Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Geldsake: Hulp om die beste polis te kies
17 September 2020

Die lewe is vol onsekerhede, maar een ding waarvan ons almal seker kan wees, is die dood. Op een of ander tyd gaan dit aan almal se deur kom klop. En die huidige Covid-19-pandemie het dit opnuut bevestig omdat duisende mense binne die bestek van ’n paar maande daaraan gesterf het.

Die pandemie het gevolglik groot druk op die regering se hantering van lyke geplaas; die manier hoe begrafnisse gehou word, het drasties verander en in ’n land waar provinsies reeds ’n tekort aan begraafplek gehad het, raak die probleem net erger.

Min plek vir grafte

Op ’n persoonlike vlak dwing dit elke Suid-Afrikaner om te kyk na hul geldsake sodat begrafnis- en lewensdekking ’n nood-saaklike uitgawe op hul begroting word. Anders kan jou geliefdes met ’n gat in hul hart én hul beursies sit . . .

Vir jare al waarsku verskeie Suid-Afrikaanse munisipaliteite hul begraafplase is besig om vol te raak. Mail & Guardian berig in 2018 het Johannesburg alreeds gewaarsku dat slegs vier begraafplase uit hul 32 nog plek het.

In November verlede jaar het Stad Kaapstad gesê uit 40 begraafplase is slegs 17 steeds operasioneel en net ses het nog noemenswaardig baie plek oor. Verlede maand het die eThekwini-munisipaliteit gesê net nege uit hul 65 begraafplase het enigsins plek oor en hulle gaan onopgeëiste grafte hergebruik.

Met die uitbreek van die pandemie is begraafplase gevra om “kommunale grafte” te begin oorweeg. In Junie 2020 was Suid-Afrikaners se televisieskerms vol van die geel stoot-skrapers en meer as 1 000 grafgrawers wat besig was om massagrafte in Gauteng te grawe. Hoe dit ook al sy, die pandemie het beslis die ewige gesukkel vir grafspasie beklemtoon. Die departement van gesondheid wil verder hê die liggame van almal wat aan natuurlike oorsake sterf, moet getoets word vir Covid-19 voor hulle begrawe of selfs aan die begrafnisondernemer oorhandig word.

Dít is om ’n idee te kry hoeveel Suid-Afrikaners het voor die virus geswig, luidens ’n verklaring van die departement se direkteur-generaal, dr. Sandile Buthelezi.

Volgens Pieter van der Westhuizen van AVBOB is die begrafnisondernemer-bedryf ook aan die kopkrap. “Daar is baie onsekerheid. Wie gaan vir die toetse betaal? Waarheen moet toetse gestuur word?” Volgens hom het hulle praktiese riglyne nodig van die stappe wat gevolg moet word van die tyd wat die liggaam die huis verlaat tot dit by die lykshuis aankom. Hy verwag ook dat die nuwe regulasies die proses baie gaan vertraag en die bedryf onder groot druk plaas.

Maar dit is nie al wat met die begrafnisbedryf lol nie. Nie net is daar tans tekorte aan kiste nie, maar die uitreiking van doodsertifikate word ook baie keer vertraag. EWN het onlangs berig data het in Julie gewys dat Suid-Afrika 59% meer sterftes aangeteken het as wat verwag is. Lykshuise is onder groot druk en baie begrafnisondernemers het lykshuise in skeepshouers begin bestuur om al die lyke te kan hanteer.

My hart is gebreek omdat ek nie vir my vroulief die beste kon gee nie. En dit ten spyte van al die geld wat ek betaal het.

So met al dié omwentelinge is dit belangrik om seker te maak sake aan jou kant is in orde. ’n Begrafnis is ’n duur besigheid en kan jou tussen R7 000 en R30 000 of selfs meer uit die sak jaag. Hoewel duisende mense elke maand betaal vir ’n begrafnispolis, het baie mense nie die regte polis vir hul behoeftes nie.

Ander neem weer polisse uit by onbetroubare instellings, maar kom dit heeltemal te laat agter. “Ek gaan nou nie name noem nie, maar ek is baie ontevrede met die begrafnisplan wat my moeder se afsterwe moes dek vroeër die jaar. Sy het die ding al in 1976 uitgeneem en dit het ’n belaglike R2 000 uitbetaal!” vertel Leonie van Rooy (43), ’n adminklerk van Oudtshoorn in die Klein-Karoo.

Ná talle heen-en-weerbakleiery het Leonie verneem haar ma se premie van R3,50 per maand in 1976, het nie oor die jare vreeslik toegeneem nie en van daar die klein bedrag. Ten minste het hulle darem iets uitbetaal.

Petrus van Graan (68), afgetrede onderwyser van Sasolburg in die Vrystaat, wag steeds vir sy polis om uit te betaal nadat sy vrou, Elsabeth, in Julie oorlede is aan ’n kroniese siekte. “Ons het vir sewe jaar aan daai plan betaal. Nou is daar blykbaar administratiewe probleme al het ek al die dokumente dadelik ingestuur en hulle sê ek gaan nog drie maande moet wag.

Wat help dit? My hart is gebreek omdat ek nie vir my vroulief die beste kon gee wat sy verdien het nie. En dit ten spyte van al die geld wat ek betaal het,” sug hy moedeloos. Petrus het uit desperaatheid al sy spaargeld en karige pensioen gebruik om vir Elsabeth ’n roudiens aanmekaar te slaan, maar hy voel steeds ontevrede.

Kies die regte polis

’n Begroting is van kardinale belang indien jy jou finansiële doelwitte, soos ’n begrafnispolis, wil bereik, verduidelik Rudolph Geldenhuys, ’n finansiële beplanner, van WealthUp in die Kaap. Jou begroting is nie net daar om vir jou te wys hoeveel jy spandeer nie, maar ook waarop jy jou geld spandeer. Slegs wanneer jy fyn na jou uitgawes begin kyk, kan jy die regte vrae begin vra rondom die behoefte aan die verskillende begroting-items soos daardie begrafnispolis. Hy verduidelik ’n begroting is tot ’n mate soos ’n dieet.

Dit verg tyd, moeite en toewyding, maar dit is altyd die moeite werd. Dit is ook nooit te laat om ’n begroting te begin nie. “Die begrotingitem wat gewoonlik nie genot verskaf nie – in Engels noem hulle dit ’n ‘grudge purchase’, maar dit is in baie gevalle uiters belangrik – is versekering.”

Lewensdekking, verduidelik Rudolph, is ’n pot geld wat die inkomste van die persoon wat afgesterf het, kan vervang. “ ’n Voorbeeld hiervan is wanneer ’n broodwinner-pa of -ma uit die bloute tot sterwe kom. Dit beteken die inkomste wat hulle maandeliks verdien het, nou tot ’n stilstand gekom het.

Indien daar lewensdekking in plek was, sou dit die naasbestaandes in ’n posisie stel waar hulle nie oor die familie se maandelikse uitgawes hoef te bekommer nie, want die lewensdekking sou daarna omsien. Nie net kan lewensdekking enige uitstaande skuld afbetaal nie, maar dit kan ook gespaar word om ’n maandelikse inkomste aan die afhanklikes te gee.

Die faktore wat die bedrag lewensdekking bepaal, is die totale uitstaande skuld, die maandelikse inkomste behoefte asook vir hoe lank die afhanklikes nog geld gaan nodig hê.

“Lewensdekking is gewoonlik genoeg in die geval van ’n onvoorsiene sterfte. Talle versekeraars het ook ’n ingeboude voordeel – die onmiddellike uitgawe-voordeel – waar hulle tot en met R50 000 van die lewensdekking binne 48 uur uitbetaal, wat dan gebruik kan word om van die kostes van die begrafnis te dek. Interessant genoeg, vertel Rudolph verder, is lewensdekking baie keer aansienlik goedkoper as begrafnispolisse.

“Die enigste voordeel wat begrafnisdekking bied bo en behalwe lewensdekking is dat daar nie net begrafnisdekking op jou eie lewe is, maar ook op dié van ’n eggenoot, kinders en partykeer selfs die uitgebreide familie.” As jou begroting dus maar ’n bietjie knap is, maak seker jy kry eers lewensdekking voordat jy begrafnispolisse begin oorweeg. Indien daar wel ekstra geld is vir ’n begrafnispolis, maak seker jy neem dit uit by ’n bekende, betroubare instansie en jy weet presies wat die polis insluit en uitsluit. Dood is onvoorspelbaar, maar die tyd daarna hoef nie te wees nie.

Begrafnisreëls tydens Covid-19

Net 50 mense mag die begrafnis bywoon.

Almal moet maskers dra, sanitiser gebruik en social distancing toepas.

Nagwake word nie toegelaat nie.

Bykomende bronne: https://www.gov.za/coronavirus/alert-level-2;

https://news.trust.org/item/20200420071556-8usm5;

https://www.iol.co.za/ios/as-covid-19-deaths-stalk-south-africa-durban-fears-shortage-of-graves-48020767

Meer oor:  Kuier  |  Begrafnis  |  Polisse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.