneer ’n mens hoor wat die familie al alles moes trotseer, kan jy nie anders as om te wonder hoe dié familie steeds staande bly nie.

Dit is ’n hartseer Maria Magdalena (of antie Mary) Booysen (68), die familie se matriarg, wat ons met ’n glimlag ontvang. Wanneer jy in die antie se oë kyk, is die seer duidelik te bespeur. Antie Mary is Michaela se ouma (aan moederskant) en ook die een wat haar grootgemaak het. “Ek kan nie glo ek het haar op dieselfde manier as haar ma verloor nie. My hart kan dit nie meer hou nie. Dit is so baie, baie seer . . .”

Dié vrou breek en rou snikke weergalm deur die huis. Dit vat ’n paar minute voor antie Mary weer haar selfbeheersing terugwin. Sy vee met ’n sakdoek oor haar nat oë en sê Michaela se dood het die roof van ’n ou seer afgeruk wat nooit regtig gesond geword het nie.

Mary se dogter en Michaela se ma, Melanie (28), is 13 jaar gelede ook met ’n piksteel doodgekap. Ook Michaela was tydens dié voorval in haar slaap met ’n piksteel gekap.

Haar pa, Shaun Kiewiet (44), was die aanvaller. Eintlik het hy die hele Booysen-gesin, wat ten tyde van die voorval in die huis gebly het, met ’n piksteel aangeval. Antie Mary raak bewoë wanneer sy die voorval herroep. “Hy het eers vir my en my man gekap voor hy na my dogter en die kinders se kamers gegaan het, want hy het geweet as hy eers vir hulle moes kap, sou ek tussenbeide getree het. Dit is hoe dinge nog altyd was en is. Ek sal enigiets doen om my kinders te beskerm. Hy het dit geweet en dis hoekom hy my eerste wou doodmaak.”

Shaun het Melanie, vermoedelik uit jaloesie, vermoor. Hy is later op klagtes van moord en vyf klagtes van poging tot moord skuldig bevind. Hy is tot altesaam 52 jaar tronkstraf gevonnis. Hy het tien jaar van dié straf uitgedien voor hy in 2018 vir vyf jaar onder korrektiewe toesig vrygelaat is. Antie Mary was ná die voorval in 2006 dae lank in ’n koma. Haar man is ook gestrem gelaat en moet nou versorg word.

Michaela, haar broer en suster het kophoue opgedoen en die familie sê dít het blywende skade op hulle agtergelaat. Michaela se antie, Suzette Booysen (34), sê dit is juis weens daardie eerste kophou dat Michaela nie goed op skool gevorder het nie. “Sy was so ’n mooi kind, lank en slank, en wou ’n model en ’n maatskaplike werker word, maar daai drome is nou tevergeefs, want ons Kayla is binne ’n oogwink van ons weggeneem. Die lewe is wreed hier buite.”

Lieflike kind

Michaela Booysen.
Die slagoffer Michaela Booysen.

Die aanhoor van Michaela se noemnaam maak antie Mary weer bewoë. “Sy was nie altyd ’n maklike kind nie, maar sy het altyd respek gehad. Daar was niks waarvoor sy nie asseblief en dankie gesê het nie. Sy was lief vir kosmaak en huis skoonmaak en het nooit gekla as jy haar gevra het om iets vir jou te doen nie. Sy was soos my eie kind.”

Michaela was vier jaar oud toe haar ma vermoor is en sedertdien was sy in antie Mary se sorg. “Wanneer sy op ’n Saterdag geloop het, het sy my gesoen en gedruk en dan gesê, ‘Ek sien Mamma môre’. Haar môre het ná daai Saterdag nooit weer gekom nie. Dit is die laaste wat ek haar gesoen en gedruk het. My Kayla is weg . . .”

Die trane begin weer vryelik vloei en vir ’n ruk sit antie Mary met Michaela se foto in haar hand terwyl sy met haar vinger daaroor streel. Sy sit en dink ’n rukkie en dan begin sy skielik weer praat. “Toe die mense hier kom klop daai Sondagoggend en sê dit gaan oor Kayla, het ek gedink miskien het die polisie haar toegesluit of iets. Ek sou nooit kon raai dis ’n doodstyding nie. Hulle het gesê ek moet tot in Asla Park kom, want Kayla lê daar in die straat. Ek het toe gewonder of Kayla dan bedwelm is deur iemand, want hoekom sal sy dan in die straat lê.”

Ek kan nie glo ek het haar op dieselfde manier as haar ma verloor nie. My hart kan dit nie meer hou nie. Dit is so baie, baie seer . . .

Michaela was toe glad nie bedwelm nie en antie Mary se ergste nagmerrie is bewaarheid toe sy in Asla Park aankom en Michaela se lyk daar aantref. “Toe ek daar kom, was sy reeds toegegooi met ’n kombers. Sy was weg en ek het instinktief geweet ek het haar ook verloor . . .”

Michaela se skielike en wreedaardige dood is maar net die tip of the iceberg wanneer dit kom by antie Mary se hartseer. Voor die piksteel-aanval op haar en haar gesin, waarin sy haar dogter verloor het, het sy ook haar 14-jarige seun net ’n jaar voor dié voorval aan die dood afgestaan toe hy verdrink het. Ses jaar gelede het die Booysens se huis ook op Oujaarsaand afgebrand. En nou is Michaela op dieselfde manier as haar ma vermoor.

’n Mens kan nie help om te wonder hoe antie Mary se moederhart al die smart hanteer nie. Sy antwoord dan oop en eerlik: “God het my al deur soveel dinge gedra, ek glo en vertrou dat Hy my hierdeur ook sal dra. In my hart het ek vrede en vergifnis, want dit is wat die Here wil hê. Ek kan nie wrokke teen mense koester nie. God sal met hulle afhandel.”

Volgens die familie was Michaela so hard met die piksteel gekap dat haar tande uit haar mond gespat het. verskriklike nag Kealin Michaels (24), Michaela se kêrel en die een met wie sy ten tyde van die voorval was, sê hy kan steeds nie glo Michaela is weg nie. “Ons het so ’n oop en eerlike verhouding gehad. Daar was geen jaloesie tussen ons nie. Ons het nie geheime van mekaar gehou nie en boonop was ons baie goeie vriende ook. My hart is stukkend . . .”

Dié jong man se stem breek en hy moet eers ’n paar keer diep sluk om homself bymekaar te hou. Dié gebroke man vryf met sy hand oor sy oë en staar in die verte uit voor hy skielik ’n herinnering herroep. “Sowat ’n maand gelede het Michaela met die gedagte gekom dat ons saam moet bid en elk vir die Here iets moet vra wat ons harte begeer. Ons moes dan ’n maand ná dié gebed vir mekaar sê wat ons gevra het en of Hy dit aan ons gegee het. Dit is presies ’n maand terug en nou sal sy nooit vir my kan sê wat sy aan Hom gevra het nie. Haar lewe is kortgeknip. Alles het net te vinnig en te skielik gebeur.”

Volgens Kealin is die gebeure van daardie noodlottige oggend in sy geheue ingeëts. Met verstrengelde vingers herroep hy wat in vroeë oggendure van Sondag 6 Oktober gebeur het. Kealin vertel hulle was skaars om die draai op pad na Kayla se huis toe iemand met ’n Okapi-mes in die straat afgehardloop kom.

“Ek het die klong geken en hom nog gevra na wie hy soek en gesê hy moenie so met die mes oop in die straat hardloop nie. Verder op in die straat het drie mans geloop. Ons het agter die klong met die Okapi geloop en hy het met die drie mans begin skoor soek en hulle het omgedraai en in ons rigting aangehardloop gekom. Die man met die Okapi het weggehardloop en ek en Michaela het ook begin hardloop. Ek het in iemand se jaart gehardloop om iets te kry om ons mee te verdedig en dit is toe ek ’n klipharde slag hoor. Hulle het haar met die piksteel van agter af gekap.“

Dit is asof die gebeure voor sy geestesoog afspeel en Kealin se bors begin op en af deins en vir ’n rukkie hou hy sy kop vas terwyl die trane in sy oë blink. “Ek het haar daar op die sypaadjie sien lê en na haar gehardloop en haar in my arms vasgehou. Haar oë was nog oop en sy het nog vir my geknipoog. Daar was oral bloed.” Hy kyk na sy hande en dit is asof hy Michaela se bloed daarop sien.

“Ek het histeries begin skree en ons het die polisie en ambulans gebel. Toe die ambulans kom het sy nog ’n tydjie gelewe, maar toe is daar nie meer ’n hartklop nie. Alles is nog so onwerklik en ek kan nie glo sy is dood nie. Sy was so ’n vriendelike mens en het nie verdien om op dié manier te sterf nie. Niemand verdien om op só ’n manier te sterf nie”. Kealin is tydens die voorval ook van sy foon en beursie beroof. Die voorval het skaars 100 meter van Kealin se huis gebeur.

Kealin Michaels, Michaela se kêrel
Kealin Michaels, Michaela se kêrel

’n Antie in die straat som die somber atmosfeer op dié toneel in een sin op: “Dit is hartseer, nè? Om te dink een oomblik lewe jy nog en die volgende oomblik is jou bloedspoor op die sypaadjie al wat van jou oor is.” geen wrok Kaptein Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. “Sy is teen die kop geslaan toe sy omstreeks 02:40 saam met haar kêrel in Dywillistraat, Asla Park huis toe gestap het.”

Die polisie het aanvanklik drie verdagtes gearresteer, maar slegs een van die drie het op 14 Oktober in die Mosselbaai-landdroshof voorgekom vir die moord. Volgens Suzette, Michaela se antie, het die ander twee staatsgetuies gedraai omdat die verdagte – wat tans tereg staan op aanklagte van roof en moord – volgens hulle vir Michaela met die piksteel geslaan het.

Kuier was ook in die hof toe die verdagte Vusumzi Mafuduka (24) verskyn het. Die hofsaal was volgepak deur ondersteuners van die Booysen-familie. Die beskuldigde het nie aansoek gedoen om borgtog nie en die saak is uitgestel tot 30 Oktober. Buite die hof het een vrou kwaad opgemerk: “Hy beter binne bly, want hy verdien nie om buite te wees nie. Wie het hom die reg gegee om die meisiekind se lewe te neem? Hulle moet hom toesluit en die sleutel weggooi!”

Maar selfs teen Michaela se vermeende moordenaar koester antie Mary geen wrok nie. “Hy het gedoen wat hy gedoen het en sal vir die res van sy lewe daarmee moet saamleef. Hy moet bid dat God hom vergewe.” En dit is wanneer jy in antie Mary se hartseer oë kyk dat jy weereens besef hoe sinneloos Michaela se moord was. Maar antie Mary herinner ons ook hoeveel pyn en swaarkry ’n moederhart soms moet verduur, maar dat jy sterk kan staan – met die Here aan jou sy.

Meer oor:  Kuier  |  Ware Lewensdrama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.