Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Geskei: Leer uit jou foute en vind weer liefde
18 Maart 2020
Foto: Gallo Images/Getty Images


Dis daai klein goedjies waaraan jy nie dink nie wat jou kan breek ná ’n egskeiding – nou is daar niemand om die lig af te sit, jou te help met jou zip, saam te lag vir ’n fliek of toiletpapier te bring nie. Daar is nou ’n mens-grootte gat in jou lewe. En dis in hierdie gat waar eensaamheid graag broei. Ná ’n egskeiding moet jy alles wat jy gedink het jy weet oor die liefde, en soms selfs oor jouself, heroorweeg. Maar as jy kan leer uit jou foute, is daar ’n kans dat jy die resep vir ware liefde kan ontdek.

Só het Melissa Pieters (40) van Parow in die Kaap uitgevind. “Drie jaar gelede, op 37, het ons paadjies geskei. Tot dusver was dit verseker die scarieste tyd van my lewe,” onthul Melissa oor die einde van haar huwelik. Vir haar was die moeilikste ding van die situasie om die companionship te verloor – daai maat wat altyd daar is, of dit nou vervullend was of nie.

“O, ek was stukkend en het nie goed genoeg gevoel vir enigiemand nie.” Maar tyd heel alles en daar was lig aan die einde van die tonnel. En die tweede lig skyn baie keer helderder as die eerste een, vertel sy met ’n stoute glimlag. Sowat twee jaar nadat sy geskei is, het sy ’n ou skoolvriend raakgeloop en die liefde het sommer gou geblom, hoewel sy aanvanklik bang was niemand gaan belangstel in iemand anders se leftovers nie.

“Die ding is, dis amper soos ’n tweede kans, nie net op liefde nie, maar op die lewe. Jy waardeer dit net soveel meer, pas jou verhouding, maar ook jouself en jou behoeftes, soveel beter op. Alles is anders. Die klein jakkalsies krap nie meer so baie nie. Ek gee nie om of hy sy wasgoed in die mandjie gooi en of hy vir my blomme bring nie. Hy haal nie sy irritasies op my uit nie en vertrou my genoeg dat ek saam met my vriende kan kuier sonder hom. Dis amper asof net dit wat belangrik is nou saak maak – ons liefde en respek vir mekaar. Die res is net agtergrondgeraas.”

Melissa voel die feit dat haar nuwe liefde ook geskei is, tel eintlik in hul guns. “Dis asof ons mekaar se seer verstaan, weet wat ons oorleef het en dit maak ons nog liewer vir mekaar.”

Vat jou tyd

Wanneer dit kom by spanningsvolle gebeurtenisse, plaas navorsers egskeidings in die tweede plek net ná die dood van ’n maat of kind en selfs voor tronkstraf of ’n gesondheidskrisis. Maar op ’n stadium moet jy maar weer jou hart van die grond af optel, jouself afskud en aangaan. “Dis ’n groot aanpassing om jou hele lewe te moet herrangskik. Gee jouself ten minste ’n jaar of twee voor jy weer begin date,” meen Cornelia Swart, ’n sielkundige van Pretoria. Dit hang af van die situasie, maar ook van die persoon.

“Soms verlaat iemand die huwelik juis omdat hy of sy in ’n verhouding met iemand anders wil wees. Sommige mense onttrek baie vroeg uit ’n ongelukkige huwelik en hulle is emosioneel geskei lank voor hulle wettig skei. Daar is egter steeds emosies van verlies, woede, verwyt, skuld en vele meer wat deurgewerk moet word.” Dit is belangrik dat jy genoeg tyd neem om die emosionele konneksie wat jy met jou eks gehad het, te breek.

“Raak van al jou bagasie ontslae! Alle emosies, negatiwiteit, onstabiliteit . . . Anders maak jy weer dieselfde foute. Kom finansieel eers weer op jou voete. Jy moet verkieslik eers op jou eie regop kan staan voordat jy weer in ’n huwelik ingaan,” waarsku Cornelia. “Baie mense verloor hulself in die huwelik. Hulle offer op, hulle gee in, hulle kom hulself te na, hulle ontken en verwoord nie hul eie behoeftes nie, hulle raak afhanklik en ontken wie hulle is as mens, vrou, individu. Maak weer kennis met jouself!”

As jy kinders het, moet hulle die enigste verbintenis tussen jou en jou eks wees. “Moenie enige betrokkenheid in jou lewe toelaat wat jou nuwe verhouding sal bederf nie,” sê Cornelia. En as jy nog jou kinders uitvra oor wat hul pa of ma doen, is jy nog nie gereed nie. As jy vriendelik en gemaklik met jou eks kan wees by funksies, sonder om hulle te vermy of aan te gluur en as jy sonder emosie kan praat oor jou vorige huwelik sonder om jouself of jou eks te blameer, is jy dalk gereed om weer te begin date. Soms voel ’n geskeide mens baie skuldig oor die impak van die egskeiding op kinders en daarom oorkompenseer hulle.

“Hulle prioritiseer die kinders se behoeftes konstant bo hul eie. So jy moet bereid en gereed wees om alleen saam met ’n nuwe vriend te kuier en jouself die geleentheid en reg gee om ook weer geluk te vind,” verduidelik Cornelia. Dis belangrik dat ’n nuwe vriend stadig en geleidelik meer gereeld in die prentjie kom tot wanneer almal gemaklik is met die situasie.

“Wees versigtig om by iemand betrokke te raak wat nou die behoeftes vervul, wat nooit in jou huwelik vervul was nie. Dit is dikwels ’n slaggat. Jy is nie ontslae van jou emosionele bagasie nie, want jy is uitgehonger vir die liefde wat jy nie vir jare gekry het nie en jy dink ‘dit is die man wat ek nog altyd wou hê!’ ” Wat jy nie dan besef nie, is dat jy moontlik bygedra het daartoe dat jou eks jou nie liefde gegee het nie en jy dalk hul goeie eienskappe begin oorsien het. “Die nuwe man lyk soos die ridder op die wit perd ná jare se seer en emosionele verwaarlosing, maar jy moet eers deur ’n proses van genesing gaan om weer objektief na ’n nuwe verhouding te kyk.”

Connect met jouself

Janine Eveleigh, ’n lewensafrigter van Somerset-Wes buite Kaapstad, verduidelik dit is belangrik vir ’n geskeide om eers bestekopname te neem van hul binnewêreld. Dit is belangrik om die trauma van ’n egskeiding te omskep in ’n geleentheid om jou persoonlike issues aan te spreek en die lewe vir jouself ’n baie beter plek te maak.

“Jy weet jy is gereed wanneer jy kan begin dink aan hoe dit sal voel om met iemand nuuts op ’n date te gaan. Solank daar ’n weerstand is, sal jy verskonings maak en dalk sover gaan om ’n afspraak te maak, maar dan dit kanselleer of wel uitgaan, maar dit is ’n totale mislukking. Dit hang af van jou eie geloofsoortuigings, jou selfbeeld en selfvertroue, en of jy regtig dit wil doen. Laat jou lei deur jou instink.

“Daar is dan steeds die kans dat dit nie kan uitwerk nie, maar deesdae is dit nie die einde van alles indien jy met iemand intiem verkeer nie. Die belangrikste is dat jy die oomblik geniet en daaruit gekoester voel.”

Haar raad vir nuwe verhoudings is om nie met die verkeerde verwagtings ’n maat te soek nie. “Maak ’n lysie van die eien-skappe wat vir jou belangrik is in ’n nuwe maat. Daar behoort definitiewe eien-skappe te wees wat ononderhandelbaar is en dan kan daar eienskappe wees wat jy kan oorsien, want uit die aard van die saak is niemand volmaak nie,” sê Janine.

Die dating reëls het dalk heeltemal verander sedert jy laas single was, maar op die ou end maak dit nie saak nie. Doen wat vir jou gemaklik is en geniet dit! Om die beste weergawe van jou lewe te lei, moet jy eers jouself erken, aanvaar, liefhê en vergewe, anders kan jy nie ander liefhê nie.

As jy sukkel om oor jou egskeiding te kom, is Cornelia se raad:

• So moeilik as wat dit nou voel, onthou daar is lewe ná egskeiding.

• Hou op om te ontken. Vra jouself of jou huwelik regtig vir jou lekker was en of jy maar net vasklou uit vrees. Is jy hartseer oor die verbrokkeling van jou huwelik of die gedagte van wat dit kon wees?

• ’n Mens moet rou, maar die lewe gaan aan. Vind ’n manier om jou een voet voor jou ander te sit, vir jou kinders én jouself.

• Hou op om ’n drama queen te wees. Moenie vir jouself goed sê soos “ek het alles verloor, my lewe is verby nie”. Begin hierdie ervaar as ’n nuwe begin. Dis nou tyd om weer jouself en jou eie passies te herontdek.

• As jy in ’n nuwe verhouding is, be-skerm jouself deur te vra “wat kos dit my om hier te wees?”.

Meer oor:  Verhoudings  |  Kuier  |  Egskeiding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.