Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Gekskeerder Solomon Cupido hou van grappies
22 Augustus 2018

Solomon Cupido is op die oomblik in nie minder as twee bekende sitkoms op die kassie nie, maar dit was so amper-amper of hy het nooit ’n akteur geword nie. Op hoërskool wou ’n skoolhoof aanvanklik niks van hom weet nie, en vandag? Wel, die res is geskiedenis.

Dié 32-jarige Paarliet laat die tonge klap met sy rolle in die kykNET-sitkoms Mense Mense en Die Kasteel. Hy het ook al rolle vertolk in minstens 20 Afrikaanse flieks, waaronder Karate Kallie en Bakgat. Sy nuutste fliek, Draadloos, tref vroeg volgende jaar die grootskerms waarin hy teenoor die ikoniese Shaleen Surtie-Richards speel.

“Soos baie ander akteurs het ek maar in die kerk begin toneelspeel,” sê Solomon, wat die afgelope tien jaar in Johannesburg woon. “Ek dink ek was Josef in die Sondagskool se Kersvertoning. Ek het daarna net my eie ding gedoen wat mense laat lag het. Dís waar die gogga my gebyt het; om mense te laat lag.”

Solomon het altyd ’n glimlag op sy gesig en hy is passievol oor Afrikaanse komedie. Hy was mos immers die hoofpoetsbakker in beide die Ek joke net-flieks. Vandag nog as die Solomon-kinders hul ma, Frances Groenewald, se huis oorvat, lê almal van die lag.

Belangrikste rol

Solomon, die tweeling, Yael en Yoel, Yadah en sy vrou, Wendy.

Hy is die jongste van vyf kinders en dit was kleintyd, in die dae toe VHS-kassette nog die in-ding was, sy plig om flieks te rewind tot by die snaaksste oomblikke in komedies en aksieflieks.

“En ná die tyd kon ons almal vir ure sit en lag, en demonstreer hoe die een karakter dít gesê het en só geskop het . . . Ons kyk nou nog saam movies en lag wanneer ons saam is. Dis vir my lekker om mense te sien lag.”

Ten spyte van sy wegholsukses in die Afrikaanse TV-bedryf is Solomon die meeste trots op sy rolle as man vir sy aktrise-vrou, Wendy (31), en pa van hul kinders, Yadah (3) en die drie maande oue tweeling, Yael en Yoel. Solomon en Wendy is al amper ses jaar getroud.

“Sy is dikwels die rede hoekom ek so baie rolle kry, want sy gee my soveel tips. Sy’s ook die een met wie ek my woorde oefen as ek in ’n fliek of TV-reeks speel.”

Hoewel Wendy deesdae in finansies werk, beskryf Solomon haar as die beste aktrise wat hy ken. Sy is ’n boorling van Montagu in die Wes-Kaap en hulle het saam drama geswot by die Tshwane Universiteit van Tegnologie in Pretoria. “Ek sê altyd pa-wees is my gunstelingrol. Ek is so lief vir my vrou en kinders en wil als in my vermoë doen om altyd daar te wees vir hulle. My vrou het al soveel opofferings vir ons gemaak. Ons het al sáám moeilike tye oorwin, soos toe ons eerste kind op drie maande in ’n miskraam dood is. Ek het nog nooit so baie gehuil oor iemand wat ek nog nooit ontmoet het nie,” vertel Solomon.

Wil die beste pa wees

Respek is vir hom ’n groot ding, want hy glo dié wat ander respekteer, sal beloon word. “Ek het myself belowe ek sal nooit aan my vrou en kinders doen wat my pa aan my ma gedoen het nie. (Sy pa is weg toe Solomon sewe jaar oud was.) Ek is so lief vir my kinders en wil alles in my vermoë doen om altyd daar te wees vir hulle.” Net soveel as wat hy die land deur sy TV-rolle kan laat skaterlag, ken hy van seerkry. Hy haal veral sy hoed af vir sy ma, Frances, wat op ’n stadium vyf kinders alleen grootgemaak het.

“Sy het gesê ons kan soema vir haar Mammie en Daddy sê. Sy het begin as ’n skoonmaker en omdat sy so goed Afrikaans praat, het die maatskappy haar destyds na die skakelbord geskuif. Daarna het sy haarself opgewerk as sakevrou wat in ’n stadium haar eie skoonmaakbesigheid besit het. Sy het nog sakebelange, maar vat dit nou rustiger omdat sy al amper 70 is.” Dis juis by sy ma wat Solomon sy liefde vir die Here aangeleer het.

Trouens, hy wonder of hy nie dalk as predikant sou opgeëindig het as die toneelgogga nie gebyt het nie. “Ek is lief vir God en ek weet wie ek is. Die kerk het my die eerste geleentheid gegee om my passie uit te leef. Ek was in die Sondagskool en ook ’n jeugleier. My ma sê altyd ek was al nege maande voor my geboorte in die kerk.”

Solomon se broer Freddie (45) en suster Christiline (40) is vandag albei pastore, terwyl sy ander broers, Andrew (44) en Francois (33), onderskeidelik ’n brandweerman en ’n rekenmeester is. “Ek sê altyd ek kan by hulle geld leen, want hulle almal het regte jobs.”

Dit was so hittete of Solomon het nie in die akteurswêreld beland nie. Hy het in die helfte van sy graad 11-jaar oorgeskuif na New Orleans Sekondêre Skool in die Paarl omdat hulle drama as skoolvak aangebied het. Om toelating tot die skool te kry, moes hy ’n prosastuk en gedig voorberei vir die dramajuffrou, Celeste Loriston. Dit was ’n nare ondervinding om die minste te sê.

“Dit was net ek, ons juffrou en my ma in die dramaklas. Ek’t die gedig heeltemal opgemors, maar sy (Celeste) het my nogtans ’n thumbs-up gegee, want sy’t in my potensiaal geglo. Sy’t gesê ek sal moet harder werk, want die ander kinders in die klas het al sedert graad 7 drama as skoolvak.”

Die skoolhoof wou hom egter nie aanvaar nie, want dit was ongehoord vir ’n leerder om so laat in sy hoërskoolloopbaan van skole te verander. “Hy’t geglo ek was ’n stout seun van Paarl Boys’ High (sy vorige skool) wat net New Orleans wou kom omkrap. Toe ons daar wegstap, het die skool se rugbyafrigter my in die parkeerterrein raakgeskien. Hy’t ook met die skoolhoof gaan praat en die volgende dag was ek in die klasbanke én ek het ook vir die skool ’n rugby-game gespeel.”

Uitblinker

Solomon het reeds vroeg in sy lewe bekendheid geproe. Selfs in sy skooldae was hy baie gewild omdat hy op die sportveld, verhoog en in die kerk uitgeblink het. In 2008, direk ná hy sy studies voltooi het, het hy sy eerste fliekrol losgeslaan in Karate Kallie, hoewel hy al in matriek ’n klein rol as kelner in Egoli: Plek van Goud gekry het. Daarna het baie kinderteaterproduksies en agter-die-skerms werk by bekende flieks soos Pad na jou hart en Ballade vir ’n enkeling gevolg.

Crystal-Donna Roberts, Zane Meas en Solomon in Mense Mense.

Maar hoewel hy vandag teenoor bekendes soos sy oudklasmaat Crystal-Donna Roberts en ook Bobby van Jaarsveld speel, is hy nog so plat op die aarde soos ’n Minora blade. Al wat hy wil doen, is om veral jong mense aan te moedig om hul drome te volg.

“Ek wil hulle laat verstaan dat jou omstandighede nie jou uitkoms bepaal nie. Ek sal hulle graag wil help om vorentoe te beweeg en om anders oor hul lewens te dink. Ek probeer om altyd die beste in ’n slegte situasie te sien; om ’n oplossing te vind eerder as om weg te stap.”

Die akteurslewe het hom geleer om te luister en nie bloot net sy mening oor dinge te gee nie. “Soms hoor mense nie wat die ander persoon sê nie, want jy wil net sê en doen wat jy dink reg is. Maar acting het my geleer om te luister . . .”

Hy wil hê opkomende akteurs moet verstaan dat die TV-bedryf nie altyd maanskyn en rose is nie. “Daar is baie kere wat jy sonder werk sit, so jy moet ’n baie goeie support structure hê. Kry ’n goeie mentor. Ek het vier manne in my lewe wie ek gereeld bel of gaan kuier as dinge swaar gaan in my loopbaan en persoonlike lewe.”

Maak dus seker jy het ’n liefde vir jou werk, sê Solomon en skerts dan verder: “Don’t do this for money and fame. Daar is fame, maar nie altyd money nie. En omsingel jou met die regte mense in die bedryf. Kry ’n goeie agent en trou met iemand wat baie geld het.”

Meer oor:  Kuier  |  Vermaak  |  Akteur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.