Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Geldsake: Werk só mooi met jou geld
9 Julie 2020


Toe pres. Cyril Ramaphosa op 17 Junie Suid-Afrikaners ’n update gee oor die land se bestuur van die Covid-19-pandemie en aankondig meer sakesektore kan weer begin sake doen, was die ekonomiese skade reeds oorweldigend. Talle besighede moes hul deure sluit, wat beteken baie mense het ook hul werk verloor en sit nou sonder inkomste.

En al het jy nog ’n werk, maak die onstabiele en swak ekonomiese klimaat dat jy enige tyd retrench kan word. So hoe moet jy jou salaris wat jy tans nog kry, nou bestuur? En as jy retrench sou word, hoe moet jy daai geld bestuur sodat dit vir jou so lank moontlik kan deurdra?

Amy Valentine (45) van Bellville in die noordelike voorstede van Kaapstad het twee weke gelede haar werk verloor toe die maatskappy waarvoor sy gewerk het, hul deure moes sluit. Ongelukkig is haar gesin een wat van maand tot maand lewe. Sy wou nog altyd ’n emergency fund begin, maar daar was net nie maandeliks genoeg geld om nog te kan spaar nie.

Sy het vir 12 jaar as ontvangsdame gewerk en sê dit is moeilik om ’n werk te kry omdat min maatskappye tans mense aanstel. “’n Mens is altyd bekommerd dat jy jou werk sal verloor, maar wanneer dit gebeur, is dit baie scary. Ons het nie spaargeld om van te lewe nie en my man werk ook nie op die oomblik voltyds nie. Sedert die begin van lockdown werk hy net elke tweede of derde week en word hy dan net vir daardie week betaal,” sê sy. Amy sê sy speel rond met idees vir ’n ekstra inkomste of om te bespaar.

Sy het ou materiaal wat sy gehad het, gebruik om maskers te maak, maar toe raak haar materiaal op. Toe besluit sy om ’n delivery service te begin vir mense in haar omgewing, wat te bang is om self winkels toe te gaan. Sy vra dan ’n fooi vir haar dienste. Dit dek haar gesin se basics soos eiers, melk en meel. En as daar ’n paar mense is wat haar dienste gebruik, dek dit soms ’n hoender of vleisie ook. “Ek moes kreatief raak . . . Ek spaar ook geld deur dinge te koop soos lensies, pasta, melkpap en meel vir maaltye wat kan strek,” deel Amy haar lesse.

Bly by die basics

Robbin van Wyk (31) van Johannesburg het haarself lelik vasgeloop toe sy in lockdown hoor haar salaris gaan gesny word. Aan die begin van lockdown was daar geen sprake van salarisse wat gesny gaan word nie en omdat sy al sedert die begin van die huis af werk, was sy nie bekommerd nie. “Ek het aanlyn my wasmasjien en meubels bestel en gedink ek sou my huis uiteindelik gerieflik maak, omdat ek nou so baie tyd hier moet spandeer en omdat ek nie nou my geld op ander dinge gaan mors nie,” sê sy terwyl sy lag.

En toe tree Murphy in. Want net nadat sy haar bestellings geplaas het, het sy ’n week later die e-pos ontvang dat haar salaris met byna 40% gesny gaan word. “Dit het beteken dat ek eintlik nie regtig meer daardie goed kon bekostig nie en ek wou nie in hierdie onstuimige tyd skuld maak nie, toe kanselleer ek die bestellings. Ek was die wasgoed steeds met die hand, want ek het mos nou ekstra tyd, maar ek sal eerder dit doen en met ’n bietjie spaargeld sit.”

Carla Oberholzer, ’n skuldberader van Kaapstad, sê dis nie nou die tyd om skuld te maak nie. Sy raai mense aan om alle nie-noodsaaklike rekeninge en kontrakte soos ’n gymkontrak, te kanselleer. Kyk ook na dinge soos restaurant-apps of sulke vermaak-memberships wat jou meer geld gaan bespaar, as om minder water en krag te gebruik. “Praat ook met skuldberaders, banke, selfoondiensverskaffers en versekeringsinstansies om te kyk of hulle vir jou dalk kan help met ’n ooreenkoms wat vir jou meer kontantvloei gaan gee,” sê sy.

“Gaan koop met ’n lysie en kyk waarop jy kan bespaar, kyk ook na jou loyalty-programme vir mediese fondse en inkopies om te sien waar jy dalk ’n goeie besparing kan maak. Ongelukkig sal mense hul koopgewoontes moet verander en op die oomblik slegs dit koop wat broodnodig is. Selfs al kry jy nog ’n volle salaris, is nou die tyd om onder jou gemaklyn te lewe en jou emergency fund te begin groei.”

Carla sê as jy nou van die huis af werk, gebruik die geld wat jy nou spaar op petrol en koffie byvoorbeeld om jou kredietkaart af te betaal. Sy raai mense ook aan om gebruik te maak van dinge soos kredietversekering. “As jy skielik werkloos of gestremd word, sal hierdie fonds jou kredietkaart en dit wat jy nog skuld, betaal. Maak seker jy lees die kontrakte wat jy teken met banke en versekeringsdienste en wees bewus van alles wat tot jou beskikking is,” verduidelik Carla. Maar nie almal is tans bekommerd nie.

Angelique Pekeur (29) van Belhar in die Kaap dink nou is die perfekte tyd om die eiendomsmark te betree. “Jy kan nou baie bespaar op onkoste as jy nou ’n huis kan koop en daar is ook baie goeie deals omdat mense die geld nodig het en eintlik na jou aanbod sal lyk, wat in Januarie nie ’n opsie vir ’n jong koper soos ek was nie,” sê sy. Sy spaar al gereeld van skooldae af. Hulle het swaar grootgeword en sy het van kleins af besluit sy wil nie eendag so swaarkry soos haar ouers nie. Op skool het sy haar sakgeld gebruik om ’n snoepie te begin. Angelique het toe al van haar wins of sakgeld gespaar. Nou is spaar ’n gewoonte en voel sy eiendom is ’n goeie geldbesluit.

Beplan só jou sake

Gareth Collier, ’n finansiële adviseur van Kaapstad, sê hoewel mense nou finansieel swaarkry is dit juis die tyd om te beplan en regtig na jou finansies te gaan kyk.

Hy raai mense aan om hierdie ekstra lockdowntyd te gebruik om:

• ’n Finansiële date night te beplan. “Sit saam met jou lewensmaat of op jou eie en kyk deur jou bankstate, payslip en motordokumente sodat jy presies weet waarheen jou geld gaan.”

• Bespreek jou begroting en kyk waarop jy regtig geld kan spaar. Kyk ook hoe dinge voor en nou ná lockdown verander het om te besluit waar jy veranderinge kan maak.”

• As jy tuisbly, beteken dit dat jy nie gereeld uitgaan of winkels toe hardloop nie. Jy gebruik nou meer as ooit dinge wat in en rondom jou huis is. Maak ’n lys van al die dinge wat jy besef jy sonder kan lewe.

• Wees kreatief en dink aan maniere hoe jy ’n side gig kan begin. “Al werk jy op die oomblik, is ’n side gig altyd ’n goeie idee en sorg dit dat jy minstens ’n klein inkomste kry wanneer jy ’n finansiële krisis ervaar.”

• Maak gebruik van klein besighede. Dit help hulle en jy kan goeie winskopies kry.

• Gebruik jou tyd om na jou groepsvoordele by die werk te gaan kyk en te verstaan presies hoe dit vir jou kan werk.

• Klere en onnodige onkoste kan vir eers wag. As dit nie vir kos, vervoer of water en elektrisiteit is nie, moet jy eerder die geld spaar as jy kan.

• Lees jou testament en gebruik jou ekstra tyd om ’n noodgeval-lêer te begin. “Maak seker jou testament is in orde en dat dit presies is hoe jy dinge wil hê en hoe jy jou geld wil bestee, sou iets met jou gebeur. Tydens iets soos ’n pandemie is dit ook goed om ’n living will te teken sodat jou familie presies weet wat jou wense is en sit dan al hierdie belangrike dokumente in jou noodgeval-lêer.” Hoewel dit erger sal word voordat dit beter gaan word, moet jy nou doen wat jy kan om te verseker die bietjie wat jy het, hou vir so lank moontlik . . .

Selfs al kry jy nog ’n volle salaris, is nou die tyd om onder jou gemaklyn te lewe en jou emergency fund te begin groei.
Meer oor:  Kuier  |  Begroting  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.