Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Gedra jou by die werk
22 Januarie 2020


Ons het al almal by die kantoorketel gekom en gesien dis leeg of probeer werk terwyl jou kollega langs jou kliphard oor die foon met haar skoonma stry of iemand vertel wat gisteraand by ’n partytjie gebeur het. Dan praat ’n mens nie eens van die poepers en sangers nie! Aangesien die meeste mense die groot- ste deel van hul dag by hul werkplek deurbring, is die hoop dat almal in vrede sal saamwerk en mekaar se spasie sal respekteer. Daarom is dit raadsaam dat jy en jou kollegas dit eens is oor wat aanvaarbare gedrag is en wat nie.

Almal het hul eie gewoontes en manier van dinge doen. Só is dit vir sommige tweede natuur om die koffie en suiker van die tafel af te vee of nie hardop te sing wanneer jy jou oorfone in het nie. Maar nie almal maak só nie en of hulle dit nou aspris óf onbewustelik doen, kan dit dinge vir hul kollegas baie onaangenaam maak.

Odile Badenhorst, kommunikasiebestuurder by Career Junction wat poste aanlyn adverteer, sê dit is belangrik om hoflik teenoor jou kollegas te wees en bewus te wees van hul moontlike pynpunte (irritasies). Career Junction het onlangs ’n opname gedoen wat die kantooretiket in Suid-Afrika ondersoek.

Byna 2 000 mense het aan die opname deelgeneem en dit het duidelik gewys persoonlike spasie en privaatheid is baie belangrik vir Suid-Afrikaanse werkers. “Meer as twee-derdes van die deelnemers het erken dat hulle nie altyd by die werk kan konsentreer nie, met 60% wat voel dat hulle geen plek het om privaat te werk sonder afleidings nie,” sê sy.

Toe deelnemers gevra is oor die soort kantoorruimte wat hulle verkies, het 21% van die respondente ’n oopplan-kantoor gekies, terwyl meer as 55% afgesonderde ruimtes verkies het en slegs 20% van die huis af wou werk. “Sowat die helfte van die deelnemers het gesê hulle gebruik oorfone by die werk en lys goed soos onderbrekings en agtergrondgeluide as hul grootste pynpunte,” sê Odile.

Eindelose irritasies

Volgens die opname word harde praters, mense wat ander se kos, vurke of lepels vat sonder om te vra en mense wat ander se spasie oorvat, gelys as dinge wat mense die meeste irriteer. Lyné Simmers (27), ’n rekenmeester van Caledon in die Wes-Kaap, is een van daardie mense wat nie onnodige onderbrekings kan hanteer nie en sê dit is een van die dinge wat haar die meeste irriteer.

“Ek haat dit wanneer mense my onderbreek terwyl ek met ’n ander kollega oor werkverwante dinge gesels en dan voel asof hulle hul mening oor die situasie kan gee. Ek het nie daarvoor gevra nie en dit is nie jou plek nie,” sê sy. Op haar beurt sê Lungi Tswanya (34), ’n bemarkingsassistent van Kuilsrivier in die noordelike voorstede van Kaapstad, sy kan dit nie verdra wanneer mense kliphard na musiek deur oorfone luister en dan boonop nog saamsing nie.

Ek glo daar is dinge soos die reuk van voete, eiers en vars groente wat eerder by jou huis moet bly.

Nicole Chalkley, ’n projekbestuurder van Kaapstad, stem saam en sê daar is niks erger as mense wat jou werkvloei onderbreek nie. Mense wat kliphard op die foon praat terwyl ander probeer werk, is iets wat haar sommer baie omkrap. “As jy persoonlike oproepe wil maak, kan jy eerder langs my kom sit en vir my die hele storie vertel. Ek is bis en sal wil luister, maar as jy nie jou gesprek met almal wil deel nie, moet jy iewers anders gaan sit waar jy nie vir almal gaan pla nie,” sê sy.

’n Ander ding wat haar grensloos irriteer, is mense wat nie vars ruik nie. “Jy kan nie werk toe kom as jy nie vars ruik nie. Jy kan nie. Dit mag nie toegelaat word nie. ’n Ander ding wat my irriteer, is mense wat om jou hang as jy met ander mense gesels. Moenie net rondstaan nie. Dit is creepy,” meen sy. Op sy beurt sê Ciaren Fritz (28), ’n verkoopsagent van Kaapstad, dit is vir hom die ergste wanneer mense kaalvoet op kantoor rondloop. Hy voel dit is nie reg om in ’n professionele omgewing sonder skoene te loop nie.

“Jy is nie by die huis nie. Ek glo daar is dinge soos die reuk van voete en sekere kosse soos eiers en vars groente wat gemaak word, wat eerder by jou huis moet bly.” Samantha Arnold (44), ’n produksiebestuurder van Kaapstad, sê dieselfde geld vir mense wat dink hulle kan net poep en onbeskof wees.

“Oor probleme met etiket in die werk-plek kan ek ’n boek skryf. Ons sit met mense wat slaap, snork, poep en nies en dan die hele kantoor met kieme spray. Ons sit in ’n open plan office, so dis nogal sleg as mense nie respek het nie,” sê sy.

“Jy kry ook die harde praters. Hulle consider niemand nie, maar expect jy moet hulle consider. Dan is dit sommer personal calls op die werk se phone. My laaste probleem is met mense wat met hul moods van die huis af kom, dan moet jy op jou tone loop as dit lyk asof hulle issues het, maar dit is mos nie reg nie. Dit is almal se space en ons moet almal gemaklik voel.”

Laat dit só end kry

Danielle Simpson (27), ’n arbeidsterapeut van Johannesburg, sê mense wat ’n berg op hul lessenaar met hul skottelgoed bou, is van die dinge wat haar die meeste pla, veral as die ou kos in die yskas of op die lessenaar miere lok. “Dit is erg wanneer mense nie hul vuil borde en kos weggooi nie. Dit kan jou naar maak en dit is nie regverdig teenoor die res van ons nie. Dit is ook baie ongesond. Dit maak my ook naar wanneer ek my skottelgoed gaan uitwas en ou kos en goed binne die wasbak kry.

Sies, man,” sê sy. “Ons het nou ’n reël gemaak dat wanneer iemand iets doen soos vuil goed los, hard praat of ’n nat lepel in die suiker los, kry jy ’n boete. Die boete is iets soet vir die kantoor. Ons eet baie deesdae.” Leone Fouche, ’n HR bestuurder by Media24, sê sy het al klagtes ontvang wat etiket betref en verwys mense gewoonlik na hul lynbestuurder toe.

“ ’n Vuil toilet of mense wat die toilet se deksel toe los (omdat daar ’n nare verrassing wag) is ’n groot probleem vir mense. Hulle hou nie regtig van ’n surprise nie. Die reuk van gekookte eier of popcorn is ook dinge wat mense irriteer,” sê sy. “Elke kantoor is anders en ons raai elke departement aan om hul eie reëls te maak wat vir hulle kan werk. Sommige is baie streng en ander gee nie regtig om nie. As iemand by ons kom kla, verwys ons jou terug sodat julle as span na die kwessie kan kyk.”

Meer oor:  Werk  |  Kuier  |  Raad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.