Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Food trucks: Maak potte vol geld met kos
2 Aprl 2020


Duisende mense verdien elke dag hul brood en botter in die kosbedryf én dis ’n gewilde keuse om ’n besigheid van jou eie te begin. Maar hoe gemaak as jy ’n restaurant of ’n catering maatskappy van jou eie wil begin, maar jy het nie die kapitaal om ’n perseel of ruimte te huur nie?

’n Blink idee is om ’n voedselvragmotor of food truck, soos die meeste mense dit ken, te begin. Maar net omdat dit dalk ’n goedkoper opsie is om jou eie besigheid te begin, beteken dit nie dis noodwendig ’n makliker een nie. Elke besigheid kom met sy eie lys van voordele en nadele.

Jy kan besluit om elke naweek by ’n mark te gaan staan of elke dag buite ’n besige kantoorgebou. Dalk verkies jy om nie die onsekerheid van kliënte op straat te waag nie en eerder net by korporatiewe funksies of troues besigheid te doen.

Daar is nie ’n regte of verkeerde besluit nie, dit hang regtig af van jou besigheidsplan en persoonlike behoeftes. Maar dit kos steeds harde werk, opoffering en geld om ’n suksesvolle besigheid met ’n food truck te bestuur.

Reëls en regulasies

Christopher Payne en Kyle Miller, mede-eienaars Lotus Food Truck in Kaapstad, sal jou vertel ’n suksesvolle food truck-besigheid is nie kinderspeletjies nie. In lande soos Amerika, Kanada en die Verenigde Arabiese Emirate (Dubai) is daar ’n groot food truck-beweging wat al vir dekades gewild is. Daar is byvoorbeeld kookkompetisies en TV-programme vir die beste food trucks. Jy kan om elke hoek en draai een kry, maar dit is nog nie die geval in Suid-Afrika nie.

Volgens Kyle is daar ’n behoefte en mense is mal oor die food truck-beweging, maar die regering en wetgewing is nog nie heeltemal aan boord nie. “Kaapstad het die perfekte weer en atmosfeer vir food trucks, maar die regering en die plaaslike wetgewing laat nie toe dat ons enige plek parkeer soos oorsee nie,” sê hy.

“Jy moet altyd sukkel om ’n plekkie te kry waar jy kan staan of opsoek wees vir geleenthede waar jy vooraf kan bespreek om daar te wees.” Maar al help dit om vooraf te bespreek omdat jy dan verseker kliënte sal hê, moet jy dan geld aan ander betaal om daar te wees. Jy betaal, maar dit beteken nie jy gaan ’n wins maak nie.

Volgens hom lyk ’n food truck dalk op die oog af asof dit ’n beter finansiële keuse is, maar dit hang van baie dinge af. Volgens Kyle het jy baie kapitaal nodig as jy ’n goeie trok en suksesvolle foodtruck-besigheid wil hê. Aan die begin gaan dit jou duisende rande kos om ’n voertuig te koop of om die nodige toerusting in te sit, maar sodra jy jou mark kry, kan jy goed geld maak.

Kyle en Christopher het hul spaargeld gebruik om hul eerste klein trokkie te koop. Hulle het oorsee gaan toer en gesien hoe die trokke daar werk en besluit hulle wou iets in SA probeer. Aan die begin het hulle gedink dit gaan ’n maklike manier wees om geld te maak, maar het vinnig agtergekom daar is baie reëls en regulasies en dat dit nie so maklik is om genoeg borde kos te verkoop om jou onkoste te dek nie.

Hulle moes fyn beplan en klein begin toe hulle daagliks moes besluit hoeveel kos hulle gaan voorberei en hoeveel hulle sal moet verkoop. Daar moes ook baie navorsing gedoen word om te bepaal waar hulle elke week gaan staan. Hulle het ook agtergekom mense soek ’n maklike spyskaart wat nie te veel opsies het nie en kos wat hulle maklik met die hand kan eet.

Toe hulle drie jaar gelede begin het, was hulle net een van ses food trucks in Kaapstad en dit was al klaar moeilik om ’n sukses daarvan te maak. Vandag is dit nog moeiliker omdat daar nou meer as 60 in Kaapstad is.

“Dit verg baie harde werk en bemarking op sosiale media om seker te maak mense kies jou bo die kompetisie.” Deesdae kry jy trokke wat ’n gatsby, koffie, roomys, pizza en amper enigiets waarvoor jy of jou mense voor lus is, verkoop. Daar is iets vir almal op die mark en as dit nie tans op die mark beskikbaar is nie, sal iemand binnekort daaraan dink, sê Zadrianne Dicks, ’n verkoopsagent by Western Cape Trailers.

Volgens haar het die verkope van food trucks oor die afgelope vyf jaar toegeneem. Hulle verkoop deesdae maandeliks trokke, waar hulle voorheen elke jaar net een of twee verkoop het.

Zadrianne meen mense belê juis in food trucks omdat dit meer ekonomies is en vir hulle meer opsies gee. “Wanneer iemand ’n restaurant besit, is daar baie onkostes wat daarmee gepaard gaan. Jy moet huurgeld betaal, jou water en krag, jy moet baie meer werknemers aanstel en as daar ’n nuwe restaurant in die omgewing oopmaak wat kompetisie is, moet jy daar bly. Jy kan nie sommer besluit om jou kampie te skuif nie,” sê sy.

“Dit plaas baie druk op restaurant-eienaars en omdat ons ekonomie so sleg doen en almal swaar kry, ly die restaurantbedryf beslis. Dis een van die groot redes hoekom al hoe meer mense hul restaurantdeure sluit en in food trucks belê. As jou kliënte minder raak, kan jy besluit om by funksies jou kos te verkoop of om in ’n ander area te gaan staan.”

Hul topverkopers is die minibustaxi- en tuk-tuk food trucks wat reeds toegerus is. Dit begin vanaf R45 000 en kan ’n bietjie goedkoper wees as jy dit tweedehands koop. Sy voeg wel by dat mense net die tuk-tuk koop as hulle pizza, koffie of roomys wil verkoop, omdat jy nie daarin kan kook nie. ’n Medium bussie met spesiale toerusting vir jou besigheid en wat gemakliker is om in te kook, begin by R120 000 en kan tot R180 000 kos.

’n Groot volledige food truck sal jou R300 000 vir ’n demo-model uit die sak jaag, terwyl jy R450 000 vir ’n nuwe voertuig sal betaal. Western Cape Trailers bied finansiering aan, maar sê die meeste mense verkies om kontant te betaal of om deur hul persoonlike bank vir befondsing of lenings aansoek te doen.

Tristan Beebe (middel) van Moreish Eatery pose met van sy kliënte voor sy food truck.

Vind jou mark

Tristan Beebe, eienaar van Moreish Eatery, sê hy sou mense aanraai om te eers ’n food truck te huur, soos wat hulle gedoen het om te kyk of dit finansieel gaan werk, voordat hulle duisende op hul eie een spandeer het.

Tristan maak al vanaf die ouderdom van nege sy eie toebroodjies, omdat hy nie van sy ma se kos gehou het nie. Nou is dit sy beroemde briekaas-en-Italiaanse ham-broodjies wat sy salaris betaal. Hy moet minstens 800 toebroodjies of tacos teen R50 elk per maand verkoop om gemaklik te kan lewe en al sy onkostes te dek. Dit is hoekom hy korporatiewe funksies en troues verkies.

“Ek het die perfekte happies vir ’n laat-aand-snack by ’n troue of middagete by ’n skoolsportdag of korporatiewe funksie. Ek kan my begroting beter beplan as ek weet hoeveel geld ek vir die maand gaan inkry en hoeveel ek nodig het om my onkoste te dek.”

Sodra hy sy geld vir die maand gemaak het, gaan parkeer hy by markte oor die naweek vir ekstra geld. Hy laat weet ook vir mense op sy sosiale webblaaie waar hulle hom kan kry.

“Goeie bemarking sal jou besigheid maak of breek. As mense nie weet waar hulle jou kan kry nie, sal jy nooit jou aantal verkope vir die maand kan maak nie. Jy moet ook altyd goeie diens lewer en ’n atmosfeer rondom jou food truck skep, want mense sal dan vir ander sê om jou besigheid te besoek of om jou vir geleent-hede te bespreek.”

Meer oor:  Kuier  |  Entrepreneurs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.