Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Gesondheid: Jou hart kán breek van die seer
17 September 2020


Wanneer jy ’n romantiese teleurstelling of groot hartseer beleef, voel dit dikwels asof jou hart letterlik in stukke breek. Die fisiese pyn daarvan is amper onverklaarbaar. Baie mense sal so ’n beskrywing afskryf as dramaties.

Tog is daar ’n toestand met die naam “gebroke hart-sindroom” wat, volgens navorsing, wêreldwyd vier keer meer geword het sedert die begin van die Covid-19-pandemie. Gebroke hart-sindroom of Takotsubo (wat die Japannese dit noem) is ’n ernstige verswakking van jou hartspier.

Dit word baiekeer veroorsaak deur spanning. Dit wil voorkom asof die hartspier van vorm verander en lyk dan soos die lokval wat hulle in Japan gebruik om seekatte te vang. Van daar die naam “Takotsubo”.

Wat is dit?

Volgens dr. Shirley Middlemost, ’n kardioloog van Hermanus in die Wes-Kaap, wat al ’n paar artikels oor gebroke hart-sindroom of spanning-kardiomiopatie-sindroom geskryf het, sterf minder as 1% van mense aan gebroke hart-sindroom.

Hoewel die skade gewoonlik nie permanent is nie, is die toestand nie iets wat ’n mens kan voorkom nie en dit kan herhaaldelik met jou gebeur (in ongeveer 10 – 15% van gevalle). Die kanse is goed, volgens Middlemost, dat dit ongediagnoseerd bly in baie mense. En net soos ná ’n liefdesteleurstelling, sal ’n gebroke hart in die meeste gevalle weer op sy eie tyd herstel en weer sy normale vorm aanneem.

“Gewoonlik gaan dit gepaard met skielike borspyne, amper soos ’n hartaanval, sweet, naarheid en soms is pasiënte kort van asem vir omtrent ’n halfuur. Ongeveer 2% van mense wat voorkom asof hulle besig is om ’n hartaanval te kry, het eintlik ’n ‘gebroke hart’. ” Baie mense kan getuig hiervan.

“Ses weke gelede moes ek my liefste moeder (78) groet – vier weke tot op die dag en uur nadat my pappie gesterf het. Sy is oorlede aan dementia, maar ek glo vas haar hart was gebreek,” vertel Cindy Driscoll (49) van Bellville in die noordelike voorstede van Kaapstad. Hoewel haar ma teen die einde baie deurmekaar was, is Cindy seker sy het die ewige teenwoordigheid van haar pa, Peter, gemis.

Haar mammie, Florence, het volgens Cindy in die eindtyd ’n paar keer na haar hart gegryp en dan het die trane oor haar wange gestroom. Florence is in haar slaap oorlede, maar nadat sy daarvan te hore gekom het, is Cindy oortuig haar ma het aan gebroke hart-sindroom gely. “Jy voel naar en doodmoeg terwyl jou bors steekpyn en jy sukkel om asem te haal. Die sweet tap jou af terwyl jy al hoe meer duiselig word. Ek het een jaar sommer ’n floute gekry,” vertel Patricia Saunders (75) van Oos-Londen oor haar ervaring.

Sy vertel sedert haar beste vriendin, Gertrude, oorlede is sewe jaar gelede, voel dit vir haar elke jaar op Gertrude se verjaardag asof sy wat Patricia is, besig is om dood te gaan. “Die eerste keer wat dit gebeur het, was kort ná haar dood. My dogter het my emergencies toe gejaag, maar daar het hulle gesê niks skort nie, dit was net ’n angsaanval.”

Maar soos die jare aanstap, het Patricia al hierdie “oorvalle van hartseer” begin verwag. Sy vertel die verlange raak steeds so groot rondom hierdie tyd. “Kykie, ek en sy was mos twee oujong- girlies. Ons het jare saamgebly en alles saam gedoen. Mense het ons die nick- name “horrible twins” gegee. Dit voel amper asof ’n nog stukkie van my siel afbreek elke keer as ek haar kersies sonder haar moet doodblaas.”

Interessant genoeg, volgens Middle-most, kom hierdie toestand amper uitsluitlik voor by vroue, waarvan die meeste post-menopouse is, gewoonlik ná die ouderdom van 50. “In meer as 85% van die gevalle, is die sneller hetsy ’n fisiese of ’n emosionele spanning, soos om ’n eggenoot of familielid te verloor, egskeiding, ’n argument of angstigheid. In ’n klein hoeveelheid mense kan selfs die spanning van ’n gelukkige ervaring, soos ’n troue of verjaardag tot ’n ‘gebroke hart’ lei.”

Hoewel die oorsake van Takotsubo nog nie heeltemal begrip word nie, word daar vermoed dat streshormone (soos adrenalien) daartoe kan lei. Volgens Nicole Jennings, woordvoerder vir Pharma Dynamics, lyk dit aanvanklik asof iemand ’n hartaanval kry, maar wanneer hulle ondersoek word, is daar geen teken van verstopte are nie. “Die skielike vloed van adrenalien ver-swak die hartspier en veroorsaak onreëlmatige hartritme. Dit meng ook in met die pomp-funksie van die hart, wat ’n ballon-effek veroorsaak.”

Die pasiënt herstel gewoonlik binne ’n paar dae of weke. Dit beteken egter nie as iemand simptome van ’n hartaanval kry jy moet dit ignoreer nie. Dit vereis onmiddellike aksie, want dit kan ernstig wees. “Sodra die pasiënt gestabiliseer is, sal die dokter dalk ’n paar toetse doen soos bloedtoetse, X-strale, ’n EKG of MRI. Die dokter mag ook medikasie voorskryf,” verduidelik Nicole.


Faktore

Risiko-faktore vir gebroke hart-sindroom is onder meer ouderdom, ’n geskiedenis van ’n neurologiese toestand soos epilepsie en ’n sielkundige toestand soos depressie of angs. Dit kan egter nie voorspel of voorkom word nie.

En met die lockdown wat die meeste van Suid-Afrikaners vasgegrendel het in die isolasie van ons eie huise, spesiale geleenthede wat almal gekanselleer moes word en om nie ons geliefdes te kon sien nie, onsekerheid oor finansies en werk, het ongetwyfeld ’n ernstige impak op baie mense se harte gehad.

Intussen het baie mense ook geliefdes verloor sonder ’n manier om behoorlik te kon groet. Dit is dan eintlik glad nie verbasend dat soveel mense deesdae met gebroke harte sukkel nie, meen kenners. Dit is belangrik, veral in hierdie tyd van chaos en onsekerheid, dat jy jouself oppas en self-care toepas. As jy angstig of oorweldig voel, besoek eerder jou dokter vir hulp. Moenie ding los tot dit te laat is nie.

Verlig spanning en angs só


Nicole se raad is:

• Fokus op die nou. Moenie toelaat dat vrese en herinneringe jou oorweldig nie.

• Probeer ontspanningstegnieke om jou stresvlakke te verlaag soos diep asemhaling, meditasie of luister na strelende musiek.

• Eet gesond en probeer om nie meer te drink of rook as jy gespanne is nie.

• Oefen – selfs ’n stappie vir 30 minute kan wondere verrig.

• Kry ’n bietjie sonlig, selfs al is dit net 20 minute per dag. Vitamien D speel ’n belangrike rol in jou regulering van jou bui.

• Bel ’n vriendin of familielid om te gesels oor jou bekommernisse.

• Kyk ’n snaakse fliek en lag ’n slag! Om proaktief te wees oor spanning in jou lewe is goed vir jou hart en kan dalk net keer dat joune breek.

Mediese noodnommers om op jou foon te save:

• 10177 vir ’n ambulans (landwyd).

• 112 kan van ’n selfoon af gebel word vir ’n ambulans.

• 082 911 – Netcare 911 sal kom vir enige noodgeval, óf jy ’n lid is óf nie.

• 084 124 – ER24.

* Foto’s: Gallo Images/Getty Images en Verskaf

Meer oor:  Gesondheid  |  Gebroke Hart-Sindroom  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.