Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Feestyd: Gaste of laste?
27 November 2019

Die feestyd is dié tyd van die jaar vir gehaltetyd saam met jou familie en vriende. En hoewel dit vir die meeste van ons lekker is om op te vang en net lekker te kuier met diegene wat ons lanklaas gesien het, kan dinge vinnig suur raak as jy voel mense maak misbruik van jou gasvryheid.

Só ken ons almal daardie gaste wat vra of hulle vir twee dae kan kom kuier, maar hulself drie weke later nog steeds lekker tuismaak. Sommige bring ook sommer ekstra gaste saam!

Maar hulle is nie die enigste oortreders nie, hier is ’n paar voorbeelde van lastige en onbedagsame gaste wat jou vakansie hel kan maak en ook raad vir hoe jy hulle kan hanteer.

Gaste wat sonder waarskuwing opdaag

Vir baie mense is ongenooide gaste ’n groot probleem – veral as hulle net aankuier sonder om iets by te dra. Eloise Josephs (43) van Stellenbosch sê niks irriteer haar meer as ongenooide gaste wat sak en pak by jou huis opdaag nie. “Die lewe is duur en ek het een niggie wat altyd onverwags met haar hond, baba en nanny vir ’n naweek wil kom kuier.

’n Ander neef se kinders het weer vir drie weke sonder ’n sent hier gekuier, maar as jy iets sê, is dit familieprobleme of word jy as die sturvy- en geldgat-niggie gelabel.”

Volgens Danielle Sampson, ’n fasiliteerder by ’n etiketskool in Johannesburg, hou die meeste mense daarvan om mense te ontvang in hul huis. Maar sy voeg by die besonderhede van die besoek moet beslis vooraf uitgesorteer word.

Só moet julle ooreenkom wanneer en vir hoe lank die besoek sal wees. En dis net goeie maniere om jou gasvrou voor die tyd in te lig as jy wil oorslaap. “As iemand hul deur tydens die vakansietyd vir jou oopmaak, al is dit vir ’n braai of kuier, probeer om hulle en hul spasie te respekteer.

Bel voor jy opdaag sodat mense daarvoor kan beplan, veral as jy daar wil slaap. Jy weet nie wat hul planne is nie en of hulle dalk ekstra matrasse en goed moet regkry nie. Jy wil nie druk op mense sit nie,” sê Danielle.

Volgens Danielle moet jy ook nie bang wees om vir familie en vriende te sê as jy hulle nie kan akkommodeer nie. As jy nie kuiergaste soek nie, raai Danielle mense aan om voor die tyd in hul WhatsApp-groepe te skimp dat hulle baie besig is en oor ’n sekere tydperk nie beskikbaar gaan wees nie. As gaste dan steeds onverwags opdaag, maak seker jy het ’n lys van gastehuise in die omgewing.

Gaste wat dink jou huis is ’n hotel

Estelle Nel (38) van Centurion in Gauteng vertel sy het al gaste gehad wat sonder ’n handdoek, tandepasta of ’n waslap kom kuier het. Hulle het ook verwag dat sy as gasvrou vir hulle kos moet bedien en dan gebruik hulle nog haar wasmasjien om al hul wasgoed te was voordat hulle terug huis toe gaan. Danielle sê wanneer jy iewers gaan kuier, moet jy altyd drie belangrike dinge onthou – goeie maniere, goeie gedrag en hoflikheid.

“Moet nooit ’n oorlas van jouself maak nie. Jy wil nooit moeite vir die gasvrou of -heer wees nie. Dit is net goeie maniere dat jy minstens een keer aanbied om met iets in die kombuis te help. Moet ook nie wag vir die huismense om jou bed op te maak nie. Dit is weereens goeie maniere om dit self te doen. Mense wat minder moeite is, word gewoonlik weer terugverwelkom as gaste. Wanneer jy moeite is, wil mense jou nie daar hê nie,” sê Danielle Sy raai die huismense aan om hul huisreëls op ’n bord teen die muur te skryf.

“As jy dit by jou ingang, in die kombuis of in die sitkamer sit, sal mense dit sien en hopelik daarby hou. Skryf daar ‘maak jou bed op, moenie met jou voete op die bank sit nie’ en alles wat vir jou belangrik is,” sê sy.

Gaste wat nie bydra nie

Maar nie alle gaste wat mense irriteer, is oorslaapgaste nie, soos Denver Cupido (55) van Blackheath in die Kaap jou sal vertel. Denver sê hy haat dit wanneer mense met een beer kom kuier, omdat hulle kamma nie lank gaan bly nie of daarna nog huis toe moet ry, maar dan word hulle dronk en onbeskof deur almal anders se wyn te drink.

Dieselfde geld vir mense wat met een stukkie hoender kom braai en dan almal se steak en tjops eet. “Daar is twee dinge wat ek haat. Die eerste ding is lastige drinkers. Daar is altyd daardie oom of antie wat te veel drink – of dit nou ’n braai of Krismis is. Hulle val rond, roep jou die heeltyd, praat net nonsens en raak dan nog opvlieënd ook. Hulle dink dit is hul huis en worry nie eens dat hulle niks bygedra het nie. Hulle is dieselfde mense wat ’n takeaway ook inpak.”

Cheryl Pam, ’n Kaapse sielkundige, sê hoewel jy nie jou gaste kan beheer nie, is daar wel maniere om jou reaksie te beheer. “As jy ongelukkig oor iets voel, is dit beter dat jy die persoon eenkant roep en aan hulle verduidelik dat jy ongemaklik voel met hul gedrag. Daar is ook niks verkeerd daarmee om vir gaste te vra dat mense eers elkeen een ding moet skep totdat almal iets gekry het nie. Jy kan ook elkeen se goed apart braai en terugsit in hul bak en dan besluit of jy later vir hulle van jou vleis wil gee,” sê sy. ”Jy kan ook vir almal ’n lysie maak, sodat almal iets bydra en gemaklik kan eet, drink en kuier.”

Gaste wat jou huis wil skoonmaak en baie praat

Angela Peters (27), ’n pasgetroude van George, sê vir haar is die baiepraters en selfaangestelde huisskoonmakers die ergste tipe gaste. Sy het byvoorbeeld anties wat altyd iets te sê het al kom hulle nou vir die naweek kuier of net na ’n partytjie toe. Later wil niemand meer na hulle luister nie en wanneer hulle klaar gepraat is, begin hulle jou huis skoonmaak. “Dit is baie beledigend as iemand jou huis skoonmaak of goed skuif. Dit beteken hulle dink jou huis is vuil. As jy nie my spasie respekteer nie, kan jy maar by jou eie huis bly,” sê sy.

Cheryl sê die laaste ding wat jy wil hê, is dat mense ongemaklik voel wanneer hulle by jou kom kuier. Maar dis belangrik dat hulle verstaan hulle is gaste. Hulle hoef nie daar te wees nie en as hulle jou ongemaklik laat voel, kan jy skimp dat jy so baie van jou huis hou en jy niks wil verander nie. “Natuurlik dink mense daar is niks fout met hul gedrag nie, maar moenie bang wees om vir hulle te sê wanneer iets jou begin pla nie. As jy te lank wag, begin dit aan jou krap en dit is wanneer dinge lelik raak, omdat almal se geduld min word,” sê sy. Danielle raai gaste aan om altyd ’n geskenk vir die huismense se moeite te gee. Geskenke soos wyn, konfyt en sjokolade is gewild. Volgens ons kenners hou mense van mense wat nie vir hulle moeite gee nie, goeie maniere het en nie bang is om iets by te dra nie. As jy by dié riglyne hou, sal jy heel moontlik enige tyd verwelkom word.

* Illustrasies: Ryan Carolisen

Meer oor:  Feestyd  |  Verhoudings  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.