Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Geld vir studente: Doktor ruk NSFAS reg
19 Februarie 2020


Toe die nasionale finansiële hulp-skema vir studente (NSFAS) twee jaar gelede op breekpunt was en die land se universiteitstudente kampusse in rep en roer gehad het met een betoging ná die ander, was daar chaos. Niemand het gedink dié instansie, wat veronderstel is om die armstes onder die armes ’n kans op ’n toekoms te gee, sal gered kan word nie, maar dr. Randall Carolissen (50) het die uitdaging aanvaar.

Hy het kans gesien daarvoor al het sommige mense gedink dit sal sy ondergang beteken, want dié boorling van Ravensmead in die Kaap sou self nooit kon gaan studeer het as dit nie vir ’n staatsbeurs was nie. Randall, wat deesdae sy besige skedule tussen sy werk in Kaapstad en sy familiehuis in Johannesburg verdeel, het op 20 met ’n staatsbeurs sy BSc-graad aan Universiteit Stellenbosch verwerf en daarna as ’n bedryfsingenieur in Port Elizabeth gaan werk.

Dit het hom in staat gestel om sy broers en susters te help om ook hul studies te voltooi. “Ons was vyf kinders wat in ’n enkelouerhuis grootgeword het. My ma het in ’n fabriek gewerk en sou net nie die geld gehad het om vir ons onderrig te betaal nie. Ek kan eerlik sê my enigste opsie sou gewees het om te gaan werk as daar nie destyds beurse beskikbaar was nie,” sê hy.

En dit is juis omdat hy eerstehands weet hoe belangrik ’n beursskema soos NSFAS is en watter verskil dit in ’n kind se lewe en ook in dié van hul gesinne en gemeenskap kan maak, dat hy die werk aanvaar het. Want wanneer dit by die toekoms van Suid-Afrika kom, glo hy sterk die volgende generasie van studente en werkende mense sal die land vorentoe neem.

Ek is vasbeslote om NSFAS weer op die been te bring en dit weer ’n sukses te maak, maar dit kom met baie tyd waar ek weg van my familie is.

Randall was die uitvoerende hoof van navorsing by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SARS) toe hy in Augustus 2018 ’n oproep van Naledi Pandor, toe minister van hoër onderwys en opleiding, kry met die versoek om as administrateur van NSFAS aan boord te kom. Hy het eers gedink sy maak ’n grap. In daardie stadium was die beursskema op die rand van ineenstorting. Soos die meeste mense het hy die nuusberigte en skokstories van die NSFAS-situasie gelees en hy was nie seker of hy daarvoor kans gesien het nie.

Hy het ook nie besef sy besluit sou nie net ’n loopbaanskuif behels nie, maar ook beteken dat hy van sy tyd saam met sy familie sou moes opoffer. “Al het ek eers tyd gevat om daaroor te dink en te besluit, het ek geweet ek sou nie nee kon sê nie. Ek dink nie mense besef regtig die impak en verskil wat iets soos ’n NSFAS-beurs maak op ’n gemeenskap en ons land wanneer dit reg bestuur word nie. Opvoeding was nog altyd belangrik, maar dit is nou belangriker as ooit en dit is hoe ons armoede, geweld en soveel ander kwessies in ons land gaan oplos.” ’n Mens sou dink iemand wat met finansies werk en aan die hoof van baie tafels sit, nogal ernstig sou wees, maar Randall is gemaklik en kalm.

“Wanneer jy sulke groot en openbare kwessies aanvat, moet jy weet dit gaan nie net jou lewe beïnvloed nie, dit kan ’n impak op jou geliefdes ook het. En ek wil nooit iets doen wat my twee seuns of vrou sal seermaak nie,” sê hy. “Maar hulle het my nog altyd ondersteun en my vrou, Nadia, is netso passievol oor kinders en geleerdheid soos ek. Sy ry gereeld kinders universiteit toe om te gaan registreer en as ’n familie het dit vir ons almal ’n passie geword. Ek is vasbeslote om NSFAS weer op die been te kry en dit weer ’n sukses te maak, maar dit kom met baie tyd op die pad waar ek weg van my familie en huis af is.” Tog is dit die lang dae en moeite werd, voeg hy by.

Ruk sake reg

Toe Randall in sy eerste week by NFSAS ingestap het, het hy nie besef hoe erg die situasie werklik was nie. Die instansie was op breekpunt en die 2018 akademiese jaar was ook amper daarmee heen.

Dit was Augustus en daar was duisende studente wat nog nie ’n sent van hul beursgeld ontvang het nie. Hy klink nou nog geskok wanneer hy vertel hoe hy self die wanhoop, angs en vrees in studente se oë gesien het. “Daar was regtig horror stories wat uitgekom het van studente wat geld op alle ander maniere moes kry om net te oorleef.”

Hy verduidelik verder daar was aan die begin van 2018 altesaam R11 biljoen aan tersiêre instansies uitbetaal, maar omdat die stelsels nie gewerk het nie, het universiteite nie geweet aan watter kinders die geld moes gaan nie. Daar was rekords van 400 000 studente, maar hulle kon nie kop of stert uitmaak nie en daar was geen stelsel in plek om te sê wie betaling moet kry en wie al betaal was nie. Binne sy eerste week, het hy alles ingesit om daardie geld by die regte studente te kry.

Sommige universiteite kon self uitpluis watter kinders geld moes kry en daardie kinders kon met hul akademiese jaar aangaan. By ander was daar egter geen bestuur in plek nie, goedkeurings en betalings was sommer by die werknemers se huise gedoen en die meeste werknemers was nie meer gelukkig in hul werksomgewing nie, vertel hy.

Randall en sy span het studente wat goedgekeur was, se uitstaande uitbetalings gedoen. Daarna was sy volgende taak om kenners in te bring om nuwe stelsels in plek te sit, sodat hulle reg kon wees vir die 2019- en 2020-akademiese jaar. Binne vier maande het hulle stelsels in plek begin sit en is hulle nou weer in staat om data met instellings te deel sodat hulle kan sien wie goedgekeur is vir befondsing.

Die skema kan ook bepaal watter studente geregistreer is en vir die eerste keer het die meeste studente hul toelaes betyds gekry. Daar was reeds 460 000 studente wat teen 6 Januarie vanjaar vir die 2020 akademiese jaar goedgekeur is vir befondsing en R35 biljoen is reeds uitbetaal. “Ek is trots dat 40% van alle studente wat tans befondsing kry, deel is van die SASSA-program.

So ons begin nou regtig die armste mense in ons gemeenskappe help. En hulle sal weer seker maak dat hulle hul broers en susters help en só help ons ’n hele gemeenskap en ons land aan die einde van die dag,” sê hy. Sedert Randall oorgeneem het, het skuldiges wat die fonds misbruik het, ook aan die pen begin ry. Sommige werknemers is geskors en klagtes van korrupsie word ondersoek. Daar is ook klagtes van studente wat geld misbruik wat vir studie-doeleindes bedoel is, maar hulle is ook besig om hiervoor stelsels uit te werk.

“Daar is nog baie om te doen en te verander en my hoop is dat ons weer ’n stelsel kan bou soos toe ek op skool was waar die skole reeds in matriek die kinders kan identifiseer wat vir NSFAS sal kwalifiseer. En ook dat daar sommer onmiddellik aansoek gedoen moet word, sodat wanneer hulle hul matriekuitslae ontvang, hulle reeds weet dat hul befondsing vir hul studies gereed is.” Randall hoop ook verder dat hulle ’n beter oplossing sal kan kry vir kinders in die middelklas wat ook befondsing nodig het, maar nie kwalifiseer nie omdat hulle net bo die drempel val en dit is iets wat hom bekommer. Maar hy glo met een ding op ’n slag sal hulle ’n wenresep kan ontwikkel.

Meer oor:  Kuier  |  Onderwys  |  Randall Carolissen  |  Nsfas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.