Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Gesondheid: Leer jou kind goeie higiëne
8 Januarie 2020


Kinders kry wonderlike goed by die skool – wiskunde en leesvaardighede, ontwikkeling van sosiale vaardighede en nuwe maats, dissipline en onafhanklikheid om net ’n paar te noem. Maar die realiteit is ongelukkig dat ’n skool ’n fantastiese teelaarde vir al wat ’n kiem is.

Wanneer die nuwe skooljaar begin, begin die kwale ook gewoonlik en om jou kroos gesond te hou, kan nogal ’n tawwe tammeletjie wees. En dit vat net een kind in ’n klas om siek te word, dan versprei die kieme soos ’n veldbrand. “Ek weet sommer al as ek die dag by die skool kom en een sien snuif, dat verkoue my gesin se voorland is. Kinders is gifappeltjies en ek weet nie hoe om my kind te leer om gesond te bly nie!” vertel ’n moedelose Rietha Bouwer (32) van Parow in die Kaap.

Samantha Willemse (42) van Ceres sit ook met haar hande in haar hare. “Ek is nie aldag seker my personal hygiene is up to scratch nie, en nou is ek nog verantwoordelik vir my kinders s’n ook!” lag sy. Die heel beste manier om siektes te probeer vermy, maar ook om seker te maak jou kind word nie eendag

’n Grillerige Gerda nie, is om hulle van kleins af goeie higiëne-gewoontes te leer. Nie net help hierdie goeie gewoontes om jou kind gesond te hou nie, maar dit help met hul selfvertroue en selfbeeld. Volgens dr. Henriëtte Saunders, ’n pediater van Paarl, is dit jou werk as ouer om van kleins af vir jou kind die basiese beginsels van higiëne te leer om te keer dat hul onnodig siek word. Sy deel haar wenke met Kuier-lesers oor hoe om maklik jou kind van kop tot tone te leer skoon bly.

Hare

Die meeste kinders hoef net twee tot drie keer per week hare te was. Om hare te veel te was, kan die kind se kopvel uitdroog en skilfers veroorsaak, meen Saunders.

Van so vyf jaar oud af, kan jy jou kind begin leer om self hare te was sonder om seep in haar oë te kry en wat om te doen as dit wel gebeur. Dit is ook die tyd om te kyk vir enige teken van luise of nete.

Soos kinders ouer word – in hul tweenies en tienerjare wanneer die hormone van puberteit begin inskop – word hul hare gewoonlik vinniger olierig, waarsku sy. As dit só is, kan jou kind elke tweede dag hare was.

Bad

Hoewel jy jou kind van kleins af gereeld moet bad, moet hulle self die taak begin bemeester teen omtrent vyf jaar oud. Maak badtyd pret met speletjies en speelgoed. Leer jou kind elke aand om die verskillende liggaamsdele te was (veral onderarms, lies, nek, maag, elmboë, rug en voete), stel sy voor.

Velsorg

Jy sal jou kleuters moet help met velsorg. Algemene probleme op hierdie ouderdom sluit in veluitslag, seerplekke en rofies, verduidelik Saunders. Voor jou kind aantrek ná badtyd, help hulle om van kop tot tone hul vel te bestudeer om seker te maak daar is nie nuwe “einas” wat behandeling nodig het nie. Net soos hul hare, word tieners se velle ook gewoonlik meer olierig tydens puberteit.

“Hoewel daar oneindig baie duur produkte teen aknee is, probeer eers sagte seep en water. Leer jou tiener om haar gesig twee tot drie keer per dag te was en om nie aan puisies te peuter nie,” is Saunders se raad. Maak ook seker jou dogter weet om grimering met ander te deel, kan infeksie versprei en om met grimering aan te gaan slaap, is baie sleg vir jou vel.

Mond

Skoon tande kan ’n hele reeks gesondheid-issues vermy, insluitend stink asem, gaatjies in tande en selfs hartsiektes later in die lewe. Om seker te maak jou kind het goeie mondhigiëne-gewoontes vir die res van haar lewe, begin al van kleins af om jou kind se tande te borsel.

Teen drie jaar kan hulle hul eie tande begin borsel, mits jy bystaan om seker te maak hulle borsel lank en goed genoeg. Speel ’n liedjie van twee minute wanneer dit tandeborseltyd is sodat jou kind self weet hoe lank om te borsel, stel Saunders voor.

Jy sal jou kind moet help vlos tot omtrent sewe jaar oud. Jou kind moet minstens twee keer per dag tande borsel en vlos. Ouer kinders kan tandeborsels in hul skoolsakke saamdra om ná etes te borsel.

Onder arms

Om onder die arms te was en deodorant aan te sit, is iets wat baie tweenies en tieners verkies om te ignoreer. Sweet begin op verskillende ouderdomme stink, maar gewoonlik teen so 9 of 10, verduidelik Saunders.

Gesels met jou kind oor hoe belangrik dit is om onder ’n mens se arms te was, veral ná sport. As jou kind baie sweet, kies eerder antiperspirant as deodorant.

Hande

“Vir die kleuter is dit belangrik om te weet hulle moet altyd hande was nadat hulle die toilet gebruik het, neus gesnuit het, nadat hulle met diere of buite gespeel het en voor etes.

Om jou hande te was, is seker die heel belangrikste en eenvoudigste manier om te verhoed dat kieme versprei,” verduidelik Saunders. Dit kan die oordra van siektes met tot 59% verminder. Dit beteken egter nie net afspoel nie.

Jy moet jou kind leer om met warm water en seep te was. Leer jou kind om drie keer Vader Jakob te sing terwyl hulle was – só verseker jy dat sy lank en behoorlik genoeg was. As jy besig is met potty training, maak hande was deel van die proses.

Naels

Vingernaels is ’n teelaarde vir bakterieë. Leer jou kind om onder hul naels te was met ’n borseltjie en knip weekliks ná badtyd naels. Teen sewe jaar oud kan jy jou kind leer om dit self te doen.

Toilet

Sodra jou kind ge-potty train is, is dit belangrik om goeie toilet-gewoontes vir haar te leer. Leer haar om behoorlik van voor na agter af te vee en daarna behoorlik hande te was. Seuns moet ook hul hande was.

Maandstonde

Sodra jou dogter met haar maandstonde begin, moedig haar aan om haar siklus op ’n kalender aan te teken sodat sy weet wanneer sy tampons of doekies sal nodig hê. Haar maandstonde sal die eerste twee jaar moontlik ongereeld wees, so leer haar om voorbereid te wees en verduidelik ook vir haar hoe belangrik dit is om tydens hierdie tyd te bad. Wys ook vir haar hoe om tampons en sanitêre doekies veilig weg te gooi.

Algemeen

Om jou hande te was, is seker die heel belangrikste en eenvoudigste manier om te verhoed dat kieme versprei.
Dr. Henriëtte Saunders

’n Ander belangrike gewoonte wat jy vir jou kind moet aanleer, is om jou hand voor jou mond en neus te hou as jy hoes, nies of gaap. Gee sommer vir jou kind ’n pakkie tissues en moedig haar aan om dit te gebruik, weg te gooi daarna en dan hande te was.

As jy nie betyds ’n tissue kan gryp nie, hoes of nies in die mik van jou elmboog. Verder moet jy jou kind leer om sy hande weg van sy oë en uit sy mond te hou. Verduidelik vir jou kind dat sy handjies vol kiemgoggas is as hy dit lanklaas gewas het. Een van die belangrike lewenslesse wat kleuters onder die knie moet kry, is hoe om te deel.

Dis egter belangrik om jou kind te leer as iets in haar mond was, mag sy dit nie met ’n maatjie deel nie. Verder moet hulle versigtig wees rondom ander maatjies wat hoes of nies. Hoewel jy dalk nog nie gereed is om hieraan te dink of dit te aanvaar nie, is daar ’n kans dat jou tienerseun of -dogter in hierdie tyd in ’n romantiese verhouding betrokke kan raak en dalk selfs seks begin hê.

Daarom is dit noodsaaklik dat jy oop en eerlik met jou kind praat oor veilige seks en voorbehoed. Om goeie persoonlike higiëne gewoontes aan te kweek neem ’n leeftyd. Maak seker jy begin vroegtydig met jou kinders op ’n vlak wat hulle kan verstaan.

Meer oor:  Gesondheid  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.