Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Geluk ná breingewas
8 Augustus 2018


Bykans twee jaar lank is Hein van Greunen vir mindere siektes behandel terwyl ’n al groterwordende gewas besig was om sy brein in ’n misvormde posisie te druk.

Teen die tyd dat die regte diagnose gemaak is, was die gewas so groot soos ses hoendereiers. Dit was – letterlik én figuurlik – die donkerste tyd van sy lewe. Hein het geleidelik sy sig verloor en was “op die randjie van totsiens sê”.

Dié nederige en saggeaarde 35-jarige vertel hy het in 2012 skielik deurlopende pyn in sy regteroor ondervind en ook erge pyn in sy agterkop ervaar wanneer hy vanuit ’n gebukkende houding regop gekom het.

Teen September daardie jaar het die hoofpyne so toegeneem in intensiteit en tydsduur, dat hy nie meer sy werk in die konstruksiebedryf kon voortsit nie. Hein is na ’n privaat dokter, wat hom aangeraai het om ’n skandering te ondergaan.

Maar by ’n privaat hospitaal sou dit hom R9 000 kos – en dit was geld wat hy nie gehad het nie. Hy is pynpille en kortisoon voorgeskryf en met ’n verwysing van dié dokter na die Helderberg-staatshospitaal in Somerset-Wes gestuur. Dáár is om die een of ander rede besluit dat X-strale voldoende sou wees.

Die pyn was glo as gevolg van ’n sinusprobleem.Terwyl hy medikasie soos ’n neussproei gebruik het, was hy totaal onbewus daarvan dat ’n nie-kwaadaardige breingewas besig was om reuse-proporsies aan te neem. Hy het die staatsdokter se diagnose aanvaar, min wetend dat sy ergste hel nog voorlê. In ’n stadium het Hein ’n oogkundige besoek.

Die oogkundige het nie erge probleme opgetel nie en net genoem dat hy miskien ’n bril kan kry omdat hy effens bysiende is. Maar teen Junie 2014 het Hein skielik begin sukkel om te lees. Van daar af het sy visie verswak en sy linkerooglid het boonop geleidelik toegegaan. Dit was nie al nie. Sy hele liggaam is stelselmatig geaffekteer.

“Partykeer het my linkerarm vir ’n kort tydjie geruk. Ek het baie keer maagpyn ervaar wanneer ek eet. En daar was later ’n deurlopende klopgeluid en pyn in my regteroor.” Uit moedeloosheid is hy na ’n privaat oor-, neus- en keelspesialis. “Hy kon geen probleem optel nie en het gedink dis dalk ’n spierspasma.”

In hierdie stadium het Hein geboer by ’n plaaslike staatskliniek. Dit was asof sy liggaam nie meer kos wou hê nie en hy het gereeld gebraak wanneer hy geëet het. “Ek het altyd gekla oor my oor en maag. Hul antwoord vir alles was pynpille.” Dinge het so erg geraak dat hy iemand gevra het om hom na die Helderberg-hospitaal toe te neem. Sy het opgedaag om hom hospitaal toe te neem, maar toe Hein nie op haar klop antwoord nie, het sy aanvaar dat hy nie tuis is nie. In werklikheid het Hein op sy bed gelê en was hy besig om op te gee op die lewe.

“Ek was swak, feitlik blind en nie meer by my volle verstand nie,” vertel hy. “Hierdie ding het my baie diep aangetas.” Gelukkig het sy ma en suster, wat albei op Worcester woon, deurgery na hom toe. “Hulle het my lanklaas gesien. Hulle kon sien dat my kondisie glad nie normaal is nie en het my Worcester toe geneem.”

Die slegste nuus

Die breingewas (liggrys) agter die oogkaste. Die brein (donkergrys) is na agter gedruk en saamgepers.
Die brein met ’n meer normale vorm tydens mediese behandeling.

Sy eerste afspraak daar was met ’n privaat oogkundige, wat aanbeveel het dat hy so gou moontlik by ’n oftalmoloog in die Worcester-staatshospitaal uitkom. By die hospitaal was hy totaal onvoorbereid op die nuus wat aan hom oorgedra is: “Jy het ’n gewas op die brein en dis die oorsaak van jou blindheid,” is Hein meegedeel. Daar het so ’n koue gevoel deur sy liggaam gespoel, vertel hy.

“Ek het altyd gehoop dat dit iets in my oë was wat reggemaak kon word. Maar om te hoor hier’s iets in jou kop . . . Ek het net stomgeslaan daar gesit.” Hy het ook gehoor dat die betrokke gewas so skaars is dat hulle dit amper nooit in dié hospitaal teëkom nie.

Hy moes Tygerberg toe en onthou mense moes hom die hospitaal in begelei. “Ek het die oggend daar aangekom en net in die gang neergesak en gebraak. Daar was nie plek vir my in die ICU nie. Ek onthou hoe ek uiteindelik buite in die gang op daai bed sonder komberse gelê en wag het. Dit was verskriklik koud.” In daardie stadium kon hy nie regtig met enigiemand kommunikeer nie.

“Ek was al half in ’n koma. Ek het net gedink: As ek nou doodgaan, dan is dit nou maar so.” Die aand, toe ’n ander pasiënt uit die ICU ontslaan is, kon hy ingaan. “Jy lê maar net daar en probeer oorleef. Die eerste dag was daar ’n hele klomp spesialiste. Omdat hulle nie elke dag ’n gewas soos myne sien nie, het almal belanggestel.” Hy is op ’n drup gesit en met intense hormoononderdrukkingsmedikasie behandel.

Sy siekte het ook nou ’n naam gekry: makro-adenoom. Die gewas was ’n funksionerende makro-adenoom (groot groeisel) wat die hormoon prolaktien maak. Prolaktien berei ’n vrou tydens swangerskap voor om borsmelk uit te skei. Teen die tyd wat hy behandel is, was die gewas so groot soos ses hoendereiers en het sy brein weggedruk.

“Die dokter het verduidelik dat dit my oogsenuwees gekneus en diep in my een oogkas ingegroei het. Dit het ook ’n groot letsel agter op my brein gelaat.” As behandeling is hy medikasie gegee wat die selle onderdruk wat gewoonlik prolaktien maak. Volgens dr. Ankia Coetzee, endokrinoloog, is dit die standaardbehandeling met ’n uitstekende mediese respons in 99% van die pasiënte. Dis wel moeilik om te voorspel of daar ’n verbetering in visie gaan wees.

“Makro-adenome kan vir lank op oogsenuwees druk voordat ’n pasiënt simptome ervaar. Dit kan skade aan die oogsenuwees veroorsaak sonder dat die pasiënt se sig agteruitgaan. Mens kan nie so maklik voorspel hoe blywend die skade gaan wees en of oogsenuwees sal normaliseer nadat die adenoom gekrimp het nie,” verduidelik sy. Die medikasie het Hein feitlik heeldag laat slaap. “Party oggende het ek wakker geword en nie geweet waar ek is nie.

In ’n stadium het ek gedink dis hoe die hemel lyk. Daar het ’n dokter met ’n klipbordjie voor my gestaan en ek het gedink dit was Jesus wat besig was om te kyk wat alles verkeerd was in my lewe.” Sy visie was steeds uiters swak. “Ek het nie swart gesien nie; dit was meer soos ’n grys gordyn wat oor my oë gesak het. En my linkerooglid was heeltemal toe.”

Dit gaan beter

Ná drie weke in Tygerberg ICU is Hein na ’n privaat kamer in die endo-kliniek oorgeplaas waar die endokrinoloog hom elke oggend besoek het. “Daar het dit baie beter met my begin gaan. Een oggend, toe ek wakker word, was my linkerooglid oop. Ek het sommer soos ’n nuwe mens gevoel.” Terwyl hy daar gelê het, het hy egter ook ’n groot laagtepunt beleef. Dit was toe ’n dokter-in-opleiding hom daarop probeer voorberei het dat hy waarskynlik tegnies blind gaan wees vir die res van sy lewe.

“Dit laat voel jou so klein,” sê hy sag. “Jy het op ’n manier oorleef, die pyn is weg, maar jy het jou visie verloor. Jy sien nie uit na die res van jou lewe nie.”

Maar nooit het hy in die hospitaal gehuil nie. “Daar is so baie mense in sulke slegte toestande dat jy jouself nie kán bejammer nie.” En ’n vlammetjie hoop het altyd bly flikker. Hein is in September 2014 ná ses weke in die hospitaal ontslaan, steeds met ’n baie swak visie en steeds op behandeling. By sy suster op Worcester het sy sig stadig, maar seker teruggekeer. In daardie tyd was haar seun, toe ’n kleuter, vir hom ’n groot redding. “Hy wou altyd by my wees. Daardie liefde het vir my die meeste beteken op my lang pad na herstel.”

Hoewel sy sig nooit 100% gaan wees nie, is dit volgens Hein nou heel goed. “Ek kan buite goed sien, maar binne is dit bietjie dowwer onder die ligte. Twee jaar terug is gesê ek sal nie weer kan bestuur nie. Nou gaan ek met ’n bril hopelik weer my bestuurslisensie kry.”

In 2015 het hy ’n week lank in die houtwerk-afdeling van die Instituut vir Blindes op Worcester gewerk net om hom besig te hou. “Daar word mens weer nederig. Daar en in die hospitaal kry jy nuwe respek vir die lewe.” Hein gaan nog gereeld vir opvolgbesoeke by Tygerberg en hoewel die gewas nog daar is, is dit nou so klein dat MRI-skanderings nie meer as nodig beskou word nie.

Volgens dr. Coetzee sal Hein vir geruime tyd op behandeling wees aangesien die prolaktinoom weer kan groei as dit te gou gestaak word. “’n Groot bydraende faktor in sy suksesstorie is sy toegewydheid met behandeling,” beklemtoon sy. “Hierdie is ’n goeie voorbeeld dat medikasie optimaal werk as dit reg geneem word. Daar is soms ’n wanpersepsie dat prolaktinome nie goed op behandeling reageer nie, terwyl medikasie wat nie volgens voorskrif geneem word nie die eintlike probleem is.” Hein het nou ’n heeltemal ander uitkyk op die lewe as voor sy siekte. “Ek was so gelukkig om ’n tweede kans te kry en nie blind te wees nie,” sê hy.

“Ek het op daardie afgrond gaan draai.” Hy wil graag by fondsinsamelings betrokke raak en permanent werk. As hy ’n boodskap aan mense kan stuur, is dit dat hulle hul gesondheid moet oppas. “Jy kry net een liggaam en net twee oë. Dit maak my kwaad dat mense soos rokers niks vir hul gesondheid voel nie. Ek wens hulle kan net vir ’n uur gaan kyk hoe dit in Tygerberg se ICU lyk en moeite doen om die Instituut vir Blindes te besoek.”

As hy so terugdink, is hy net spyt dat hy nie reeds met sy eerste besoek aan ’n staatshospitaal na Tygerberg verwys is nie. Ook dat hulle hom nie vinniger by Tygerberg kon help nie. Tog wil hy homself nie bejammer of kla oor waar hy was nie. “Ek het ’n tweede kans gekry. Jy moet vat wat jy het en dit máák werk.”

* Foto’s: Jackie Pienaar-Brink en Verskaf


Die artikel verskyn in die 8 Augustus-uitgawe van Kuier-tydskrif. 


Meer oor:  Breingewas  |  Kuier  |  Ware Lewensdrama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.