Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Geliefde juffrou wreed vermoor
27 November 2019


Allison Plaatjies, ’n geliefde onderwyser, is wreed van haar mense af weggeruk.

Nie eens vir die hiernamaals het hy haar haar mooi gesig gegun nie . . .

Die 26-jarige onderwyser Allison Plaatjies (26) is einde Oktober na bewering wreedaardig in haar woonstel op Clanwilliam deur haar eks keelaf gesny. Só grusaam was die toneel dat bure aanvank-lik vermoed het meer as een misdadiger is betrokke.

Maar Philip April (24) van Clanwilliam, Allison se eks, het volgens Rapport skuld erken aan die polisie. Hy het glo verklap hy het alleen opgetree toe hy op 26 Oktober vir die laaste keer by Allison gaan witvoetjie soek het. Hy en Allison, oorspronklik van Swellendam en bekend as Sussie, het twee weke voor die voorval opgebreek toe sy hom afgesê het.

Hy is die dag na haar woonstel, glo om haar te oortuig om hom terug te vat (soos sy al in die verlede gedoen het), maar niemand sou egter kon raai wat die wrede uiteinde van Philip se besoek op daardie noodlottige dag sou wees nie. Allison het hom by haar woonstel ingelaat, want sy het nie vermoed wat Philip se plan was en dat hy die laaste mens sou wees wat haar lewendig sou sien nie.

Geliefde juffrou

Die dagboek wat Philip aan Allison as geskenk gegee het, was nog in haar klaskamer.

Philip het Allison op die wreedste manier moontlik stilgemaak deur haar stembande af te sny. Sy het hom vertrou en nie besef sy gevoelens vir haar het ontaard in ’n obsessiewe liefde nie. As hy haar dan nie kon kry nie, sou niemand nie. Hy sou liewer agter tralies beland as om te sien hoe die beeldskone en lewenslustige Allison met haar lewe aangaan sonder hom.

Allison het ten tyde van haar dood op Clanwilliam gebly waar sy as onderwyser Afrikaans as huistaal by die Sederberg Primêre Skool op dié dorp gegee het. Kuier het dié skool en Allison se klaskamer besoek op Clanwilliam. Die atmosfeer by die skool het verklap alles is nie heeltemal pluis nie – veral wanneer jy by Allison se klas instap en die uitdrukking op die leerders se gesigte sien.

Oral op die mure en skryfbord is boodskappies geskryf wat hulde bring aan hul Afrikaans-onnie. Die kinders is verslae oor hul onderwyser se skielike en wrede afsterwe. Een meisie vertel met trane wat blink in haar oë dat sy eendag soos juffrou Plaatjies wil wees. “Ons hoor hoe die mense praat en sê haar vriend het haar doodgemaak. Dis hoekom ons gevra het hulle moet sy foto in die klas afhaal, want hoe kon hy ons juffrou so seergemaak het? Juffrou was baie liefdevol en het baie tyd met ons spandeer. Ons gaan haar verskriklik baie mis . . .”

Allison het ook die o.13-netbalspan by die skool afgerig en die kinders is dit eens dat hulle nie weer so ’n lewenslustige en prettige afrigter sal kry nie. Een van die spanlede sê hul juffrou het altyd alles opwindend gemaak. “Juffrou was nooit te moeg vir ons nie. Sy het altyd geluister en so mooi met ons gepraat wanneer ons nie wil luister nie. Sy was baie lief vir ons.”

In die klaskamer was ’n foto van Allison en Philip uit gelukkiger dae versteek onder dokumente op haar tafel. Die foto was teen haar kas geplak, maar dis afgehaal omdat dit die leerders ontstel het. Hulle wou nie Philip se gesig sien nie. Op Allison se lessenaar is ’n dagboek wat sy as geskenk van Philip gekry het. Binne-in die dagboek is ’n nota wat lui: “Love you, 4rm: P”. Daar is ook ’n foto van dié twee op die daaropvolgende bladsy. Die skool het ten tyde van Kuier se besoek ’n gedenkdiens vir Allison gehou en haar familie van wyd en syd het dit bygewoon. Haar afsterwe het twee dorpe in rou gelaat – Clanwilliam en Swellendam.

Ma kry die tyding

Die gemeenskap van Clanwilliam het by ’n roudiens hul laaste eer aan Allison betoon.

Elize Plaatjies (56), Allison se ma, is in stukke oor haar kind se wrede en sinnelose dood. “Ek kan nie glo my kind is weg nie . . .” Dis al wat Elize kan uitkry voor haar rou snikke deur die vertrek weergalm. Dié gebroke ma vra saggies om verskoning en sê dis vir haar baie moeilik om oor haar dogter se moord te praat. “Allison was my babatjie en my broodwinner. Sy het elke maand pligsgetrou seker gemaak ek het alles wat ek nodig gehad het.” Elize vertel die eerste keer toe sy Philip ontmoet, het hy ’n goeie indruk op haar gemaak.

“Ek sou nie in ’n miljoen jaar kon raai dat dít die einste mens sou wees wat my kind drie jaar later sou vermoor nie. Ek het altyd nog vir hom opgekom as hy en Allison vasgesit het. Hy was so ’n stil-en-op-sy-plek-mens. Ek het nie eens gedink dat hy ’n vlieg kon seermaak nie . . .” Elize onthou dit was net ná agt die aand van 27 Oktober toe haar foon lui. Dit was Philip se ma.

“Ek het nog gewonder hoekom sy my dan so laat in die aand bel. Sy het gesê sy het slegte nuus oor Allison. Ek het haar gevra of Allison ’n ongeluk gemaak het, maar sy het my nie geantwoord nie. Sy het lank stilgebly. Toe ek haar weer gevra of Allison in ’n ongeluk was, het sy gesê hulle het Allison se lyk in haar woonstel gekry. My liggaam het in skok gegaan en dit het gevoel of ek nie asem kon kry nie,” herroep Elize daardie oproep wat haar lewe verander het. Elize sê dit was asof haar brein nie wou registreer nie.

“Ek het duidelik gehoor wat sy gesê het, maar dit was asof ek nie die volle omvang van die situasie begryp het nie. Hoe kan dit my kind wees? Ek het dan nog net die dag vantevore met haar oor die foon gepraat en sy was springlewendig.”

Volgens Elize het Philip se ma belowe om haar te bel met nog besonderhede, maar daai oproep het sy tot en met vandag toe nie ontvang nie. “Sy het nooit weer gebel nie. En toe kom die skoknuus dat Philip met Allison se kar aangekeer en weens haar moord in hegtenis geneem is.” Jy kan nog steeds die skok op Elize se gesig gesien.

“Hoe gaan ek ooit deur die seer werk? Hoe lewe ’n mens met die tipe pyn? Hoekom het hy dit aan my kind gedoen, hoekom?” Rou snikke ruk weer deur Elize se liggaam en dié ma hou haar hart vas. “Dit is ’n seer wat ’n mens diep in jou hart voel. Ek moet sterk wees vir haar broer ook, want hy doen nie goed nie. Ons hele familie is uitmekaargeskeur.”

Philip het op Woensdag 13 November in die Clanwilliam-landdroshof verskyn. Die saak teen hom is uitgestel tot 5 Februarie 2020 vir verdere ondersoek. Hy word aangekla van moord, motordiefstal en dwarsboming van die gereg.

Gevaarligte

André, Allison se ouer broer, is ontroosbaar en kan glad nie oor die voorval praat nie. Elize sê sy is baie bekommerd oor haar seun omdat hy en sy suster baie na aan mekaar was. Dan vra Elize onverwags: “Weet jy wanneer tref die pyn jou? In die aand wanneer dit stil is. Wanneer niemand om jou koer nie, dít is wanneer ek my kind se gesig voor my sien en dink aan die pyn wat sy in haar laaste ure moes verduur.”

Lizel Plaatjies (45), Allison se antie en ook die een by wie sy vir jare gebly het, sê ook sy dink in die middernagtelike ure aan haar “kleinkind” en alles wat sy daai noodlottige dag moes verduur. Sy sê sy besef nou eers regtig watter wonderlike mens Sussie was. “Sy het altyd gesing en was vol lewe. As iemand die dinge doen terwyl hulle lewe, besef ’n mens nie hoe wonderlik dit is nie. My lewe gaan baie stil wees sonder haar – om nie eens te praat van vervelig nie!”

Sy lag voor sy onthou hoe Allison al twee keer op die trein beroof was terwyl sy by haar op Durbanville in Kaapstad gebly het. “Sy was so naïef en het alles en almal vertrou. Hulle het al haar selfoon en haar skootrekenaar geroof. Elke keer het sy doodluiters hier aangekom en gesê sy is nie kwaad nie, want miskien het die rowers die goed meer as sy nodig gehad.” Lizel raak bewoë met dié herinnering aan haar susterskind. “Sy is die laaste mens wat verdien het om op só ’n manier te sterf.” Lizel vertel ook oor die eerste keer toe sy Philip ontmoet het.

“Sjoe, ek belowe jou jy sou presies dieselfde gevoel het soos ek daai eerste dag gevoel het! Ek het gedink en dit selfs hardop gesê, ‘Wow, wat ’n ordentlike jong man’. Ek het nog met hom gegrap en gesê die kinders sal hom nie kop toe vat nie, want hy praat te sag.”

Philip en Allison het mekaar op universiteit ontmoet. Hy was toe ’n onderwysstudent in sy eerste jaar. Maar hoewel Philip baie ordentlik en op sy plek was, het gevaarliggies al ’n paar keer oor sy gedrag afgegaan, vertel Lizel. “Allison het my een keer gebel en gesê ek moet deurry Clanwilliam toe en haar kom haal omdat sy en Philip gestry het.

Toe ek ’n paar ure later hier aankom, het sy egter haar mind gechange en besluit dat sy liewer by Philip gaan bly. Sy het toe nog vir my gesê alles is fine en dat hulle opgemaak het. Nou voel ek as ek daardie dag net harder probeer het om haar weg te kry, sou dinge dalk anders uitgedraai het. Ek wens sy het net oopgemaak teenoor my en my presies vertel wat aan die gebeur is.”

Lizel se trane vloei nou vrylik en dit vat ’n rukkie vir die beheersde vrou om weer haar emosies onder beheer te kry. “Ek het haar lyk gaan uitken en die wonde wat sy opgedoen het, het my hart in stukke gelaat. Haar keel was afgekerf. Haar stembande is in die proses afgesny. Sy het bytwonde aan haar gesig opgedoen en is ook met ’n mes in haar gesig gesteek. Nêrens anders op haar lyf is sy gesteek nie net in haar gesig. Hy wou haar stem en mooiheid van haar wegneem . . .”

Terwyl Lizel praat oor Allison se beserings begin haar trane weer te loop en haar bors deins op en af. Sy haal ’n rukkie diep asem voor sy voortgaan om te vertel. “Sy het heel waarskynlik probeer wegkom en al was sy fyn gebou, het sy baklei vir haar lewe. Sy gesig en nek was onder krapmerke. Dit wil voorkom asof sy probeer weghardloop het, want daar was bloed aan die deurkosyn.” Volgens Lizel het sy ook aanvanklik gedink meer as een mens was by die moord betrokke. “Die gruheid van die toneel het my só laat dink, maar later het dit aan die lig gekom die sekuriteitskameras het glo gewys net Philip was in die woonstel saam met haar. Dis hy wat haar vermoor het.”

Haar klas is in rou gedompel ná haar skielike afsterwe.

Groot leemte

Allison is op Swellendam begrawe.

Ook Allison se niggie en Lizel se dogter, Marié Plaatjies (25), is totaal en al verslae deur haar niggie se dood. “Ons het soos susters grootgeraak en Allison was nooit een om te kla oor haar omstandighede nie. Sy het altyd gelag en oor alles gegrap. Dit is die mens wie sy was en dit is ook heel waarskynlik hoekom ons nie kon agterkom dat daar iets groot fout was nie.”

Sy vertel Allison was tog anders wanneer Philip by was, veral wanneer hulle op Swellendam gaan kuier het. “Allison was ’n baie lewenslustige mens en praat met almal.” Maar, volgens Marié, was dít nie die geval wanneer Philip by was nie. “As hulle kom kuier het, het hulle net in die huis gesit en nêrens geloop nie. Dit is glad nie hoe Allison was nie. Ek het al ’n paar keer vir haar gevra wat’s fout, maar dan lag sy net en sê niks.”

Ursula Carstens, hoof van Sederberg, het tydens die gedenkdiens ’n huldeblyk aan Allison gelewer en gesê sy was ’n merkwaardige jong onderwyser. “Haar manier van klasgee was anders, maar effektief. Sy het nooit geskroom om werkswinkels by te woon nie en het altyd ’n hongerte gehad om te leer. ’n Mens sukkel gewoonlik met jong onderwysers, maar nie met Allison nie. Sy het die kinders behandel asof elkeen van hulle haar eie was. Sy het alles met ’n passie en opgewondenheid gedoen en haar afsterwe is voorwaar ’n groot en hartseer verlies vir die skool en sy leerders.”

En toe die skoollied tydens die roudiens deur die volgepakte kerkgebou begin trek, het die kinders en onnies gelyk aan mekaar begin vasklou. Dit was asof hulle besef het dat Allison weg is en nie weer gaan terug kom nie. Elize het inmekaargesak. Toe sê een van Allison se leerders saggies: “Ons harte is baie seer. Juffrou Plaatjies het ons almal bymekaargebring. Sy was mooi van binne en buite en die skool sal nooit weer dieselfde wees sonder haar glimlag en energie nie . . .”

Meer oor:  Allison Plaatjies  |  Kuier  |  Misdaad  |  Geslagsgeweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.