Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Gesondheid: Corona of nie(s)?
1 Oktober 2020


Deesdae sal ’n mens eerder ’n windjie in die openbaar laat as om te nies of te hoes weens mense se vrees vir die corona-virus. Maar ongelukkig vir allergielyers is dit juis nou allergieseisoen, wat beteken jy sal óf by die huis moet bly met jou jeukerige oë en loperige neus, óf jy sal die klewerige stigma van Covid-19 moet trotseer as jy dit buite waag.

En terwyl baie mense heerlik saamsing oor hoe vrolik die veld is en die heerlike lente, is dit mense met seisoenale allergieë se slegste tyd. Jy het seker al self gewonder of jy dalk die virus onder lede het en of dit net maar jou jaarlikse hooikoors is.

Suid-Afrikaners ly

Navorsing wys ongeveer 17,5 miljoen Suid-Afrikaners sukkel met neus-allergieë. Suid-Afrika se stuifmeelseisoene ver-skil van plek tot plek. Dit is hoekom die Universiteit van Kaapstad se Long-instituut verskeie stuifmeelmonitorstasies in al die provinsies het.

Stuifmeelallergielyers wat allergies is vir bome en gras sukkel gewoonlik die ergste in September en Oktober, wanneer hierdie tipes stuifmeel oorvleuel. Die grasstuifmeel-seisoen kan vir tot nege maande van die jaar duur in sekere dele van die land, soos byvoorbeeld die Hoëveld.

Dr. Thulja Trikamjee, ’n gesertifiseerde allergie-spesialis van die Universiteit van Kaapstad se Long-instituut, verduidelik seisoenale allergieë sluit in rinitis, of hooikoors soos die meeste mense dit ken, allergiese asma en selfs veltoestande soos dermatitis.

“Hierdie toestande word aangehits deur sekere goed in die omgewing wat tydens spesifieke tye van die jaar verskyn, soos byvoorbeeld boomstuifmeel in die lente en grasstuifmeel in die somer.” Dit veroorsaak ongelukkig nie by almal net ’n irriterende loopneus en jeukerige, rooi oë nie.

Prof. Jonny Peter, hoof van die Long-instituut se allergie-en-immunologie-eenheid, vertel die wêreld se grootste, mees katastrofiese donderstorms in Melbourne, Australië het gelei daartoe dat meer as 8 000 mense by hospitale se noodgevalle-eenhede aangemeld het vir borskwale. Daar het 35 asma-lyers in intensiewe sorg beland en 10 mense het gesterf as gevolg van die donderstorm wat grasstuifmeel opgesweep en vinnig versprei het. Hoewel dit ’n buitengewone gebeurtenis was, skets dit net hoe gevaarlik seisoenale allergieë kan wees, veral as jy ’n asma-lyer is.

Erge gevolge

Abraham Viljoen (38) van Delmas op die Hoëveld vertel ’n paar jaar gelede, op ’n warm, droë en winderige lentemiddag, het hy goor gevoel ná werk. Hy het sy asma-pompie gedurende die dag gebruik, maar teen die einde van sy skof as voorman op ’n plaas in die area, moes hy sy ma bel om hom te kom haal, want hy was te siek om self te bestuur.

“My ma kon my nie mooi hoor oor die foon nie, want ek het te veel gehyg. Ek kon op daardie stadium amper nie meer asem kry nie.” Gelukkig ken sy ma hom goed en het ’n dokter op die dorp gebel om hulle by die hospitaal te ontmoet. Abraham het in die kar bewussyn verloor. Noodpersoneel moes hom dadelik probeer bybring.

Die asma-aanval, waarskynlik veroorsaak deur ’n grasallergie, was so intens dat Abraham in die hoësorgeenheid vir ’n paar dae moes aansterk. Volgens dr. Trikamjee word allergieë al hoe meer erken as iets wat jou lewensgehalte kan belemmer en waarsku as jy jou asma nie reg bestuur nie, kan dit fataal wees, veral tydens die allergie-seisoene.

Volgens haar het die bestuur van allergieë oor die jare baie ontwikkel en daar word nie meer net vir mense gesê om dit waarvoor hulle allergies is, te vermy nie. “ ’n Allergie-spesialis kan jou help identifiseer wat jou spesifieke snellers is en sal help om dit beter te bestuur.”

Corona of allergieë?

Maar in hierdie chaotiese tyd is dit soms moeilik om te weet of jou hoesbui van stuifmeel is, van die gevreesde corona-virus of dalk beide. “My seun (18) het onlangs so genies en gehoes, soos hy maar altyd doen wanneer die seisoene verander. Hy het hierdie keer erger gekla sy lyf is seer, maar ek het gedog dis net omdat hy lui was vir skool,” vertel Belinda Brown (39) van Kaapstad.

Ná ’n paar dae van sukkel het sy hom na hul huisdokter geneem waarna hy positief getoets het vir die virus. Gelukkig het hy net effense simptome getoon en het hy niemand anders in die huis aangesteek nie. “Ons loop maar in elk geval al die jare al so koes-koes verby hom as hy so hoes en proes,” lag sy.

Prof. Peter verduidelik die hoofverskille tussen die twee toestande is dat koors, lyfseer en hoofpyn algemene simptome is van Covid-19, terwyl dit seldsaam is by seisoenale allergieë, wat meer lei tot ’n jeukerige neus en oë en ’n alewige genies. Dít is weer nie algemeen by corona nie. Gelukkig, in sy ervaring, merk die meeste allergielyers op wanneer hul simptome anders is as gewoonlik en kan dus makliker onderskei tussen die twee.

Simptome van allergieë en Covid-19 wat ooreenstem, sluit in verstopte sinusse of loopneus, ’n knaende hoes, seerkeel, sukkel om asem te kry en moegheid. “Wanneer die stuifmeeltelling in ’n area baie hoog is, kan dit lei tot kortasem vir veral mense met asma. Gelukkig vererger die corona-virus nie gewoonlik asma-simptome nie. As jou asma-simptome vererger, besoek eerder jou dokter, veral as jy sensitief is vir stuifmeel.”

Een van die silwer randjies van die gedurige maskerdraery, volgens prof. Peter, is dat dit jou eintlik teen stuifmeel kan be-skerm. “Maskers kan beskerming bied teen seisoenale allergieë omdat dit keer dat jy groter partikels inasem. Klein deeltjies kan egter steeds deur ’n masker kom, so dit moenie jou enigste vorm van beskerming wees nie.”

Jy sal steeds behandeling soos antihistamiene, neussproei en inasemingstoestelle moet gebruik. Hy beklemtoon ook die belangrikheid daarvan om jou masker te was elke keer nadat jy dit gedra het omdat dit dalk stuifmeel op kan hê. Omdat dit moontlik is om terselfdertyd hooikoors en Covid-19 te hê en juis omdat corona versprei word deur druppeltjies soos wanneer jy nies, hoes of ’n loopneus het, is dit nou tyd om ekstra versigtig te wees met maatreëls soos jou masker, hande was en sosiale distansiëring en blitsvinnig jou dokter besoek indien jy enige “ongewone” simptome ervaar.


Vermy stuifmeel

Volgens prof. Peter is dit onmoontlik om alle stuifmeel te vermy. Die tweede beste opsie is om gereeld die stuifmeeltellings in jou area na te gaan en jou tyd buite te beperk wanneer die tellings hoog is. Die Long-instituut se webblad www.pollencount.co.za is ideaal daarvoor. Jy kan ook registreer op die blad en elke dag ’n e-pos ontvang oor jou area se tellings.

Ander voorsorgmaatreëls sluit in:

• ’n Draagbare lugfilter in een of meer van jou vertrekke om stof en stuifmeel te filter.

• Hou vensters en deure soggens en smiddae toe. Stuifmeeltellings is gewoonlik die laagste in die namiddag en vroeë aand.

• Wanneer jy buite is, vermy aktiwiteite soos gras sny of blare hark.

• As jy by die huis aankom, trek skoon klere aan en was jou vel en hare om ontslae te raak van die stuifmeel.

• As jy kan, gebruik ’n tuimeldroër eerder as om jou klere, handdoeke en beddegoed buite op te hang, waar stuifmeel daaraan kan vassit.

Foto: Gallo Images/Getty Images

Meer oor:  Gesondheid  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.