Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Gesondheid: Lewe só met die ongemak van IBS
6 Augustus 2020
Foto: Gallo Images/Getty Images


Voel jy verskriklik opgeblaas? Sukkel jy eendag met erge diarree en die volgende dag met hardlywigheid? As jou besoeke aan die toilet ook al hoe meer gereeld word en jy sukkel met ongemaklike gasse, is dit miskien tyd dat jy jou dokter besoek. Jy kan dalk aan prikkelbare dermsindroom beter bekend as IBS (irritable bowel syndrome) ly.

Dr. Monique Marais, ’n gastroënteroloog van Goodwood in die Kaap, sê IBS is nie ’n siekte nie, maar ’n sindroom wat die kolon (dikderm) aantas. Volgens haar is die kolon se hooffunksie om water en voedingstowwe te absorbeer uit gedeeltelik verteerde kos. “Enigiets wat nie geabsorbeer word nie, beweeg stadig deur die kolon na die rektum en kom uit as stoelgang.”

Daar is tans nie opgedateerde statistieke vir IBS in Suid-Afrika beskikbaar nie, maar volgens Monique is IBS twee keer meer algemeen by vroue as by mans. Ongeveer 15% van die wêreld se bevolking sukkel daarmee.

Nie lewensbedreigend

Die slegte nuus van hierdie toestand is dat daar geen geneesmiddel is nie, maar die goeie nuus is dat dit nie lewensbedreigend is nie, aldus kenners. Maar die pyn en ongemak kan nogal jou lewe deurmekaarkrap, sal IBS-lyers jou vertel. Tarryn Josephs (26) van Milnerton in die Kaap sê haar stryd met IBS het in 2009 begin. “Ek was in graad 10 en het baie erge krampe gehad.

Die dokter het toe besluit om ’n colonoscopy te doen net om te kyk wat fout kan wees. Hy het toe ’n stukkie netvet gekry en dit uitgesny, maar niks anders gevind nie. Toe verduidelik hy vir my dat dit IBS kan wees. Ek het toe maar self opgelees daaroor. My simptome het ooreengestem met dié van die internet en toe begin ek nuwe kosse by my dieet inwerk.”

Die sindroom het Tarryn se lewe met die intrapslag affekteer. “Ek het elke dag ’n nuwe ding gevind wat my maag nie kon hanteer nie. Ek onthou ek het so vir die eerste ses maande op ’n streng dieet gegaan. Hoe meer jy oplees, hoe meer besef jy elke liewe dingetjie kan jou IBS affekteer. Ek het kosse begin uitskakel en pille daarvoor gedrink, want die krampe was bitter erg.”

Sy bieg dat die krampe en die ontydige tye wanneer dit opdaag, die ergste is. “As IBS aan jou deur kom klop, moet jy toilet toe hardloop! Ek onthou daar was tye waar die pyne so erg was dat ek hospitaal toe moes gaan. Die diarree is die ergste, maar die constipation! Dit hou vir dae aan!” Tarryn moes verskeie leefstylveranderings maak om die IBS-simptome te verlig. Sy sê sy kan amper geen gemorskos of restaurantkosse eet nie en ook nie kosse wat in te veel olies gebak word nie.

Volgens Monique is dit nie nodig om mediese behandeling te kry vir IBS nie: “Daar is geen geneesmiddel nie en mense kan net probeer om hul simptome te behandel en te bestuur.” Ander alternatiewe behandelings sluit in hipnose, sielkundige behandeling vir spanning, akupunktuur en joga. Middels soos probiotika, borrie, kaneel en pepermentolie kan ook verligting bring.

Sy voeg by baie mense is bekommerd oor die erns van die sindroom, maar sê hoewel dit ongemaklik en seer kan wees, is dit nie gevaarlik nie. “Dit word nie geassosieer met ’n hoër risiko vir kolonkanker nie en is eintlik ’n dood- onskuldige toestand.” Daar is ook geen langtermyngevolge van IBS nie.

Christine Willemse (52) van Porterville in die Wes-Kaap vertel sy het haar al te veel vasgeloop met IBS om nou nog skaam te wees. “Ek het al meer kere as wat ek kan tel, my broek vuilgemaak! En dit is my eie skuld, want ek weet sekere kosse akkordeer nie met my sisteem nie, maar hoor is min.” Sy lag lekker voor sy vertel dat sy glad nie jeans dra nie omdat dit te lank vat om af te trek.

“Meisiekind, wanneer jy moet gaan, dan moet dit onmiddellik gebeur. Daar is geen wagperiodes nie.” Sy vertel dat haar poep ook sommer so elke dan en wan uitglip. “Man, dit is iets wat jy nie kan beheer nie en wanneer jy al vir soveel jare soos ek daarmee aankom, besef jy daar is eintlik niks om oor skaam te wees nie. Almal poep, ons is maar net mens. Die enigste verskil is ek kan nie aldag myne beheer nie!”

Hoe dit ontwikkel

Dr. Emile Coetzee, ’n chirurgiese gastroënteroloog van Port Elizabeth, sê in ’n inskrywing op sy webtuiste: “IBS is verantwoordelik vir meer as die helfte van alle maag-ingewandsiektes. Dis belangrik om te verstaan hoe dit gebeur. Dit moenie verwar word met ernstige dermtoestande soos ulseratiewe kolitis (ulcerative colitis) of maagkanker nie.”

Volgens hom is daar talle teorieë oor hoe en waarom IBS ontwikkel, maar ondanks intensiewe navorsing bly die oorsaak onduidelik. “Dit kan iets te doen hê met te veel aktiwiteit van dele van die derm. Sommige mense ontwikkel IBS ná ’n ernstige infeksie in die spysverteringskanaal.

Ander het geen spesifieke sneller nie. Mense wat mediese advies vir IBS soek, ly waarskynlik meer aan stres- en angsverwante toestande.” Hy sê kos wat IBS-simptome kan vererger, sluit in suiwelprodukte (byvoorbeeld melk), boontjies, neute en groen groente.

Ek het ’n lui eter geword en dit het weer gemaak dat ek swak en moeg voel omdat my liggaam nie die nodige voedingstowwe ingekry het nie.

Behandeling

Astrid Februarie (31) van Century City in die Kaap sê haar stryd met IBS het tussen 2016 en 2017 begin as gevolg van angs. “Ek het ernstige anxiety ontwikkel as gevolg van spanning en te veel hooi op my vurk. Dit het dan ook beïnvloed hoe en wat ek geëet het, en het sodoende my immuunstelsel beïnvloed. My kolon het buitengewoon geïrriteerd en sensitief geword. My simptome was onder meer ’n verlies aan eetlus, erge opblaas van my maag, wat ek later vasgestel het, is dat dit my kolon was wat gas opgebou het. Dit het my maag en buik erg laat pyn.”

Dit is ’n baie eerlike Astrid wat vertel dat sy baie depressief gevoel het. “Omdat ek nie ’n eetlus gehad het nie, het ek eenvoudig nie geëet nie. En wanneer ek wel die dag geëet het, moes ek baie versigtig wees omdat jy nie weet wat spesifiek jou IBS kan trigger nie. Ek het ’n lui eter geword en dit het weer gemaak dat ek swak en moeg voel omdat my liggaam nie die nodige voedingstowwe ingekry het nie.”

Sy moes aanpassings maak om die sindroom se simptome te verminder. “Ek het my dieet verander en kosse begin uitsny wat my kolon negatief kan beïnvloed. Ek het ook afstand gedoen van dinge en mense wat aanleiding gegee het tot my angs. Dis baie belangrik dat jy nie net jou leefstyl verander nie, maar ook moet kyk na jou geestelike gesondheid.”

Eat Right, ’n Amerikaanse organisasie vir voeding en dieetkunde, stel op hul webtuiste www.eatright.org voor IBS-lyers maak eenvoudige veranderings aan hul dieet om die toestand te behandel: Eet elke dag dieselfde tyd en liewer kleiner, gereelde maaltye in plaas van grotes. Só kan dieselfde hoeveelheid kos met gemak deur jou dermkanaal beweeg.

IBS-lyers moet ook meer veselryke kosse eet en genoeg vloeistowwe drink. Bly ook liewer weg van alkohol en kafeïen omdat dit diarree kan veroorsaak. Maar uiteindelik is die beste manier om dié sindroom te behandel, om te verstaan watter goed nie met jou stelsel akkordeer nie en jou dieet aan te pas. En as daai gasse moet uit, dan moet dit nou maar uit!

Meer oor:  Gesondheid  |  Kuier  |  Ibs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.