Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Geruk deur geweld
09 Januarie 2019

Cynthino Plaatjies was nie veronderstel om op 11 aan ’n enkele meshou in die hart te sterf nie. Op 11 was Rishaunn Gouws nie veronderstel om met sy sterwende nefie in sy arms te sit terwyl hy om hulp gewag het nie. En op 13 jaar was die seun wat Cynthino na bewering doodgesteek het, nie veronderstel om al bloed op sy hande te hê nie...

Maar aldrie hierdie seuns van Groenheuwel in die Paarl is ryp gedruk deur ’n samelewing wat so diep in ’n morele agteruitgang verval is en so erg gebuk gaan onder maatskaplike euwels dat ’n blink toekoms vir jongmense van sulke gemeenskappe amper onmoontlik lyk.

Tydens die voorval op Saterdag 21 Julie 2018, het Cynthino en sy maatjies op ’n landjie (’n oop stuk veld) gespeel. Die 13-jarige verdagte en ’n maat het Cynthino-hulle genader en vir geld gevra. Cynthino was besig om bollemakiesie te slaan en het nie gesien die verdagte vra sy maatjies vir geld en pluk toe na bewering ’n mes uit nie. Sy maats het geskrik en weggehardloop en vir Cynthino geskree om ook te hardloop, maar hy kon nie betyds wegkom nie. Na bewering het die 13-jarige, ’n leerder by Dal Josafat Primêre Skool, ook in Paarl, vir Cynthino met die mes steek toe hy sê het nie geld nie. Só het Rishaunn en van Cynthino se maatjies wat daardie dag daar was, vir sy familie vertel.

Kaptein FC van Wyk, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. “Die verdagte is gearresteer en gestuur vir ’n voorlopige assessering by ’n maatskaplike werker. Die minderjarige is in die sorg van sy ouers vrygelaat.” Juis omdat hy minderjarig is, kon Kuier nie die verdagte se identiteit vasstel nie omdat die wet minderjariges (ook verdagtes in kriminele sake) beskerm.

André Kirsten, ’n regskenner van André Kirsten Attorneys in die Kaap, verduidelik wanneer ’n minderjarige by ’n misdaad betrokke is, probeer die hof alles in sy vermoë om die oortreder eerder te rehabiliteer as om hulle tronk toe te stuur.

“As die kind onder 18 jaar is, moet die hof ingevolge die Kinderwet optree en kyk wat in die beste belang van die kind gaan wees. Die hof kan nie die kind behandel soos ’n normale beskuldigde nie. Kinders dink nie dieselfde soos grootmense nie en hulle sien ook nie die gevolge van hul dade so intens en in diepte soos ’n volwassene nie. Die hof sal vra of daar enige ander alternatiewe metode is om met die saak te handel as om die kind gevangenisstraf op te lê,” sê André.

Maar indien die hof wel op gevangenisstraf besluit, word ’n klomp faktore in ag geneem en moet dit die kortste (gevangenisstraf-)termyn moontlik wees, “maar ook net as al die ander opsies uitgeput is,” verduidelik André voorts.

Die voorval laat ’n mens se hare regop staan. Geweld is een ding, maar wanneer dit oorspoel na kinders wat veronderstel is om die lewe deur speel en ander vorme van positiewe stimulasie te ontdek, vra dit harde vrae aan ons ’n samelewing. Dit vra vrae oor veral watter tipe omgewing ons vir die kinders skep om in te funksioneer. Want hoe gebeur dit dat een skoolkind dink dis oukei om met ’n mes rond te loop en ’n ander een te wil beroof en dan dood te steek?

VAN LINKS: Cynthino se antie, Ilse Gouws, oupa Henry en ouma Maticia Saal is gebroke ná sy dood.

alles teen hom

Beide Cynthino en die verdagte het hul hele lewens voor hulle gehad, maar in plaas van kyk hoe hulle hom kon help om in ’n selfstandige jongman te ontwikkel, moes Cynthino se geliefdes op 4 Augustus 2018 by ’n oop graf staan. Sy maatjies en veral sy nefie Rishaunn, sit nou met onmeetbare trauma en van hulle voel skuldig omdat hulle gevlug het en Cynthino alleen was met die verdagte en sy maat.

Die skoolgemeenskap van Dalweide Primêre Skool sukkel ook steeds om nóg ’n leerder se sinnelose en wrede dood te verwerk, nadat Shamonique Claasen (10), ’n graad vier-leerder, in 2016 deur haar suster se kêrel verkrag en vermoor is.

Beide Shamonique en Cynthino se dood het die gemeenskap van Groenheuwel geruk. Maar as ’n mens net luister na Cynthino se familie oor hoe sy 11 kort lewensjare op aarde verloop het, was die odds klaar teen hom. Hy het moedig sy plek in die wêreld probeer uitwerk, maar dit was nie maklik nie. Sy ouers was nie meer saam nie en hy het dus tussen twee familiehuise beweeg – heeltyd op soek na standvastigheid, geborgenheid en ’n plek om iewers te behoort. Maar bowenal het sy jong seunshart na liefde gesoek. Dit was by sy oupa en ouma (aan vaderskant), Henry en Maticia Saal, se huis in Groenheuwel en sy ander ouma, Ella Plaatjies, s’n in die informele nedersetting Fairyland in Groenheuwel, waartussen Cynthino die heeltyd beweeg het.

Goed soos sakgeld, wat ander kinders dalk as vanselfsprekend aanvaar, het Cynthino nie geken nie. ’n 50c hier en daar ja, maar nie baie meer as dit nie omdat dit finansieel moeilik gegaan het. En dit was juis geld wat die verdagte by Cynthino gesoek het voordat hy hom doodgesteek het. En net drie maande voor sy moord, het Cynthino sy ma, Cynthia, in April 2018 aan die dood afgestaan. Niemand sou kon dink dat hy etlike maande later dieselfde pad sou volg nie.

Cynthino se omstandighede het gemaak dat hy laat skool toe is en op 11 was hy maar eers in graad drie by Dalweide Primêre Skool. Op sy ouderdom moes hy al in graad ses gewees het en het op ’n akademiese front dus klaar ’n agterstand gehad. Sy moeilike omstandighede het sy merk op Cynthino gelaat, want hy was gereeld in die skoolhoof se kantoor vir wangedrag. Sy skoolwerk was nie op standaard nie en netheid was ook ’n probleem. Maar eintlik was sy gedrag ’n simptoom van die maatskaplike uitdagings in sy lewe. Maar, vertel oom Henry en an’ Maticia, dinge het klaar beter begin lyk toe Cynthino ná sy ma se dood in hul sorg geplaas word. Hy was toe waar hy so gelukkig was, vertel oom Henry met ’n hartseer glimlag, want hy het altyd baie na hulle toe gekom al het hy by sy ma en ander ouma gebly.

ouma en oupa se kind

Waar ons buite onder ’n boom met oom Henry en an’ Maticia gesels by die einste huis waar Cynthino in sy laaste dae permanent gewoon het, is oom Henry die dapper een. Sy emosies is onder beheer, maar ’n keelskoonmaak hier en ’n kuggie daar vertel van ’n oupahart wat gebreek is. Hy klou regdeur die onderhoud vas aan ’n goudgeel karretjie van Cynthino, so asof dit al is wat hom hierdeur sal kry.

Maar dis die beeld van an’ Maticia wat vasklou aan ’n vergrote foto van Cynthino en die trane wat uit sy antie, Ilse Gouws (36, Rishaunn se ma), se pyngevulde oë val, wat wys presies watter kosbare mens sinneloos uit hul lewens geruk is. Dis ook wanneer Cynthino se pa, Peter, wat by oom Henry en an’ Maticia bly, sê hy sien nie kans om te praat nie, dat ’n mens besef hoe baie dit van oom Henry-hulle vat om oor hul seer te praat.

Maar die oomblik dat ons oor Cynthino begin praat, helder oom Henry se gesig op, want in hierdie oomblik laat hy toe dat die goeie herinneringe en nie die pyn nie, vir ’n wyle sy hart oorheers.

Die hof kan nie die kind behandel soos 'n normale beskuldigde nie. Kinders dink nie dieselfde soos grootmense nie.
Andre Kirsten

“As ons gesien het, was Cynthino hier. Sommer direk na skool ook het hy hierheen gekom. Baie keer het hy oornag,” begin oom Henry. “Ek praat nie sleg van sy ander ouma nie, maar hier het hy die liefde gekry waarna hy gesoek het. Hy was geheg aan ons,” vertel oom Henry sonder ’n sweem van veroordeling.

“Cynthino was ’n mensekind. Ek sal hom stuur om krag te koop by die spaza (winkel) en as hy nie daar kry nie, sal hy nie ophou soek nie. Sommige dae soek ek hom dan doen hy ’n guns vir die bure.” Oom Henry praat van Cynthino in die teenwoordige tyd, so asof hy steeds hier is. Hy begin saggies lag en sy gesig helder opnuut op wanneer hy dié van Cynthino onthou: “Hy het amper ’n sintuig gehad van wanneer sy ouma gaan kos skep.” An’ Maticia lag en voeg by: “Hy het van enige kos gehou, veral breyani.”

“Cynthino was gelukkig toe hy hier kom bly. Sy skoolwerk het ook baie verbeter en sy laaste (Junie 2018) rapport was baie mooi. By die skool het hulle gekla hy is nie netjies nie, maar by ons was hy skoner. Ek was ook sy barber,” onthou oom Henry trots.

Dan sak sy gesig wanneer hy byvoeg die Saterdag van Cynthino se dood sou hy nog sy hare gesny het. Oom Henry kyk weer af na Cynthino se goudgeel speelkarretjie in sy hand en draai dit in die rondte.

An’ Maticia, wat die minste praat, voel aan dat sý nou die sterk een moet wees en vertel in ’n sagte stem dat Cynthino “my maatjie was”.

“Hy het elke Saterdag saam met my geloop na my familie in Chicago toe. Daai oggend (van sy dood) het hy egter saam met sy maatjies verdwyn. Ek het hom gaan soek, maar nie gekry nie.”

Chris Bam, skoolhoof by Dalweide Primêr waar Cynthino in graad drie was, praat oor die seun.

vir altyd weg

Cynthino se maatjies het dieselfde oggend vertel hy is met ’n mes gesteek. Rishaunn het by hom agtergebly. Oom Henry, ’n buurman, Ilse en haar ander seun, Jumay (15), het hulle na die landjie gehaas waar Cynthino-hulle gespeel het.

Oom Henry sê sag: “Toe ek daar kom, toe lê my kind daar...”

Die trane loop oor Ilse se wange en haar gesig vertrek van die pyn wanneer sy daardie oomblik onthou, wat sy wens nooit gebeur het nie.

“Rishaunn het met Cynthino in sy arms gesit. Toe ek nog op pad was (na die toneel), kom Rishaunn huil-huil aangehardloop en sê, ‘Cynthino is nie meer daar nie’. Sy tongetjie was al spierwit (toe ek by hom kom). Hy het ’n merkie op sy hart gehad en daar het net ’n klein bietjie vetjies uit sy wond gekom, het ek gesien toe ek sy hempie oplig.”

Toe meer details oor hoe Cynthino dood is bekend word, het dit almal diep geskok. “Om te hoor die kind wat hom gesteek het, is 13 was ’n skok. Ek was geskok om te hoor ’n kind van daai ouderdom loop met ’n mes (rond),” sê oom Henry in ongeloof.

Jessica Shelver, woordvoerder vir die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), sê by navraag hul departement betreur die voorval en het hul medelye met Cynthino se familie, vriende en skoolgemeenskap uitgespreek. Sy kon nie meer oor die voorval sê nie omdat dit nie in skooltyd en op skoolgronde gebeur het nie.

Jessica sê wel: “Dit is belangrik dat ouers ook ’n rol speel om te verseker dat hul kinders hulself gedra en op maniere optree wat nie verwoestend of gewelddadig is nie. Ongelukkig lewe ons in ’n samelewing waar bende-aktiwiteite en mishandeling hoog is in sommige gemeenskappe. En dié tipe gedrag kan leerders affekteer – nie net in terme van geweld nie, maar trauma ook, wat hul studies en geleenthede kan affekteer.”

En Ilse is juis dood bekommerd oor veral Rishaunn wat so ’n hegte band met Cynthino gehad het en in wie se arms Cynthino uiteindelik gesterf het.

Haar seun se skoolwerk gaan agteruit, sê Ilse. Haar stem is naby breekpunt wanneer sy sê: “Rishaunn sê hy mis hom (Cynthino). Hulle was baie lief vir mekaar. Rishaunn wou nie eens meer aan die derby of (skool-)konsert deelneem nie, want Cynthino is nie daar nie.”

Ilse se pogings om haar emosies te beheer is tevergeefs en dis soos ’n damwal wat breek wanneer sy huilend sê, “saans met opskeptyd mis ek hom die meeste. Hy het ook elke aand met my meisiekind pop gespeel”.

Sy tongetjie was al spierwit. Hy het 'n merkie op sy hart gehad en daar het net 'n klein bietjie vetjies uit sy wond gekom.
Henry Saal

by die skool

Dis nie net in Cynthino se huis waar hy ’n groot leemte gelaat het nie. Sy skoolhoof by Dalweide Primêre Skool, mnr. Chris Bam, en sy graad drie-klasonderwyser, Adéle Louw, sukkel steeds om sy skokdood te verwerk. Maar hul pligte as onderwysers vereis van hulle om die trane af te vee omdat die ander kinders hulle nodig het. Nie net met hul skoolwerk nie, maar om hulle ook te help sin maak van wat met hul skoolmaatjie gebeur het.

Die oomblik toe mnr. Bam hoor van Cynthino se dood, het hulle oom Henry-hulle bygestaan en onder meer vir berading vir die familie gereël en het ook die koste van sy begrafnis gedra.

Met ’n besoek aan Dalweide Primêr is die gemoed somber wanneer ons oor Cynthino praat.

“Cynthino was baie in my kantoor vir wangedrag, maar ons het verstaan die konteks van waar dit kom. Toe ons die Maandag (ná sy dood) by die skool kom en die omstandighede hoor, het dit ons geskok. Want daar was niks wat vooraf gebeur het nie; dit was ’n sinnelose daad,” sê mnr. Bam. Hy sê voorts hulle moes baie gesprekke met die leerders hê, want hulle verstaan nie wat gebeur het nie. Die WKOD het leiding aan die personeel verskaf en die belangrikste was dat die leerders moes sê hoe hulle voel, sê hy. Cynthino se klasmaats het briefies aan hom geskryf om te sê hoe hulle voel.

“Wat met Cynthino gebeur het, was ’n eye-opener vir baie mense. Hy het meer liefde en beskerming nodig gehad. Ons skool moet ’n plek wees waar kinders veilig voel, so ook die huis. Ons word gekonfronteer met kinders wat kennis dra van bendes, dwelmmisbruik, ’n tekort aan rolmodelle en (van) hulle kom skool toe sonder ’n behoorlike waardestelsel. Ons invloed is altyd beperk as ’n kind uit so ’n samelewing kom,” sê mnr. Bam.

In Cynthino se klas, sukkel Adéle om die trane terug te hou. Sy het steeds ’n foto van Cynthino in die klas en sê sy maak ’n punt daarvan dat Cynthino se klasmaats nie sy opgewekte gees vergeet nie. Sy vang haarself ook nog baie keer dat sy Cynthino se naam noem. Maar sy is veral hartseer dat hy nooit die geleentheid gekry het om François Bloemhof se gedig “Batman-medisyne” op 7 Augustus 2018 by die Eisteddfod te kon opsê nie, want hy is twee weke vantevore vermoor.

Adéle begin huil voor sy haar volgende sin kan voltooi. In ’n gebroke, hees stem, kry sy uiteindelik uit: “Ek het gedog die trane is op; dis ’n baie rou gevoel. Cynthino het só uitgesien na die Eisteddfod, want ek dink nie in sy lewe het hy uitgestaan nie en om op daai verhoog te kon staan, was ’n manier vir hom om uit te staan en raakgesien te word.”

Toe sy klasmaats in ’n koor van die soetste kinderstemme “Batman-medisyne” opsê, tref Cynthino se sinnelose dood jou soos ’n vuishou in die maag. Want hy sou dit met dieselfde opgewondenheid opgesê het, al die aandag op hom met sy oupa-hulle en klasjuffrou in die gehoor wat trots toekyk.

Maar dié oomblik was nooit vir hom beskore nie, want ’n sinnelose daad het sy jong lewe van hom af weggeruk en laat sy familie met verlange oor alles wat kon wees... En dit laat ons samelewing met die vraag: Wat gaan ons doen om so ’n tragedie in die toekoms te vermy?

Wat sê jy?
Sê vir ons wat jy dink van die storie. Stuur 'n Whatsapp na 0607840589, gevolg deur jou mening.

Meer oor:  Kuier  |  Kindermoord  |  Skool Geweld  |  Boelies  |  Ware Lewensdrama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.