Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Inspirasie: Dwerg vind groot liefde
06 Februarie 2019

Oral waar hulle gaan, staar mense na Raghmat Mohamed (43) en haar man, Yunus (40). Elke keer as hulle winkel toe gaan, op die strand gaan stap of net iewers heen gaan om ’n romantiese ete saam te geniet, staar mense openlik na hulle en sommige ouers lag saam met hul kinders agter hul hande vir dié paartjie van Athlone in die Kaap.

Dít is die wrede realiteit vir hierdie liefdevolle paartjie wat al 13 jaar getroud is. Raghmat wat met achondroplasie, ’n vorm van dwergisme gebore is, is korter as haar man. Sy sê vir die een of ander rede is mense altyd verbaas wanneer hulle iemand met dwergisme sien en as jy boonop met iemand van “normale” lengte loop, is mense éérs gefassineer.

Dit is juis oor dié ongewenste aandag dat Yunus se familie aanvanklik bekommerd was toe hy besluit het om vir Raghmat uit te vra. Hulle was bang mense sou hom ook uitlag en spot, maar Yunus sê dit het hom nooit gepla nie. Hy het geweier om vir die wêreld weg te kruip of om sy liefde vir Raghmat weg te steek – net omdat sy baie korter is as ’n vrou van gemiddelde lengte (tussen 1,5 en 1,7 m).

Vir Raghmat, wat 1,2 m (vier liniale) lank is (korter as die gemiddelde negejarige), was dit egter nie so maklik nie en omdat sy al haar hele lewe lank ongevraagde aandag kry, wou sy nie uitgaan waar baie mense sou wees nie.

Sy is die enigste een in haar gesin wat met achondroplasie gebore is. Haar ouers en twee sibbe is almal van normale lengte en dus was dit nie vir haar vreemd om saam met iemand van normale lengte te wees nie. Maar tog wou sy nie dinge vir Yunus ongemaklik maak nie; vandag is sy egter dankbaar dat hy in haar lewe is. Want nou is sy meer sosiaal, minder skaam en sy is nie gepla oor wat mense dink nie. Volgens haar het Yunus se liefde haar uit haar ongemaklikheid gebring en haar vol selfvertroue en trots gemaak.

Raghmat het altyd geweet sy wou met iemand van normale lengte trou. Sy wou nie hê mense moet van haar verwag om met iemand met dwergisme te trou net sodat hulle dieselfde lengte kan wees nie. Sy het geweet dit sou dalk vir ander snaaks wees, maar wanneer dit by die liefde kom, wou sy iemand kies wat haar hart vinniger laat klop.

“Ek sal nou nie sê hy het onmiddellik my hart vinniger laat klop nie, want ek het aanvanklik nie belang gestel nie. Maar met elke ontmoeting het hy my ’n bietjie meer skaam en ’n bietjie meer verlief gemaak totdat ek heeltemal smoorverlief was en amper nie eens kon eet wanneer ons saam was nie, omdat daar altyd butterflies in my maag was,” vertel sy skaam. Sy glimlag wanneer sy oor hul eerste date gesels. Die paartjie kyk liefdevol na mekaar en gryp mekaar se hande voordat sy vertel hoe hy haar van daardie eerste dag af al spesiaal laat voel het.

“Ons het mekaar 19 jaar gelede by ’n troue ontmoet, maar dit was allesbehalwe love at first sight. Ek het altyd van ’n man met spikes (-haarstyl) gehou en by die troue was daar ’n sexy man met spikes. Ek het hom heeltyd dopgehou, terwyl ’n kaalkopman (Yunus) heelaand my aandag probeer kry het,” sê sy laggend.

“Niks het daai aand gebeur nie, maar ’n jaar later het ons mekaar raakgeloop in ’n winkel en hy het vir my nommer gevra. Kort daarna het hy my gebel en gevra of hy my kan kom oplaai vir ’n date. Ons is vir ons heel eerste date Waterfront toe vir Kentucky. Ek onthou ek was baie bewus van die mense daai dag, want ek kon voel hoe almal se oë op ons val en ons volg. Ek was nie seker hoe Yunus sou reageer nie en wou hê ons moet net iewers stil gaan sit waar niemand vir ons kan kyk nie. Maar hy het dit nie toegelaat nie. Elke keer as ek wou wegkruip, het hy my net meer afgeshow. Hy was nie skaam vir my nie en dit het my soos die spesiaalste persoon in die wêreld laat voel.”

Raghmat sê in haar oë kon hy nooit ’n voet verkeerd sit nie, behalwe die dag toe hy haar in ’n Mini by haar ouerhuis kom oplaai het. Vir haar is daar niks erger as ’n Mini nie. Sy begin skaterlag wanneer sy vertel hoe erg dit vir haar is om as ’n klein persoon nog met ’n klein kar te ry.

“Ek wou nie in die kar klim nie, want dit vra mos om gespot te word,” lag sy.

BINNE EN BUITE MOOI

Yunus help sy vrou om die pan van die kas te haal.

Maar wanneer dit by romanse kom, is daar niks wat hy verkeerd kan doen nie. Haar gunsteling-date was toe Yunus ’n skoolsaal gehuur het en ’n piekniekkombers met kerse en Kentucky in die middel van die donker saal gesit het. Hulle het ook ’n lêer vol kaartjies en briefies wat hulle vir mekaar oor die jare geskryf het.

Op sy beurt glimlag Yunus en kyk na sy vrou, voordat hy sê sy is die mooiste vrou in die wêreld. Maar vir hom was dit nooit belangrik hoe sy buite lyk nie, vir hom was dit belangriker hoe sy van binne is. “Ek weet almal gebruik altyd clichés soos dit gaan nie oor hoe iemand buite lyk nie, dit is die binneste wat tel, maar vir ons verhouding was hierdie uitdrukking nogal baie belangrik. Baie mense oordeel en hanteer nie mense met dwergisme goed nie. Hulle staar hulle aan asof daar iets verkeerd is en of hulle een of ander erge siekte het, maar dis nie waar nie. Iemand met dwergisme is maar net ’n bietjie korter en soms lyk hul koppe ’n bietjie groter, maar lengte maak nie die persoon nie. Iemand kan lank wees, maar ’n aaklige persoon wees,” sê hy.

Yunus, wat 1,5 m lank is, vertel hy het laat begin groei en was op skool nou nie die langste in die klas nie, daarom kan hy identifiseer met Raghmat.

“Ek weet hoe dit voel wanneer mense jou oor jou lengte spot. Dit is hoekom ek altyd so beskermend is teenoor my vrou en nou ook ons dogter, wat ook met achondroplasie gebore is, want ek wil seker maak dat hulle altyd weet dat hulle perfek is nes hulle is. Ek wou van daai eerste dag vir haar wys dat ek trots is om langs haar te stap en dat ek nie omgee wat mense sê nie. Wanneer hulle lag, vra ek sommer onmiddellik hoekom.”

Yunus sê op hul eerste paar dates het hy al geweet hy wil met haar trou, maar sy het ’n bietjie hard to get gespeel. Maar volgens haar het hy ’n effens te lank gevat om dinge amptelik te maak. Ná vier jaar saam is hulle in 2004 getroud. Hulle het geweet hulle wou albei graag ’n gesin hê, maar was ’n bietjie bang.

Hulle het twee kinders, Mogamat Yu-suf (12) en Um-Kalthum (10), en met elkeen se geboorte het hulle net gebid en gevra vir ’n gesonde kind. Mogamat Yu­suf is normale lengte en Um-Kalthum is met achondroplasie gebore. Raghmat en Yunus is bly sy kan hul dogter op ’n manier ondersteun wat geen ander persoon sal kan nie.

Wanneer jy na hierdie paartjie en hul gesin kyk, kan jy die liefde sien in hoe hulle met mekaar praat, hoe hulle na mekaar kyk en hoe hulle mekaar vashou. Hulle mag dalk nie dieselfde lyk nie, maar hul liefde wys vir ons dat die liefde altyd oorwin.

Meer oor:  Raghmat Mohamed  |  Yunus Mohamed  |  Dwergisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.