Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Inspirasie: Berader vertel van eie mishandeling
03 October 2018


Hy veg al jare lank om vroue en kinders teen verkragters en misbruikers te beskerm, maar vir hom gaan dit oor baie meer as om net sy gemeenskap te help. Dis ’n saak wat hom na aan die hart lê en iets wat hom ook baie persoonlik raak.

Want wat baie mense nie weet nie, is dat Mark Mentor (52) van Ceres, stigter van die Witzenberg Abuse Crisis Centre op Ceres in die Wes-Kaap, ook as kind fisies en seksueel mishandel is.

Dit is nie iets waaroor Mark graag praat nie en tot onlangs was dit slegs sy jonger suster wat daarvan geweet het, maar Mark voel dis nou die tyd dat hy hieroor praat sodat mense regtig sal verstaan hoekom dit vir hom so belangrik is om sy gemeenskap op hierdie manier te dien.

Nie eens sy oorlede ma het geweet waardeur hy is nie en nie omdat Mark gedink het dit is onbelangrik nie, maar juis omdat hy nie die vrymoedigheid gehad het om daaroor te praat nie.

Volgens Mark maak die samelewing en selfs die polisie dit moeilik vir ’n man om te erken dat hy fisies en veral seksueel mishandel word.

Met sy storie wil hy verhoed dat iemand anders die pyn wat hy oor die jare saam met hom moes dra, alleen moet suffer. Hy wil nie hê iemand anders moet alleen en in stilte huil of skaam voel oor iets wat nie hul skuld is nie. Hy weet hoe dit jou stukkie vir stukkie kan wegvreet aan die binnekant.

Die mishandeling het vier dekades gelede gebeur, maar Mark raak steeds emosioneel wanneer hy terugdink aan sy kinderjare. Hy word vir ’n oomblik eers stil, voordat hy met ’n swaar hart daaroor begin praat.

“Jy weet, ons sê altyd vir slagoffers hulle moet praat oor wat met hulle gebeur het wanneer hulle vir berading gaan, sodat hulle nie daardie pyn vir die res van hul lewe hoef te dra nie. Maar ek het my eie pyn waarvan niemand weet nie,” sê hy.

BO: Mark Mentor, stigter van die Witzenberg Abuse Crisis Centre, troos ’n slagogffer.

VOEL ANDER SE SEER

Hy bly eers weer stil, haal diep asem en praat dan moedig verder.

“Ek is vir jare al by die polisie- en gemeenskapsforums betrokke en omdat ek so ’n sterk persoonlikheid het, verstaan mense nie altyd hoekom ek so maklik aan die huil raak wanneer ons ’n slagoffer en hul gesin besoek nie. Dit is vir hulle vreemd, maar hulle weet nie dat ek presies weet hoe daardie persoon voel nie.”

Sy stem begin wankel voordat hy vertel dat hulle as kinders van hul ma geskei is toe sy by mense moes gaan werk as huishulp. Sy het inslaapwerk gedoen en kon slegs een van haar vier kinders saam met haar vat. Daar was niemand anders om na die res te kyk nie, so hulle is tydelik in ander se sorg geplaas.

Mark se broer het by sy ma gebly, terwyl sy oudste suster heeltemal op haar eie by ’n ander gesin gewoon het. Mark en sy jonger suster is gelukkig saam in ’n huis geplaas, maar was aanhoudend van een familie na ’n ander geskuif. Elke huis het met hul eie uitdagings gekom.

Daar is weer ’n lang stilte, amper asof Mark met sy eie gedagtes stoei oor of hy sy storie moet vertel of nie, maar dan haal hy weer diep asem. Hy vertel hulle was soms in ’n goeie huis met goeie mense, maar ander kere was hulle in huise waar hulle uit hul slaap wakker geslaan is met ’n sweep of in yskoue water gewas is.

Hy was maar net 13 toe hy seksueel mishandel is, maar dit is iets wat Mark tot in sy vyftigs nog nooit vergeet het nie. Daardie gevoel van hulpeloosheid, kwesbaarheid en hartseer is iets wat hy gereeld aan dink wanneer hy ’n slagoffer moet help en iets wat hom aanmoedig om aan te hou met die werk waarmee hy besig is.

Noudat hy klaar sy eie storie gedeel het, klink dit klaar asof sy stem minder wankel en hy meer gemaklik is.

“Ek het nooit die moed gehad om oor my eie trauma te gesels nie, want wanneer jy seksueel of fisies mishandel is as ’n man, lag mense dikwels vir jou of hulle maak grappe daaroor en sê jy het seker daarvoor gevra of daarvan gehou. So in plaas daarvan om hulp te kry of ’n saak teen iemand te maak, bly jy stil en dra jy die pyn saam met jou,” sê hy.

“Dit is hartseer dat dit die realiteit is, want wanneer iets soos dit met jou gebeur, vat dit jou vryheid weg. Dit is nie iets waarvoor jy vra nie en dit is nie iets wat veronderstel is om te gebeur nie, maar dit is hoekom ek so passievol is oor die werk wat ons by die Witzenberg Abuse Crisis Centre doen. Ons is die eerste oproep wat mense in die omgewing maak wanneer ’n verkragting of mishandeling plaasvind en ons staan daardie slagoffer en familie by.”

Mark sê toe hy in 2012 die organisasie begin het, was dit nadat hy oor ’n verkragtingsaak ingelig en gevra is om te help. Dit was ’n vier maande oue babameisie en haar sewejarige boetie wat albei verkrag is, maar deur sy eie seer het die seuntjie sy sussie opgetel en weggehardloop om haar na veiligheid te bring.

Mark Mentor weet presies waardeur die slagoffers gaan wat sy organisasie help.

BAIE VERKRAGTINGS

Mark was baie hartseer hieroor, maar dit het hom laat besef slagoffers is nie net slagoffers nie, maar ook helde. Dit is toe hy besluit het genoeg is genoeg. Hy het geweet iets moet gedoen word om mense by te staan en bewustheid te skep sodat verkragtings en mishandeling tot ’n einde kan kom.

“Daar was al meer as 20 verkragtings in ’n maand in hierdie omgewing en daar is amper nooit ’n week wat verbygaan sonder dat jy van iemand hoor wat verkrag is nie. Wat my nog meer hartseer maak, is die feit dat die mishandelaars net vir ’n tydjie in die tronk is voordat hulle weer uit is of dikwels sommer op borg vrygelaat word terwyl die saak nog in die hof is en dan moet die slagoffers nóg trauma deurgaan,” sê hy.

“Dit is nie reg nie en dit maak my so hartseer om te sien hoe ons vroue en kinders ly. Dit maak my kwaad om te sien hoe hulle seergemaak word en hoe daar nie vir hulle gesorg word nie. Ons moet hulle beskerm en hulle met liefde behandel en dit is hoekom ons by die Witzenberg Abuse Crisis Centre vir hulle ’n stem wil gee en veilig wil laat voel.”

Wanneer ’n voorval plaasvind, word die sentrum laat weet en sal Mark of een van sy 10 kollegas onmiddellik die slagoffer en hul familie gaan besoek. Hulle help dan die gesin om ’n saak by die polisie te gaan maak en reël ook vir berading.

As ’n span reël hulle ook gereeld optogte na die hof wanneer ’n verkragter in die hof verskyn en hulle skryf ook namens die gemeenskap motiverings oor hoekom die persoon nie op borgtog vrygelaat moet word nie. Hulle hou ook gereeld praatjies saam met kinders en die gemeenskap rondom die bewusmaking van verkragting en mishandeling, sodat mense weet waarvoor om uit te kyk en ook sodat hulle weet wat hulle moet doen wanneer daar wel iets met hulle gebeur.

Mark sê sedert die organisasie begin het, is daar ’n afname in die aantal verkragtings, maar hy sê ook daar is nog baie werk om te doen.

Op die oomblik werk hulle uit ’n gedeelte van sy huis wat hy spesiaal vir die sentrum gebruik, maar sy droom is om eendag ’n groot sentrum te kan bou waar hulle vroue en kinders nie net berading kan gee nie, maar ook ’n veilige plek kan bied waar hulle kan bly.

“Almal wat hier werk, doen dit omdat hulle graag ’n verskil wil maak en ons gemeenskap veilig wil hou. Ons het nie baie geld nie, maar ons doen wat ons kan met die bietjie wat ons het en ons glo dat God vir ons sal voorsien soos wat Hy nog altyd gedoen het.

“Ons hoor van vroue wat gebrand word, kinders wat vermoor word en dit breek jou hart in stukke. Dit is tyd dat ons saamstaan en sê genoeg is genoeg. Ek wil hê elke man moet na hulself en hul familie en vriende kyk en sê ons gaan ons vroue en kinders beskerm. Ek wil hê vroue moet na hul mans kyk en weet hulle gaan veilig wees.”

Meer oor:  Mishandeling  |  Kuier  |  Trauma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.