Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Stop die mishandeling: Vroue loop deur onder vuiste
7 Augustus 2019
emosionele mishandeling

Vroue in hierdie mooie land van ons word emosioneel afgekraak, ekonomies mishandel, verniel, geslaan en van hul lewens beroof deur mans wat beweer dat hulle hulle liefhet.

Navorsing in die 2016 SA Health and Demographic Survey wys een uit elke vyf vroue ouer as 18 het al fisieke geweld ervaar en geslagsgebaseerde geweld (gender-based violence of GBV) is op so ’n krisispunt dat president Cyril Ramaphosa in November verlede jaar ’n nasionale strategiese plan aangekondig het om dit aan te spreek.

Almal se probleem

Kenners is dit eens dat Suid-Afrika van die hoogste syfers het wanneer dit kom by vroue wat geweld aan die hand van mans ervaar en hierdie geweld is diep gewortel in geslagsongelykheid.

“Die graad van geweld en die gereeldheid daarvan het toegeneem,” meen Bernadine Bachar, direkteur van die Saartjie Baartman-sentrum in Kaapstad. Dié sentrum bied skuiling en ondersteuning aan vroue en kinders wat slagoffers is van geweld. “Ons maak voorsiening vir 120 vroue en kinders elke dag, maar ons moet van hulle wegwys (na ander skuilplekke). Baie vroue en kinders kom hier aan en het minstens een of twee vorms van mishandeling ervaar. Ons kry vroue wat vlug met net die klere wat hulle aanhet. GBV is nie net ’n stryd vir shelters nie; dit is ons almal se probleem,” sê Bernadine.

Die ander kwessie wat dit soms moeilik maak om geweld teen vroue in Suid-Afrika behoorlik aan te spreek, is dat Suid-Afrika ’n uitstekende Grondwet, goeie beleide en wetgewing het, maar dit nie noodwendig toegpas word wanneer dit nodig is nie, meen Sonke Gender Justice, ’n belangegroep met wie Kuier gepraat het. Die gebrek aan die toepassing van wette en beleide is ook bevestig in die raamwerk van die nasionale strategiese plan vir GBV.

Maar die tyd is ook verby dat ons as ’n samelewing geweld teen vroue moet sien as “vroue se probleem”, meen prof. Naeemah Abrahams, direkteur van die geslags- en gesondheidsnavorsingseenheid by die Mediese Navorsingsraad (MNR).

“Ons moenie vra hoekom vroue vasgevang bly in verhoudings waarin hulle mishandel word nie. Hoekom hou mans vroue gevange in hierdie verhoudings waarin hulle vroue mishandel? Ons moet dit stel as ’n mansprobleem,” meen Naeemah.

Pres. Ramaphosa het die nasionale strategiese plan vir GBV tydens ’n presidensiële beraad aangekondig waar verskeie aktivisgroepe teenwoordig was. In sy toespraak het die president onder meer gesê GBV is ’n krisis wat elke gemeenskap in ons land raak en die meeste families op een of ander manier raak.

“Die meedoënlose moord van vroue – vir geen rede anders as die feit dat hulle vroue is nie – is besig om die siel van ons nasie weg te vreet. Oorlewendes van seksuele geweld en mishandeling – fisiek, sielkundig of ekonomies – lewe dikwels vir die res van hul lewe met hierdie letsels,” het pres. Ramaphosa gesê.

Letsels bly

emosionele mishandeling
Foto ter illustrasie

Hy meen die fisieke en sielkundige impak mag dalk wyk, maar dit sal nooit vir ewig verdwyn nie.

“Vroue word dikwels geskend deur hul intieme maats, baie keer in die privaatheid van hul eie huise. Hulle word geklap, geslaan, verkrag, aangerand, emosioneel mishandel en vermoor omdat die man in hul lewe glo hy het die reg om mag en beheer oor hulle uit te oefen,” het pres. Ramaphosa voorts gesê. Hy het bygevoeg daar is geen aanvaarbare vorm van GBV nie en dat dit uitgeroei moet word.

Dat die regering uiteindelik gehoor gegee het aan desperate vroue se pleidooie om in te gryp, is verblydende nuus en bring ’n bietjie hoop.

Volgens Naeemah is politieke wil belangrik om geweld teen vroue aan te spreek. “Ons het dit nog nooit in Suid-Afrika gehad nie, tot laasjaar. So dit is belangrik dat ons voortgaan om seker te maak hierdie plan word befonds.”

Maar soos pres. Ramaphosa genoem het en iets wat ons hier by Kuier al herhaaldelik by slagoffers gehoor het, is dat die letsels van mishandeling bly. Maar net omdat ons stories van mishandeling so baie hoor, beteken dit nie ons moet ophou om dit te vertel nie. Want hoe anders gaan ons hierdie plaag en vlaag van geweld aanspreek? Dis nooit oukei vir ’n vrou om onder ’n man se vuiste en die kwetsende woorde wat sy mond kan spuug, deur te loop nie.

Op 57 dra Shannon Witbooi* van die Wes-Kaap steeds haar letsels saam met haar en sy het daardie letsels gekry omdat sy ’n slagoffer was van GBV. Shannon het ook grootgeword in ’n gemeenskap waar dit die “normaalste” ding vir ’n man was om sy vrou te slaan net soos hy lus kry.

Ons moenie vra hoekom vroue vasgevang bly in verhoudings waarn hulle mishandel word nie. Hoekom hou mans vroue gevange in hierdie verhoudings?
Naeemah Abrahams

Met ’n emosiebelaaide stem begin Shannon vertel dat haar ma altyd vir haar gesê het sy wou haar nooit gehad het nie. Sy het gevolglik tussen pleeghuise en haar ouma se huis grootgeword. Of soos sy dit onthou: “Ons (sy en haar sibbe) was altyd iewers geplak”.

Later het sy uitgevind hoekom haar ma so antagonisties teenoor haar was. “Ek was ’n produk van verkragting. Dit was ’n siklus – my ma het GBV ervaar en dis oorgedra van generasie tot generasie,” sê Shannon.

Hoe sy grootgemaak is, het gemaak dat sy op soek was na affection, daarom dat sy op 18 al getrou het met haar eerste man, John*.

Vir Shannon was daar nie eens ’n “wittebroodfase” nie, want hy het haar begin slaan toe hulle nog uitgegaan het. “Ek het geweet om met hom te trou was nie wat ek wou gehad het nie, maar ek het swanger geraak en soos dit daai tyd gegaan het, ‘moes’ ons trou.”

Shannon vertel John het grootgeword in ’n huis waar sy pa sy ma geslaan het en dit was dus vir hom normaal om haar te slaan. Sy onthou toe hulle ses jaar getroud was, is haar skoonma met kanker gediagnoseer en die dokters het gesê haar mishandeling het bygedra daartoe “omdat sy ’n gebreekte been, ’n gebreekte arm, you name it, gehad het”. Haar skoonma het altyd gesê “dis maar hoe mans is”. Dít was genoeg vir Shannon om te besef sy sal uit haar huwelik moet kom.

“Die abuse begin subtle met ’n shove en dan ’n vuishou. As vrou hoor jy heeltyd in society jy moet vir jou man kosmaak, vir hom huishou, want dit maak van jou ’n ‘goeie vrou’. Vir mense het dit van buite af gelyk ek is fine, maar binne-in was ek afgebreek. My liggaam was ook net so swak van al die beatings,” vertel Shannon.

Sy het uiteindelik haar eerste man gelos, maar siek geword met tuberkulose (TB) net toe sy haar lewe begin herbou het. Haar regterlong is in die proses verwyder en sy was vir ’n jaar in die hospitaal. Maar dis juis in dié tyd dat sy iemand nuut ontmoet het. Adam* het haar bygestaan en was daar vir haar en haar drie kinders (uit haar eerste huwelik). Maar anders as met haar eerste huwelik het sy hierdie keer ’n wittebroodfase vir ’n volle jaar gehad.

“Ons het alles saamgedoen – saam kerk geloop; saam ’n besigheid begin, maar toe begin die cracks ’n jaar ná ons troue wys. Enigiets sou hom laat afgaan (en die slanery laat begin). Ek het nou nog ’n scar van die keer toe hy my met ’n bottel oor die kop geslaan het.”

Shannon onthou ook die absolute skaamte en vernedering wat sy gevoel het wanneer sy die wêreld die volgende dag met ’n blou oog in die oë moes kyk.

Sy het verskeie kere by ander mense ingetrek om weg te kom, maar dan maak die kinders (weens die trauma van die mishandeling) byvoorbeeld hul bed nat en dan het sy maar weer teruggetrek huis toe vir hul onthalwe.

Dat haar kinders so gely het onder die fisieke mishandeling, was erg vir Shannon. Maar die grootste skok het gekom toe sy moes hoor Adam het sy mishandeling verder gevat. Dit het 25 jaar gelede gebeur, maar Shannon se stem wankel steeds wanneer sy dié deel van haar storie vertel.

Behalwe haar drie kinders uit haar eerste huwelik, het Shannon en Adam ook ’n dogter saam gehad. Shannon onthou hoe haar middeldogter (toe sewe) vir haar vertel het sy het ’n (vaginale) afskeiding. ’n Paar dae later het haar jongste dogter (toe drie) dieselfde probleem gehad. Shannon het hulle albei Rooikruis-kinderhospitaal toe gevat waar sy by dokters moes hoor hulle is seksueel mishandel en dat dit Adam is wat dit aan hulle doen.

“Ek was numb, want al wat ek wou doen, was om my kinders te beskerm,” sê Shannon emosioneel. Sy het hierna baie begin drink omdat sy gesukkel het om haar eie mishandeling en ook dié van haar twee dogters te verwerk. Maar net toe sy dink dinge kon nie erger nie, het haar oudste dogter erken Adam het háár ook seksueel mishandel en dat dit reeds begin het toe Shannon destyds in die hospitaal was en hy voorgegee het hy is haar “ridder op die wit perd”.

Adam is gearresteer en 14 jaar tronkstraf weens aldrie dogters se seksuele mishandeling opgelê. Die impak van sy mishandeling was onmeetbaar groot. Shannon en haar dogters het in ’n shelter opgeëindig terwyl haar seun by familie moes bly, wat gemaak het dat Shannon op sý lewe uitgemis het. Haar oudste dogter het geestelike gesondheidsprobleme ontwikkel en moes talle kere psigiatriese behandeling ontvang.

“Sy het ’n nut case geword; sy het layers en layers klere aangetrek en heeltyd oor haar skouer gekyk. Ek het baie begin drink en my seun het uiteindelik ’n bendelid geword en is op 22 doodgeskiet.”

In haar donkerste tye, veral toe dit uitkom Adam het haar dogters seksueel mishandel, het Shannon na hul kerk uitgereik, maar daar het die pastore haar aangeraai om die nuus eerder stil te hou en nie met die gemeente te deel nie.

So vir Shannon is dit noodsaaklik dat GBV in ons samelewing uitgeroei word.

“Dit is ’n euwel en so kompleks. Dit verwoes alles wat dit aanraak. Dis nie net van ’n man wat ’n vrou slaan nie. Dit raak ’n nutritional saak, want wat eet die kinders? Dis economical, want jy moet in snaakse areas bly omdat jy nie kan bekostig om elders te bly nie,” sê sy.

Wat vir Shannon vandag, soveel jare later, nóg hartseerder maak, is dat sy onder ’n skuilnaam moet praat om haar dogters te beskerm, “en sodoende beskerm ek die oortreders”.

“My eerste man het weer getrou en sy vrou ook geslaan. My tweede man het uit die tronk gekom, weer getrou en ook sy vrou geslaan. Dit stop nooit nie!”

Maar die tipe mishandeling wat Shannon deurgemaak het, is soos ons weet, nie al tipe nie. 

Afgebreek

Zuraida Abrahams* (57) van die Kaapse Vlakte het ook jonk getrou en beskryf die eerste twee jaar van haar huwelik as “wonderlik” en sê sy was liewer vir haar man as haarself. En dít is juis waar die probleem ingekom het, omdat sy nie haar eie waarde besef het nie. Dit het dit maklik vir haar man, Yusuf*, gemaak om haar selfbeeld elke dag vir drie dekades lank met lelike, afbrekende kommentaar af te breek totdat daar niks meer van haar oor was nie.

“Vir 32 jaar van my lewe was ek mishandel. Nie fisies nie, maar ek was verkleineer en ek was my man se vloerlap. Ek het al my selfrespek verloor; nutteloos gevoel en die verbale mishandeling het my in ’n depressie laat gaan en my laat voel ek is nie goed genoeg nie. Ek het myself my hele lewe lank hieraan onderwerp,” vertel Zuraida.

As voorbeelde vertel Zuraida hoe haar man haar saans sou wakker maak om op te staan om vir hom water te gaan haal. Sy is ook verbied om haar hare twee keer per week te was of haar musiek hard te speel. “Ek het nooit enige vryheid gehad nie,” vertel Zuraida. “Die verbale mishandeling was soos musiek wat oor en oor in my ore gespeel het.” Sy bars in trane uit wanneer sy vertel hoe sleg sy gevoel het toe haar seun uiteindelik vir haar opgestaan het omdat sy eenvoudig te swak was om haarself teen haar man te verdedig. Maar twee en half jaar gelede het sy besluit sy het genoeg gehad en haar man vir ’n egskeiding gevra.

“Ek het gekies om in hierdie huwelik te bly omdat ek nie enige ander manier geken het nie. Ek het my man toegelaat om my in ’n space te sit waar hy my kon onderdruk. Moslem-seuns word grootgemaak en deur hul ma’s geleer dat vroue vir hulle moet regstaan. Daar is vroue wat nie werk nie en mishandel word en dan nie weet wat om te doen nie. Vroue moet hulself bemagtig en hulself opvoed,” sê Zuraida ernstig. Deesdae is sy ’n traumaberader wat ander vroue in desperate situasies help.

Vir 32 jaar van my lewe was ek mishandel. Nie fisies nie, maar ek was verkleineer en ek was my man se vloerlap. Ek het al my selfrespek verloor.

Statistieke

Shannon en Zuraida se stories van mishandeling is enkeles waarvan ons hoor. Kenners skat die statistieke van geweld teen vroue is selfs hoër omdat so baie vroue, veral plattelandse vroue, nie sake van huishoudelike geweld aanmeld nie.

Gerbrandt van Heerden van die Instituut vir Rasseverhoudings het na die polisie se mees onlangse misdaadstatistieke verwys wat aandui dat die moordsyfer vir vroue met 7,9% gestyg het van 8,9 per 100 000 in 2016/2017 tot 9,6% in 2017/2018. Die statistieke vir beide ernstige aanranding en gewone aanranding het ook gestyg.

Naeemah sê die redes hoekom vroue in verhoudings bly waarin hulle mishandel word, is baie kompleks omdat die konteks van elke vrou se ervaring, kultuur, maat-skaplike en ekonomiese agtergrond, haar ondersteuningsnetwerk, geestelike toestand, toegang tot sorg, die aard van die geweld en haar kinders alles ’n rol speel. Nonhlanhla Skosana van Sonke Gender Justice stem saam en voeg by: “Daar word van vroue verwag om te oorleef in hul huwelike, want as ’n vrou moet jy die mishandeling kan vat omdat dit kamstig deel is van die huwelik. Waarheen gaan vroue wanneer hulle nie kan terugkeer na hul eie families nie omdat jy jou van verander het en nou aan jou skoonfamilie ‘behoort’??” 

Ken jou regte

Volgens Naeemah het vroue altyd die hoop dat dinge sal verander en die abuser belowe ook altyd dit gaan nie weer gebeur nie tot die volgende keer dat hy haar mishandel. “Dit is in ons menslike natuur om op hoop te reageer.”

Dis egter vir Nonhlanhla belangrik dat mishandelde vroue wat wel sake maak, hul regte ken. Wanneer jy ’n verklaring aflê, vra vir ’n afskrif daarvan, die saaknommer en die naam van die ondersoekbeampte. Maak ook seker jy verstaan jou verklaring. Jy het ook die reg om te vra om jou verklaring af te lê in die taal wat jy verstaan en in ’n private kamer.

Die ondersoekbeampte het ook ’n verantwoordelikheid om jou op die hoogte te hou van jou saak en as die oortreder aansoek doen vir borg, kan jy vra hoekom en die ondersoekbeampte kan dit ook teenstaan.

Maar terwyl pres. Ramaphosa deur middel van die nasionale strategiese plan vir GBV sy steun gegee het om hierdie probleem aan te spreek, moet ons intussen die dialoog met seuns en mans in ons samelewing begin hê, meen Bernadine. Seuns en mans moet die impak van geweld teen vroue begin besef en lelike en onvanpaste kommentaar teen vroue en meisies móét end kry.

Die tyd dat vrouemishandeling net as ’n vroueprobleem beskou was, is verby. Dis tyd vir mans om mans genoeg te wees om hul deel te doen om dié probleem in sy te stuit voor daar niks van vroue oor is nie! 

*Skuilnaam

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.