Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Gebroke en leeg
5 September 2018

Toe Dexter en Pearly de Silver 16 jaar gelede uitvind hulle is swanger – en boonop met ’n tweeling, was hulle in ekstase. Hulle het die twee Keanu en Kyle gedoop en geweet hul lewens sou nooit weer dieselfde wees nie. Maar niks het hulle voorberei op die groot hartseer wat hulle ’n jaar gelede sou tref nie.

Keanu (16) en Kyle (16) was hierdie ouerpaar van Constantia Kloof in Johannesburg se hele lewe. Hulle het alles gedoen om vir hul tweeling (ook hul enigste kinders) die beste moontlike lewe en toekoms te gee.

As tweeling het Keanu en Kyle ’n onbreekbare band gedeel en avonture saam-saam beleef en saam-saam memories gemaak. Hulle was ook hul pa se beste vriende en as gesin was hulle baie betrokke in mekaar se lewe.

Die De Silvers se sprokiesgesinslewe is egter op Vrydag 25 Augustus 2017 op die wreedaardigste wyse denkbaar na bewering deur ’n dronk bestuurder uitmekaar geskeur...

Keanu en Kyle was daardie dag saam met vriende en húl ouers uit. By hul ouerhuis het Dexter en Pearly geduldig gewag vir hul seuns se terugkeer.

Dexter het vir Kyle gebel wat gesê het hulle is net tien minute weg. Maar ná tien minute het Dexter die tweeling probeer bel, maar altwee se fone was af. En dis toe dat Dexter in sy motor klim om te kyk of hy hulle nie langs die pad kry nie.

Al wat Dexter egter gekry het, was ’n erge ongeluk.

ONGELUK

Dexter vertel hy het net ligte, ambulanse en karre gesien toe hy by ’n verkeerslig op Ontdekkersweg (’n groot pad naby hul huis) kom. “Ek het uitgespring (by die ongelukstoneel) en gesê ek is op soek na my kinders. Die eerste ou (’n noodpersoneellid) wat na my toe gekom het, het gevra, ‘is jou van De Silver’?

“Toe tref dit my iets groot is fout. Ek het gehoop my kinders het net seergekry. Dit was deurmekaar. Die ou het my eenkant toe geroep. ‘Ons is jammer. Jou seun het dit nie gemaak nie.’

“Ek wou weet waar is my ander seun. Volgens die noodpersoneellid was hulle besig om aan twee seuns te werk.”

Gebaseer op die een seun se klere, horlosie en tekkies, kon Dexter bepaal watter een van sy tweelingseuns oorlede is. Dit was Kyle, die oudste van die tweeling.

Die ongeluk het al meer as ’n jaar gelede gebeur, maar Dexter sal daardie oomblik nooit ooit vergeet nie en hy sal nooit daaroor kan praat sonder om die hartverskeurende pyn te herleef en opnuut elke emosie te vóél nie.

“Ek het vir hulle gesê ek wil my vrou daar hê. Ek het hulle gesmeek, maar hulle wou nie, want dis nie iets wat hulle wou hê sy moet sien nie.

“Tot in daardie stadium het ek nog hoop gehad vir my jongste, Keanu, maar toe sê hulle vir my, ‘Ons is jammer, maar altwee jou seuns het dit nie gemaak nie.’”

Dexter se lewe het daardie aand op die ongelukstoneel in duie gestort. Want sy twee seuns, wat saam gebore is, het ook saam gesterf.

Twee van Keanu en Kyle se vriende,
Liam Ganas (15) en Maleehah Malic (14), was ook in die ongeluk betrokke en het later in die Florida-hospitaal gesterf. Maleehah se pa, Ismael, het die wit H1 Hyundai-bussie bestuur waarin hulle gery het. Hy, sy vrou, Shaheeda, twee van hul ander dogters en ’n familiekind was ook in die voertuig. Ismael het Ontdekkersweg oorgesteek toe ’n Volkswagen-kombi ’n rooi verkeerslig verontagsaam en in hulle vasjaag. Hulle is aan die regterkant getref. Die bestuurder van die Volkswagen-kombi was na bewering onder die invloed van alkohol.

HEEL LINKS: Die hout­kissies met die tweeling se as het ’n ereplek in hul huis se sitkamer. MIDDEL: Liam Ganas (15) en Maleehah Malic (14) (regs) het ook in die ongeluk gesterf.

MA IN STUKKE

Intussen moes die verskriklike nuus nog aan Pearly gebreek word, wat aan die slaap geraak het terwyl sy by die huis in spanning gewag het vir haar seuns se terugkeer. Dit was ook die eerste keer dat die seuns uit was sonder dat hul ouers hulle vergesel het. Sy het nie verwag dat wanneer sy wakker word, sy haarself in ’n nagmerrie sou bevind nie.

Terwyl Dexter op die ongelukstoneel was saam met hul seuns se lewelose liggame, het Pearly wakker geword toe iemand hul huis se deurklokkie herhaaldelik gelui het. Aangesien noodpersoneel nie wou hê Dexter moet die toneel verlaat nie, het hy omstanders gevra om sy vrou in te lig van wat aan die gebeur was.

“Toe ek die nuus ontvang, het ek van skok kaalvoet in die pad af gehardloop. Ek het geskreeu en gehuil met die hoop dat dit nie die waarheid is nie; dat dit ’n fout is,” vertel Pearly.

Maar toe moes ook sý die verskriklike waarheid in die gesig staar – dat Keanu en Kyle werklik dood is; dat hulle nooit weer by die voordeur gaan instap nie; dat sy en Dexter hulle nooit weer langs die atletiekveld sou kon gaan aanmoedig wanneer hulle medaljes loshardloop nie.

Kersfees 2017 en Nuwejaarsdag 2018 was van die eerste groot familiegeleenthede toe die besef dat hul kinders nie meer daar is nie, vir Dexter en Pearly kliphard tref. “Ons het altyd saam met ons familie Kersfees geëet en hierdie Nuwejaarsdag was die ergste wat ons in ons hele lewe deurgemaak het. Dit is nou hoe ons lewe elke jaar, elke dag, elke uur en elke minuut gaan wees, want jy besef jou kinders is nie meer daar nie. My kinders was my alles gewees,” vertel Pearly hartseer.

Die egpaar wou ook vroeër vanjaar hul testament laat hersien, maar kon nie omdat hulle alles aan hul seuns bemaak het. “Ek het nie ’n toekoms nie. Alles wat ons voor gewerk en opgebou het, was vir ons kinders. Ons het nie net ons kinders verloor nie, ons het onse kleinkinders ook verloor,” voeg Pearly by.

Al wat hulle nou oorhet van hul tweeling, is soete herinneringe en twee houtkissies op die TV-kas in hul sitkamer met die seuns se as in.

Dis hartverskeurend om twee mense in soveel pyn te sien en boonop moes hulle nog staande bly vir die hofsaak wat ná die ongeluk gevolg het. Dit het die De Silvers hewig ontstel toe nader besonderhede oor die ongeluk bekend word en die bewering dat die ander bestuurder boonop dronk was, aan die lig kom.

“Dit is baie hartseer dat die outjie wat die ongeluk gemaak het, baie lewens verwoes het, want hy het mý lewe permanent verwoes,” sê Pearly.

Ek het geskreeu en gehuil met die hoop dat dit nie die waarheid is nie; dat dit 'n fout is. - Pearly de Silver
Pearly de Silver

Thabo Modikoane (24) was die bestuurder van die kombi. Hy en nog twee passasiers (in die kombi) was ook in die ongeluk beseer. Thabo het in Julie vanjaar in die Roodepoort-landdroshof skuldig gepleit op vier aanklagte van strafbare manslag. Hy het skuld ontken op die aanklag van dronkbestuur en roekelose en nalatige bestuur. In sy pleitverduideliking het hy erken dat hy die bestuurder van die kombi was wat die ongeluk veroorsaak het. Hy beweer iemand het hom agtervolg en dít die rede was waarom hy oor die rooi verkeerslig gery het. Hy is tans uit op waarskuwing. Die saak is tot 27 September uitgestel.

In die hof het Pearly aan ’n sneesdoekie geklou terwyl Thabo se advokaat beskryf het watter beserings haar kinders opgedoen het. Keanu het veelvuldige beserings gehad en is op slag dood terwyl Kyle trauma van die kop, bors en bekkenbeen opgedoen het. Liam en Maleehah het soortgelyke beserings gehad. Pearly moes egter alleen hierdeur sit omdat haar man ’n paar dae voor Thabo se hofverskyning in die hospitaal opgeneem is.

LINKS: Dexter en Pearly, die tweeling se ma, is gebroke en sukkel om die stukke van hul lewe op te tel.

STEEDS STUKKEND

Iemand wat die ongeluk oor en oor beleef en self sukkel om groot verlies te verwerk, is Ismael, Maleehah se pa. Dis duidelik dat dit nog baie moeilik vir hom is om oor die ongeluk te praat. Voor hy begin praat, vee hy liggies oor sy gesig.

“In die oggend, in die aand, speel die ongelukstoneel daagliks by my af; die impak van die stamp en die kinders wat angsbevange skreeu; die hospitaal en hoe die kinders een ná die ander gesterf het,” begin Ismael emosioneel vertel.

Hy onthou hy het die verkeerslig oorgesteek toe hy ’n groot slag hoor. “Die volgende oomblik het ons voertuig ’n paar keer in die rondte gedraai voordat dit aan die ander kant van die straat tot stilstand gekom het.”

Toe Ismael bykom, het hy uitgeklim en gesien die tweeling en Liam is uit die bussie geslinger. Keanu het in die linkerkant se baan gelê terwyl sy broer en Liam langs mekaar in die regterbaan gelê het. “Ek het vir my vrou geskreeu dat daar fout is met ons dogter (Maleehah). Haar oë het agtertoe gerol en sy het geen beheer oor haar nek gehad nie. Die ander kinders wat saam met ons in die voertuig was, het geskreeu en gesoebat dat ons die seuns moet help. Die paramedici het tot ons redding gekom,” vertel Ismael. Die volgende oomblik skiet sy oë vol trane toe hy vertel dat daar niks was wat hy vir Kyle kon doen nie.

Soveel mense se lewens is in ’n oogwink verwoes, maar ’n klein troos vir Ismael is dat hy darem nog twee ander kinders het. Dexter en Pearly is nou kinderloos. Hul toekoms is nou dolleeg, want die redes hoekom hulle elke dag opgestaan het, is weg en daar kan nie plaasvervangers wees nie.

By die De Silver-woning speel ’n radio in die agtergrond. Dit het nou die oorverdowende geluid geword sedert hul kinders se stemme stil geword het.

“Ons los die radio aan. Ons sit die TV aan. Die honde (se ge)blaf... Daai leemte (wat Keanu en Kyle se dood gelaat het) is iets wat ek nie vir jou kan beskryf nie. So ’n groot leemte is nie iets wat jy kan vul nie,” sê Pearly.

Hul TV-kas is vol foto’s van die tweeling, kerse met die datum toe hulle by die kerk aangeneem is en twee houtkissies met die seuns se as.

Volgens Dexter het hulle vir sy vrou se onthalwe besluit om die kinders te veras en hul as in die huis te hou.

“Ek het geweet my vrou sou elke dag na hul graf wou gaan. ’n Paar jaar gelede is my skoonma, wat na ons tweeling gekyk het, oorlede en Pearly was elke dag by haar graf.”

In Mei vanjaar het die dood hulle weer getref. “My pa is van hartseer (oor die tweeling se dood) oorlede. Sy hart het net gaan staan,” sê Pearly.

Dexter sê hulle is nou voortdurend in ’n stryd om te probeer verstaan wat met hulle gebeur het. “Ek en my vrou probeer dit vir mekaar beskryf. Dit is asof die organe uit jou liggaam geruk word. Dit is die seerste seer nog ooit. My seuns was nie net my kinders nie. Hulle was my beste vriende. Hulle was my alles. Hulle was my lewe. Ek sê aldag vir mense ek bestaan deesdae net. Ek lewe nie meer nie.”

HOOFFOTO: Dexter de Silver, is verpletter ná die dood van sy 16-jarige tweelingseuns.

GROOT LEEMTE BLY

In die kinders se kamers is alles nog op hul plek soos hulle dit gelos het voordat hulle op die uitstappie gegaan het daardie Vrydag van 25 Augustus 2017. Pearly wys met trots al Keanu se medaljes wat hy oor die jare vir atletiek ontvang het.

Hy het haar belowe dat hy aan die 2020 Olimpiese Spele sou deelneem. Keanu het die 100 m, 200 m en 400 m gedoen. Sy beste tyd vir die 100 m was 10,38 sekondes.

Pearly het al ’n atletiekbyeenkoms bygewoon net om die atlete se tye te vergelyk. Haar seuns het tot op die atletiekbaan na mekaar gekyk.

Kyle was ’n veelsydige sportman, vertel sy ouers. “Hy het baie goed rugby gespeel. Elke jaar het hy ook die prys vir beste kolwer (in krieket) gekry. Kyle het long jump gedoen en die rekord gebreek,” vertel Pearly.

Die De Silvers sê hul seuns was die grootste seëning wat hulle nog ontvang het.

Vir ’n oomblik heers daar stilte toe Dexter weer praat oor die dag van die ongeluk. “Hulle kom daai oggend. Dit is nou 16 jaar oue laaities. Hulle sê vir my, ‘Ma, Dé (hulle het hul pa só genoem), kan jy net gou ons hare borsel? Ons wil net seker maak alles is on point’. Dit is die tipe kinders wat ons gehad het. Ons was so deel van mekaar. Dit wat met ons gebeur het, breek ons in miljoene stukke. Alles wat ek gedoen het, was vir my seuns,” sê Dexter.

Liam, wat ook in die ongeluk gesterf het, was soos een van hul eie kinders, sê Dexter en Pearly.

Die kinders se dood het nie net ’n leemte in hul lewens gelaat nie, maar ook in hul groot groep vriende s’n.

Die tweeling se atletiek-afrigter, Maryna van Niekerk, het in ’n WhatsApp-boodskap aan die ouers geskryf: “I still cannot accept this. We will have to live with this forever.” Volgens die ouers het sowat twee duisend mense die tweeling se begrafnis bygewoon.

Volgens die egpaar herleef hulle elke Vrydagaand hul kinders se dood. “Ek kyk konstant die tyd dan sê ek dit is die tyd wat ek laas met Kyle gepraat het. My kinders het nog dié tyd gelewe. My kinders is dié tyd dood,” sê Pearly. Hulle woon Vrydae geen sosiale byeenkomste by nie en skakel ook hul huis se deurklokkie af om besoekers te vermy.

Hulle het ook berading ontvang en het selfs medikasie geneem om te cope, maar meen daar is niks wat hul pyn sal kan wegneem nie. “Ons lê nagte wakker. Slaap nie vir dae nie, want jy moet opstaan en dan moet jy besef hulle is nie hier nie. It’s a reality.”

Pearly se moederhart is in stukke. “Ek haat hom (bestuurder van die kombi). Ek kan hom nie vergewe nie.” Hoewel die ouers nie gedagvaar is om in die hofsaak te getuig nie, hoop hulle om tydens die vonnisoplegging die geleentheid te kry om vir die beskuldigde te sê watter impak sy gedrag op hul lewens gehad het.

Al sal geregtigheid dalk geskied, sal dit nooit ’n troosprys wees vir die leemte wat Dexter en Pearly elke dag ervaar en die realiteit dat hulle nou kinderloos is nie.

*Euline Reid is ’n regisseur vir Fokus op SABC2

Wat sê jy?
Sê vir ons wat jy dink van die storie. Stuur 'n WhatsApp na 0607840589, gevolg deur jou mening.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.